Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Neels Basson is nie man man wat kortpad vat nie. Alles moet georden wees. Presisie en perfeksie sy lewensuitkyk. Van kleintyd af is hy reggeslaan en glo hy soos sy pa aan die taal van die sambok. Mieta, sy vrou, is die sagte hand. Die oorsaak dat daar al menig male oor die kinders, groot verskille agter toe deure besleg is. Neels skud sy kop. Sy sal die kinders nog die afgrond in help. Hierdie origheid van Nellie, hulle jongste dogter, sou hy graag met die sambok uit haar agterhoede wou moker. Ongelukkig is die vryer, ryk Pieter de Wet se seun. Mieta se terloopse melding van voordele wat ‘n moontlike huwelik inhou, plus ‘n plaas of twee, laat hom nadenkend aan sy pyp suig. Die aangrensende plase sal nogal ‘n meevallertjie wees. Genoeg weiding en water. Hy begin somme maak. Suig weer aan die pyp. Die gorrelgeluid van die olie in die steel laat hom swets. Hy skud woes aan die pyp om die olie uit te kry. Spoeg ‘n straal en vee die sweet van sy voorkop af. As Nellie na haar ma aard en Pieter het sý vuur…. so ‘n swernoot! Hy wil liewer nie verder dink nie. Nellie moet nou net nie in die ander tyd loop raak nie. Twee plase of te nie. Die sambok sal ‘n permanente kaart en transport-patroon op Pieter se lyf agterlaat. Hy sien nie kans om weer by ou dominee verby te kom soos jare gelede nie. Sy kaart en transport van oorlede pa sit nog steeds soos ‘n tatoeërmerk tussen sy blaaie.

“Neels, kom hier ou man. Ons moet die stoor skoon en regkry vir Saterdagaand se partytjie”. Neels brom. “Wat dit met vandag se kinders is dat hulle nou wil kom langarm op die plaas. Die stad het mos genoeg dansplekke. Dit is net om mekaar te bevoel…..” “Neels”! Mieta se stem styg ‘n oktaaf of twee. “Kry nou end. Hoekom dink jy altyd die verkeerde goed van die jongmense? “Maaaaar Mieta? Onthou jy die aand toe ons twee die eerste keer gaan dans het. Jy was so sag in my arms en pa se sambok was vergete….” “Neels Basson, as ek my sonde nie ontsien nie!!” “Goed vrou, ek kry dan maar die spanne reg” Neels stap by die agterdeur uit, hy grinnik. Hy wonder of die rooi in Mieta se gesig verleentheid, oorgangsgloede of herinnering aan “daardie aand” was. Man, daardie skelmpies! Dit was verseker die vinnige huwelik en “vroeggebore” Marius werd!

“Kom-kom manne, die son sit hoog. Die stoor moet skoon en leeg wees teen middagete.” Die noem van middagete laat dink hom aan Mieta. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. Hy bedoel vir niks! Sy is ‘n voorslag in alle opsigte en dit bekommer hom. Aardjie na sy vaartjie…… en Nellie……. “Nee wag” praat hy homself aan. “Jafta, gaan gee jy en Spykerman vir die bobbejane kos en water. Dokter sal eers laat vanmiddag hier wees. Elias en die jongklomp kan solank die bale aandra.” Sy tweede seun Gerhard se behebtheid met bobbejane kom van kleins af. Dit het hom al hoofbrekens besorg. Bergplaas is Gerhard se grond. Bergagtig, met ‘n natuurlike habitat vir bobbejane. Met Gerhard se liefde vir die viervoetige half-mens, soos hy dit noem, was daar net een beroep vir hom. Veearts. Na sy studies het hy ‘n rehabilitasie sentrum op die grond gebou om beseerde en verwaarloosde bobbejane weer terug in die natuur te kry. Toe die hokke in aanbou was, het hy wat Neels is, gewaarsku dat die hokke te naby die grens gebou is. As die diere loskom, is dit reguit na sy huis toe. Daardie dag wou hy nie beleef nie. Maar met Mieta wat vierkantig agter Gerhard gestaan het, het hy nie veel van ‘n sê gehad nie. Teen die argument dat die hokke gesluit bly en die bobbejane, sodra hulle gesond is, in die berg losgelaat word, kon hy ook nie veg nie. ‘n Onvergenoegde vrou rafel ‘n man se senuwees uit! Druppende water soos Salomo se wysheid dit beskryf.

Die partytjie is in volle gang. Buite brand die vure en geure uit potte vol vleis laat die manne se monde water. Twee vingers raak sommer vinnig vier-vinger-doppies met net genoeg plek vir twee stukkies ys. Die musiek is oorverdowend. Neels haal sy gehoorstuk uit. Vanaand bars hy nog ‘n oordrom. “Vrou, daardie kleefbroekie wat Nellie aanhet en die bloesie… is die hals nie bietjie laag nie” “Neels los die kinders uit. Moet jou meisiekind nou soos ‘n kardoeskoek ‘n voortrekkerrok aangehad het?” Hy sien hier kom moeilikheid en bly liewer stil. Sy oë volg die dansers. Hy hoop nie Pieter kwyl so dat die dansvloer glibberig raak nie. Sy meisiekind is 'n fees vir die oog met haar slanke lyfie.  Hy klou ook vir Nellie te styf na Neels se sin vas. Hy wonder of Pieter weet hoe smaak ‘n sambok tussen die blaaie! “Kom my man, kom help die potte vleis indra sodat die kinders kan begin skep. En as ons klaar geskep het, gaan ons huis se kant toe staan. Daar is ‘n lekker storie op Tv wat ek nie wil misloop nie.” Ons twee oues gaan nou nie die jongmense se aand bederf nie.” Neels staan op en oppad buite toe dink hy. Ai tog, moet vroumense altyd lastig wees. Hy sou graag ‘n ogie oor die gedoente wou hou. 'n Man is mos nou maar eenmaal net 'n man.   Dit weet hy uit ervaring.  Maar nouja, ‘n man moet seker terwille van vrede  partykeer ook maar die knie buig.

Onaardse gille laat skiet Neels die bord kos voor hom op die vloer neer. Mieta sluk ’n kokende aartappel heel in en val wurgend agteroor op die stoel. Hy spring vorentoe en ruk haar regop. Sy snak na asem en hulle begin hardloop. In die stoor is daar chaos. Die bobbejane het uitgekom en vier en twintig bobbejane borrel by die sydeur in. Hulle hardloop beangs tussen die gillende jongklomp deur. Die stoor se groot deur is toegemaak en daar is nie uitkomkans nie. Tafels val om. Drankbottels en glase breek. Borde kos vlieg deur die lug. Hoe benouder die partytjiegangers raak, hoe benouder raak die bobbejane. ‘n Baba bobbejaan val van sy ma se rug af en besluit Pieter se been is die naaste aan ‘n boomstomp. Hy spring, gryp hoog vas en klou. Ogies wit omgedop van vrees. Pieter sak in ‘n skrumposisie om die gedierte van hom afgeruk te kry. Die pyn is iets aller afgrysliks. Hy slaan en ruk en skreeu maar die bobbejaan klou vir lewe en dood. Die kleintjie se ma sien haar kind is in gevaar en spring bo-op die tafel. Sy trap ‘n bord raak en beland op Pieter se rug. Met die raak-trap van die bord, vlieg stukke vleis die lug in op. ‘n Kokende skaaptjop val voor by Nellie se hals in. Pieter val vorentoe, sy pyn eers vergete en probeer red wat te redde is. Hy pen die stomende stuk vleis nog net stywer vas, aangehelp met die gewig wat hom van agteraf vorentoe druk. Nellie gil histeries en slaan wild na haar brandende bors en sy grypende hande. Dit is hier waar Neels instorm en aapstuipe kry en so tussen die sambokhale brullend skree: “Jou lae vuilgoed, ek het so gedink! Hou jou pote van my meisiekind af. Jy gebruik jou kanse om haar in die donker te betas! “

“Sien jy nou Neels. Jy wat eers slaan en dan kyk. Van dínk praat ek nie eers nie! Nou sal Pieter seker nie weer sy voete hier sit nie, stomme man.” “Vrou as jy en Gerhard na my geluister het en Spykerman nie half gesuip was en die hokke oop vergeet het nie, sou dit nie gebeur het nie. En na daardie bobbejaantjie van die Pieter se been afgeskeur is, weet ek nie wát nog alles afgeskeur of beseer  is nie” Hy kyk half ingedagte op. Twee plase…….. dit gaan ‘n groot verlies wees. “Ek sal vir Gerhard vra om na sy beserings te kyk. Komplikasies soos bobbejaankoors……….” Mieta is uit die veld geslaan: “Neels, yl jy?

Hy lag so half onderlangs. “Ek wonder maar net my vrou. Met dié wat hy nou gekaart en getransport is sal ek ‘n plan moet sien om hulle weer by ‘n dans te kry.  Twee plase!

“Neels”?




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

---
Nota: Jou kortverhaal is op Forum geregistreer vir deelname aan die Februarie 2014 kompetisie!
6 jaar 1 maand 3 weke 2 dae oud


bobbejane
Hahaha baie snaaks, die storie het van begin tot einde my aandag gevange gehou. Arme Pieter, sal hy nou weer sy weg na Nellie vind?
6 jaar 1 maand 3 weke 3 dae 10 ure oud


---

Uit freakin` stekend Ffeerg xuoreL! Ek het nou so lekker gesit en lagvir jou kortverhaal. kardoeskoek [* GiGGeL]

6 jaar 1 maand 3 weke 3 dae 21 ure oud


Bobbejaan
Net so
Dis 'n storie en 'n half

Thanks
6 jaar 1 maand 3 weke 3 dae 22 ure oud


bobbejaan
Wat 'n lekker storie. Jou verbeelding werk baie goed en jy weet hoe om 'n ding oor te vertel. :-))
6 jaar 1 maand 3 weke 4 dae oud


Bobbejaan
Ai, ek sien die chaos, hoor die lawaai, en ek sien die woedende pa met sy sambok.
Lekker lees uit die boonste rakke.
6 jaar 1 maand 3 weke 4 dae 3 ure oud


bobbejaan
hehehehehe.. hoe lekker het ek nou gelees en gelag.. absoluut puik!!! ek sien die hele toneel van begin tot einde voor my afspeel
6 jaar 1 maand 3 weke 4 dae 5 ure oud



Weerloos

deur Maangodin

Eroties Afrikaans - sodat ons in ons eie taal geprikkel kan word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar