Kortverhale

Titel: Boosheid is nodeloosheid.

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Ek word sommer met ‘n frons wakker. Ek is moeilik vandag, met die spreekwoordelike verkeerde voet uit die bed uit.
My kop is dof en seer…

Dit kom nou van met ‘n nat kop gaan slaap onder ‘n waaier wat heelnag oor my waai. Ma se mos altyd so. Maar ek werk en kan nie bekostig om deur die nag te worstel met muskiete nie, daardies met die wit en swart strepe, Petrie noem hulle Egiptiese Zebra muskiete. Die goeters pla mens so dat geen oog toe gemaak kan word nie. Die byt, of eerder steek plekke, pla nie so erg soos die gepoeper van die diesel enjintjies heel aand om mens se kop nie. Die geluid kan ek ook nog gewoond raak, ‘n tipe van “white noise” kan jy redeneer. Maar dit is as daardie geluide ophou dat jy weet hier is moeilikheid. Dan byt of steek hy iewers.

Ek sukkel om ordentlik wakker te word, selfs met die daylight-savings-time uurtjie wat soggens soms handig kan inkom. Ek glip uit die bed uit, letterlik. Glip weer en stap in die halftoe deur vas toe my slaap broek aan die sleutel van my oopstaande kasdeur vashaak en my omswaai soos ‘n Frans Kruger diskus. Ek praat twee keer lelik en gryp my kop vas. My kop is dof en seer…

Ek kyk af en staar verbaas na my slaapbroek, wie se rek al so uit gewas is ek lyk soos Prins Charles in sy perdrybroek op Nationals by die Winsor Polo veld.
Die broek het al my gewig gediskus sonder om te skeur!
Ek vloek weer, die keer uit admirasie. Gooi my handoek oor my skouer en mik verby die deur die gang af na die badkamer. Die hond blaf buite vir die vuilis mense wat in die straat afkom. Ek probeer fluit om die gedierte te laat verstaan ek weet daar is mense om die erf maar dis OK, hulle mag daar wees. Ek byt effens oor my onderlip en met ‘n nies en nog ‘n ander onnoembare windlawaai van onder vorseer ek die lug deur my tande.
Dit klink soos ‘n ballon wat die lug in dwarrel. Dis net wind wat ontsnap maar net voor my asem heel opraak kry ek die noot en ‘n oorverdowende fluit draf in die gang af, deur die studeerkamer en laat Mbungu, die hond omkyk van daar waar hy by die hek staan.
…Stilte.
Ek glimlag breed maar die verdwyn vinnig toe ek myself in die badkamer spieel sien. Amper praat ek weer lelik.

Die stort sukkel om my wakker te kry en ek wonder hoekom ek so dikoog voel. Seker weer hooikoors, My ma het mos altyd gese ek moet versigtig wees vir die blomtyd. Ek staan in Windhoek, waar sien jy blomme? Hier mag dalk blomme wees maar almal se heinings is so hoog, g’n mens sal weet of daar ‘n blomtuin iewers skuil nie. Ek dink die hooikoors kom van die buurvrou wat daar agter verby die garage se kant bly.
Die het so effense sielkundige afwykinkie, sing kliphard opera in die moeilikste ure van die nag en die ousie kla sy word nat gespuit met ‘n tuislang as sy buite toilet toe stap, tye wanneer mens nie nat gespuit wil word (of lyk) nie.
Die wind het hoeka gisternag uit daardie rigting gewaai, dalk ‘n paar onheilighede saam gebring, iets soos hooikoors.
Wag ek moet by die werk kom!

Ek voel heelwat meer wakker toe ek die hek oop stoot en my verskyning in die straat maak.
Die Land Rovertjie maak mooi vanoggend en ek vorder die straat af tot by die eerste stop. Dit is eintlik die tweede stop maar ek stop nooit by daardie eerste ene nie. Maar hier moet ek vandag mooi doodstop. Sersant Mostert van Stellenbosch sou trots gewees het op die prestasie, siende dat ek nooit dit in my studente dae kon regkry nie. Voor my, dwars in die pad staan so ligblou Corrola met so dun spaarwielletjie links agter en ek weet hy’t ten minste 10 000 kilometer op.‘n Gewigtige dame is besig om agteruit uit die Toyota te bewe, of klim sy nou in? Dinge vorder nie en sy wikkel die voertuig so dat daar iets uit die hoek van my oog van die taxi se dak af val. Dit is so geel dingetjie met swart geskryf daarop. Die son het egter die taxi teken so gesmelt dat die letters so bietjie deurmekaar gevloei het, daar staan nou, “Tax free” Dit mag dalk die swart selotape wees wat die extra woord veroorsaak het. Ek is klaar moeilik vanoggend en druk die toeter.
So swart gesig agter die stuurwiel skiet ‘n kyk in my rigting, wat sê,” Wat maak jy hier waar ek wil stop?” Ek moet erken die gedaante was vir my ‘n verrassing want die klong sit so laag agter die stuurwiel en met die dat die ruite ook nog getint is, lyk dit asof die Corrola homself bestuur.
Ek probeer hom terug kyk maar die passasier het dit uit die agterste sitplek gemaak en trek soos ‘n wolk tussen ons deur terwyl sy die lastige onderklere regskuif onder haar rok. Sy sukkel nie en ek dog amper iets gaan skiet soos sy ruk en pluk. Moet dieselfde materiaal as my slaapbroek wees.

Eindelik is sy uit die pad en die sypaadjie uit soos ‘n sumo stoeier wat die pas makeer. Ek gooi my kwaaiste kyk terug in die rigting van die bestuurder van die blou Toyota. Ek lê weer op die toeter. Nou raak hy aspris en vat so twee minute langer om weg te trek. Nou is ek al goed boos en ek ry so naby aan sy agter ent as wat ek dink nog veilig is. Terselfde tyd bereken ek alle uiteindes van hierdie situasie en besef as hy nou gaan besluit om skielik te stop, sal die Land Rovertjie darem nie tweede kom nie. Die naby ryery besluit ek is ‘n goeie idee!
Maar die bestuurder van die voertuig hier voor is heel duidelik al gewoond aan die situasie want hy hou die wiele aan die rol teen ‘n stewige dertig kilometer ‘n uur. Dan lig hy nog sy arm om twee meisietjies langs die pad te groet, die is seker nie eers sestien nie. My temperatuur styg en dis nie asof ek die Land Rovertjie se lugverkoeling kan aansit nie. Ek draai die ruit verder af.

Dit veroorsaak twee dinge, een: die wind beginne my bietjie afkoel en twee: nou kan ek my arm by die ruit uit steek en ietsie skree.
Net toe ek ‘n my kop by die venster uitsteek en ‘n paar woorde laat val ( My vierde vir die dag ), ry die tannie van die kanker vereniging van vooraf by my verby en klaarblyklik het sy ook nie lugverkoeling nie want die se ruit is ook heel oop. Te laat om myself te keer, verander ek maar my vuis in ‘n vriendelike waai in haar rigting. Ek skaam terug in die binne kant van my Land Rovertjie in. My ma gaan hiervan uitvind, dit weet ek. Ek weet nie of die tannie my ma ken nie maar ek ken vrouens en ek ken al vir Windhoek.
Hiervoor gaan jy boet… ek kyk weer voor my en sien dat die taxi al ‘n goeie vyftig meter voor my is, ek laat val my voet tot daar in die hoek en storm soos ‘n gevaarte op die blou taxi af. Ek sien my gaping en steek hom regs verby, ek wil nog tekens gooi maar teen die spoed moet ek liewers albei hande op die stuurwiel hou. So hou ek wie weet hoekom, aan jaag tot by die werk. Tien minute en dertig namibiese dollars se petrol later is ek by die werk. Toe ek stil hou, stop hier so wit Renault langs my met ‘n roerende blou lig. Op die deur is ‘n City Police wapen. Agter die stuurwiel wikkel ‘n konstabel Beukes hom los en sukkel regop. Aan die passesiers kant sit so maer kêrel met ‘n bos krul hare, vars uit die polisie kollege uit. Die kyk in admirasie hoe konstabel Beukes hierdie situasie hanteer.
“Meneer, jou licence ‘seblief!” sê hy terwyl hy die wêreld om hom betreur. Hy maak of hy my nie raak sien nie. Die dat hy my so staan en mis kyk laat hom baie nonchalant lyk. Maar sy pen het onlangs in sy sak uit geloop en dit doen bietjie afbreek aan sy beeld. Die kol het hy met Jik probeer verwyder. Dit het die hele sak se kleur so verdof dat ek die pakkie Gunston Filter se kanonnetjie kan uitmaak deur die ligblou materiaal. En die kol sit nog steeds daar.
Ek klim heel verbaas uit en gee die nodige aan die konstabel.
Die trek sy broek op en nog verder onder sy balkon van ‘n maag in, monsteragtig sê ek julle. Die man is so groot ek dink hy het by die agterste deur van die karretjie uitgeklim, so vêr is sy stoel terug geskuif.
“En nou meneer? Ek iets verkeerd gedoen?” Vra ek onskuldig. Al die agressie van nou net weg. Diep in die petrol pedaal weg getrap.
Met so half mompelstem se hy,” dJohannes, Hendrik Stals, djy het da in dJan dJonker weg oor ‘n stopstreet geja.” Lees hy my name van die ry bewys af.
Nou is ek regtig verbaas,” Maar konstabel, dis tien minute terug, hoekom stop u my nou eers?”
Hy begin die kaartjie skryf,” Ons kon nie by djou by bly nie, daar was ‘n taxi voor ons…”




Stromateia: 'n Lappieskombers van Gedigte

deur Vesting

Op aandrang is die gedigte van Vesting wat op Woes gepubliseer is, in boekvorm uitgegee (A5, slapband, 28 pp). Navrae: 072 4078561



Mentorskap program

Mentorskapprogram

Leer meer oor skryf en word deur 'n mentor op jou pad gehelp.

picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar