Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Liesel loop uit die huis uit, haar dun truitjie styf teen haar getrek soos die wind dit probeer steel. Daar’s net een plek waarheen sy kan gaan om beter te voel: die see. Sy loop vinnig deur die stil skemer strate. Al haar bure is besig met aandete. Sy’s seker daarvan, want dis die tipe buurt waarin sy woon: veilig en voorspelbaar.
Die see skyn rooi teen die tyd wat sy oor die laaste duin klim. Iets skiet los binne haar en sy hardloop na die strook tussen droë en nat sand waar sy snikkend val op haar kniëe.
Net die see kan verstaan in hoeveel pyn haar siel is. Net die see kan hul ondankbare woorde van haar afwas.
‘n Koel briesie steek op en Liesel wens sy’t daaraan gedink om ‘n baadjie te gryp voordat sy by die deur uit is. Maar woede en pyn het alle denke verjaag. Net een gedagte het gebly: gaan see toe.
Haar hande brand van droogheid; skoonmaakmiddels het ongesiens deur die geel handskoene gevreet en haar hande aangeval soos sy vrou-alleen weereens die huis op haar eie skoongemaak het. As sy dit nie sou doen nie, sou vuil wasgoed en skottelgoed in driwwe gelê het deur die huis op stoftaai vloere en bruin paadjies sou gelei het deur die stofbolle.
Maar haar moeite is nie goed genoeg nie.
Sy werk vol dae in ‘n eentonige posisie wat stukkies van haar siel elke dag steel. Dan kom sy huis toe en maak skoon en berei aandete voor – want mens kan nie van wegneemetes leef nie.
Maar haar huismense waardeer dit nie.
Haar lyf hou op om te ruk van snikke. Haar oë is leeg gehuil. Sy neem diep asemteue en gaan sit met haar kniëe opgetrek onder haar ken.
Al die kleure is weg en die halfdonkerte tussen dag en nag omvou haar sag.
Sy moes van beter geweet het as om ‘n huis met haar beste vriende te deel. Almal se persoonlike smaak en agendas bots. Tog, dis beter om saam met haar gunsteling mense te woon as op haar eie. Meeste van die tyd.
Sy wens net dat almal hul skottelgoed sal was in plaas van om dit net in die wasbak te los. En dat hulle hul stink gymklere meer as een keer ‘n week sal was. Sy kan sien hoe kieme partytjie hou in die huis. Dis hoekom sy skoonmaak soos ‘n besetene.
Ongelukkig misbruik hulle haar. Sy voel nou meer soos ‘n vloerlap as ‘n gelyke in haar eie huis. Sy wens sy kon net ‘n bietjie uit haar wêreld ontsnap.
Trane biggel sag oor haar wange. Sy vat verbaas daaraan. Sy’t gedink sy’t haarself uitgehuil.
‘Moenie huil nie,’ sê ‘n stem uit die donkerte.
Sy skrik, haar hart wild in haar borskas, maar bly gevries sit.
‘Ek’s jammer, ek wou jou nie bang maak nie,’ sê hy verskonend. Met die volmaan wat haar verskyning maak, kan Liesel sien dat dit ‘n aantreklike man is wat met sy hande afwerend voor hom langs haar staan.
‘Ek dink ek moet gaan,’ sê Liesel en staan op.
‘Asseblief moenie,’ sê hy in sy diep stem wat haar rustig laat voel soos wat die see altyd doen.
Sy kyk na hom. Die maanlig laat dit lyk asof hy dalk grys-groen oë het. Sy skud haar kop en herinner haarself dat mens nie regtig kleur kan onderskei in maanlig nie.
‘Ons was bestem om te ontmoet. Ek en jy is sielsgenote.’
Liesel skud haar kop en lag spottend. Natuurlik sal sy die malletjies na haar lok soos motte na ‘n vlam.
‘Jy glo my nie,’ sê hy teleurgesteld.
‘Natuurlik nie. Jy’s high of iets. Om iemand terloops êrens raak te loop maak nie sielsgenote nie.’ Sy kyk ‘n laaste keer verlangend na die see.
‘Dis dalk nie altyd so nie – maar ek en jy is vir mekaar bedoel.’
Sy kyk terug na hom. Hy klink nie of hy dronk of iets is nie. Sy woorde mag dalk bog wees, maar die erns in sy stem is nie.
‘Asseblief, laat my verduidelik?’
Sy knik en vou haar arms beskermend. Dit word al hoe kouer en die wind wat van die see se kant af kom word ysig.
Voordat Liesel besef wat aangaan, gryp hy haar hand en hardloop met haar die see binne. Sy’s paniekerig toe die water oor haar kop gaan en sy verder af getrek word met hom soos hy swem. Haar longe brand. Voordat sy haar bewussyn verloor, haal sy asem.
In plaas daarvan om te verdrink, besef sy dat sy kan asemhaal onderwater. Sy kyk na die man wat haar deur die donker water trek. Hy haal asem so maklik onder die see as wat hy op land gedoen het.
‘Ek’s nie ‘n mens nie,’ hoor sy sy stem in haar kop. ‘Die see veral is vol Feë. Seebewoners soos seekatte en visse gee nie om dat daar vreemdelinge tussen hulle kom woon het nie.’
Liesel weet nie wat om te dink nie.
‘Ek besef nou dat ek nie eens jou naam ken nie,’ sê hy met ‘n lag vol verbasing. ‘Myne is Caspian. Kom,’ hy los haar hand. ‘Dan swem ons saam.’
Haar liggaam faal haar nie – tussen al die huisskoonmaak wat sy op haar eie doen en haar obsessie met yoga is haar spiere in goeie kondisie. Sy swem saam met Caspian oor pragtige koraalriwwe wat ‘n kleureprag van visse en ander seebewoners bevat.
Hy lei haar dieper af. In vergete kelders kan sy net-net skepe uitmaak wat toe is onder bruin alge en seewurms wat blink borrels maak. Seewiere verdring die skepe met hul lewende groei.
Hulle swem nog dieper af en Liesel is verbaas dat sy enigsins kan sien. Hulle swem om ‘n berg.
Sy snak na asem.
Voor haar is ‘n paleis van pêrels en skulpe. Meerminne en meermanne swem rond saam met robbe – so diep in die see? – en onaardse wesens wat amper soos mensvroue lyk, net hulle het wasige vlerke en dra swewende rokke wat agter lank en voor kort is.
‘Die seenimfe hou daarvan om altyd op hul beste te lyk,’ sê Caspian toe ‘n groepie van die onaardse wesens verby hulle swem.
Liesel kyk grootoog na hom.
‘Hierdie is my paleis. Almal hier is my onderdane. Jy kan saam met my hier heers.’
Sy kyk weg van hom af na die kelder wat geen mens behalwe sy ooit gesien het nie. Sy voel hoe hy weer haar hand vat. Hy vryf teer oor ‘n eelt.
‘Jy hoef nooit weer skoon te maak nie. Die natuurlike ekosisteem hier sorg dat alles altyd skoon en vars is.’
Liesel glimlag.
‘Kom, dan gaan ons terug strand toe,’ sê hy en lei haar terug na die oppervlakte.

Koud en nat staan en kyk hulle vir mekaar op die maan verligte strand. Caspian gaan af op een knieg en hou albei haar hande vas in syne.
‘Ek bied jou my alles aan.’
‘Liesel.’
Hy glimlag. ‘Liesel. Ek het jou nodig aan my sy. Ek sal jou nooit enigiets ontsê nie. Maak jou hart oop vir my soos myne oop is vir jou. Trou met my. Wees my bruid.’
Sy voel oorweldig. ‘Ek weet nie,’ fluister sy en kyk paniekerig rond.
Caspian staan op; haar hande steeds in syne.
‘Dink hieroor. Ek sal terug wees die volgende volmaan. Ek sal die hele nag wag as ek moet.’ Hy soen haar sag en verdwyn weer in die branders.
Liesel skud haar kop om ontslae te raak van die bedwelming waaronder sy is. Gevries keer sy bibberend terug huis toe. Waar niemand haar eens gemis het nie. Al die kos is klaar geëet – hulle het nie eens vir haar oor gelos nie – en die skottelgoed staan vuil die kombuis vol.
Sy ignoreer dit en gaan vat ‘n warm stort.

Die volgende weke gaan verby in beneweling. Niks verander by die huis nie – al sê en doen sy ook wat. Die vuil skottelgoed bly net so as sy dit nie was nie; die vloere verloor hul glim as sy nie vee en was nie. Dis asof hulle net nie omgee nie.
Al wat haar deur dit als kry is Caspian se woorde.
Wanneer sy in die nag in haar bed lê en na die see luister, is sy seker sy kan hoor hoe Caspian vir haar sing. Hy sing oor liefde wat vir ewig hou en dat sy dit nooit sal berou as sy hulle ‘n kans gee nie.
Die dag van die volmaan het sy steeds nie regtig besluit nie. Die oggend begin soos elke ander een waar sy alleen ontbyt maak vir almal, dan alleen skottelgoed was voordat sy na haar sielsdodende werk gaan waar sy meesal net vra of die masjiene ingeprop en aan is voordat sy verdere ondersteuning gee. Meeste van die tyd kan die masjien net af en aan gesit word dan werk dit weer reg.
Daardie aand kla die joernalis in die huis dat hy nie weer rys, vleis en aartappels kan eet nie. Die model in hul midde stem saam – dit steek klaarblyklik sy wangbene weg. Die onderwyseres kyk geïrriteerd op van haar merkwerk en gil dat hulle sommer kitskos moet bestel.
‘Genoeg! Ek swoeg en slaaf heeldag en vir wat? Julle is ondankbaar! Julle gaan dit nog berou,’ sis sy en gooi die vadoek neer. Sy gluur vir elkeen en storm die huis uit.
Haar voete vat haar na die strand. En sy weet: sy het al lankal gekies. Dalk is Caspian se aanbod te goed om waar te wees, maar sy weet sy kan nie teruggaan nie.
Toe hy haar sien, verhelder sy gesig met ‘n glimlag wat sterker skyn as die son. Sy hardloop af na hom, trek haar tekkies uit en hand in hand loop hulle die bloedrooi see in.
Hulle het ‘n liefde wat tot in alle ewigheid gaan hou.

Liesel se huismense kom bymekaar voor die strand. Hulle het die hele buurt deurgesoek vir haar. Dit was seker sleg van hulle om eers agter te kom dat sy vermis is toe daar geen ontbyt uit die niet op die tafel verskyn het nie. Maar hulle is besig. Baie besig. Met sosialemedia en met hul eie voorkoms wat hulle ruk en pluk om reg te kry. Wie kan byhou met wat jou huismense mee besig is? En hulle soek mos nóú vir haar.
‘Almal sê hulle het haar laaste strand se kant toe gesien stap,’ sê die model in die groep. Selfs so vroeg in die oggend is sy hare perfek en glim sy spiere in die vroëe oggend son.
‘Dis wat ek ook gehoor het,’ sê die onderwyseres wat nog in haar oefenklere is.
‘Wel, dan moet ons strand toe,’ sê die joernalis. Hy het nodig om vroeg by die werk op te daag, voordat die redakteur al die goeie opdragte uitdeel. Hy kan nie glo dat Liesel so selfsugtig kan wees om wegkruipertjie met hulle te speel nie.
‘Nee,’ sê die onderwyseres sag toe hulle oor die groot duin geklim het.
Die ander twee volg haar staar. Die model trek sy asem skerp in. Die joernalis sug.
Liesel se gunsteling tekkies staan netjies op die strand. ‘n Ry voetspore lei direk daarvan af na die see. Daar’s baie ander voetspore oor die sand, maar nie een stel is so vasberade nie.
Hulle al drie weet wat gebeur het. En hulle neem hulself kwalik. Dalk as hulle net ‘n bietjie meer dankbaarheid getoon het, het hulle nie vanoggend ‘n paar tekkies teruggevat na hul huisie by die see nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Bruid
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die KELDERS VAN DIE SEE projek.
4 jaar 3 maande 2 dae 23 ure oud



Kruispad

deur Manie Jackson

Toe Luzette en Manie se paaie gekruis het, en die lewe daarna.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar