Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

     
Siende dat die Le Roux’s in die geskiedenis al bewys het dat hulle befaamde wynmakers is, het oupa Buks Le Roux geglo die vaardigheid is oor ge-erf - wynmaak is in sy gene.
     
Die Katôbatjie-prieël in die agterplaas het hom bly fasineer en een oggend vroeg besluit hy toe dat dit tyd is om sy ingebore wynmaak-talent op die proef te stel.

Ouma Annie word opgekommandeer om te help katôbadruifies pluk. Die katôbatjies word met stokkies en al in die groot plastiese drom gegooi, aangesuur met kitssuurdeeg, dig toegemaak met ‘n lap en rustig in die spens gelaat vir die fermentasieproses.

Dag na dag roer Buksie die druiwemengsel wat al goed aan die gis is, net nog so bietjie deurmekaar, meenende dit gaan die gistingsproses aanhelp. Na ‘n week besluit hy die reuk en smaak van die katôbatjiewyn in wording is nog nie reg nie, skraap ‘n bottel brandewyn nader, gooi dit by die mengsel en help die stokery sommer met nog ‘n bietjie ekstra gis ook aan.

‘n paar dae later begin die drom geluide maak. Ouma Annie begin bekommerd raak, want as die spulletjie ontplof, bly haar bottels canned fruit dalk nog in die slag. “Pa” vra sy: “Is jy seker jy weet wat jy doen?” “Natuurlik moeder, die druiwe moet lank genoeg gis en trek om die smaak te verbeter”. Ouma is nie heeltemal oortuig nie, die onaardse geluide in die nag klink vir haar altevol of die duiwel besig is om sy kookpot te stook, maar sy berus by haar ou man se versekering dat hy sy storie ken met die wynmakery. Wie kan nou teen ingebore wynmaak talente baklei?

Nog ‘n Week gaan verby, Buks begin nou haastig raak. Hy beruik die stokery so van die agterdeur se kant af en besluit sy resep moet nog ‘n bietjie verder aangespas word.... dit gaan nog internasionaal gebruik word vir toekomstige beste wyn ooit. So effens versnit maar dit is juis die geheim van die besonderse wyn. Die ou botteltjie witblits wat so verlate op die spensrak geparkeer staan kry darem toe ook sy regmatige plekkie om die wyn so effens meer te versnit.

Groot is sy verbasing die volgende dag toe hy sien die drom begin beweeg, dit grom en kook en skiet en die feit dat die hond by die voorhek gate in die grond grawe in ‘n poging om op vlug te slaan, laat besef vir Buksie die wyn is proe-gereed.

Sus Hannetjie, ‘n wynkenner, en die kinders word gebel en uitgenooi na die wyn-proe okkasie van Buksie se katôbatjie-wyn Tuis gestook en vir die toekoms, sommer ‘n groot geldbesparing as dit by die onthaalslag kom. Meen nou – familie wyn, vars uit die kuipe! Pas na sonsondergang word die vuur aan die brand gesteek, die jongklomp moet die vleis braai terwyl die ouer garde gereed maak om Buksie se katôbatjie-Cabernet-Sauvignon te beproef.

Buksie se sus Hannetjie is die eregas en omdat sy soos genoem, n wynkenner is, kry sy die voorreg om die eerste persoon te wees wat die Katôbatjie gaan proe. Buksie gebruik die groot meelsif met ‘n dun lappie in om die doppe en stokkies agter te hou vir die skinkslag. Die glasie word vol gemaak, daar is by Buksie nie eers twyfel dat die wyn ‘n treffer gaan wees nie. Sus Hannetjie ruk na die eerste proe-slag, sit bietjie dieper terug op rusbank, haar asem weggeslaan. Met ‘n dun helium stemmetjie sê sy: “Lekker broetjie” en snak so ‘n bietjie na nog asem. “Drink suster, daar is ‘n drom vol”. Sus Hannetjie se wange is binne ‘n minuut bloedrooi, en oupa Buks kry so ‘n snaakse aardige voorgevoel, skuif eers sy glasie versigtig eenkant toe. Na die tweede sluk gaan dit beter, sus Hannetjie het darem haar asem terug en smak haar lippe. Oupa buks dink – dit is seker om die smaak behoorlik te kan kry en die katôbatjie vrugtegeur behoorlik te identifiseer. Dit blyk of die vrugtesmaak nie reg deurkom nie en Buks moedig haar aan om nog ‘n sluk te vat, om beter te kan proe. Sus Hannetjie vat ‘n groot sluk, haar oë traan, en die water stroom uit haar neus, pupille groot gerek. Met die laaste sluk knik haar kop op en af en sy besluit om liewer van die bank af op te staan.
Met die opstaanslag is die bene nie meer so gewillig nie, sy knak in ‘n gebukkende posisie, duik vorentoe in die skrumposisie, lewendig dood of dood lewendig niemand sal weet nie. Oupa Buks vlieg soos ‘n pyl uit ‘n boog, gryp vir Sus Hannetjie vas sodat sy nie op haar gesig neerslaan nie en hulp word ingeroep. Twee sterk manne vat haar onder die arms vas en oupa Buks dra die bene. Agter in die kar word sy neergelê. Terug huistoe onder ernstige katôbatjie-narkose.

Twaalfuur die volgende oggend bel Oupa Buksie om te verneem of sus Hannetjie nog in die land van die lewendes is. Ouma Annie se gekerm en verwyte : “Ek het jou gesê” het al sy senuwees rou geskaaf. Met die telefoon so teen die oor het hy net sy kop geknik, gefrons en toe maar sedig gegroet en vir ouma Annie meegedeel dat sus Hannetjie pas uit haar beswyming ontwaak het en vir ‘n dag of twee in die bed sal bly. Hoogs beswaard het hy die drom dreunende katôbatjie-wyn gaan bekyk en daar en dan besluit dat daar nie met goeie goed gemors kan word nie. Siende dat Hannetjie nou amper bokveld toe is, en hy nou nie kans sien om ook vir twee dae neer gefel te word nie, sal hy die katôbatjie-wyn maar as bemesting vir moedertjie se tuin aanwend - as super groei. Sy sal dan ten minste nie kan kla oor vermorsing nie.

Die volgende oggend staan hy sprakeloos na die groentetuin en staar. In die middel van die somer lyk dit of die swart-ryp die groentetuin getref het. Die plantselle het verseker nie gevries nie maar ontplof van die katôbatjie-wyn en het hulle, soos sus Hannetjie, in ‘n skrumposisie pikswart aarde toe gesak. Ouma Annie se trane en verwyte was sy kos vir dae en dan het die verduideliking van die verdwene witblits ook nog voorgelê... of sy hom sal glo na die katôbatjie debakel lê nog soos ‘n groot berg vir hom voor.






Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Skakerings van Grys

deur Swartberg

n Bundel van 54 gedigte oor n hele aantal jare geskryf. Beskikbaar in elektroniese formaat.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar