Weergawe: 1
Aantal woorde: 1149
Kere gelees: 0
Datum gepubliseer: 28 Oct 2010
“Gisternag se wind het die dakplate by die kwartiere los gewaai en voor sy gaan lê glo ek het dit alles wat nog nie vaal geryp het nie swart verbrand. Moses sal moet gaan vasmaak.” Praat tant Katie so met die brêkfis aan mekaar slaan met haarself. Ons luister traag soos ons traagheid om van die stoof los te kom om te gaan aansit…
“Wat gaan julle met julle self in hierdie koue vandag aanvang?” Dit is weer tannie Katie wat rondsnuffel.
“Hoekom moet grootmense altyd so uitvra ?” dink ek ’n teenvraag, maar laat dit vrede-wil net daar.
“Donkies ry, Antie.” Sê Wolla en vervolg: “Vaaljaap gaan vandag uitvind hoe verkeerd hy hom in ons kom vasloop het!” en hy lag amper soos wat hy huil – net ’n paar note hoër en harder.
“Julle moet darie donkie uitlos! Kyk wat het hy met Casper aangevang!”
Niemand kommentaar nie, maar Wouter begluur vir Wolla wat onwetend die een stuk spek na die ander sorgeloos tussen die tande inprop, met die tong so ’n slaggie of wat omblaai en dan skynbaar sonder kou wegsluk om haastig die volgende stuk wors of eier dieselfde pad te dwing. (Pa sê baie keer laggende dat as iemand ’n eetlusprobleem het kan hy maar net vir drie happe na Wolla kyk, want daarna is hy tot volmaag eet gememeriseer…)
Ons het ver-yste tone die donkies uiteindelik dóér bo teen oom Frikkie-hulle se lyndraad gekry. Dit was gou duidelik dat Vaaljaap die hele gespuis aangehits het om dubbel moedswillig te wees. Van hoekvaskeer wou hulle niks weet nie en het telkens uitmekaar gespat, elkeen sy eie koers in en nie gemaak wat donkies normaalweg doen nie, naamlik om agter mekaar of op ’n bondel te laat spaander nie. Maar ek het, jammer vir Vaaljaap en sy trawante, kleintyd al geleer om soos ’n donkie te probeer dink en toe roep ek vir Wouter en Wolla nader en sê hulle aan om saam met my net op een donkie te konsentreer: Vaaljaap. Uiteindelik hom afgesonder en al op-en-af teen die lyndraad gewillig gejaag om gevang te word en met die vang het ek geklim en wraggies, die maaifoedie vergeet skoon van gister se storie in die kraal en wil my somme net daar tussen die klippe aflaai! Gelukkig het ek my stuurstok reeds ter hand gehad en praat hom van bo af tussen die ore met een allermintige hou behoorlik aan en toe verstaan hy! Gou-gou was aldrie van ons, natgesweet in die koue maar berede, op ’n galop op pad terug opstal toe. By die opstal moes ek ’n wyle vir die ander twee wag, want Vaaljaap was langbenig en ek het hom haastig gemaak oor sy vergeet daar tussen die klippe…
Ons het die drie donkies in die kraal gekamp toe daar alarm gemaak word dat ons moet kom eet. Seuns is mos maar altyd honger maar as dit winter is hol hulle geraamtes mos ook uit want wat ge-eet word kan onmoontlik nie in een maag opgevang word nie! Moet elders heen al is dit nou ook in hol beenpype in…
Wolla was honger. Wolla is áltyd honger. En dié middag wás Wolla honger verby en sy geslurpery is deur tant Katie verskoon bloot omdat sy te hardhorig was om dit te kon hoor. En dit het Wouter en my nie laat agter bly nie en blinkmaag is ons van die tafel weg kraal toe om verder te beplan…
“Het julle geweet hier het Ingelse aan die anderkant van oom Piereman gekoop?” het Wouter wat teen die hekpaal gestut was meegedeel. Wolla en ek was min ge-interesseerd in hierdie mededeling, nog minder ge-imponeer, want vir ons was Ingelse eenkant mense waarvan jy so ’n bietjie deur mevrou Beetge van die Geskiedenisklas gehoor het. En ôk nie té veel nie, want die poletiek loop reg en die verhale oor die Konsentrasie-kampe is nog nerwig…
“En hulle het drie dogters omtrent ons size.” gooi Wouter die aas uit, maar ek –en veral Wolla- verwens ons mae en luister nie juis nie want waar ons ruglê teen die drukgang se dwarspale stook die vlou wintersonnetjie genoeg hitte om ons so met ons swarigheid aan volgestopte magies te laat loom.
“En is hulle mooi!” roep Wouter in vervoering uit en skud ons so uit ons lomerigheid.
“Jy lieg vir ons!” beskuldig Wolla.
“Jy sal ander liedjie maak as jy hulle eers gesien het.” lag Wouter en vervolg voordat hy nog in die rede geval kan word: “Julle kan maar vir Herklaas vra as die skool weer begin. Hy’t hulle by die Dorpskou gesien. En kan hulle pedry!”
Ons is mos net ons drie en daar is geen rede om te skaam nie en daarom vra ek kamma onskuldig: “Kan die meisiekinners gekuier word?”
Van oom Wouter se plaas lê die Dowly’s se opstal so ’n parmantige tien-vyftien kilometers winkelhaak met die stofpad Suid-Oos. Alhoewel dit amper eenuur is besluit ons instink en nuuskierigheid vir ons om te gaan oog neersit en ons darem kennig te maak wat in die wêreld aangaan. Die donkies bly die hele tyd inskiklik en ons galop in ’n netjiese ry die winkelhaak op, die winkelhaak af. So in die middel van die langbeen van die winkelhaak raak Wolla se donkie algaande al balhoriger en Wolla al baldaiger met die lat en hulle raak agter in hulle gestryery en ons moet stop en wag. En die son staan nie stil nie.
Toe Wolla uiteindelik by ons aanland, sak sy asjas in sy vier spore af tot op sy maag met Wolla nou erg vloekend nog op sy rug! Donkie se kind trek net vel styf en voel nie die lat wat smeek en dreig vir opstaan nie. En ’n donkie bly maar net ’n donkie se kind as dit by moedswillig en aspres kom, en ons mors daar toe seker meer as ’n halfuur hieroor! En ek dag ons moet omdraai maar Wolla se donkie kry tweede asem en vandaar af moet ek Vaaljaap nogal aanpraat om voor te bly en so ry ons pronkerig-breëbors die meisiekinders se werf binne met weggesteekte bonsende harte…
Lees ander kortverhale deur Koekekranka
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die kortverhaal
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie kortverhaal
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
deur Francis Gillieron
Geskiedenis van die Suid-Afrikanse Weermag vanaf 1912 tot sy ontbinding in 1994