Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Die Dowly’s se drie meisiekinders staan buite die huis by hulle perde toe ons aangalop kom. Verwonder ek my toe nie min oor dié baldadige galoppery vir donkies wat so effe terug nog dooierig van beweging was nie. Weet nie hulle het al klaar geruik wat ek nie kan nie en ook nie kon sien nie. Vaaljaap natuurlik voor -oor sy lang bene en sterker lyf!- klap die hoewe dat die lossand spat en tè laat sien ek wat hy al seker nagte oor gestaan en droom het: ’n Baster-kameeldoring langs die beespaadjie waarmee ons kortpad opstal toe sny. ’n Laaghangende tak vol doringbelaaide sytakkies wat, so met die oog gemeet perfek oor Vaaljaap se rug sal skuur, hang oor die symste paadjie waarop ons ons galoppend bevind. Ek slaan Vaaljaap se regter-kakebeen amper uit potjie met my stuurstok (want tome had ons mos nie!) maar hy is ongevoeliger daarvoor as ’n kooltjie vir vuur. Keuseloos word ek dwarsdeur die oorhangtak gesleep met my hande voor my oë om dit van erge skending te red, maar ook om ernstig te bid vir behoud! In my geestesoog sien ek my tôiinglyf al klaar bebloed en naak anderkant uitkom, maar ons is dwarsdeur! En ek voel g’n klamhittigheid van bloed nie en toe ek my oë oopmaak is my hemp nog ongeskonde aan my lyf: ’n Wonderwerk op ’n ernstige seunsgebed! En gelukkig gebeur dit buite die meisiekinners se gesigsveld…

Wouter kan maar lekker lieg as hy wil.
En oor die mooi van die drie Dowlietjies het hy so wragtig ook gelieg, want hulle was nie mooi soos hy laat verstaan het nie… Hulle was soos in vrékmooi! En die oudste enetjie, skat ek, was ook al so in die Hoërskool rond. Waar weet ek nie, behalwe dat dit nie in ons skool kon wees nie want wraggies, geen of selfs iemand wat hélemal oogloos gebore gewees het sal so 'n mooie mens selfs uit moedswilligheid mis kon kyk nie!

So skaam en sku soos ek maar vir meisiekinners is, só skaamteloos kan sy sonder reguit kyk sien my hart klop ’n onverstaanbaarheid wat mens amper kan hoor. En sy kyk moedswillig my reguit in die oë toe name uitgeruil word met ’n eina trekkie van ’n glimlaggie wat so aan die kante van die sagste mondjie nóg gesien skemer. En my kop dink vir die eerste keer aan mooi woorde en goeters wat ek ook sommer dadelik vergeet om nog aan mooier woorde en goeters te dink wat ek brand om haar te sê! En ek dink sy is die naaste aan die soetdoring se geel blommetjies as die wind ampertjies stil gaan lê het en die lente-sonnetjie die doudruppeltjies daarop blink verskietende sterretjies maak en die soeterige-melerigheid daarvan in en oor jou versprei…

“Maak toe jou mond. Jy gaap!” maak Wolla my wakker en ek kyk weer in daardie blou oë en ek vergeet van Ma. Ek vergeet van Pa. Ek vergeet van die Gecado want ek het vir die eerste keer in my lewe vergeet om te dink…

Die agtermiddag het my denkloos tussen die donkies, die perde, Wouter, Wolla en die meisies kom kry met myself opgeskeep.

Ons is later na die stalle waar die meisiekinners die donkies met geelmielies en lusern bederf het. Die oudste enetjie het vir Vaaljaap kort-kort oor die kop gestreel met daardie sagte handjies en dit het my opostandig gemaak soos Judas toe Jesus deur die vrou met die dure salf gesalf was. En ek het geweet, sonder dat iemand dit vir my moes uitlê, dat dit jeug se jaloesie was. Maar ek sal dit mos ontken!

Ons het ook kans gekry om hulle perde te ry. Ek het per toeval die oudste enetjie se perd getrek en is toe by ooreenkoms ge-eskort deur die kleinste. Nou Ouboet, as jy nog nooit met ’n saal gery het nie, sal jy nie verstaan nie. Dit is soos om op ’n semetvloer vol albasters te probeer wals op die maat van ’n riel. Redelik onseker en baie onstabiel in die saal! En vooraf was ek ook nog onbekend daarmee dat die drie sustertjies dit ’n gewoonte gemaak het om met hulle perde soos besetenes te jaag. Geen tyd vir rustig ry nie, want die gejaag met perde om te wen, hoor ek agterna, is hulle passie! En ek dink nogal die kleinste begelei my en is die onskadelikste en die kalmste van die drie. Fout.Gróót fout! Toe ons onder oë uit is gil die katwyf bloedstollend “JAAAA!” en met dié, gelyktydig met my skrik oor die onverhoedse gegil, skrik ek my regtervoet skoon uit die stiebeuel terwyl altwee perde soos honderdmeter-atlete uit die blokke vlieg. Hierteen was ek nóg minder bedag en so, regshangende met my regtervoet wat rondtspartel om die swaaiende stiebeuel een-uit-duisende raak te trap, my linkerhand wat téén die perd se links swenk my na-regs-vlieënde-liggaaam probeer terug werk perd se rug toe, stofwolk ek en perd agter die klein flerrie en haar perd aan met beide perde uit gewoonte daarop uit om te wen!

Ek bid toe vir redding! Seuns-ernstig die tweede keer op een dag! (Pa het my op 'n dag probeer verduidelik hoe lank die ewigheid na die dood is en ek het moeilik verstaan. Hy kon dit mos makliker gemaak het en net gesê het die ewigheid is amper 'n halwe keer korter as die wat tyd vir my op daardie perd se rug gevoel het.) En vir die tweede keer op een dag gebeur daar ’n wondererk: My regtervoet vind die stiebeuel, my linkerhand wen teen swaartekrag, ek bly op die perd se rug en die perd wen so wraggies!

Alle gebede, leer ek later die dag, loop nie op wonderwerke uit nie. Sommiges tjop af. Want ek het dié dag vergeefs gewag vir die skaduwee deur die son om op die grade van Agus se sonnewyser wensgrade agteruit te gaan om maar net langer in die oudste, wat ook die stilste was, se skaduwee te kon vertoef. Die hemelblou van haar oë met my oë leeg getap… Maar dit kon nie, wou nie, want die son het skielik baie haastig geword om berg-oor te klim en ons moes roer om voor donker terug te wees by die huis.( ’n Ongesegde reël wat alle kinders van ons tyd geweet het: Sonsak is neskruip tyd.)

En toe ons moes gaan is dit die oudste wat by “Daddy” afsmeek dat hulle ons so ’n entjie mag begelei. Natuurlik sal ek teen alles heilig moet lieg as ek sê ek was teleurgesteld! En ons is die plaaspad pare-gewys af: ’n Donkie met ’n seun op en ’n meisiekind te perd; ’n donkie met ’n seun op en ’n meisie te perd en ek op Vaaljaap wat die pikswarthings van ’n Ridder is en die oudste die geredde prinses uit die kloue van die draak met derduisende van slangkoppe, oral vol oë en vuur uit die bek. Idillies… Eerlikdromend in ongeskende kinderdenke, -drome…

En toe bars die blasie!

(Word vervolg)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

LIESBETH

deur Trixie

'n Tradisionele roman wat wye lewensveld in kompakte tonele aanbied. Liesbeth stoei onwetend met die emansipasie-draak en vind uiteindelik vrede by Hein.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar