Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Die see is rof vandag, dink Patricia terwyl sy haar gazebo opslaan en haar produkte uitstal op die vierkantige tafeltjie wat Gatiepie vir haar gemaak het. Hopelik sal sy vandag darem ‘n goeie geldjie maak, dis skoolvakansie en baie toeriste stroom gewoonlik hierdie tyd van die jaar na Kings Beach. Port Elizabeth is mos die ‘Friendly City’ van Suid Afrika ,want hier weet die mense hoe om gaste te laat welkom voel, moet maar nie eens praat van onthaal nie, dink sy terwyl sy die beste baaipakke en sandale op die tafeltjie pak. Alles puik kwaliteit, uit die fabrieke in die Kaap. Trots glimlag sy, terwyl sy ‘n tree agteruit gee en haar tafel aanskou, kleurvol en goeie pryse daarby. Sy beloer die ander stalletjies rondom haar, ingevoerde produkte net waar jy kyk. Sy glimlag en gaan sit vol selfvertroue op haar stoel en weet vandag sal sy beslis goeie geldjie maak.


Vanoggend is dit bietjie koud en die windjie speel-speel met die gazebo. Haar oë dwaal oor die onstuimige see, die woedende branders lyk soos spierwit perde op die Durban-July se renbane, op pad na die wenstreep om ‘n prys op te raap. Soos die dag se ure verminder raak die see al kalmer, die kliënte al meer, en die beursie raak al stewiger. Sy sal Gatiepie moet bel, sy het kleingeld nodig, en hulp sal meer as net welkom wees. Hy is in elk geval te veel bederf om te sit en wag vir haar om ‘n ete op die tafel te sit. ‘n Mens moet mos ‘n visie in die lewe hê, en iets soos ‘unfair’ bestaan nie, ons almal het die voorreg om vier-en twintig uur per dag te kry.


Sy haal haar foon half verergelik uit haar voorskoot se sak, skakel sy nommer en hoop hy antwoord so gou as moontlik. Sy beveel hom om spoedig sy opkoms te maak, kort en saaklik want sy kan nie nog bekostig om haar lugtyd te mors nie. Binne ‘n half-uur daag Gatiepie op met genoeg kleingeld en ‘n groot glimlag terwyl hy aan sy baardjies trek, sy oë gerig op die leë kartondose wat opgestapel onder die tafel staan. Sy kyk hom agterdogtig aan en wonder watter toneeltjie speel in sy brein af. Hy moet glad nie dink vandag se winste gaan ‘Kentucky Fried Chicken‘ koop nie. Sy het nog voorraad nodig. Hy loer haar oor sy dik brille, kry die boodskap, sy glimlag verdwyn soos mis voor die son, en op ‘n ernstige trend begin hy die kliënte help. ‘n Verkoopsman wat nie ‘nee’ vir ‘n antwoord aanvaar nie. Vir ‘n paar minute kan Patricia darem ‘n blaaskansie vat. Sy hou haar man dophou,en sien sy hoe die geld letterlik inrol, hy het mos die vernuf en sy sal seker maak hy sit nie weer by die huis nie, sy het hom nodig. Haar dag was vandag rowwer as die see.


Die see is nou kalmer, die lug warmer. Dit rumoer op die strand, kinders baljaar in die water, reuk van braaivleis hang in die lug en op die horison sien jy twee skepe wat die hawe rus-rus binnevaar. ‘n Gedoef-doef van musiek uit ‘n pendel-bussie laat haar ontsnap uit haar kuiertjie by die see. Die deure swaai haastig oop, pragtige jong meisies klim uit, op aandag gaan staan almal langs die bussie. Patricia bekyk die toneel en vestig haar aandag om te sien wat die volgende gaan gebeur. ‘n Lang skraal man klim laastens uit, geklee in ‘n swart pak, ‘n paar slangvel skoene, ‘n rooi leerjas met ‘n bypassende leer hoed op sy kop, goud glinster aan sy vingers. Die windjie speel vir ‘n oomblik met sy jas se voorpante, met regop skouers ruk hy die jas se pante bymekaar en knoop dit toe. So asof hy sy stempel op die kaai wil afdruk. Sowaar ‘n ‘Lord’ op ‘n missie.


Dit is duidelik dat die jong dames nie die area ken nie, pragtige kinders, praat nou van sonneblomme, tog is hul houdings kil en hul oë afwykend, so asof hulle nie wil gesien word nie. “Gatiepie, my skat wat is nou hier aan die gebeur?’, vra Patricia duidelik uit die veld geslaan, dit is die eerste keer dat so ‘n toneeltjie voor haar afspeel. “Kan jy dan nie sien nie, daai ou is die “pimp”, teen sononder sal daardie skepe die hawe binnevaar. Kyk daai kinders se klein kleding stukkies om hul lyfies, hulle is besig om hulself te adverteer vroulief, letterlik en figuurlik”.

Geskok laat Patricia haar trane vrylik oor haar wange rol, sy sien ‘n prentjie van sonneblomme wat met hul koppe neerkyk na die ashoop van die wêreld waarop hulle staan. Dit moet nie so wees nie dink sy, ‘n sonneblom moet sy kop draai na die warmte van die son. Sy wens daardie sonneblomme kan GOD se warmte soek en vind en aan die ashoop van die wêreld hul skoonheid vertoon. Koue rillings gaan deur Patricia se liggaam totdat dit haar brein bereik, en sy wens die see kon alles wat onrein is kom skoonwas.

“Hou nou op staar, daai kinders het self hul keuses gemaak, dit is nie ons besigheid nie”, haal Gatiepie half verergelik aan. Verleë kyk sy na Gatiepie, verwonder nog vir ‘n stonde, totdat sy haar rug draai op die toneel en wonder, het die kinders regtig self daardie keuse gemaak, of het omstandighede hulle tot daar gedryf? Het hulle nog hoop? Dit sal mens seker nooit weet nie, jy moet seker self in daardie situasie beland dink sy terwyl sy nog sandale uit die kartondose pak. Sy hou een paar sandale in haar hand vas en wonder watter verhoog in die lewe gaan hierdie sandale betree, watter spore gaan hulle hier op die aarde nalaat. Miskien moet ons begin omgee vir mekaar, nie omdat ons elke nuwe dag weer sien nie, nie dat dit ons beskore is nie, maar ‘n nuwe dag om iemand anders se lewe hier op die aarde die moeite werd te maak.

GEDIGTE VAN DIE PROSTITUTE

PROSTITUUT No.1
No school, no tool,
Ek wou nie luister,
My ore toe gepleister,
Vandag is ek verbysterd….


PROSTITUUT No.2
Affirmative action,
Die system het my gefaal,
Laag gedaal…
Kaal vir ‘n maal.

PROSTITUUT No.3
Niemand wou luister,
Omie het my geteister,
My etiket bestem,
Lae selfbeeld is wat ek ken,
Die wêreld het my oorwen.

PROSTITUUT No.4
Soekend in die nag,
Op hulle wat smag,
Ek flirt
In ‘n mini skirt
Ek voel soos dirt.

PROSTITUUT NO.5
Ek is MIV positief,
Die dood wag soos ‘n dief
My taak is wraak…
Aan almal wat ontrou is,
Die prys is duur
Vir julle wat oor die mure gluur


PROSTITUUT NO.6           
‘n kans op geluk is net ‘n droom,
Waarom sal ek dan nou skroom
Is daar dan iemand daarbuite…
Wat worry oor my skuitjie
Wat besig is om te sink
Ek alleen in die wind
Gedienstig aan my pimp…..
     
Etlike ure voor die son sak daag ‘n ma en haar dogtertjie daar op. Die ma is in ‘n haas, haar hele liggaam spreek van spanning en nogmaals spanning. Sy bespeur die stalletjie, sien nie wat sy soek nie, en beweeg na die een langsaan Patricia sin. Die dogtertjie lyk afgemat en staan en kyk haar ma agterna. “Ek is moeg en honger, ek wil huis toe gaan”, sê sy aan Patricia en gaan staan langs die stoel. “Ek weet skattebol, dit is wat die vakansie en inkopies aan mens doen. Hoekom het jy maar nie liewer in die motor by jou pa gesit en wag nie”, vra Patricia terwyl sy met haar growwe vingers deur die dogtertjie se swart krulle kam. “Hy is nie my pa nie, my pa en my ma is mos geskei, hy is my ma se ‘boyfriend’ tannie. Ek hou niks van hom nie.” “Hoekom”, vra Patricia verbaas. “Hy is vatterig as my ma nie in die rondte is nie, en my ma glo my nie”, uiter sy met haar onskuldige ogies op Patricia gerig. Asvaal van skok staar Patricia na die dogtertjie, soek-soek na woorde en antwoorde. “Is ek die eerste persoon, behalwe jou ma wat nou hiervan te hore kom?, vra Patricia in ‘n ongewone kalm stem. “Nee tannie ek het al my ouma gesê, maar sy wil nie na my luister nie, sy draai haar kop weg van my af “, mompel sy met ‘n uitdrukking op haar gesiggie wat soek na hulp en beskerming.


Patricia sluk-sluk haar trane weg en haal diep asem, laat haar skouers val asof sy sonder hoop op soek is na ‘n uitveër wat nie dié probleem nie kan uitwis nie. “Nooi sodra die skool heropen moet jy jou klasonderwyser alles vertel, alles wat jy vandag vir my vertel het, hoor jy?”, sê Patricia terwyl sy die klein sagte handjies vasdruk. Die dogtertjie skud haar kop om ja te beaam, Patricia kyk haar in haar onskuldige ogies, die soos ‘n gems bokkie, en sien ‘n vlam van hoop. Haar ma daag op, wink ongeduldig en sy volg. Patricia staan en verwonder hulle totdat hulle tussen die horde vakansiegangers verdwyn.


Gatiepie begin die voorraad in die kartondose pak, die son is besig om water te trek.  Patricia kyk wat haar man doen en dink, vandag se gebeure het sy beslis nie in ‘n doos verpak en verseël nie, sy het dit soos ‘n vlieër die lug ingestuur om te wapper in die hemelruim en sy weet dit sal iemand se aandag trek. Hulle verlaat die toneel van hoekoms en waaroms, huiswaarts waar die kinders wag. Smiddae bly die kinders gewoonlik by ouma Stienie, ‘n ouma wat omgee. Vir die eerste keer besef sy wat ouma Stienie se teenwoordigheid en daardie spesiale band werklik vir hulle as gesin beteken, dit sal sy koester, vir altyd.

Bewoë, bedruk, verward en ook dankbaar en tevrede vir haar lewensomstandighede stap hulle die winkel naby die huis binne om aandete te koop, soos gewoonlik net die nodige. Sy dwaal deur rakke, kom tot stilstand by die rakke waar die skryfbehoeftes is en koop vir ouma ‘n kaartjie. Gatiepie hou die situasie dop en voel baie jammer vir sy vrou, vir haar toestand ,want gewoonlik is sy soos vonkelwyn, maar vanaand is dit anders, hy proe die teleurstelling wat sy liewe vroutjie se vonkel van haar ontneem het, en dit maak hom bewoë en bekommerd. Sy gedagtes dwaal terug na vandag se gebeure, dan draai hy om na die toekoms en sien sy kindertjies voor hom. Wat hou die toekoms vir hulle in? Hy hoop ter harte dat hy ‘n werk kan kry, net om hulle omstandighede te verbeter, om hulle veiligheid te verseker. Sy betaal die kaartjie en die kos en hulle stap huiswaarts hand-aan –hand. Vir die oomblik voel Patricia beskermend, geniet die spesiale oomblik en druk Gatiepie se hand vas, hy laat vaar haar hand en plaas sy sterk arm om haar nek, en druk haar hoof styf teen sy ribbekas. Beskermend lei Gatiepie sy vrou huis toe.


Die dae wat volg begin die besigheid afneem, die skoolvakansie is op ‘n einde. Na ‘n rowwe week kan Patricia vir die eerste keer agteroor sit en die rykdom rondom haar aanskou. Vandag is die see kalm, die lug warm en so nou-en dan is ‘n lafenis van koelte soos die son wegkruipertjie speel agter die wolkies. Haar oog vang ‘n dame geklee in ‘n blou pak met paar Stilettos aangestap kom in die rigting van die stalletjies. Dit is ongewoon dink sy, haar kleredrag vir die see. Die vrou stap verby Patricia na die ander stalletjies, lyk asof sy iemand soek dink Patricia, maar steur haar nie eintlik nie. Sy neem haar aandag van die vrou af en geniet weer die pragtige sig. Na ‘n lang tyd kom die vrou tot stilstand by haar stalletjie. Sweet druppels tap by haar slape af, haar voorkop op ‘n frons, haar oë yskoud.

Woordeloos kyk sy Patricia aan, asof sy na woorde soek om haar besoek spoedig moontlik af te sluit. Patricia voel die koue atmosfeer, staar na haar vir ‘n oomblik en wonder waaraan is hierdie besoek te danke. Sy glimlag nederig en groet om die ys te breek.

Patricia:
Goeie middag dame kan ek u help? Vra sy beleefd terwyl sy die beste van haar produkte uitpak om ‘n goeie indruk op hierdie kliënt te maak.

Die vrou:
Ja, ek hoop so, antwoord sy kil terwyl sy haar skoene uitskop en in haar hand vashou. Vir ‘n kort oomblik sien Patricia hoe haar hande bewe, en wonder of dit die seebriesie is, of is sy in ‘n kolk van die lewe vasgevang. Dan begin sy te praat “ Was hier miskien verlede week ‘n dogtertjie by die spesifieke stalletjie, ek praat nou van die een wat hier so baie gesels het. Eintlik te veel gesels het?

Patricia glimlag, sy weet nou haar vlieër het iemand se aandag getrek, dit het nie ongesiens en doelloos in die lug rond gewapper nie.

Patricia:
Ja mevrou, ek onthou alles nog so helder soos daglig, antwoord sy kalm.
Ek is bly jy het gekom, jy is die enigste bron met al daardie kind se informasie.

Die vrou:
Informasie, wat bedoel jy? Dit is nie my besigheid nie, dit is ook nie my werk
nie, ek het oorgenoeg dinge om my oor te bekommer, antwoord sy woedend.

Patricia:
Nee mevrou, jy moet iets doen om daardie kind te help. As onderwyser is die jou besigheid, jou verantwoordelikheid. Jy moet onthou julle as onderwysers is die langste ure per dag met ons kinders, deels - julle bou hul karakters. As jy
my laat skool toe kom omdat jy ‘n probleem het met my kind, natuurlik gaan
ek my kind verdedig en skoon spreek, want ek is sy ma, sy regshulp, sy beskermer, sy sielkundige, noem dit maar op. Maar onthou, as ek daardie skoolterrein verlaat sal ek weet, ek het ‘n probleem om op te los, en as jy my nie ingelig het nie sou ek nooit geweet het nie. Of ek nou uitvaar op jou, of my op- ruk óf ontstel, dit maak nie saak nie, jou saadjie het jy geplant. Sien jouself as die hoeksteen van ons gemeenskap, moet nooit mismoedig word nie!

Die vrou:
Wat wil jy hê moet ek doen, vra sy in ‘n kalmer toon, duidelik uit die veld geslaan.

Patricia: Laat haar ouers skool toe kom. Daardie ma het ‘n “wake-up call “nodig. Laat Kinderwelsyn kom, laat geregtigheid geskied. As daardie kindjie ‘n leuen vertel het, sal dit haar laaste een wees. Na vandag sal sy weet wat is die verskil tussen leuens en die waarheid, of daardie kindjie soek hulp, en as niemand haar
gaan help nie, gaan sy ‘n sonneblom word wat met haar kop afkyk na die
ashoop van die wêreld, en dit hoef nie so te wees nie, jy kan daardie verskil maak , hart en siel.


Die vrou:
Weet jy partykeer het ek gevoel ek is in ‘n doodloopstraat, vir my het dit gevoel jy praat en praat en niemand slaan ag op wat gepraat word nie, niemand luister nie, veral as die ouers hulle kinders se kante kies, het dit gevoel asof alles wat jy probeer vermag ‘n gejaag is na wind. Vandag weet ek van beter. Ek is bly ek het gekom, van vandag af weet ek daardie kinders is my tuin.

Tog besef ek dit gaan nie maklik wees nie, ek besef daar gaan opdraande en afdraande wees, daar gaan sonskyn en reën wees, daar gaan lig en donkerte wees, mooi en lelik wees, maar vandag weet ek wanneer ons by daardie kruispad kom, sal jy moet kies watter rigting jy gaan inslaan. Ek gaan opstaan en van al die onkruid ontslae, vandag sien ek ’n vlam van hoop, ek sien ‘n hele klomp blink môres wat wag vir my, spesiaal vir my. Daardie kinders gaan ek eien as my blomtuin, met hul koppe uitgereik na die son se warmte. My tuin gaan goeie vrugte dra.
     

Bewoë, tog bly en trots, luister Patricia terwyl haar trane vrylik oor haar wange rol, en hoe meer die trane rol hoe ligter word haar gemoed, en sy weet vir hierdie kindjie is daar hoop daarbuite. Sy haal ‘n paar sandale uit een van die skoendose en gee dit vir die dame om aan te trek, “dit is spesiaal vir jou, gaan betree die verhoog daarmee, moet nie die toeskouer wees nie”. Die vrou laat glip haar moeë voete in die silwer sandale, dit pas perfek, spesiaal vir haar, sy glimlag en sien die verhoog wat sy daarmee gaan betree. Die vrou glimlag, druk Patricia se hande terwyl sy sê: “ dankie, ek gaan my bes doen, ek gaan ‘n verskil maak. Vir die eerste keer in dekades voel ek vol moed, hierdie besoek was die moeite werd, een van my bestes in jare, baie, baie dankie”.

Sy groet Patricia, stap statig weg, klim in haar motor en ry weg. Patricia staan en kyk na die motor wat tussen die besige verkeer invleg, sy glimlag tevrede en weet haar vlieër wat sy die hemelruim ingestuur het, het iemand se aandag getrek.
















Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

SAADJIE
'n Puik onderwerp en ek is mal oor die gediggies. Skaaf nog bietjie aan die dialoog, se dit soos die mense rerig praat. Goeie storie wat aan mens se hart raak.
9 jaar 7 maande 2 weke 3 dae 16 ure oud



Die Lady en die Leeu

deur Rachelle du Bois

Sy is een keer gevang, maar nou is sý die jagter met die prooi in háár visier



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar