Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Jeanne, as jy jou kamerdeur nog eenmaal toeslaan, is dit ek en jy. Hierdie dikbek aggressiewe teëpraat houding van jou gaan ek nie verder duld nie. Dit kry vandag nog einde, maak oop hierdie deur” Gerda hamer teen die deur. ”Maak oop Jeanne of….”

“Dink ma nou regtig ek skrik? As jy iets aan my doen is dit aanranding en ek slaan terug Selfverdediging, of is jy te onnosel om te weet dat kinders deesdae ook regte het? Probeer vandag hierdie deur oopmaak en hier is ‘n moord in houtboom weg. Ek is nie meer ‘n baba nie en kotstens toe dik vir hierdie versmorende-enkel-ouer sindroom van jou. Jy moet bietjie wakker word, dit is die verligte eeu en nie meer die crimpelene en bobbysocks-tyd van oupa en ouma nie.

Gerda luister geskok na haar dogter se onbeskofte geskreeu agter die geslote deur. Die kind is buite beheer. As sy wat Gerda Vermaak is, dit sou waag om só met haar ouers te praat, sou sy nie meer in die land van die lewendes gewees het nie. Sy bewe innerlik, is lus en kry ‘n pik en kap die deur oop. Die duiwehok… die verpeste duiwehok. was die begin van die hewige rusie. “Jeanne, dit is nou die laatste keer , maak oop hierdie deur of ek bel die polisie. Genoeg is genoeg!” Gerda skrik vir die brullende stem wat agter die toe deur uitkom.

“Polisie?” Jeanne lag dawerend en uitdagend. “Jaaaa…………….? En wat vertel jy hulle? Dat jou kind dagga in die agterplaas aangeplant het en dit verkoop? Dat jou kind ‘n drug-pusher is? Dit is tronksake ! “ Sy lag weer uitdagend. “’Ek is minderjarig en die tronkdeure gaan agter jou toeklap. Swak ouer, geen beheer nie. Dagga….. so onder jou neus en jy weet nie daarvan nie….. haloooooo…!. Is jy so naïef, dink jy regtig hulle gaan jou glo? Try my…..probeer dit! Ek daag jou uit.”

Gerda draai om. Naar van skok. Jeanne skakel die musiek donderend aan. Die oorverdowende klank maak dit onmoontlik om verder te probeer praat. Wat het die kind besiel om daggabome aan te plant en daarmee handel te dryf en dit op haar erf? Het sy van haar kop af geraak? Geld was nog nooit volop nie. Sy moes maar al die jare die pot aan die kook hou en die onderhoud wat Jan sporadies betaal het, het nie altyd al die gate toegestop nie. Jeanne het duur smaak en wil nie by haar vriende afsteek nie. Maar dagga! Sy stap in die gang af. Vandag moet hulle haar liewer vang vir brandstigting as vir onwettige kweek en besit van dagga. Sy krap in die laai, kry ‘n sigaretaansteker…. een wat Jan jare gelede gelos het toe hy agter ‘n losklos aan is. Sy hoop die ding werk nog.

Sy skakel die ketel aan. Sterk swart koffie met baie suiker. Suiker help vir skok. Toe onthou sy dat daar nog in Jan se drankkabinet ‘n paar bottels drank moet wees. Sterk drank… sy kort dit. Sestien jaar….. sestien jaar is ‘n lang tyd… ‘n leeftyd. Sy wonder of die alkohol nie al verslaan het nie. Jan het van drank en vroumense gehou. Sexy goed, goed bedeel, sagte lywe ….. en met sy groot mooi manlike hande….. “”Nee wag Gerda.. los dit, dit maak te seer”. Met haar mank polio been kon of wou sy nie kompeteer nie. Sy het maar bes gegee. Haar pyn weggesteek. Nooit in jare weer naby Jan se drankkabinet of duiwehok gekom nie. Dit het net te veel herinneringe en beelde van passievolle jonk wees en liefde maak opgeroep. Sy het hom lief gehad. Onvoorwaardelik, met haar hele vrouwees, totdat daardie merrie……. Nee wag…. Koffie en brandewyn… dit is wat sy nodig het voordat sy die bul by die horings pak. Sy verwonder haar toe die drankkabinet se deur sonder enige geluid oopskuif. Vandag bou sy ‘n Jan-Broffie-special… sy het dit nodig om haar kop skoon te kry. Dagga…. Maak dagga swart kolle? Gate? Rou vleis op jou liggaam? Nuro… wag ‘n bietjie. Die pakke pynpille! Dit bevat Kodeïen. Nou begin die prentjie gestalte kry. Jeanne se “voortdurende pyne”….. swart verrottende kolle wat sy probeer wegsteek. Persoonlikheidsverandering. Sy skuif die bottels drank eenkant toe en gewaar ‘n pakkie sigare. Sy byt op haar lip, verbystering en angs is besig om haar te bemeester. “Ritmeester hier kom ek” Ou kardoeskoek Gerda gaan nog saam met die broffie ‘n sigaartjie ook aanpak. Rook en drink moet sy net eenmaal in haar lewe ook ervaar. Sy wil voel wat die effek en drank en rook is. Miskien het sy dan meer begrip vir dwelm afhanklikheid. Dan is dit duiwehok toe. ‘n Rit van wraak en pyn. Die dagga-duiwehok-kwekery gaan vandag in ligte laaie op. Sy gru in haar siel. Draf gou rekenaar toe.

Toe sy klaar gelees het is verslaentheid meester van haar. Nou verstaan sy ook waarom geld ook al uit haar beursie ‘verdwyn’ het. Dagga en die dwelm krokodil, die zombie dwelm. Sy is nou oortuig dat die nuutste dwelm, krokodil, haar kind in sy kake beet het. Sy moord-deure oopgegooi het om nog ‘n slagoffer in te nooi, te verswelg. Die duiwehok… Die dagga is natuurlik die bron van Jeanne se inkomste om krokodil te vervaardig. Kodeïen te koop. Sy dink aan die artikel oor Krokodil waarvan sy elke druppel van die inligting soos ‘n spons opgesuig het. Die aktiewe bestanddeel , kodeïen is 'n ligte opiaat wat oor die toonbank verkoop word. Gebruikers meng kodeïen met 'n brousel van gifstowwe soos verf verdunner , soutsuur en rooi fosfor wat van vuurhoutjiedosies afgeskraap word. Die resultaat - 'n donker geel vloeistof met 'n skerp reuk - boots die effek van heroïen na, teen 'n fraksie van die koste. Waar die gebruiker die dwelm in die liggaam inspuit, bars die bloedvate en die omliggende weefsel sterf. Soms val die vleis in stukke van die bene af. Die tipiese lewensduur van 'n verslaafde is net twee of drie jaar.

Gerda gaan sit by die eethoekie in die kombuis. Staar apaties, emosioneel gedreineer na die droë prieel en die lemoenboord waar onkruid en wilde gras hooggety vier. Dat sy nou so stiksiende onnosel kon wees. Hoe kon dit gebeur? Die duiwehok en die lemoenboord. Wat haar gedryf het om gister die lemoenboord in te vaar, gaan haar verstand te bowe. Wanhoop? Vrees en ontkenning? Sy moes net die wandeltog aanpak, hoe moeilik ook al. Die oopgetrapte voetpad deur die lang gras en onkruid was vir haar onrusbarend vreemd.

Sy skink ‘n halwe koppie koffie, vul dit op met brandewyn. Nou die sigaar. Na ‘n gesukkel het sy die sigaar tussen haar lippe. Wonder bo wonder werk die sigaretaansteker. Sy suig en asem diep in. Haar longe val byna in ‘n wurggreep plat. Sy gryp desperaat na die broffie en sluk dit weg. Die trane in haar oë is nie net van die rook en drank nie, dit is ‘n mengelmoes van emosies. Sy hoes en proes en skink nog… sommer skoon brandewyn. Vandag brand sy alle pyn en teleurstelling in swart roet weg … roet… verpersoonliking van wat was…. Lank lank gelede. Roet wat op die wieke van die wind wat al redelik goed aanstoot, haar lewe moet suiwer. Jeanne is ‘n replika van haar tronkvoël pa en wegloop ma. Sy pyn in haar menswees omdat sy kinderloos was en na die egskeiding vir Jeanne grootmaak het. Het die deure van hoop en vertroue vir haar toegeklap? Het sy dan so erg gefaal?

Sy loop onder die droë prieel deur, langs die huis af, na die lemoenboord toe. Versteek en goed verskans teen buite-oë, staan die duiwehok tussen die lemoenbome. Die skewe growwe houtdeur staar haar half verwytend aan. Dit is die einde vandag. Die skarniere kraak toe sy die deur oopstoot. Binne groei die jong dagga boompies in lowergroen welige kontras met die houthuis. Prentjiemooi getande blaartjies. Grynsend….. kom pluk my. Sy hurk en sien die plastiek waterpyp wat Jan aangelê het drup-drup. Die grond is klam. Teelaarde vir die ondier. In die hoek van die duiwehok lê ‘n bondel strooi. Strooi wat toe nooit gebruik is vir broei nie. Jan het die duiwe weggegee voordat hy huis verlaat het. Swart strooi. Dooie strooi. Dood soos haar moederskoot , dood soos Jeanne se verraad.

Sy haal die sigaretaansteker voor uit haar bra. Pure soos ou Nênna van die plaas. Dit pla haar nie meer nie. Sy buk en steek die strooi aan die brand. Vlamme lek dadelik teen die droë hout mure. Sy weet dit nou net ‘n kwessie van tyd is, dan is die duiwehok en daggabome verbrand tot as. Haar kop draai, die drank eis sy tol. Haar gedagtes ‘n warboel van dagga en Krokodil. Sy wens dwelm-gedrogte het vier bene gehad, dan kon sy dalk ook nog haar rewolwer op die gediertes leegmaak.
Die houtdeur klap agter haar toe. Die wind draai, verander skielik stormsterkte van rigting. Rook en vlamme borrel by die duiwehok uit. Sy hoor in die agtergrond ‘n bloedstollende gil. Die wind en vlamme se geknetter is musiek in haar ore. Sy hardloop strompelend terug huistoe. Die wind jaag die vlamme in die droë prieel teen die huis. Die ou verf op die huis se mure omhels die hitte en vlamme in ‘n liefdes greep van verwoesting. Die ontploffende gasbottels by die agterdeur ruk die ruite uit die vensters en die slag slaan Gerda se kruppel brandewyn gedokterde bene onder haar uit. Vergetelheid sak oor haar.

Jeanne sit beentjies opgetrek. Die maandelange behandeling, onttrekkingsimptome en hartseer het sy letsels op die jong gesiggie gelaat. Die rou wonde op haar liggaam is besig om stadig te genees maar dit gaan nog ‘n lang tyd duur voordat sy weer skoon en gesond sal wees. “Mammatjie, kom sit hier by my, hou my vas en dankie vir al die liefde en opoffering. Ek is so jammer oor die verkeerde dinge wat ek gedoen het. Jou kind het jou baie lief” Gerda gaan sit langs Jeanne op die hoë harde hospitaalbed. Sy vryf die goudblonde donshaartjies teen haar slape terug. Vou haar arms om Jeanne en druk haar tingerige kind met dankbaarheid teen haar vas. Soen die ou koppie soos kleintyd. Die dwelm-krokodil is saam met die pyn, duiwehok, prieel en huis in ‘n rookwolk op. Die aanpassing is nie maklik nie, maar vir die nuwe lewens deure wat oopgaan is sy dankbaar.







Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dagga
'n Ouer sal enige iets doen om sy kind van hierdie euwel te vrywaar.Gelukkig was daar nog 'n kans vir Jeanne.
5 jaar 1 week 1 dag 19 ure oud


Dagga
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die Deure projek
5 jaar 1 week 2 dae 17 ure oud



Treë na Innerlike Genesing

deur Leonard John Holmes

Hoe werk mens deur die verlies van ’n geliefde? Hoe hanteer jy die depressie, haat en selfverwyte op ’n jong ouderdom? Hoe vind jy God as jy Hom nog nooit persoonlik geken het nie?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar