Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Jare gelede het Jan spies in Windhoek vir my gesê: “Kind jy moet skryf, skryf soos jy voel, nie soos mense wil hê jy moet skryf nie” Jy moet raakskryf met ‘n unieke styl en ‘n “andersgeit”. Dit was lank gelede. Jan was enig in sy soort en sy motivering en aanmoediging sal my altyd bybly.

Van streektaal en spreektaal het ek ‘n goeie porsie gekry in Wes Transvaal . Vir tien jaar het ek in Wes Transvaal gewoon en was hulle manier van praat en gebruik van vreemde woorde wat nie in die woordeboek gevind kon word nie, vir my aanvanklik baie eienaardig. Die A is as O uitgespreek, E as A en die UI as Y…… ek moes fyn luister! Rou uit die land van son en sand, Namibië, was ons so-by-so ook weer vir hulle onbekend! Ek het die eienaardige uitspraak soms baie komies gevind en was die skoonfamilie nie baie beïndruk as ek my slap wou lag vir hulle manier van praat nie. Ek het lekker geterg met ……. “Ak is boie lief vir My Po en Mo wont hulle besit ‘n stronthys by die see”. Tot my ontnugtering het my ma amper stuipe gekry toe ek vir ‘n vakansie in Suidwes (soos ons Suidwesters nog steeds Namibië noem) gaan kuier het. Sy het gevra wat makeer haar kleinkinders dat hulle ‘n spraakgebrek ontwikkel het en van Po en Mo praat. ! Toe lag ek maar liewer nie verder nie. Sit toe stewig vas in die streektaal slagyster, en dit alles die kindertjies se skuld!

Van bokslagters en dermdraaiers moes ek ook leer. Gedurende die armmoedsjare in Klerksdorp en vermoedelik ook ander dele van Transvaal, het die families wat dit ‘n bietjie breër gehad het, die einde van die maand bok geslag. Dit was goedkoper as skaap, en is die diere sommer so by die huis in die agter-erf, keel afgesny en afgeslag. Soos dit die meeste Afrikaners se gebruik was, word skaap en bok van kop tot tone ge-eet en die velletjie was gebrei om as matjie voor die bed te dien. Afval, lewer en niertjies en al die heerlikhede wat so ‘n ou bokkie se vleis dan op die tafel gesit het, was met verleë ogies begeer. Dan is die derms maar in die naam van menslikheid en mededeelsaamheid vir die armes geskenk, die dermdraaiers. Hierdie derms is om stokke gedraai, oor die vuur gebraai en was dit in baie gevalle die enigste proteïne wat die kindertjies in die naam van vleis ingekry het. Dus, die BOKSLAGTERS was vleisgewys, beter af as die DERMDRAAIERS. Ryker!

Die DAMDUIKERS was darem ‘n trappie hoër as die Bokslagters. Hulle kon ‘n vakansie by die dam bekostig. By Hardebeespoortdam, Bronkhorstspruitdam en omliggende karp-ryke waters is met groot vreugde vis gevang. Plek vir ‘n paar botteltjies Brandewyn en Coke is eerste gemaak in die kattebak. Saggies neergelê tussen die beddegoed, kosvoorraad, potte, panne en eetgerei. Daar is ekstra sorg getref dat die rit dam toe so sag en voorspoedig moontlik was. Die tent, roeiboot, gasbottels, gaslampe, visstokke en ander visgereedskap is op die dakrooster (roof carrier) vasgemaak. Dan is daar afgesit vir die lank verwagte vakansie langs die dam. Die kindertjies in ekstase oor die luukse Desember vakansie! Soms is ‘n hoender of twee ook saamgevat, natuurlik ook op die carrier in ‘n hokkie onder die roeiboot staangemaak. Koffie, vars gebakte eiers en mieliepap vir ontbyt was koningskos terwyl die dobberende polisiemanne op die wateroppervlak dopgehou is vir ‘n byt. Vroegdag is mielies sag gekook, taai gebrei, vermeng met verskillende geheime geure en kleure en as aas gebruik. Gebakte karp was dan laat middag stukkie vir stukkie tussen die baie graatjies deur, afge-eet en het dan saam met stywe knertsies Klippies sag met die binneste gaan gesels. Dan is daar tot laataand in die lig van die gaslamp langs die dam gekuier, wagtend dat die ou grote dalk in die nag die aas gaan gryp en vis saam met die mieliepap in plek van eiers vir ontbyt voorgesit kan word. Ryk, skatryk!


Vir hierdie Suidwester was dit ‘n voorreg om met die gewoontes, streekstaal en gebruike kennis te kon maak, en was damduikers, bokslagters en dermdraaiers, lewenskwassies wat kennis geverf en visie verbreed het. Kleurvol, uniek !

* Damduikers is nie veralgemening van varswater hengelaars nie, hierdie is bloot beskrywing en skets van streeks taalgebruik soos deur skrywer ervaar*



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ha Ja !
Lekker geskryf. Ken ook al daai dinge, so raakgesien in my omswerwinge. Die Damduikers is die ouens wat visvang(daar is drank by betrokke) en nie hengel nie. So aan die skraal kant van die maand gaan duik hulle die drank bottels uit wat hulle in die water gegooi het en gaan ruil die 'empties' in vir n geldjie.
Die Namibiers het ook sulke rare taal gebruike soos om van n Meisie as "Hy" te praat en nie "Sy" nie.
7 jaar 6 dae 17 ure oud



DAG VAN DIE BLOEISEL

deur Johann P. Boshoff

"Dag van die bloeisel het my gevange geneem vanaf die eerste bladsy. Skielik was ek terug in my tienerjare – bewus van die tere vitaliteit van jeugdigheid. Die karakters kry lewe in persone wat ek iewers geken het. En wat ek wéét vandag nog rondom en tussen ons is. Dit is die soort eerlike boek wat ek enige tyd in die hand van ‘n Christen-tiener sal plaas." -- Dr. Ralph Barnard, skrywer, predikant en teoloog



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar