Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“Dean de Bruyn, bemarkingsdirekteur.”

“Anton Booysen, aangename kennis.” Hulle skud hand.

“Sit gerus Anton. Enige iets om te drink?”

Anton neem sy plek in op een van agt stoele wat om die donker gelamineerde houttafel staan. Die raadsaal is klein maar baie netjies gedekoreer. Drie skilderye in breë, duur, goue rame hang teen die mure. ‘n Luiperd, ‘n leeu en op die muur voor hom ‘n groot skildery van ‘n aggressiewe olifantbul. Die mure is ‘n donker blou-grys geverf, en die mat met die bruin blokke onder sy voete is dik en sag. Hy bestel ‘n koffie.

Hy probeer so veel as moontlik inneem, met ‘n effense maar verstaanbare senuagtigheid in sy lyf. Hy het die oproep twee dae gelede ontvang, en met opgewondenheid hierheen gery vanoggend. Sy navorsing oor die maatskappy en die inligting wat hy oor die pos meegedeel is brand soos ‘n fakkel van hoop in sy bors.

‘n Beeldskone brunette met ‘n kort, professionele haarstyl en ‘n grys snyerspakkie en minirok sit die skinkbord met twee koppies koffie, suiker en melk voor hom neer. Dit is dieselfde vrou wat hom na die raadsaal begelei het. Meneer de Bruyn gaan voort met sy intreerede: ‘n verwelkoming tot MSP Tegnologie; ‘n agtergrond van wat die maatskappy doen en van die bestuurstruktuur. Daar is ‘n warmte aan sy stem, maar ook iets anders, dalk verwaandheid. Dit is te wagte, ingetrokke en nederige mense vorder nie tot direkteur in die bemarkingswêreld nie. Hy dra ‘n vol, donker baard. Aan sy slape is geringe tekens van haarverlies, maar hy lyk goed. Anton skat hom so vyf-en-veertig. Redelik jonk vir ‘n direkteur, maar dan ook bygesê is hierdie nie so groot soos die maatskappy vir wie hy huidiglik werk nie, en dit is makliker om bo uit te kom. En dit sal hom soveel meer blootstelling gee om weer lewe in sy loopbaan te blaas.

“Wat is jou grootste sterkpunte?”

Dit is nog ‘n standaardvraag, en Anton, wat homself goed voorberei het vir hierdie onderhoud, antwoord dit gemaklik. Hy kry die idee dat die res van die onderhoud ook glad sal verloop en dit verbly sy hart. MSP Tegnologie is sewe kilometer nader aan sy huis; die salaris is effens beter; die kliënte-area wat hy sal bedien is slegs in Gauteng, dus baie minder weg van die huis af; en met sy ervaring in satelliet-kommunikasie en die ondersteunende rekenaarstelsels is hy outomaties geskik vir hierdie pos. En dit blyk dat Meneer de Bruyn dit raaksien.

Daar is net iets wat vreemd voel. Anton kan nie sy vinger daarop lê nie.

Na De Bruyn se intreerede het hy Anton uitgevra oor sy ervaring en sy agtergrond. Anton het vertel van sy studies by die Technikon van Pretoria, en die drie poste wat hy gevul het sedert hy sestien jaar gelede sy eerste salaristjek gewissel het. Hy het genoem dat hy getroud is met drie kinders; vier-, sewe- en negejaar oud onderskeidelik. Hy het nie genoem dat hy besig was om sy skuld te herstruktureer nie. Hy het nie genoem dat hy sy oudste twee kinders na ‘n ander skool moes oorplaas waar hul opvoeding hom minder sou kos nie. En hy het nie die redes genoem nie. Dit was immers nie deur sy eie toedoen nie.

Die werk het hy broodnodig. Hy sit nie sonder werk nie, maar dit is waarskynlik net tydelik. ‘n Man kan mos sien as dinge begin verander. Party dinge is ooglopend, soos wie bevorder word en aan wie die belangrikste kliënte toegewys word. Hoe die salarisverhogings bepaal word. Ander dinge is meer subtiel, maar jy sluk ‘n rasper af as jy dit sien, en besef wat werklik aangaan.

Dean de Bruyn glimlag terwyl Anton verduidelik waar hy homself oor vyf jaar sien. “Ek verstaan Anton. Dit klink my jy weet waarheen jy oppad is.”

Dan gaan hy verder met sy volgende vraag: “Beskryf vir my ‘n konfliksituasie waarin jy onlangs was, en hoe jy dit hanteer het.”

Anton besef nou eers dat daar geen verteenwoordiging van die personeeldepartement is nie. Dit is net hy en Dean. Normaalweg sal die lynbestuurder asook iemand van die personeeldepartement die onderhoud voer. En laasgenoemde sal vrae vra oor gedrag en diesmeer. Nou ja, dit is seker maar hoe dinge hier werk, veral in ‘n kleiner opset.

“Wel, Dean, ek het ‘n kollega wat ‘n kliënt in my area wou bedien. Hy is goeie vriende met die besturende direkteur van die kliënt, maar synde dit in my area is, is ek mos geregtig om die besigheid te hanteer…”

Hy verduidelik die situasie met die nodige detail, met Dean wat sy kop by tye knik asof hy saamstem dat Anton dit goed hanteer het.

Met skielik effens meer drif in sy stem, asof hy nou by die eintlike punt wil uitkom, stel hy die vraag: “Nou goed, wie was jou grootste kliënt?”

Met huiwer in sy stem antwoord Anton, “Ek wil nie regtig name nie noem nie. Ons besigheid is immers vertroulik. Ek is seker jy sal verstaan.”

“Nee wat, wat ons sê bly mos tussen hierdie vier mure,” stel Dean hom gerus. “Maar ek moet ‘n idee vorm van met wie jy gewerk het en hoe jy gewerk het.”

“Goed, dit was Kaskol.” Hy sê net die nodige. Die onderhoud hoef nie nou te begin skeef loop nie. Hy wil net verby hierdie vrae kom.

“So om my ‘n idee te gee van hoe belangrik hierdie kontrak vir julle is, sodat ek kan vasstel watter rol jy in die maatskappy gepeel het” … Dean krap stadig met sy wysvinger en sy duim onder sy ken, “Wat is die jaarlikse waarde van die kontrak?”

Hy begin nou ongemaklik voel, maar om die gemoed in die vertrek nie te bederf nie, sê Anton: “Tussen dertig en sestig miljoen per jaar.” Dit is baie wyd, maar dit is die waarheid.

“En hoe betrokke was jy by die verkryging van die kontrak? Of het jy dit slegs bestuur?”

“Ek het die kontrak van die begin af onderhandel. Dit het so twee maande geduur voordat die finale handtekening aangebring is. En daarna het ek die kliënt bestuur. Soos jy weet, ‘n mens moet noú omgang met jou kliënt as jy hom suksesvol wil bedien,” voeg Anton by, in ‘n poging om Dean vereder te beïndruk en die onderhoud weer op koers te bring. Daar waar hy meer gemaklik voel, ten minste.

Maar dit blyk nie dat Dean beïndruk is nie. Hy pols verder: “En dit was maklik, om die kontrak te kry?”

Anton kyk hom met vraende wenkbroue aan.
“Kaskol het natuurlik net toegestem, geteken omdat julle die beste produk het!” Hy proes amper as hy dit sê.

Hy moet homself vir ‘n oomblik bedwing, maar Anton antwoord, “Ons het ‘n uitstekende produk, Dean. En ons behou ons kliënte deur die kwaliteit van die diens wat ons deurgaans verskaf.”

Die bemarkingsdirekteur leun terug in sy stoel. “Uitstekend Anton. Ek kan ver stap met ‘n ou soos jy. Maar soos jy genoem het, jy moet náby jou kliënt wees as jy wil geld maak. En natuurlik wil jy nie vir almal vertel presies hoe naby nie, né? Maar sulke groot kontrakte kom nie vanself nie. Ek verstaan.”

Hy staan op uit sy stoel, draai op sy hak en loop na die skildery van die leeu aan die oorkant van die vertrek. Hy draai om en gaan sit weer, sy gesig betekenisvol getrek asof hy diep dink. Daar is stilte vir ‘n oomblik. “Ek dink jy het skitterende werk gedoen. Ek wil jou graag ‘n aanbod maak. As ek en jy eers ‘n rukkie saamgewerk het kan jy baie vir ons beteken.”

In die oomblik se stilte het ‘n duisend gedagtes deur Anton se kop gegaan.

“Dankie Dean, baie dankie. Dit was aangenaam om jou te ontmoet. Ek moet gaan. Sterkte, ek hoop jy kry iemand vir die pos.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Susanna Maria Magdalena

deur Lorelei

Die lewensverhaal van n jongvrou wat gedryf word deur Stemme in haarself. Haar soeke na haarself en God asook n stryd tussen Lig en Duisternis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar