Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is Sondag.
Godsdienstig is dit vir sommige ’n Gesinsdag met uitleef van dit wat kosbaar en heilig is.
Vir ander is dit ʼn gewone werkdag – gewoonlik die noodsaaklike dienste sektor.
Vir my is dit ʼn heerlike ontspan dag. Ek het nog een boompie waarom ek ʼn bedding moet spit.
Maar my nag was onrustig en die slaap het sukkel-sukkel gekom.

Is een van julle nie ʼn Shrink nie ?
Ek het ʼn behoefte aan skoonmaak – kop skoonmaak. Ek voel al sleg om dit wat in die nag in my kop wortel skiet, ontwikkel en my brein so vasgroei dat asemhaal moeilik word, en dan, om daarvan ontslae te raak, skryf ek dit neer en gee die baba vir julle om groot te maak.
Ek vra askuus - maar ek moet net eenvoudig plek maak vir môre nag se marteling.
Dit was weer so ʼn nag. Die storie het gegroei en gegroei en die honde se geblaf het my gered toe ek emosie belaaid wakker skrik, regop sit, my oë vryf om te sien waar ek is, opstaan en strompelend venster toe loop om te sien waaroor die lawaai buite is.
Vanuit my kantoor kan ek die woonhuis se dak sien en bo-op die nok sit blouaap se kind in die oggendson en knaters bak.
Seker iemand se troetel aap wat uitgekom het en nou die buurt se honde ontstig.
Na ʼn beker soet swart koffie het ek maar besluit; Los die spit vandag, al is julle al só gatvol vir my stories, gaan ek tog vertel wat in my kop wortel geskiet het.
Leegmaak is deel van die liggaam se funksies: Winde moet uit, oortollige water moet uit, derm moet geledig word, opgekropte emosies moet uit, en, in my geval moet my kop weer skoon.
Daar is koffie in die hoek, kry vir jou en sit gerus. Wees kalm, dit was ʼn vreeslike nagmerrie.
Ek maak leeg.

...........................

Hy skrik wakker. Dit is die rukkings van sy pa se lyf wat hom uit sy moeë slaap wek. Hy sit op ʼn stoel langs sy pa se sterwensbed en het met sy kop op sy pa se hygende bors aan die slaap geraak.
Die longe is al uitgeput en slap. Dit het geen krag om die meer wordende slym en ongemak uit te druk nie. Die swak liggaam ruk-ruk net flou en die roggel word flouer.
Hy spring op, gryp sy pa aan die skouers en ruk hom op en af:
“Pa . . .Paaaa ... Here, wat het hy aan homself gedoen! Pa . . “
En hy ruk en ruk en pa se oë gaan flikkerende oop en hy skep moed en sit sy mond op sy pa se nikotienspeeksel besmeerde mond en blaas - blaas, om lewegewende suurstof in die slap liggaam te kry.
En hy trek terug, sit sy hande, palms na onder op pa se bors en druk-druk om die hart te motiveer; “Here asseblief, dit moet net nie gaan staan nie!”
Pa se oë flikker weer oop, draai onnatuurlik verkeerd om in die kaste, kyk vir die plafon en kom tot stilstand.
Dawid kyk, sy keel slaan toe, sy verstand stol; Hy sien die lewe uit die oë verdwyn.
Hy druk sy arm onderdeur pa se nek en val met sy gesig teen pa se wang neer.
Droefheid, vrees, bekommernis, verwyt skeur deur Dawid se liggaam en ruk sy wese aan vodde.
Wat nou?
Hy kom regop, vee sy oë droog met die punt van die laken en met twee vingers, sag en teer, trek hy die ooglede oor pa se oopgesperde oë.
“Nag pa, slaap in vrede, moenie bekommer nie, ek sal met meneer Hendrik praat . Hy sal my aanhou hier en ek sal hard werk. En pa, ek gaan vir pa langs moeder begrawe. Julle sal weer saam wees, sê asseblief vir haar groete. Hy trek die laken bo-oor pa se gesig, staar nog ʼn wyle na die stil liggaam, draai om, stap uit en trek die kamer se deur toe.
Hy kyk op sy horlosie en sien dit is vroegoggend net na vyf uur.


Dawid gaan badkamer toe, klim onder die stort, was en skeer, trek sy oorpak en skoene aan en stap na die stalle
Hendrik van Sittert boer met ren perde. Dawid se pa werk al twintig jaar vir meneer Hendrik. Sy pa was ʼn perde meester.
Die Sanatorium het hom huis toe gestuur. Sigarette was die oorsaak van sy dood.

Dawid werk nou ses maande saam met sy pa. Weens sy pa se siekte kon hy net matriek maak. Hy wil in elk geval ook nie verder leer nie. Perde is in sy bloed en sy pa het hom alles geleer wat hy moet weet.
Hy maak die groot staldeur oop en stap in. Die lig brand deur die nag. Dawid stap in die gang af, daar is perde in stalle weerskante van hom. Hy stop by elkeen, groet beleefd, gesels ʼn paar woorde en vryf die voorkop.
Op die punt , aan die linkerkant is Prins. Prins is nou twee jaar oud. Hy is op hierdie plaas gebore. Op een of ander onverklaarbare rede is Dawid en Prins splinters uit een hout gekap. Hulle is ʼn eenheid.
Hy stop, groet en vryf sy kop. Hy sien Prins se oë is effe wild. Prins trap-trap en stamp-stamp ongeduldig met sy voorpoot teen die vloer; Prins se kopvel bewe liggies onder Dawid se streling:
“Prins, ek het slegte nuus.” Dawid talm huiwerig.
“Prins, sal jy asseblief vir almal hier vertel, Grootbaas Daan is vanoggend oorlede?”
Dawid sien ʼn verandering in Prins se oë, die kyk word sagter en Prins trek terug. Hy treë terug tot teen die agter muur en kyk net vir Dawid.
Dawid se stem breek:
“Ek is jammer Prins, maar ons sal regkom. Ek gaan nou met meneer Hendrik praat.”

Die bodeur van die kombuis se agterdeur staan oop. Miena is binne besig met die oggend koffie. Op hierdie plaas word vroeg geroer.
“Môre Miena, is meneer Hendrik is die studie?”
“Môre Dawid, ja hy is, stap maar deur ek bring die koffie soontoe, is jou pa op pad?”
“Miena, dit is wat ek kom sê het; Pa sal nooit weer saam kom koffie drink nie.”
Die koppie wat Miena besig is om uit te vee, gly uit haar hand; Dawid is blits snel en vang die vallende koppie.
Miena is ʼn Bruin vrou, maar sy is almal hier se ma. Mnr Hendrik se vrou is ook oorlede. Haar nek gebreek tydens ʼn val van ʼn ongetemde perd af.
Miena se oë skiet vol trane en sy gryp Dawid om die nek. Hulle staan vir ʼn paar minute om die droef te deel.
Sy trek terug en vee haar oë droog met haar voorskoot.
“Gaan vertel jy Dawid. Dit is jou eer, ek bring die koffie.”

Die lig brand in die studie en meneer Hendrik sit agter die lessenaar met sy lees brilletjie op.
Dawid klop liggies aan die deur. Sonder opkyk nooi meneer Hendrik.
“Kom in manne sit, ek is nou klaar.”
Dawid haal sy pet af, gaan sit op die stoel waarop hy gereeld sit. Hendrik kom agter en kyk op en praat nie.
“Meneer . . . “ Dawid kry droogkeel. Hendrik is ʼn boer. ʼn Boer sien tekens vooruit. Hy staan op en kom om die tafel en staan reg voor Dawid en steek sy hand uit.
“Hoe laat?”
“Vyf uur meneer.”
Dawid sien die sterk man hier voor hom het dit verwag maar wou nie aanvaar nie. Die skok vang hom ook.
Hendrik sit sy hand op Dawid se skouer:
“Ek sal al die reëlings tref. Dawid vir my is dit ʼn slag. Daan was die beste in die bedryf. Hy was my trots.”
Miena kom in met die koffie en met die uitstap gee sy vir Dawid ʼn drukkie op die skouer.

Dawid lig sy beker, maak sy keel skoon en trek diep asem in:
“Meneer. . .”
Hendrik lig sy hand:
“Dawid, laat ek eerste praat. Luister, ek wil vir jou vra, sal jy jou pa se plek in neem asseblief?”
Dawid glo nie wat hy hoor nie. Hy haak vas:
“M . . . meneer, meneer meen ek kan aanbly?”
“Ek het jou dopgehou Dawid, jy is jou pa se kind, en, Prins sal niemand anders aanvaar nie. Jy moet hom afrig, hy is nou reg.”

Dawid vat Hendrik se hand in albei syne:
“Dankie meneer, dankie. Meneer moet my ook net reg help as ek nie weet nie, maar ek sal meneer nie drop nie.”

“En wat gaan hier aan?”
Dawid tree terug en kyk haar reguit aan:
“Môre juffrou Erica.”
Sy is Hendrik se enigste, Dawid se ouderdom en op Universiteit. Sy leer vir Veearts in die Kaap en kom slegs vakansies huis toe.
Hendrik lig haar in, sy nader Dawid en vir die eerste keer raak hy aan haar toe sy hom om die skouers vat en ʼn troos drukkie gee:
“Dankie juffrou Erica.”

Die hele week was woelig met die begrafnis en familie en alles. Dawid het sy werk egter voorop gestel en alles met ʼn yster hand vasgevat. Die werkers self was ingenoë met sy aanstelling juis omdat Dawid nie baas spelerig is nie maar bereid is om te leer uit die ander se ervaring.

Erica was ʼn klein probleem. Dawid weet nie of hy jaloesie bespeur nie. Jaloesie omdat hy baie meer met ʼn perd uitgerig kry as sy. Perde aanvaar hom beter en is kalmer as hy met hulle werk.
Dan weer dink hy anders. Wil sy net haar baasskap op hom afdwing deurdat slegs hy alleen haar perd mag versorg, skoonmaak en hanteer.
Dan is daar ook Prins. Om een of ander rede kan Prins haar nie verdra nie en is hy ongemaklik in haar teenwoordigheid.

Dawid rig die perde af. Hy is egter te swaar om ʼn Joggie te wees. Hulle maak van kontrak joggies gebruik en Dawid het al uitsoekerig geword. Hy verkies slegs sekere Joggies.
Vir Prins het hy Joel Jefferie uitgekies. Prins is ʼn gebore wenner en hulle ryg die toekennings in
Hendrik spreek vir Dawid as ‘ou seun’ aan en is uiters trots op hom. Dawid word verplig om selfs ete saam met hom te geniet.
Dit is net Erica en haar universiteit maats. Die manne is sulke bleek, slap, kromskouer stadsjapies – sommige kom nie eers naby ʼn perd nie.
Die meisies wat sy op die plaas aanbring is weer heeltemal te neersiende op die werker wat Dawid is.

Hy kan nie wag dat vakansies moet verby gaan nie.
Sy vrye tyd is ontsettend min omdat hy baie meer vreugde vind in die geselskap van die perde, waar hy elke ‘af’ minuut spandeer.

Maande word jare. Swartberg perdestoet word die voorbeeld stoet in die land. Hendrik blom en spog net oral met Dawid.
Ander perde boere gebruik hulle dogters om Dawid se dienste te bekom. Hulle probeer hulle bes om hom af te rokkel.
Dawid, nou vyf en twintig jaar oud, begin ook soek. Alleen slaap, alleen huis, alleen lewe, is nie meer lekker nie.

Erica is klaar met haar studies en is voltyds met die boerdery betrokke. Sy hanteer die teel program, gaan saam met Hendrik oorsee om net van die beste saad te kry.
Sy bring mans vriende huis toe, stel hulle aan Dawid voor as ‘ haar voorman’ en wanneer hy aan die vent se slap hand vat, gooi hy so ʼn skewe kyk in Erica se rigting en sy is intelligent genoeg om die tip te vang.
Dawid sien die vent nie weer nie.

Dawid en Hendrik is byna op pa en seun verhouding.
Hendrik het eerste oopgemaak:
“Dawid, ek sien jou om die beurt met een van ʼn paar dieselfde meisies. Is jy besig op uit te sorteer?”
Hierdie is persoonlik. Die klasverskil is hoog onder die perde telers. Hulle beskou hulleself as die kroon boerdery. Miskien omdat in resies en jaaroud vullens se veilings, ontsettend baie geld is.

Na sewe jaar saam, ken Dawid al vir meneer Hendrik soos ʼn boek. Dit is ook die werk met diere dat mens ʼn soort sintuig ontwikkel om lyf taal te lees .
Dawid lees meneer Hendrik se lyftaal, gesig uitdrukking, stemtoon en oë.
Hy verskoon half pateties. Sy werk is tog die belangrikste.
“Ek sorteer nie meneer, ek kyk maar net rond. Dit moet iemand wees wat by my werk en my liefde vir die perde sal inskakel, ek sal bly wees as meneer sal opinie gee, ek het nie ʼn ander pa nie.

Dawid weet nie wat om te dink nie. Meneer Hendrik was nog nooit baasspelerig of neersiende op hom nie. In teendeel, hulle verhouding is beter as enige ander baas-kneg verhouding by ander perde telery.

Met Erica gaan dit beter. Uit ʼn ander boerdery kom kuier ʼn erfgenaam.
Erica is oorhoops met die man. Dawid sien sommer dat die vent niks passie vir perde het nie. Hy is ʼn ryk man – sportmotor , soort van ou.
Dawid is ʼn man. Erica is ʼn jong vrou en ryp. ʼn ryp vrou het ʼn aroma. ʼn Ryp vrou het ʼn geur. ʼn Ryp vrou blom, haar hare het ʼn eie kleur, haar vel die sag van karmosyn.
ʼn ryp vrou praat nie, haar stem roep met die klingel van klokke, staan jy naby, is daar beweging in haar buuste.

Dawid is ook ryp. ʼn ryp man is kriewelrig. ʼn Ryp man is kriewelrig. ʼn Ryp man het emosie en hormone wat hom opgewonde maak. ʼn Ryp man wil oorwin, vat, besit. ʼn Ryp man het aggressie.

Dawid het self dissipline en aanvaar sy sosiale status. Hy weet hoe om krisis te hanteer en kan Erica se raak-raak en altyd net té naby aan hom, nie meer vat nie.

Wanneer sy die vryer vir ete nooi – en dit word nou meer en meer gereeld – weet Dawid dat hy moet gee pad. Hy doen ook só:
Erica se vryer is daar en hy bly vir die naweek. Dawid kry vir Hendrik eenkant.
“Meneer, ek wil met meneer praat.”
Hendrik stap altyd met so ʼn status kierie. Hy makeer niks maar die kierie dien as gespreksgenoot en ook aanwyser. Hy leun op die kierie en kyk reguit vir Dawid.
“Meneer moet my asseblief die na week vir etes verskoon. Ek voel nie tuis as die laventelhaan van ʼn mannetjie hier is nie. Ek sal liewer by my huis wil eet.”

Dawid lees, ruik en ervaar tekens. Hy verstaan nie mooi nie maar sien dat Hendrik se gesig vel se kleur verander. Dit word eers effe rooi en toe bleek.
“Is dit reg so meneer?”
Dawid weet nie wat aangaan in die man se kop nie.
Sy stem is yskoud en snydend:
“Dawid, dink jy daar is iets aan’t broei tussen hulle?”
“Meneer, Erica is nou ryp.”
Diere mense het ʼn eie taal. ʼn taal met min woorde.

Dawid het ʼn oog. ʼn Oog wat kan sien. Hy kyk die baas se wegstap agterna. Hy sien skouers wat effe hang.

Dit is laat aand. Dawid het sy gewone draai by die perde afgehandel en is om een of ander rede nie honger nie. Sy gedagte bly wentel om die slaplyf laventel haan daar in die huis

Hy gaan sit by sy tafel en haal uit die boekrak agter hom sy perde boek. Die boek was sy pa sinne. Sy pa had sy eie idees van perde teel maar kon nooit ʼn bydrae of inset lewer nie.
Hendrik was die baas en sy plan word uitgevoer.
Dawid het ook sy eie idee en hy weet watter merries hy by Prins sou gebruik . Hierdie teorie teken hy op sy eie stilweg hier in sy boek op.
Die gehamer aan die buite deur, laat hom regop ruk van die skrik.
“ Dawid – Dawid, is jy wakker?”
Hy ken laventelhaan se benoude stemmetjie. Sonder sy hemp aan, spring hy op en pluk die deur oop. Laventel haan is wasbleek en sukkel om dit uit te kry:
“Oom Hendrik . . . Oom . . . “
Dawid stamp hom opsy dat hy eenkant op die sy gat gaan sit en hy storm na die opstal. Erica was hom te wagte en huil-huil wys sy hom eetkamer toe.
Dawid sak op sy knieë langs die hygende Hendrik wat lê en krul op die vloer.
Hendrik se wasbleek kleur vertel dadelik vir Dawid:
Hy kyk na die wanhopige Erica en is meteens ontsettend kalm:
“Het jy gebel?”
“N . . . Nee .”
Dawid het die nommer in sy kop. Met sy pa se siekte moes hy dikwels gebruik maak:
“Gee my jou foon!”
Sy soek-soek, vind en gee aan.
Terwyl hy Hendrik se hemp se bo-knope los maak, skakel hy en verduidelik kalm. Hy weet dit is vyf en twintig kilometer en hulle sal maar net moet wag.”

“Dit is sy hart, wat het hom ontstig?”
Sy huil steeds en snik:
“Niks wat ek van weet nie, hy was net grommig en effe bot. Ek het hom nie so geken nie.”

Dawid steur hom nie verder nie. Hy vat Hendrik se hand en maak hom gemaklik op die vloer. Laventel haan kom tussen beide en is in die pad.
“Staan jy eenkant toe, jou asem stink en meneer moet vars lug kry!” Dawid het nie nou tyd vir kneg wees nie, as meneer iets oorkom het hy moeilikheid.
Die ambulans moes gevlieg het. Hulle het Hendrik op suurstof en Dawid is teen alle besware saam agter in en kon net vir Erica skree:
“Bring vir my ʼn hemp hospitaal toe en stuur daai piswilly huis toe!”

Dit was ʼn raakvat-vasvat week vir Dawid. Hy moes alle oproepe en vrae, die Pers en alles wat hy nie eers van geweet het, om beroemde mense se lewens draai, hanteer.
Dan die verwese Erica. Sy was te klein met haar ma se dood en het so gemaklik groot geword dat dood en siekte nie in haar merk gemaak het nie.
Hierdie was die eerste keer dat sy besef, geld, status en stand het nie weerstand teen die engel van die dood nie.
Hendrik word beter. Hy het ʼn helse knou weg en Dawid rapporteer twee keer per dag.

Dit is laataand. Dawid is moeg. Baie moeg en hy gaan stalle toe om nag te sê.
Prins is die omdraai punt. Hy is laaste:
“Prins, sê vir die ander dit gaan goed met meneer Hendrik sê . . .”
Haar stem onderbreek:
“Sê ook . . . “
Dawid gee haar nie kans nie, gryp haar aan die skouers en trek haar weg buite bereik van Prins:
“Wat soek jy so naby! Jy weet hy verdra jou nie!”
Hy los haar en staan nader na Prins asof hy hom wil kalmeer.
Hy sien egter, en kyk weer. Prins maak nie groot oog nie. Prins is kalm en stamp nie voete nie.
Hy steek sy hand en vryf Prins se voorkop en hy voel . . . hy voel haar arm om sy skouer.
Hy versteen. Agter teen sy rug voel hy nog iets. Hy voel die sagte ronding van haar een bors.
Sy hand los die bokant van die onderdeur en gaan na sy kop. Hy krap sy kop en vryf sy hare deurmekaar.
Sy neus vertel eerste en toe sy nekvel . . . ʼn hitte.
“Dawid, kyk vir my, draai om en kyk vir my!”
Hy draai om en sy draai na Prins se staldeur en staan met haar rug teen die staldeur.
Sy staan asof sy williglik die afgrond gaan af spring met haar hande op sy skouers.
“Haar stem kom soos kerk klokkies:
“Dawid, wat moet ek nog doen sodat jy my raaksien? Ek vra jou!”
Hy verklip in totaal. Hy kan nie ʼn vinger roer nie. hy sien en sy klipkeel trek spasties toe:
Prins trek sy bolip op en sy bek met die geel tande is by haar kop.
Dawid se bene wil knak want hy sien haar blou oë en haar witte tande soos sy die doods byt afwag.
Prins gaan na haar oor, krul sy lippe en kry die oor en trek-trek. Sy giggel en druk die perd se bek weg.
“Dawid, bedaar! Jy lyk sleg. Ek en Prins het dinge uitgepraat, maak nou oop jou bek en praat met my!”

Willie F van Tonder
2012/04/29



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Mooi
Jy weet ek gaan dood oor stories, Willem, en hierdie een het nie teleur gestel nie.
7 jaar 4 maande 2 weke 3 dae 23 ure oud


Dawid
Jisso toe ek begin lees dog ek sowaar iemand het jou oorreed en jy het vir 'n paar skryflesse gegaan. Jy het jouself oortref. Sommer 'n dem lekker storie-tema!
7 jaar 4 maande 3 weke 1 dag 13 ure oud


Goeie Storie
Ek is nie eintlik n ou vir Stories lees nie maar ek het dit deur gelees en ek dink dit is baie goed geskryf. So n lekker story wat jy op die stoep kan sit en lees. :-)
7 jaar 4 maande 3 weke 1 dag 14 ure oud


Ditto
Ek en KB sien selde oog-tot-oog, maar sy is reg: jy skryf waaragtig goed! Waars die bundel?
7 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 5 ure oud


Willie ...
Jy het my nou heeltemal weggevoer met hierdie storie van jou. Jy skryf waaragtig goed! :)
7 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 6 ure oud


Dawid
Dankie Willie, ek het lekker gelees! Hoop jou kop is nou skoon en reg vir die volgende een...

Ek wens ek kon my kop ook skoon kry, maar watter storie kan ek nou maak uit my vorige nag se dinge, toe ek die hele nag lank vir parkering in Londen gesoek het?

Groete.
7 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 6 ure oud



Die Besoeking

deur Kobus van Eden

DIE BESOEKING handel oor 'n Gideonsbende wat die plaasmoorde begin wreek. Hul sukses is verstommend! Gou staan Koos Gerade bekend as die Bloedwreker en sy manskappe as 'die hel.'



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar