Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Net ‘n vinnige bier en ietsie om te eet. Die deur is toe maar die vriendelike Indonesiër wys vir my die sydeur, wat direk by die restaurant inloop, is oop vanaand. Ek stap reguit deur kroeg toe en gaan sit by die toonbank, waar daar plek oop is vir twee mense.

Ek roep hard om die aandag van die kroegmeisie te kry, oor die musiek wat hard speel. Ek bestel ‘n Bintang-bier. My eerste vir die aand. Die reuk van rook hang oor die kroeg. Al die tafels is vol. Engels is die taal wat gepraat word – Australiërs, Britte en Hollanders wat of hier kom werk het of waarvan baie hier bly; en ek. As ‘n Indonesiese meisie die Hollander langs my kom vra vir ‘n sigaretaansteker, sê hy in Engels: “Geen probleem nie, dit sal vyftig dollar wees, dankie!”

Sy verstaan nie die grappie nie en vra dat hy stadiger praat. Na drie pogings verstaan sy, lag en sê, in kru Engels: “Jou dinges man, jy is duur!”
Ek lag. Ek is bly ek is hier. Dalk nie die beste plek om iets te kom eet het nie, maar nou ja.

Die yskoue bier word voor my neergesit op ‘n ronde kartonmatjie. Die eerste sluk gly prikkelend in my keel af. Ek sug van tevredenheid. Dan skiet my gedagtes rond en ek gee ‘n kort tweede sug. My gedagtes word dan verbreek deur die die Hollander langs my. Jos, nege jaar al in Djakarta. Tegnikus in die telekommunikasie-bedryf. Ons gesels ditjies en datjies, dan elkeen weer terug in sy eie wêreld. Jos by twee vriende wat langs hom kom staan het. ‘n Plaaslike tatoeër-kunstenaar en Paul. Ek by my gedagtes. Ek waai vir ‘n kroegdame, dit lyk of daar drie is, lig my leë bierbottel effens, en ‘n vars bier word voor my neergesit.

‘n Man kom aan die anderkant van die kroeg verbygestap. Ek sien hom eers in die hoek van my oog, en dan as hy verby is sodat ek net sy rug kan sien, voel dit vir my of hy bekend is. Ja, sy skouers herinner my aan Mitch Cilliers. Die meubelstuk by die maatskappy met wie ek ‘n uitval gehad het vier dae gelede.

Dit was ‘n onnodige argument, aangevuur deur grootpraatjies, dubbel-brandewyne en ‘n misverstand. En nou skuil daar ‘n donker tugverhoor in my nabye toekoms. Die meubelstuk teen die my; die gedemoveerde, gedemotiveerde en deksels ongelukkige spaarstoel wat rondgeskuif word waar dit nodig is. Seker maar my gedagtes wat met my goël. Of dalk toeval dat die man wel ooreenkomste met Mitch het.

Die musiek raak al lekkerder, skop en draai in my kop. Ek bestel nog ‘n bier. Ek drink stadig, maar ‘n vinnige bier en aandete is besig om ‘n lang draai te loop. Ek is nie rêrig honger nie, maar ‘n bietjie stewige grond in my maag kan baie beteken as die bier lekker bly. Ek sal later eet.

Jos gesels al vroliker en harder met die mense om hom. Nou het ‘n ander vriend bygekom. Ek vermoed hy ken die meeste klante in die kroeg. Ongeag wie in die kroeg is op ‘n aand. Soos ek om my kyk, vermaak deur die kolkende gesigte en vreemde gewoontes van mense wat elkeen hul eie redes het hoekom hulle hier is, en hul eie maniere om die beste daarvan te maak, sien ek ‘n man in ‘n blokkies –kraaghemp agter my sit, sy rug na my toe. Mitch is vreeslik lief vir blokkieshemde, mode of nie. Dieselfde skouers en van skuins agter dieselfde dik nek en blokvormige kop. Goed dan, almal gaan vir my na Mitch lyk vanaand.

Dan kyk ek met wie hy gesels. Nee, kan nie wees nie! Dit is net daardie eerste indruk as ek na die man kyk, wat sy hele gestalte na Niklaas van Aswegen laat lyk. Niklaas, die produksiebestuurder by die maatskappy se aanleg in Alrode. Daar het geen haan na gekraai nadat Mitch vir Niklaas in die gesig geklap het drie maande gelede nie. Dit was ook ‘n dronkpartytjie wat hande uitgeruk het. Maar alles is netjies onder die mat ingevee. Sit die twee dan nou wraggies hier regoor mekaar en saamkuier? My kop blyk so te dink, net vir ‘n oomblik.

Die valse geeldowwe lig sweef in die kroeg, raak meer met rook gevul soos die aand aangaan. Dit skep ‘n amper surrealistiese atmosfeer, waarin my verbeelding en my drome saamspeel. Ek is nie dronk nie. Die drie of vier biere wat ek in het is genoeg om my te ontspan, maar ek is nie dronk nie. Ek staan op, my balans nog soos dié van ‘n ballarina, en stap badkamer toe om my bene te rek en ‘n draai te loop. Die naweek se rugbybepalings is bo die urinaal opgeplak. Uitstekend! Ek het juis gewonder wanneer die wit truie speel hierdie naweek. Dit help darem dat hier so baie Australiese rugbykykers uithang. Ek dink om ‘n wedstryd hier te kyk kan skrikwekkend wees.

Ek loop verby vier tafels terug na my sitplekkie by die kroeg, wat Jos vir my hou. Ek sien vir Kerneels, nog ‘n kollega, by die eerste tafel sit. Ek kyk weg en stap vorentoe, draai dan weer om. Kyk weer. Die man lyk darem baie soos Kerneels. Maar dis nie hy nie. Dis definitief nie hy nie. Dit is mos nie hy nie? Ek gee nog ‘n treë vorentoe. Daar staan drie Britte, duidelik uit hulle luide stemme wat teen die musiek baklei, by die tweede tafel. En ‘n vierde persoon, Carlo Peens. ‘n Groot vriend en kollega. Die diep reggae-techno maat pomp deur my hart as ek aanbeweeg. Nog vier, vyf treë voor ek weer sit. En ek loop verby nog twee bekende gesigte wat invloei by hul onmiddellike omgewing asof dit doodnormaal is vir hulle om daar te wees. As ek gaan sit besef ek dat niemand my gesien het nie, ek het onsigbaar deur die mense beweeg. Nie deur almal nie; iemand het wel vir jammer gesê toe ons by mekaar verbygestap het voor die badkamer. Maar geen bekende mense het geweet ek kom daar verby nie. Of wou weet nie. Ek weet nie.

Dan besef ek aan wie Jos my herinner - Andrew Booysen, wat lank saam met my potspel gespeel het. Ewe maer, dieselfde bokbaardjie. Hy begin weer met my gesels. Ek voel ewe skielik ongemaklik.

Nou wonder ek wie ek is.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Déjà vu à la bar
Goeie storie.
Hier en daar tik/grammatika-foutjies.
Hou so aan.
5 jaar 3 maande 3 weke 4 dae 18 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar