Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die bustoer

Die Haai Hoen Daai JAANLINER bus staan gereed vir die groot tog Swakopmund toe. Suidwes Tuis Bes se bikers is reg vir die Rally van die Jaar. Kleintjie het die bus van voor tot agter deurgegaan, hy is effe bekommerd oor die trekstang wat so skeef skeef aangesweis is. Hanno het ‘n bietjie laat gekom en gekla daar is nie genoeg rooi tou om die bikes op die bus se dak vas te maak nie. Met die instruksies uit die “Vlieg manual China toe” het hy die trekstang in ‘n jap trap vas gesweis. Die skerp blitse van die sweisvlam het hom so verblind dat hy plek plek mis gesweis het en ‘n plan moes maak. Die gate is toe met soldeersel opgevul vir stabiliteit en netjies swart toegeverf. Heksie staan bo-op die Jaanliner se dak en skree bevele uit. Sy wens Karel Kat wil met die rottang opdaag voordat sy die balhorige klomp kinders van Blondie met die besem bek-af slaan. Dalk nog hulle harsings verder beseer. Ongelukkig is haar besem-bike reeds gemodify met Michelin bande en met rooi nylon tou op die bus se dak vasgemaak. Sy staan stomend met haar hande in die hoed! Sy moet nog gou gaan handjie bysit binne. Kleintjie en Georg sy mede busbestuurder, raak nou ongeduldig. Die tyd loop uit. Blondie se kinders klim hot en haar oor die bus, laai klippe by die vensters in en gooi papiere en leë bottels uit, van hoor is daar nie sprake nie, ore sekerlik van pure opwinding, toegeswel. Sy beduie vir Anette om haar bike voor die bus te stop, langs Chock se ysterperd. Hy is ‘n Old Time Biker, sy bike se voorwiel-as is met u bolts en bloudraad vasgemaak, kruis en dwars vasgetrek, en soos Anette se 500 Honda met moere verstewig. Dit is vir beter padhouvermoë want hy moet die spannetjie Swakop toe begelei.

Van die dak af skree Heksie bo die gebrul van die laaste aankomende motorfietse uit. “Ons moet klaarkry, ons kom vandag nie weg nie. Voor die son sak moet ons in Swakop wees.” Sy spring van die dak af. Blondie se jongste kind dink Tannie Heksie gaan hom doodspring en vlieg met ‘n handvol klippe onder Kleintjie se sitplek in. George gryp hom agter sy nek, ruk hom uit, en waarsku met groot oë dat hy nou op sy sitplek moet stilsit. Anette, Magda en Rina het hulle trompoppie rokkies aan. Daar moet in styl in Swakop aangekom word en hoog geskop word - soos van ouds tydens skoutyd, toe privaatskole verban was maar die hele dorp se mans teenwoordig was.

Heidi Potjie draf na die kombuis agter in die bus. Sy gooi net gou weer vir oulaas ‘n ogie. Die padkos is hoog gepak, sakke chips (om die kinders vooraf dik te voer en te keer dat hulle nie die helfte van die padkos verorber nie) Biltong, droëwors, toebroodjies, frikadelletjies, gekookte eiers, vrugte, melk, soetgoed noem dit en dit is gepak. Die koolstofie is netjies op sy plek. Vaatjies Katobatjie, Bier vir die langpad, koffieflesse, koffiekan en waterkanne staan alles netjies in ‘n ry. Sy is tevrede, Kleintjie duld nie ‘n slordige bus nie. Christine sleep twee sakke steenkool die bus in. Sy het dit spesiaal van Secunda af saamgebring. Sy is ‘n bosmeisie en ken van hoë graad brandgoed, daar moet groot kos gemaak word in Swakop en die kole moet hou. Hulle skuif die sakke onder die stofie in.

Rolene klim aan die agterkant van die bus op: “Kom kom mense die Desert Run Rally gaan nie vir julle wag nie en ons moet nog gaan regmaak vir vanaand, die pad is lank” Met die opklimslag verloor sy amper haar balans toe een van Blondie se kinders by die enginkap uitpeul.” Rolene skree bo die gebrul van motorfietse uit: “Wat maak jy hier, gaan klim in die bus”. As sy haar sonde nie ontsien nie “ Ek neuk vir jou dat jou biologiese pa en sy vriende jou nie weer sal opspoor nie, bus toe met jou!” Marissa Mys kom aangehardloop, gryp die kind aan sy arm en sleep hom bus toe. Sy het belowe sy sal vir Blondie help tel en toesien dat al elf telgies in die bus is. Sy boender hom die bus in en stop ‘n pak toffies in sy hand, die gekou sal hom besig hou.

Japie en Naomi het die sleepwa gelaai. Die kamptoerusting en kosvoorraad, netjies verpak. Bo-op is kampstoele vasgemaak, die waentjie is stampvol. Tussen die stoele is die driebeen swartpot met hoenderpote en skaapkoppe vir ekstra padkos staangemaak. As die bus stop word daar in die pot gekrap. Heidi Potjie is nie baie gelukkig daaroor nie maar het maar laat begaan haar gedagtes is op wolk nege. Sy is maar te bly want Blondie se kinders gaan nagmerries kry as hulle koppe en pote sien. Die naweek is te lank om met bang kinders te sukkel.

Japie en Naomi wil opsluit agter op die sleepwa saamry. Hulle hou van opwinding. In die volgstroom van die bus kan hulle heerlike vars lug inasem terwyl hulle knibbel aan koue hoenderpote en skaapkoppe. Kleintjie besluit dit sal nie werk nie en hulle klim half afgehaal in die bus. Sal hulle lus maar tot in Swakop beteul.

Voor in die bus is Baron Von Zweep staangemaak tussen Georg en Kleintjie. Hy is die GPS posduif in opleiding. Hy moes homself amper as 'n Valkie vermom. Gelukkig is dit nie meer nodig dat Heksie by die tannie by die Makeup salon vir hom ‘n mombakkies moet laat maak en die regte grootte naels kry nie. Hanno se Valkie is na die swyswerk aan die trekstang, met tydelike blindheid getem en huistoe gestuur. Die gevaar is afgeweer. Dit druis en dreun in die bus. Ute wil net weet of daar markte en basaars is sy soek ‘n lekker valhelm, hare het sy jare gelede vir ‘n potplanthouer gebruik en sien nie kans om soos ‘n knopkop duif te lyk as sy dalk neerslaan nie.

Riëtte (Oumakie Spokie) is reg vir koffie en koek bedien. Daar is koeke en terte vir afrika. Sy is mal oor die marmot gevreetjie versierde koek. Dit is die koek wat sy en Anette gebak het volgens die diabeet-kanarie-saad resep. Lekker harde tandebrekers, laat haar dink aan die Berlynse muur. Wat ‘n lekker uitstappie is dit nie hierdie nie, nou sal sy kan sien watter tandarts se kunstande dit gaan maak met die marmot koek! Sy wonder of hulle al besig is om die Swakoprivier se mond oop te stoot met skrapers vir vanmiddag se oefensessie. Wanda se motorfiets word laaste gelaai, sy is moeg dat dit vir jare soos ‘n wit olifant in die garage gestaan het. Ry moet die ding gery word, sy keelgat skoongebrand word. Sy gaan sit langs Riëtte en wonder of sy sal kan bo bly wat nog te sê op hoë spoed deur draaie gaan! Maar haar bikers leathers is ingepak, stewels en al en het ‘n fortuin gekos. Egte leer!

Christeen is besig om aan 'n kondensmelk teetjie te suig om net oor vanoggend se skok te kom .....amper was sy sonder haar energie kossie. Dit was vandag die tweede keer in twee weke dat sy die pampoen houtskool verbrand het in haar poging om pampoenkoekies as opkikkertjie saam te kan vat. Dit is darem nou veilig in haar handsak weggesteek en die groot geheim van die doel van die pampoenkoekies, agter geslote lippe. Net sy weet, ‘n Pampoenkoekie in elke kies as jy deur die draaie vlieg, keer dat die wind die wangvelle verrek en plooie maak.

Rossouw, Rick, Anique, Alma en Manuella het almal rooi bikes – Hondas – identies dieselfde. Jan Grootskiet het darem saam met Heksie toegesien dat dit nie op die bus se dak deurmekaar sal raak nie. Sy bazooka is ook veilig gelaai. ‘n Man kan nie motorfiets ry sonder ‘n skietding nie. Die bus word voller. Elsie, Gabriele, Kowie Grootleeu, Anna Strike, Sonja Zebra, Connie, Jessie, Ronel is die laastes om in te klim. Die motorfietse is gereed, met sidecars en kettings en sleepwaens. Phil Balhao kom met ‘n stofwolk by die bus aan. “ Hahaha! Lyk my ek het 'n bietjie opvang jaagwerk om te doen! Sarel en Dawid sit al halfpad met ‘n yskoue biertjie en wag” Brullend vlieg hy onder groot gejuig en geskreeu met sy motorfiets weg, hy moet saam met Sarel en Dawid vroegtydig in Swakop aankom om toe te sien dat alles gereed is vir die Bus se aankoms. Kleintjie maak die deur toe, gee die teken vir Chock en hulle gee gas. Die bus is oppad na die Bike Rally in Swakop.

James het die musiek reg, die Suidwes Tuis Wes lied weergalm en die Suidwesters sing saam. Dit gaan plesierig verby in die bus! Dit eet en drink en gesels en die motorfietse se vermoëns word hemelhoog aangeprys. Duskant Karibib kruip Blondie se baba onder Kleintjie se sitplek in, opsoek na sy klippe wat hy verloor het toe oom Georg hom daar uitgehaal het. Met die opkomslag sit hy vas en knyp Kleintjie se voet wat op die petrolpedaal is, vas. Net daar tel die bus spoed op. Die kind klou soos ‘n neet en Kleintjie het sy hande vol met die bus. Die Jaanliner is ‘n kragtige bus en versnel vinnig. Georg probeer die kind uittrek. Die kind kry bobbejaanstuipe en byt. Die boetie wat onder die enjinkap gekrap het sit hand by. Tussen sy tande byt hy die spoedbeheer meganisme vas. Hy help ruk en pluk maar die kleutertjie hou vir lewe en dood en Kleintjie gee nog meer gas! Chock tel spoed op met sy motorfiets. Sowat van ‘n gejaery het hy nie verwag nie. Anette het teruggeval, liewer laat as dood.

Phil, Sarel en Dawid verstik aan hulle bier. Voor hulle oë jaag die Jaanliner teen honderd vyf en vyftig kilometer per uur dwarsdeur Karibib. Die een kant in en die anderkant uit. Gaan op twee wiele oor die brug om die draai, die sleepwa vat hier en daar grond. Meer in die lug as op die grond. Anette jaag agter die sleepwa aan. Haar motorfiets hang vol hoenderpote en ‘n skaapkop is medepassasier op die motorfiets. Die manne los die bier net daar, spring op hulle motorfietse en sit die bus agterna. Nou word daar hoë nommers gery! Onbewus van die drama skreeu Heksie bo die geraas uit: “Kleintjie maak nou lekker tyd op hy is amper vinniger as my besempie, Gaby Hoola, gooi daar vir ons nog so ‘ n ou rooietjie, nou ontspan ek lekker!” Die manne haal die bus in. Met die verbykom gooi hulle duime in die lug en gee vet. Hiervan hou hulle. Sowat van ‘n jaagduiwel met ‘n bus het hulle nog nie gesien nie. Kleintjie mag maar ‘n bus bestuur. Teen honderd en sewentig kilometer per uur, begin die bikers omkyk! Die bus is rooiwarm op hulle hakke! Vyf kilometer duskant Swakop sien Saline Mustang die bus se voorland is oor die see, Engeland verby. Sy ken ‘n wilde perd en kry die kind aan die ore beet en sleep hom genadiglik onder Kleintjie se bene uit.

Die kampeerterrein word met groot geskal en en gejuig ingery. Dit is ‘n vrolike groep wat uit die bus klim. Almal komplimenteer Kleintjie met sy bestuursvernuf. Georg dink so in sy innigheid dat hy ‘n plan met Blondie se kinders gaan maak as hy die bus terug bestuur. Hy sien nie weer kans vir laagvlieg met ‘n bus nie. Die rooi nylon tou sterk in sy gedagte, ‘n goeie opsie!

Toe begin die afpak en nesskop. Dit wemel en skarrel en dit is ‘n oorverdowende gebrul van motorfietse. Hier en daar moet nog gou ‘n paar verstellingkies gedoen word, die roete verken word en dan lê die aand se lekker saam kuier nog voor. Die reuk van die uitlaatgasse hang swaar in die lug. More is dit die groot dag dan moet almal gereed wees vir die Desert Run Rally van hulle lewe!

Desert Run Rally

Dit is vroegoggend, deinserig en mistig soos net Swakop kan wees voor die mis terugkruip oor die see. Die Vure is deurnag aan die gang gehou en die koffieketels sing…… Van pure opgewondenheid kon ‘n paar mense nie slaap nie, te veel adrenalien. Die warm stomende koffiebekers word met beide hande vasgehou en behaaglik aan die soet inhoud geslurp. In die tente, rondawels en karavane word daar gewoel. Jan Grootskiet is besig om sy bazooka met ‘n ketting agter op sy Harley Davidson 1000cc vas te maak. Sonder sy skietgoed durf hy nie berge en dale aan nie. Strandwolwe is volop…………. En vir die wis en die onwis moet ‘n man paraat wees. Barenda Duifie is in spierwit Chinese leathers en poleer vir oulaas haar Suzuki Hayabuza 1340cc, 4-stroke, Liquid-cooled, 4-cylinde, DOHC bike. Die Pearl Glacier white sal tot sy reg kom as die son opkom. Hierdie sestien valves, gaan vandag amok maak! Haar rekord : 400m Run: Tyd 10.2sec - spoed 221Km/h. en die 1Km Run: tyd 19.8sec - spoed 281Km/h. Tussen die sandduine gaan dit maar neuk maar sy het nie verniet van China af gekom vir die Rally nie die bekende motorfiets modelle sal vandag moet uithaal teen haar!

Van oral oor kom motorfietse aangery, die Rally begin. Heksie se besem-bike is ‘n aardigheid dit word van alle kante af beloer. Die rooi Hondas staan in rye en word warm gemaak. Die dreuning is oorverdowend, die vlag val en die bikers spring weg. Dit is boë sand. Party bikes tol in die rondte, die ander raak die kluts kwyt en vat pad water toe. Nuwe engines pak op en bolle rook borrel onder die bikers uit. Van die bikers lê op hulle rue, bene in die lug. Chock se mond val oop, sowat van ‘n wegspring het hy in veertig jaar as organiseerder van Rally’s nog nooit gesien nie. Dit maal en sleep en die vrouens gil bokant die donderende lawaai uit. Hulle naels het afgebreek! Ten eindelaas is hulle op dreef en jaag in ‘n bondel die duine in. Blondie se baba kry koliek van die spoed, sy gooi hom voor by haar baadjie in dat die kind intussen maar die bors gryp en troosmelk inkry om vir die angs-krampe te help. Gaby is kort op haar hakke, sy het ‘n plastiek bottel met ‘n tou aan die kant van haar bike vasgemaak en vat deur elke draai ‘n sluk van die donkerrooi beleë aaroopmakertjie. Langs haar jaag ses bikers in gelid, die helfte van hulle is van die spoor af. Soutwolke verblind die bikers maar hulle klou, die prysgeld is groot.

Jan Grootskiet se bike word gestamp, die ketting ruk los en slaan die bazooka raak. Twee skote gaan af en maak ‘n nuwe pad oop vir die bikers. Die slag ruk sy Harley se metaalbrein in overdrive en stuur die voorwiel in die rigting van duin sewe. Annna Strike sny die draai so laag om hulle agterna te sit, die een been van haar leathers word afgeruk. Om die volgende draai brand die soutpad die ander been van die leathers weg en sy jaag voort met hot pants. Sonja Zebra kom van duin sewe se kant af ingejaag, mis vir Jan Grootskiet rakelings met haar swart en wit gestreepte bike en sny voor die voorlopers in. Agter remme word vergeet en voorremme vasgeruk. Selfs Georg se deeglike opleiding oor landingsinstruksies help nie meer nie. In ‘n bondel jaag die bikes agterstevoor op hulle alleentog die die duine in. Karel grawe vir Christa onder die sand uit en pas mond tot mond asemhaling toe. Aletta soek haar bril en valhelm. James is by, die sand word afgeskud, bikes opgetel, bikers natgegooi en gelaaf. In ‘n streep is hulle weer oor die duine.

By die eindpunt staan Chock in afwagting op ‘n houtstellasie by die wenstreep. Vlaggie in die hand. Hy kan sy oë nie glo nie. Uit die rigting waarheen die bikers vertrek het, kom hulle in ‘n bondel teruggejaag heel rigting verward. Voor is Heksie met haar besem-bike, die rooi vlamme hou die res op ‘n afstand. Met die verbykom brand die vlaggie in Chock se hand houtskool en slaan Blondie se tien kinder se hare aan die brand.

Chock besluit daar en dan dat die Suidwes Tuis Bes span vereer sal moet word. Beaty het ‘n goeie geheue en het met haar kamera agterna gejaag om alles op video vas te lê, sy sal moet help met die prysuitdeling. Sowat van jaag het hy nog nooit beleef nie. Toe die son sak, bedaar die bedrywighede in die noodhulptent. Drieduisend vierhonderd en vyf pleisters moet weer bestel word vir die noodhulpkassie. Die vaatjies Katobatjie word ernstig ingespan as antibiotika, kalmeermiddel en koors- en pynwerende middel. Dit word bekersgewys per mond toegedien.

Toe begin die paartie en die groot gesels oor die dag se gebeure.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Desert Run
Goed geskryf :)
7 jaar 9 maande 2 weke 1 dag 2 ure oud


Anette Van Der Merwe
Anette Van Der Merwe
Desert Run Rally
Uitstekend. Voel of mens persoonlik self daar is...
7 jaar 9 maande 2 weke 1 dag 18 ure oud



Reistog van Genade

deur Hannelie

My genade reistog van diagnosering van bipolariteit en my reistog na die veiligheid van God se Arms



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar