Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Vandat ek maar kon onthou, wou ek nog altyd 'n hondjie gehad het. Van al die honde wat ons as kinders gehad het, onthou ek net die laaste een. Wagtertjie, die klein kordaat Pomerian kruis. Maar hy was mos eintlik soort van al die kinders sien, al het my broer altyd gesê dit is syne.

Ek het nooit gedink dit sal ooit gebeur nie, want ons bly in 'n woonstel en almal het net skouers opgetrek en gesê mens kan nie 'n hond in 'n woonstel aanhou nie. Van die mense in dieselfde woonstelblok het egter 'n Maltese poedel gehad en daarom het ek besluit om nie meer langer vas te staar teen die struikelblokke nie maar eerder te begin soek na oplossings.

As gevolg van ons buitegewone situasie het ek besef dat ek baie navorsing sal moet doen om seker te maak ek kies die regte hond. Dit moet vanselfsprekend 'n klein hondjie wees en 'n keffertjie was beslis uit. Daarom sou ek 'n opregte hondjie moes kry en kon ek nie een van die hondjies by die DBV gaan aanneem nie.

Die beste en goedkoopste plek vir navorsing bly nog steeds die internet, en so het ek in die weke wat kom op al wat 'n honde webwerf was, geboer. Ek kon nie glo mens kry so baie verskillende honde nie, en sulke vreemde onuitspreekbare name waarvan ek nog nooit eers gehoor het nie. Uiteindelik het net drie die kortlys gehaal: Griffon Bruxellois, die Yorkshire terriēr en die Toy Pom – laasgenoemde natuurlik met Wagtertjie in gedagte.

Min sou ek weet dat ek op die ou einde nie een van die hondjies sou kry nie. Nou dat ek min of meer geweet het waarna ek soek, kon ek begin advertensies dophou om enetjie te koop – maar ek kon nie glo dat 'n mens soveel vir 'n ou hondjie kon betaal nie. Vroeër jare het mens dan sommer hondjies persent gekry by familie of vriende – maar dis was natuurlik basterhondjies. Selfs hondjies het nou in 'n gespesialiseerde mark ontaard. Maar gelukkig het my man gesê dat dit my persent vir ons sewende huweliksherdenking sal wees.

Uiteindelik het ek 'n advertensie raakgeloop van 'n dametjie wat spesialiseer in kleiner honderasse. Na 'n foonoproep het sy gesé sy verwag die komende Saterdag 'n Toy Pom mannetjie en of ek wil kom kyk. So het ek dan die Saterdag die pad van Alberton na Roodepoort toe aangepak. Aangesien ons voorheen in Florida gebly het, het ek maklik genoeg die huis gekry en die klokkie gelui.

'n Baie vriendelike dametjie het my by die hek ontmoet – natuurlik met haar eie hond aan haar sy. Ek het net my sit gekry toe die mooiste klein swart hondjie met 'n wit borsie en pootjies by die deur ingedraf kom. Ek kon nie anders nie, ek moes hom net op my skoot tel.


Ongelukkig het hulle nog nie my hondjie gebring nie en daarom het ek die tyd benut om Helen met vrae te bestook. Daar was so baie wat ek nie geweet het nie, maar sy het geduldig al my vrae beantwoord. Toe ek weer kyk was dit al 'n uur later – waar is die tyd heen?

Helen het my so skewe kop bekyk en gesê: “Jy moet hierdie hondjie vat. 'n Pomy sal jou uit die huis uit blaf. Hierdie hondjies blaf amper niks.” Ek het afgekyk na die bondeltjie op my skoot, wat nou al klaar my hart gesteel het. “Watse hondjie is dit?” het ek gevra. “Dis 'n Japanes Chin” het sy gesê – hulle word spesiaal geteël as geselskapdiere.

Die besluit was nie 'n moeilike een nie en na 'n laaste inenting het ek my hondjie in die kar gelaai en die pad gevat terug huis toe. Maar een ding moet jy weet – as jy 'n hondjie gaan koop doen jy dit nie alleen nie, veral as jy so 'n ver pad huistoe moet ry nie.

Hondjie het gou moeg geraak vir die kartondoos en het saggies begin kerm en krap-krap-krap met sy pootjies om uit te kom. Dit moet seker vir hom baie erg wees om vir die tweede keer sy bekende omgewing te verlaat.”Toemaar, toemaar,” het ek gesê. Naderhand het hy op sy agterpootjie gestaan en daarin geslaag om op die voorste sitplek te klim. Vandaar was daar net een koers – reguit op my skoot.

Om te bestuur met 'n klein hondjie op jou skoot wat alles wil besnuffel en sommer wil bestuur ook , is geen maklike taak nie, maar genadiglik het hy sommer gou-gou aan die slaap geraak. Met 'n groot sug van verligting het ek uiteindelik by ons hek ingedraai.

Saggies tel ek hom op en dra hom veilig in my arms by sy nuwe tuiste in. Ek sit hom saggies neer en sê: “Welkom in jou nuwe huis.”





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

jy skryf so oulik, ek het die hele pad saamgery.
geniet jou vierpotige vriendjie, hulle is dit werd.
11 jaar 7 maande 3 weke 1 dag 8 ure oud



MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar