Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Die Binnekring

“Julle moet ma in ‘n versorgingseenheid laat opneem. Sielie kom nie meer die mas op nie. Sy moet vier - vyf keer in ‘n nag opstaan en die volgende oggend moet sy gaan werk.”

Dus Nico haar man wat antwoord: “Ma verkies om in haar eie bed dood te gaan, ons moet dit vir haar gun. Sielie werk haar in elke geval nie dood nie, Emilie doen alles vir ma, sy moet net in die nag daar wees vir ma.”

Suster Stiena gooi ook ‘n stuiwer in die armbeurs: Sielie klae altyd, hoekom werk sy in die eerste plek by daardie ou simpel bloemiste winkeltjie.” Francien voel die ergernis in haar opstyg, sy waai met haar hand die blou rook bolle voor haar gesig weg. Van die vier in die vertrek, is dit net sy wat nie rook nie. “Sielie het soos almal van ons, seker ook maar haar geld nodig, sal jy haar salaris betaal?” Sy kyk skerp na Stiena. Nico antwoord, “ma het voorsiening gemaak vir haar lewensonderhoud, sy’t nie nodig om te werk nie. As sy by die huis is, kan sy in die dag slaap as Emilie hier is.”

Francien se oë brand van die rook, sy voel hoe haar wange warm word. “Sal jy jou werk los om vir ma op te pas; nee jy sal nie; nie eers vir my nie, so hoekom verwag jy dit van Sielie. Die werk by die bloemiste beteken vir Sielie baie, sy geniet dit, dit gee haar selfwaarde.”

“Ek:” Stiena slaan met haar hand op haar bors, “ek het met ‘n koliek baba, wat my elke nag uit die slaap gehou het, by die Bank as teller gewerk, vra vir my, en ek sal vir jou sê wat is dit om sonder slaap klaar te kom en dan nog ‘n verantwoordelike werk te doen. Sielie hou daarvan om bejammer te word. Sy vergeet wat ma alles in die lewe vir haar opgeoffer het.” Haar lang rooi naels reik na haar pakkie Camel.

Tjaart wat aan die onderpunt van die tafel sit, laat die eerste keer van hom hoor. “Ek kan ma oppas maar ek is bevrees dit sal nie deeg nie, want ek is elke aand besope.” Sê hy met ‘n hees stem, maar ‘n spotlag in sy blou oë, waarvan die wit rooi is. Sy gelaat getuig ook van sy leefwyse. Stiena kyk hom met afkeur aan: “As dit ‘n grap is, is dit swak smaak, as dit nie ‘n grap is nie, is dit ‘n skande! Dit is goed Magda het lankal van jou ontslae geraak.”

Tjaart gaan ongesteurd voort: “Ek stem saam met Francien ma moet in ‘n versorgingseenheid opgeneem word, ek is bereid om ‘n aftrekorder te teken, sodoende kan julle seker wees van my bydrae.” Francien kyk in Tjaart se oë, hierdie keer is hy dood ernstig.

“Wel ek is ‘n weduwee met ‘n kind op universiteit ek twyfel of ek daartoe in staat sal wees om ‘n bydrae te maak,” verskoon Stiena haar. ‘n Bloedjie wat al sewe jaar op universeteit sit en nog niks bereik het nie, dink Francien katterig.

Nico skuif ongemaklik rond op sy stoel; “ons trek ook maar noustrop met drie kinders nog op skool,” hy kyk na Francien asof hy verwag sy moet dit beaam. Francien kyk voor haar en sê niks, maar dink dus nie die kinders nie, dus daardie nuwe Mercedes wat hier buite staan. Sy staan op maak die venster wyd oop,die koel lente lug stroom die rook gevulde vertrek in. Stiena vat besorg oor haar profesionele haarsalon kapsel. “Ek gaan iets te drink maak,” sê Francien en sy gaan kombuis toe.

Francien gaan staan voor die kombuisvenster en staar na buite, twee duiwe is besig om te stry oor papkrummels wat Sielie uit gegooi het. In die diereryk is daar ook selfsugtigheid en onverdraagsaamheid.

Die eerste keer toe Francien die kring van hierdie familie binne gestap het, was dit ‘n baie ordelike familie, altans so het sy gedink. Nico ‘n aantreklike jongman, baie ambisieus en toegewyd. Ja, daar was Tjaart wat toe al te diep in die bottel gekyk het en Sielie, die afvlerk voëltjie, met nie veel potensiaal nie. Skoonmoeder het haar egter stewig onder haar moederlike vlerk gehou. Stiena altyd met ‘n perfekte uiterlike en vol glimlaggies.
Moeder Corra, suster Stiena en Nico het met hulle goeie hoedanighede vir die ander twee se swakhede opgemaak.

Francien haal ‘n fyn koppie en piering uit vir Stiena se tee, toe steek Tjaart sy kop om die deur, “moenie vir my iets maak nie, ek dink daar is nog bier in my trok.” Francien kyk hom in sy oë, “nee - ons drink nou koffie of tee,” sê sy streng. Hy lag, “ek het nie geweet my mooi skoonsussie is ook ‘n katjie met naels nie.”

Soos sy die binnekring van die familie binne gedring het, het sy agter gekom; skoonma Corra se moederlikheid teenoor Sielie is eintlik magsbeheptheid om Sielie te kry om te doen soos wat sy wil en vir haar gerieflik is. Stiena se uiterlike vertoon is net skyn en haar glimlaggies is eintlik gif met ‘n lagie suiker. En haar dierbare man, veroordeel sy broer se gedrinkery maar knyp ook maar die kat goed in die donker

Sielie kom by die deur in, sy het met die hond gaan stap. Sy sien lusteloos daaruit, haar hare hang slierte en haar skouers vooroor geboë soos ‘n ouvrou “Ma moet tee kry,”sê sy kortaf. “Sielie ek sal ‘n plan maak om hulp te kry vir die nag met ma.” Sielie kyk nie eers op nie en brom: “‘What ever’.” Dan as ‘n nagedagte,sê sy met haar kop onderstebo, net hard genoeg dat Francien dit kan hoor: “Wat kan jy kamstig doen mevrou fyntjies.” Francien sit die koffieblik vererg op die tafel neer, reg om Sielie iets toe te snou.

Laat dit gaan besluit sy, sy maak haar skoonma se tee, vir Stiena tee en vir die res sterk koffie. Soos sy die binnekring van die familie beoordeel het, het Sielie haar ook beoordeel, sy geweeg en te lig bevind. Sielie is net dapper genoeg om in haar eenvoud te sê wat sy dink.

Behalwe Francien is die res van die geselskap by haar skoonma in die kamer. Die oudame is vandag neentig jaar, maar sy is so deur mekaar, met rukke ken sy hulle nie eers nie, wat nog te sê onthou dat sy verjaar. Hulle is nie hier byeen om haar verjaarsdag te vier nie, hulle het gekom om te beraadslaag oor die situasie maar dit lyk nie of hulle enigsins nader aan ‘n oplossing is nie. Hulle moet tog eet, sy het aangebied om te gaan kos maak, dus waar sy tuis voel, tussen die kos potte. Die atmosfeer in die siekekamer maak haar vreesbevange.

Sy kry ‘n kommetjie sop wat soos skottelgoed water lyk in die yskas, ai die Sielie, dat sy haar ma so ‘n brousel kan voer. Dit lyk nie of hier enigsins kos gemaak word nie, want die voorrade wat sy en Nico verlede week gebring het, is nog net so. Orals kry sy koekies, tjips en lekkergoed papiere, so dus waarvan Sielie lewe, geen wonder sy sit so lekker gewig aan nie.

Dit is weer Tjaart wat om die deur loer: “Wat doen skoonsus?” “Ek hou nie daarvan om ma so te sien nie - dit maak my bang, nou maak ek maar kos ons moet tog eet.” “Ek is ook nie gemaak vir sulke dinge nie, sal ek my hande was dan kom kap ek die uie en knoffel vir jou op.” Voordat sy nog kan antwoord begin hy hande was.

Hulle werk in stilte, hy is behendig, anders as Nico wat ‘n nul op die kontrak in die kombuis is. Sy hande is kunstenaars hande, hande wat moet skep. “My ou suurknol broer was darem gelukkig om ‘n vrou soos jy los te slaan.” “Ek twyfel of hy so dink,” antwoord sy terwyl sy die vleisstukke in meel rol.

“Ek wil jou ‘n geheim vertel.” “As Tjaart Muller vir my ‘n geheim wil vertel, moet ek seker bekommerd raak.” Hy lag; “weet jy ek was destyds smoor verlief op jou toe Nico by jou begin kuier het, as dit was dat hy my broer is nie, het ek jou afgevry.” Sy lag, “sover ek kan onthou het jy op troue gestaan met Magda.” “Die fout van my lewe, ons moes nooit getrou het nie. Magda, Stiena en my ma het almal gevry vir ‘n troue, totdat ek naderhand ook geglo het dit is die regte ding.”

Hulle maak verder kos, Francien voel effens ongemaklik. Hy haal ‘n bottel wyn uit die kas: “Kom ons drink ‘n bietjie wyn, ek en my skoonsus, ons vorm ‘n goeie span! Francien weet as Tjaart eers begin drink kry hy nie end nie. “Asseblief Tjaart jou ma is baie siek, respekteer dit.” “Goed skoonsus, ek sal ‘n glas coke in gooi, al is ek vrek lus vir wyn, maar vir jou gooi ek ‘n bietjie wyn in.” Francien vat die glasie wyn en neem af en toe ‘n slukkie - dit help tog nie om met Tjaart te stry nie, gee hom maar sy sin.

Nico het een keer kom inloer om glase te kry, hy skink vir hom en Stiena iets wat hy in die Mercedes gaan haal.

Hulle maak die kos klaar en dek die tafel, sy het altyd geweet Tjaart is handig in die kombuis, maar hy het haar vandag verras. Almal laat reg geskiet aan die maaltyd.

Na ete kondig Stiena aan, sy gaan haar ma gemaklik maak vir die nag. Nico neem plaas voor die televisie en Sielie kondig aan sy gaan bad. Sy en Tjaart ruim op en was die skottelgoed, daar is ‘n gemoedelike stemming tussen haar en Tjaart, hulle werk lekker saam.

Nadat alles weer aan die kant is, gaan sy en Tjaart ook woonkamer toe, Sielie kom in; “nag ek gaan slaap, jy het mos gesê jy gaan help - so, jy moet vannag na ma kyk.” Sielie kyk uitdagend na Francien. “Sielie ek het nie gesê ek sal vannag al vir jou hulp hê nie - dus tog onmoontlik.” Sielie lag sinies, “so gedink net praatjies.”

Nico vererg hom en verhef sy stem: “Stop jou twak Sielie, Francien kan nie vannag hier bly nie.” Sielie ruk haar op, loop die vertrek uit, slaan haar kamerdeur toe dat die kosyn tril, kompleet soos ‘n rebelse tiener.



Tjaart kug; pa het altyd gesê as Sielie dwarstrek , raak sy soos ‘n steeks donkie, julle gaan niks uit haar kry vanaand nie.”

Stiena trek haar lippe dun en kyk na Francien,”dit het jy nou daarvan om vir Sielie iets te belowe wat jy nie kan nakom nie.” Francien voel hoe sy warm word soos ‘n kool wat gloei. Nico voel hier kom ‘n woeste storm aan tussen sy vrou en sy suster, “ek sal môre my sekretaresse opdrag gee om te soek vir ‘n privaat verpleegster, dit is duidelik dat Sielie nie geskik is om langer na ma te kyk nie.”

Dan verander Stiena haar deuntjie; “Sielie en Emilie sorg nie goed vir ma nie sy het ‘n bedseer, hulle draai haar nie genoeg om nie. Ek sal ook soek vir ‘n privaat verpleegster, al moet ek nou maar my lank gespaarde oorsee se vakansie geld daarvoor gebruik.” Dit is op die punt van Francien se tong, om vir haar te sê; as jy en jou oorlede man nie al ma se geld in julle besigheid gedruk het nie, dan kon ons met haar eie geld die verpleegster betaal het. Sy wonder hoekom is sy vandag so bitsig in haar gedagtes teenoor Stiena, gewoonlik handhaaf sy ‘n houding soos die Engelse uitdrukking sê: Turn the deaf ear to.

Nico skuif rond; “wel, ek kan nie langer bly nie, ek vlieg môre Kaapstad toe en ek moet nog my voorlegging na gaan.” “Ek moet vroeg wikkel om nie in die verkeer vas te sit nie, ek het ‘n vergadering in Santon,” verskoon Stiena haar. Albei kyk na haar.

In ‘n sagte stem vra Nico, “lief wil jy nie maar vannag hier bly nie, dit kan nou nie anders. Net vannag, ek sal môre ‘n plan maak.” “Nico jy weet ek is nie ‘n verpleegster nie,” sy klink kortasem van op geboude emosies. “Daar sal nie iets vannag gebeur nie, ma is rustig en Stiena het haar iets in gegee om te slaap,” paai Nico.

“Nou kom laat ons ry , sodat ek my kar en goed vir die nag kan kry,” daar broei ‘n ergernis in haar oor sy hierin geboelie is. Stiena is ook skielik haastig, Francien kyk nie na haar en ignoreer haar. “Ek sal hier bly tot Francien terug is,” bied Tjaart aan.

Tjaart staan met die afstand beheer in sy hand, sy trek haar Mazda onder die afdak in en merk sy trok staan ook daar. Sy is nou kalmer, die twintig kilometer van die huis tot hier het haar tyd gegee om af te koel. Sy en Nico het niks vir mekaar te sê gehad nie, behalwe ‘n piksoentjie was daar geen kommunikasie.

“Dankie Tjaart, ek sal nou regkom, as jy wil ry.” “Ek bly net hier, ek gaan jou nie alleen by ma los nie, ek is nie my broer nie. Ek weet dit is nie jou soort ding hierdie nie. Gaan sit ek maak vir ons koffie.” “Ek kan dit nie van jou verwag, jy werk ook môre,’ maak sy beswaar. “Ek ry net bietjie vroeër, dus al.”

“Wat sal ons doen, televisie kyk of musiek luister?” vra hy. “Kom ons luister musiek. Ek wil eers gaan kyk of ma nog gemaklik is,” en Francien gaan na die siekekamer. Hy volg haar, hulle draai die oumens om gee haar bietjie water en skud die kussings reg en wag tot sy weer slaap, dan loop hulle saggies uit. Hy sit Rocco de Villiers se rustige klavier musiek op. Hulle praat oor sy ma se siekte, maak geen melding dat sy en Stiena mekaar amper vanaand in die hare gevlieg het nie.

Hy vertel haar hoe graag hy in die kuns wou studeer het, maar sy ouers wou nie skiet gee nie, hulle wou hê hy moet soos sy pa, Stiena en Nico sy merk in die koöperatiewe wêreld maak. Hoe hy elke dag meer verlang om met sy hande te werk en kreatief te wees, maar eers moet hy vasbyt tot sy skuld klaar betaal is. Dan gaan hy sy droom uitleef en doen wat sy hand vind om te doen.

Sy vertel hom van haar kinderjare, haar pa was ‘n treindrywer en hulle baie rond geswerf het.
Hulle was in baie skole, van Kwa Zulu Natal, Wes - en Oos Kaap tot in die Vrystaat. Hy vra uit en sy vertel hom van hulle groot gesin en van al die kattekwaad wat haar broers aangevang het. Hulle lag saam oor die verlede.

Francien maak later tee, hulle gesels oor musiek en flieks uit hul ‘jongdae’. Die huis horlosie slaan twaalf uur. “Jy moet môre werk en Francien maak die tee koppies bymekaar.Hulle maak weer ‘n draai in die siekekamer, Stiena het die ou dame goed gedokter met pynpille en ‘n slaapmiddel, sy slaap. Hulle draai haar om en maak haar gemaklik. Dan gaan slaap hy in die kamer waar hy as seun geslaap het en sy in die gastekamer.

Francien rol rond, die slaap is weg, haar en Tjaart se gesprekke bly maal in haar kop, sy kan nie onthou wanneer laas sy so lekker met iemand gesels het nie. Sy en Nico gesels al minder, praat net oor die noodsaaklikhede.

Half twee hoor sy haar skoonma, sy trek haar pantoffels aan en haas haar na die siekekamer, haar skoonma is wakker en deurmekaar, sy voel die bed is nat. Tjaart se kamerdeur is toe,sy wil hom nie wakker maak nie, want sê nou hy het iets gedrink voor hy gaan slaap het, sy wil nie sien as hy beneweld is nie, nie na vanaand se lekker gesels nie. Sy sal haar skoonma nie alleen kan droog aantrek en die beddegoed ruil nie, sy gaan maak vir Sielie wakker.

‘n Nukkerige een as daar ooit een is, sy ruk en pluk die arme ou vrou dat Francien haar skoon jammer kry. en sy wil weet waarom haar ma nie in die nat bed kan lê tot die volgende oggend nie, aangesien sy tog niks weet nie.

Nadat Francien weer gaan lê het, oorval die moeg haar. Daar het ‘n sterk wind op gestaan, dit fluit en huil droewig om die huis, dan vlieg daar iets soos ‘n groot wit voël by die huis in. Tjaart sê dus die doodsengel. Francien vlieg uit die bed, vir ‘n oomblik weet sy nie waar sy is nie. Dalk is haar skoonma dood terwyl sy so vas geslaap het, sy hardloop sonder pantoffels en japon na die siekekamer.Haar skoonma slaap nog ten spyte van ‘n oneengalig asemhaling. Die res van die huis is nog stil en donker.

Sy trek aan en gaan kombuis toe, maak koffie, dan verskyn Tjaart in die deur. “Môre skoonsus” - groet hy sag. “Het jy darem geslaap,?” vra hy. “So, so” - sy maak ‘n beweging met haar hand. “Hier ook maar,” sê hy. Sy vertel hom dat hulle haar skoonma droog aangetrek het. “Hoekom het jy my nie kom wakker maak nie?” “Ag, die nag was kort, wou jou nie nog plae nie, ek het vir Sielie wakker gemaak.” “Het sy darem gehelp?” Sy vertel hom dat Sielie ongeduldig en nukkerig was. “Ek weet nie hoe Stiena en Nico ooit kon dink, Sielie kan na ma kyk nie, maar my mening tel mos nie,” sê hy half bitter.

“Ek gaan gou vir ma groet,” hy loop na die siekekamer toe. Francien besluit om vir hom kos in te pak vir die dag. Sy maak keurige toebroodjies met koue vleis en slaai.

“Ek sal ma nie weer sien nie”, sy blou oë lyk klamerig,. “Ja seker” knik sy met haar kop. Dan lag sy blou oë weer, “ek moet seker maar my ry kry,” en hy vat die toebroodjies; “ek weet dit gaan lekker wees - dankie.”

Hy soen haar liggies soos wat aangetroude familie mekaar groet: Maar dan trek hy haar styf teen hom vas en soen haar lank en teer. Sy voel hoe haar arms om sy nek sluit. In hierdie vroeë lente oggend in haar skoonma se kombuis, kantel die sterre, en sy is net bewus van sy nabyheid en die tinteling wat deur haar gaan. Vir ‘n oomblik is dit net hulle twee, maar dan sê ‘n stem in haar kop: wat is jy besig om te doen! Sy maak haar arms los om sy nek en stoot hom saggies terug. “Jy moet gaan anders is jy laat vir werk.” “Ja, ek moet ry,” en hy vat die houer met die toebroodjies. In die deur kyk hy nog eenkeer na haar en sê sag;” totsiens Francien.”

Francien staan versteen: is sy mal om haar swaer re vry! As Sielie nou hier in gekom het, sy wil nie eers daaraan dink, as Nico en Stiena dit moet te hore kom nie. Nico sal haar nooit vergewe nie. Dit is nie hoe sy is nie, sy het nog altyd ‘n weersin daarin gehad as lewensmaats mekaar verkul. Sy kan egter haar vinnige hartklop en opgewonde gevoel wat deur haar are vloei nie keer nie.

Sy wil hier weg kom, maar sy moet wag tot Emilie kom. Sy was die koffie bekers en tee koppies van die vorige aand, maak die asbakkies skoon en gaan sit solank haar goed in die Mazda. Sielie kom gaap - gaap die kombuis binne. “Ek weet nie of ek gedroom het nie, maar ek verbeel my ek het musiek gisteraand gehoor en sigaret rook geruik.”.”Ek het musiek gespeel, en almal wat gister hier was rook, behalwe ek en jy, so die huis sal na rook ruik.”Sy wonder hoekom swyg sy oor die feit dat Tjaart hier geslaap het,is dit wat ‘n skuldige gewete doen.

Nadat Emilie gekom het en hulle weer die ou vrou reg gemaak het, vertrek sy, sy wil net hier weg kom!

Die huis is doodstil, Nico is reeds weg, die twee seuns kuier vir die vakansie by haar broer in die Vrystaat en Rinelle het by ‘n maat gaan oorslaap. Wat gaan sy doen wat haar gedagtes van die laaste twaalf uur kan weg vat. Miskien kan sy en Rinelle stad toe gaan en ‘n moeder -en dogterdag daarvan maak. Haar foon lui, dit is Rinelle wat vra of sy saam met haar maat op ‘n uitstappie kan gaan.

Sy het nog skoolwerk wat sy moet merk, maar nie vandag nie. Sy klim in ‘n warm skuim bad en wens sy kan al haar gedagtes weg was. Sy sien sy hande, sy blou oë, hoor sy stem en voel die warmte van sy nabyheid. Sy hoor haar selfoon; op die skerm is hartjie met ‘n rosie - ‘n mens stuur dit vir die liefde in jou lewe. Tjaart - is hy mal! As Nico dit nou sien; nie dat Nico ooit kyk wat op haar foon is nie, netso sy nooit kyk wat op sy foon is nie, hulle het mekaar nog altyd vertrou. Francien wil dit afhaal van haar foon maar sy kan nie,sy streel met haar hand daaroor en besluit om dit te stoor.

Sy reël om ‘n vriendin vir koffie te ontmoet. Gewoonlik geniet sy Sandra se geklets maar vandag irriteer Sandra se geklets en geskinder haar. Sy is verlig toe die koffiedrink sessie verby is. Sy vaar die winkels in en koop vir haar ‘n baie uitrusting, iets wat sy nooit doen nie, sy koop altyd baie oordeelkundig.

Nadat sy haar kar gebêre het, die inkopies ingedra het, lui haar selfoon. Dus Tjaart: Tjaart Tjaart dink sy, haar hart bokspring soos ‘n jong verliefde tienermeisie. Maar dus nie Tjaart nie, die stem vra of sy mevrou Muller, die eggenote is . Sy sê nee sy is die skoonsuster, sy voel haar keel trek toe.Die stem deel haar mee dat Tjaart in ‘n ongeluk was, hy het blykbaar ‘n hartaanval gekry terwyl hy bestuur het, dus ernstig

Dit voel of sy wil flou word, haar hande bewe so dat sy skaars met haar vinger oor die foon se skerm kan vee. Nico antwoord dadelik: “ ek kan nie nou praat nie, hoekom bel jy,” hy klink half ongeduldig. Dus Tjaart …. hy was in ‘n ongeluk, dus ernstig,” stamel sy. Hy bly stil, dan vra hy verslae;” was hy gedrink?’ “Nee! hy het ‘n hartaanval gekry terwyl hy bestuur het. .

Die volgende paar dae was alles deurmekaar, sy kan nie alles in volgorde onthou nie. Reëlings, mense wat bel, en oor en oor moet verduidelik word wat het gebeur. Al waarvan sy intens bewus is, is daardie groot hartseer,en die groot leegte in haar binneste.

Hier waar Nico langs Tjaart se kis staan, lyk hulle so baie na mekaar, sy’t nooit besef hulle trek so baie op mekaar nie, al is Nico korter en heelwat skraler. Hulle lyk so baie na mekaar en tog is daar ‘n hemels breedte verskil tussen hulle.

Oor twee dae gaan hulle weer hier staan, haar skoonma is vanoggend saggies weg. Stiena het toe tog in haar besige skedule tyd gevind om die laaste twee dae by haar ma te waak.

Francien het niemand vertel dat Tjaart die nag by haar skoonma se huis deur gebring het nie. Sy kon nie want daardie aand se kuier en die oggend se gesteelde geluk is heilig, dit behoort net aan haar en Tjaart, en Tjaart het hulle geheim saam met hom graf toe gevat.

Sy kyk oor die begrafnisgangers en besef Tjaart het baie vriende gehad, opregte vriende, hulle het die Tjaart geken wat sy vir ‘n paar uur geken het. Sy familie het ‘n ander Tjaart geken.

Dan voel sy hoe Nico haar sag aan die arm vat en weg lei van die graf. “My vrou ek is so jammer dat ek jou die aand by ma gelos het, ek sien hoe swaar is kry jy,kyk hoe hard het Tjaart se dood jou geslaan.” Trane loop opnuut uit haar oë; dit is ek wat moet jammer sê dat ek jou nie meer ondersteun het die afgelope dae nie,” sy druk saggies sy hand.

Hulle is nog lief vir mekaar, sy weet dit nou, sy het net haar hart vir ‘n kort rukkie uit geleen. Sy sal werk daaraan dat hul liefde weer word soos dit in die begin was, en hulle weer goed vir mekaar sal wees soos in die begin.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die Binnekring
Ek dink dit is een van jou bestes wat ek al gelees het.

4 jaar 4 maande 3 weke 1 dag 17 ure oud


die Binnekring
Dit was nou n pragtige storie...Ek het heerlik gelees dankie
4 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 7 ure oud


Binnekring
Sjoe, pragtige storie. Het dit baie geniet. Jy ken die kuns van skryf en klimaks.

Ek sal graag jou ander stories ook wil lees.
4 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 22 ure oud


binnekring
Hartseer einde maar tog gelukkig? Lekker gelees.
4 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 23 ure oud



Weerkaatsing van my hart

deur Elzabe Young Heyns

'n Mens se hart gaan deur seisoene, net soos 'n mens dit elke dag buite ervaar. Een dag is dit somer, die volgende dalk winter. 'n Storm en miskien dan weer 'n sonskyndag. Almal het van tyd tot tyd nodig om jou hart oop te breek, die gevoelns en emosies vry te laat en te ontleed; en dan ... gevul te word met die bevryding en aanvaarding van omstandighede en situasies in jou lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar