Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die storie van die Bothas en ons wors is ‘n storie van voor my tyd. Dit het egter ‘n groot impak op my jonge gemoed gemaak – deels omdat ek nie kon verstaan hoe mense so blatant kan wees nie, maar ook omdat dit eintlik ‘n storie is met ‘n lekker karma-geur.

Destyds op Bultfontein was my gesin bevriend met die Bothas. Oom en Tannie Botha het ‘n kroos onhebbelike orrelpypies gehad van so 5 of 6 onthou Pa. Amper soos ons, maar ek en Maria was nog in die berge, so ons orrelpypies was nog min.

Soos die gebruik was in die ou dae het mense sommer net opgedaag by mekaar en gekuier tot amper donker. As hulle verder as ‘n halwe tenk petrol gebly het, het hulle sommer oornag ook. Die kinders so op ‘n streep in die sitkamer - seuntjies en dogtertjies mooi geskei vir sindelikheid. Die kinders van die huis het ook sommer so saamgeslaap op die mat want die grootmense moes ons kamer kry vir die nag.

So het die Bothas gereeld kom kuier en soms oornag, alhoewel hulle net so 10 myl anderkant die dorp gebly het. Die gebruik was ook in daardie dae dat kuiermense darem ‘n ietsie saamgebring het as bydrae tot die geselligheid van die kuier want almal het destyds maar swaar getrek. Dinge soos ‘n bottel melk, ‘n karmenaatjie van vars geslagte vleis of vrugte, groente en natuurlik ietsie in ‘n bottel as die ooms laatmiddag op die stoep hulle sit gekry het voor die draadloos om na Spiekeries en die rugbywedstryd te luister.

Die Botha-gesin het nie hierdie ongeskrewe, ongeprate reël baie goed geken of eerbiedig nie en arme Pa het maar die kuiery befonds soos goed hy kon. Die vriendskap het vir my ouers op so ‘n klein dorpie meer beteken as ‘n stukkie vleis of ‘n sakkie tamaties. Die Bothas was maar potskerwe wat nêrens vreeslik welkom was behalwe by ons nie. Ma en Pa het mos maar altyd die potskerwe van die samelewing onder hulle vlerk geneem en vir ‘n wyle saamgedra. Maar die ding met sulke potskerwe is dat hulle nerens behoorlik pas nie en altyd uitstaan en afval voordat hulle verder aanbeweeg deur die lewe.

Pa noem wel tot sy verleentheid, dat ons gesin by ‘n geleentheid of twee tjoepstil in die kamer gesit het met die gordyne dig getrek as die Bothas se karretjie by die hek stop. Die kinders moes hul hande oor hul monde druk om nie te giggel nie en na ‘n lang gekloppery aan die voordeur het hulle die karretjie hoor wegtrek. Eers dan is asems uitgeblaas en het almal ‘n verligte laggie laat hoor. Ma het blykbaar vir dae hierna geloop en wroeg oor haar gesin se verraad maar haarself uiteindelik getroos dat sy ten minste die inhoud van ons koskaste en yskas kon rek vir nog ‘n dag of drie.

So word Ma mos een Saterdagoggend wakker met ‘n koors wat haar in koue sweet laat uitslaan. Gelukkig was Pa die naweek af en kon hy instaan in die kombuis en die klomp kinders voed met ‘n stewig pot mieliepap, melk en suiker. Dit was so twee dae voor Pa sy loonkoevertjie sou kry en die yskas was ‘n groot oop wit gat met ‘n enkele bottel melk, pakkie plaasbotter en in die middelste rakkie – ‘n pak van die plaaslike slagter se beste boerewors wat Ma die vorige middag gekoop het met haar laaste sjielingtjie. Netjies afgeknyp in stukkies vir elkeen van die kinders en bietjie groter een vir Ma en ‘n dubbele een vir Pa. Daar is beplan om sommer te braai en pap en sous te maak buite op die vuur sodat Ma rustig kan herstel met die flennielappie op haar warm voorkop.

Pa en die seuns stap vroegmiddag die veld in om te gaan hout optel langs die riviertjie toe die Bothas opdaag en net vir Ma en Ousus tuis aantref. Omdat Ma onkapabel was en Ousus heen en weer moes draf tussen die gaste en Ma se kamer, het Tannie Botha gaan tee maak. Oom Botha en die orrelpypies het maar om die huis gestap en hier gesnuffel en daar gekarring terwyl hy vir Pa wag. Later het hy die Tannie in die kombuis gaan geselskap hou.

Ma onthou die Tannie het ‘n koppie tee langs haar neergesit en gesê “neewat ons sien jy wil eerder rus en ai die kinders is tog so ongeduldig vandag, dit moet die skielike hitte van die vroeë lente wees en jammer ou Grieta, ons is maar bang jy steek ons ook aan met een of ander kiem.” Sommer so alles in een asemteug. So is die Bothas in ‘n stofstreep daar weg na hul huisie buite die dorp op Oom Andries Smit se plaas waar Oom Botha opsigter is oor die melkery. Dit was ook sy werk om te sorg dat die plaasomheining styf en heel bly sodat die bobbejane nie by die klein kuikentjies of by die huise kon uitkom nie. Daar was baie las met bobbejane en Oom Botha het ‘n baie belangrike werk gehad.

Ewenwel, toe Pa en die seuns later tuiskom, slaap Ma rustig en Ousus het langsaan gaan rekspring by die bure se dogter. Met die hout netjies gepak langs die stapeltjie koerante en blik parafien vir 'n verwoede vuur, stap Pa yskas toe om die wors te bekyk en solank beplanning te doen.

Die gapende wit yskas met net die melk en botter was ‘n stomme getuie van ‘n ongelooflike misdaad. Hoog en laag is gesoek na die boerewors - beskuldigings, bespiegelings, verwyte en dies meer is rondgeslinger daardie dag maar die enigste verklaring op die einde was dat die Bothas hulself gehelp het aan ons middagete!. Pa was briesend en het in tale gepraat, die kinders het gehuil van honger en skok en Ma het in ‘n koorsbeswyming verval. Dit was die dae toe omtrent net die dokter en die dominee telefoonverbinding gehad het en ons het ook nie ‘n motor gehad sodat Pa die misdaad aan die kaak kon gaan stel nie. Almal is maar later die veld in om torries te gaan skiet vir die pot. Ouboet het wraggies ook ‘n springhaas gevang en die skok is effe versag deur Pa se uitmuntende torrie-en- springhaas-kerriepot.

Om die kombuistafel met net beentjies oor in die borde, is die besluit geneem om die Bothas te konfronteer as hulle weer kom kuier.

‘n Kuier wat toe nooit plaasgevind het nie.

Ma het ‘n week na die diefstal by die diaken se vrou, wat alombekend was as Bultfontein se koerant, gehoor dat die Bothas glo ‘n vreeslike uitval met Oom Andries gehad het en sommer die Sondag vort is. Blykbaar iewers na familie in Natal. Bultfontein se koerant het met groot smaak vertel van die bobbejane wat by die Bothas se huis ingebreek het die vorige Saterdagoggend. Een van die Bothatjies het ‘n venster oopgelos en die trop het byna alles gebreek wat hulle hul pote kon oplê. Van teekoppies en melkbottels tot die draadloos en portrette. En dit wat nie gebreek is nie, is opgevreet of aan flarde geskeur – tot die kinders se skoolboeke en die tannie se familieresepte.

Toe die Bothas by Oom Andries gaan kla en vergoeding eis, het hy net sy skouers opgetrek en Oom Botha die gat in die draad gewys.

Dieselfde gat wat Oom Botha al ‘n week gelede vir Oom Andries belowe het, die Saterdagmore sou reg wees.

Ek onthou nou ewe skielik dat Ma altyd die wors in ons yskas so effens weggesteek agter die groente....





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

vir koeitjies en kalfies

deur Doret Johnstone-Robertson

'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar