Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Donderend weergalm die klok se slae die een uur na die ander. Kom dan beierende tot stilstand op die twaalfde slag. Die stilte wat volg vibreer soos 'n lewendige entiteit.

Carmichael gaan staan doodstil en laat sy oë oor die omgewing om hom gly. Hy maak seker dat hy elke kleinste stukkie detail inneem. Hy vergewis hom terselfdertyd van bakens sodat hy koers kan hou indien hy hom met spoed uit die voete moet maak.

Hy wens hy kon seker wees van 'n manier om te bepaal sonder om dit so naby te waag, wie wel blootgestel was aan die verskriklike verskynsel. Hy stop homself in sy gedagtes, wel wat is dit waarmee hy te doen het? Hy het self nog nie eers duidelikheid daaroor nie. Hy weet net wat hy gesien het in die tragiese nasleep van die afêre. Dit voel onaards as hy daaroor nadink. Hy weet van niks onder die aardse son wat sulke simptome nalaat nie.

Die liggame wat bly opstapel. Kinders wat huilend ronddwaal terwyl hulle winkels deur grou vir enige vorm van kos wat gemis was in die plundertog na die chaos begin het en diere wat uitgeteer en rasend honger aan die lyke loop en vreet. Die grusame beelde dwing in sy geestesoog in en hy sug swaar en diep as hy sy oë sluit.

Hy loer oor sy skouer na die son wat besig is om al laer te sink en voel 'n beklemmende gevoel om sy keel. Die tyd raak min en hy het nog heelwat voorbereidings om te tref. Sekere dinge mag nie vergete bly nie. Dit sal noodlottig wees.

Hy hoor byna te laat die sleep geluid in die bosse skuins agter hom en swaai net betyds die sweep. Dit krul met 'n slangagtige beweging om die figuur se uitgestrekte arm en hy pluk met 'n ferm beweging die sweep terug. Dan staar hy na die figuur wat steeds nader kom trek sy arm terug gereed om weer die sweep te swaai. Die afgerukte hand lê stil eenkant terwyl daar bloed uitloop by die afgerukte vleis. Dik slymagtige swart bloed.

Carmichael staan stip en staar na die hand op die grond. Dan amper onsigbaar begin die bloed opdroog, verkrummel en dan verpoeier. Asof geroep roer die briesie die stof en dit warrel op in die vroeg skemer lug. Die figuur het intussen tot op sy knieë gesak en stadig sywaarts begin kantel. Die oë staar dof en leweloos na Carmichael en hy voel hoe 'n rilling teen sy ruggraat afdans. Hy grinnik terwyl hy dink dat dit letterlik 'n dode riel is. Hy draai weg van die lyk en stap met ferm, vinnige treë terug na sy kamer om sy voorbereidings af te handel.

Sy gedagtes hardloop na drie maande tevore. Dit voel soos 'n droom. Alles was so normaal. Dan skielik die skuddings, grondverskuiwings gevolg deur die kokende hel waar die lawa deur die aardplate begin druk het. Die rook en as wat swaar in die lug gehang het.

Carmichael se gedagtes ruk met skok terug na die hede. Die rook en as? Kan dit wees? So eenvoudig? Hy druk sy klere in sy skouersak. Gryp sy sweep en hardloop na sy voertuig. Vannag se werk sal moet oorstaan tot 'n volgende keer. Hy koers na die naaste depo en vra dat die joggie sy voertuig vol diesel tap nadat hy sy kode kaart gewys het. Dan koers hy terug in die rigting vanwaar hy twee dae tevore die dorp binne gery het. 'n Uur en 'n half later ry hy in sy tuisdorp in. Die rook hang laag bo die grond en hy ry met moeite tot by sy huis. Hy trek in die oprit in en kyk eers deeglik reg om hom voor hy die voertuig se deur saggies oopmaak. Dis donker en hy tree vinnig en selfverseker tot by die voordeur maak dit met spoed oop en sluit dit agter hom.

Hy sal more oggend met eerste lig sy tog aanpak na die plek waar die aardplate geskuif het. Hy bid dat hy antwoorde daar sal vind. Hy was een van 'n paar inwoners in die dorp wat nie aangetas was nie. Hy sit stil in sy kamer die gebeure en bepeins. Hy oordink sy bewegings vanaf die week voor die verskynsel en gevolglike gebeure.

Hy raak bewus van die son se strale wat sagkens oor sy ooglede dans. Vrek hy het wragtig verslaap. Hy spring op. Spoel sy mond met tandepasta en sy vinger as tandeborsel uit. Carmichael gryp sy skouersak. Stap in die studeerkamer in en krap rond tussen die papiere op die lessenaar. Hy slaak 'n sug van verligting toe hy die stuk papier met die aanwysings daarop vind.

Hy maak die voordeur oop en stap in die helder sonlig in. Versigtig nader hy sy voertuig en klim in. Hy vou die papier met aanwysings oop, kyk lank en aandagtig daarna. Dan vou hy dit toe, skakel die voertuig aan en ry dan stadig in die straat op. Hy was uitstedig toe die aardskuddings begin het. Sy gedagtes sirkel al van verlede nag af in die rondte met die gedagte. Hy moet by die paar ander wat niks oorgekom het nie, uitvind of hulle wel in die dorp was.

Hy ry twee kilometer. Stop dan sy voertuig. Hy maak sy skouersak oop en haal 'n masker daaruit. Dan klim hy uit en slaan die seil van die bakkie oop en lig 'n graaf en plastiese buis met rubber proppe uit, plaas die buis in sy skouersak en sit die masker op sy gesig. Hy maak seker dat dit oral geseël is en koers dan tussen die bome in op sy missie en soektog na antwoorde.

Hy stap vir 'n halfuur en kom dan tot stilstand. Die lawa het die hele toneel verander. Hy draai in die rondte en soek na bakens. Dan draai hy terug en stap stadig vorentoe, hy buk af en plaas sy hand op die grond. Dit is steeds lou. Hy druk harder. Dit gee nie mee nie. Dan beweeg hy stadig en versigtig verder vorentoe. Tree vir tree. Trap, trap al voelende om seker te maak die terrein in stabiel genoeg om aan te beweeg.

Skielik verbleek hy. Voor hom is 'n kraak sowat 'n meter wyd en net bokant die grond draai swart poeier wolke. SY VERMOEDE IS SOPAS BEVESTIG. Hy tree versigtig nader en vang van die poeier in die buis op wat in sy skouersak was. Hy het nie eers die graaf nodig gehad nie.

Carmichael draai om en stap terug op sy presiese roete waarlangs by gekom het. Hy druk merkers in al langs die pad sodat hy vinniger heen en weer kan beweeg wanneer hy terugkom met die toerusting en benodighede wat hy moet gaan haal. Hy oordink die plan wat in sy kop speel. Kan dit werk?

Carmichael stop by sy huis. Gryp sy skouersak en koers versigtig om die huis se hoek na die buitekamer. Die ketting en slot is steeds gesluit soos hy dit gelaat het. Hy klim op die kis voor die venster en kyk na binne. Sy hart maak 'n seer draai. Sy kyk reg in sy gesig op toe hy inloer. Annemieke, my Annemieke.

Die grens van haar wêreld gestel deur die buitekamer se mure. Hy klim van die kis af, stap tot agter die buitekamer en sluit die kas oop. Hy haal 'n sak uit en pak dit vol met TNT, 'n rol lont en ontstekers. Hy pak ook 'n handvol dinamiet kerse en handgranate in. Sy sak vol gepak koers hy na die voordeur en hou heeltyd uitkyk so ver hy beweeg. Hy druk die deur agter hom toe en sluit dit. Hy stap in die kombuis in en skuif die tafel eenkant toe. Hy lig die vloer teel op en druk sy hand in, trek die handvatsel en die kas langs die stoof skuif na links. Hy kom orent en stap dankbaar in die verskuilde spens in. Annemieke se briljante spens.

Noukeurig kies hy proviand wat hy in sy skouersak pak. Hy neem van die blikkiesvleis en maak een oop. Hy draai om en maak die laai oop. Neem 'n vurk en eet die blikkie leeg. Dit voel te onwerklik, om waar te wees. Te normaal om so kalm te staan en eet.

Hy merk die beweging buite en sak op sy hurke. Hy maak nie 'n geluid nie. Stadig sit hy die blik met vurk en al op die vloer, trek dan stadig die handvatsel en die kas gly geluidloos in plek. Hy loer versigtig na buite. Die figuur is buite sig. Hy trek versigtig sy skouersak van die tafel af en maak seker dat hy dit saggies op die grond langs die sak neersit wat hy agter die buitekamer gaan volmaak het. Dis reeds laat namiddag. Hy besluit om teen die oorhaastige impuls te werk en nog 'n nag in sy huis te spandeer voor hy die plan tot uitvoer gaan bring. Die vroegoggend sonlig gee mens gewoonlik genoeg perspektief om oopkop besluite te neem.

Hy sluit sy oë en sug terwyl hy dink dat hy uitgeput en seer voel. Dit is eers toe die sak teen sy arm omval dat hy wakker skrik en opkyk in die wese se oopgesperde bek. Die lewelose oë sien hom nie raak nie. Die hand kom vorentoe en probeer sy mond oop forseer. Hy wil instinktief gil maar besef dat dit sy einde kan beteken. Dis hoe die onding oordra. Die besmette gedrogte druk hul hand in jou keel en die skeure wat bloei vermeng met wat ook al in hul is. Sy sweep lê bo op die kombuistafel buite sy bereik. Hy swaai op sy maag en seil onderdeur die tafel, spring op, gryp sy sweep en laat waai met drie opeenvolgende houe. Hy kyk na die wriemelende arm en sien hoe die gedrog inmekaarsak. Dan gryp hy sy hemp en druk dit oor sy neus. Sy moegheid en ooreising is besig om 'n tol te neem. Hy het vergeet om die kombuisdeur te sluit!

Sy hygende asemhaling roep hom terug na die kombuis en hy kyk met walging na die hopie stof wat op die grond lê. Hy loop om die tafel maak sy skouersak oop, sit die masker op en sleep die lyk na buite tussen die bome, waar dit uit sig is. Hy stap lugtig terug en maak seker dat hy die deur agter hom sluit. Hy maak die kombuiskas oop. Haal die rubberhandskoene uit. Dan neem hy 'n lap. Maak dit goed nat en trek die handskoene aan. Hy loop om die tafel, buk af en vee die stof bymekaar. Versigtig plaas hy die lap in 'n plastiese sak en gooi dit in die asblik dan trek hy die handskoene met sorg uit en gooi dit agterna. Die blik se klap gaan toe. Hy tel beide sakke op en stap slaapkamer toe. Stroop sy klere af, klim in die stort en spoel al die dag se vermoeienis in die drein af. Hy slaan die handdoek om sy lyf en val op die bed neer.

Omstreeks negeuur die volgende oggend staan Carmichael langs die kraak en staar na die stof wat in die lig hang. Hy neem 'n fles met water en gooi dit bo oor die stof. Dit val deur die stof en land spattend op die grond. Daarna neem hy 'n proefbuis vol bloed en maak dit oop. Asof in 'n droom begin die stofwolke draai en kolk en nader trek na die oop proefbuis. Dit sweef in by die oop bek van die buis en hy staar gefassineerd terwyl dit in die bloed intrek en dit tot swart verkleur. Hy het nou drie antwoorde in een gekry. Wat? Dis die stof of poeier. Waar? Dit moes oopgebreek het uit die aardplate wat geskuif het. Hoekom? Dit bind met die bloed sodra jy dit inasem en vorm 'n nuwe spesie. Sy hoe is nog onbeantwoord. Hoe kan dit genees of teruggekeer word?

Hy sal aanhou soek. Sy Annemieke! Hy moet. Hy sal. Daar sal geen rus wees voor hy die antwoord vind nie.

Hy draai na sy sak stel al die TNT met lint en aanstekers op. Dan laat sak hy dit in die kraak af. Hy steek die lont aan, draai om en begin so vinnig hy kan weghardloop voor die oordonderende ontploffing hom van agter tref en vorentoe slinger. Hy kom orent en kyk terug. Die kraak is toe. Die drywende stof is weg.

Carmichael klim in sy voertuig. Sit die twee sakke langs hom neer en ry dan deur die dorp op pad terug na die dorp vanwaar hy vroeër gekom het. Sy missie sal aanhou tot hy elke een uitgewis het. Wanneer hy klaar is sal hy terugkeer. Hy sal sy Annemieke bevry uit die buitekamer se grense.

Carmichael voel lighoofdig. Hy kyk na sy hande. Dan merk hy hoe die are begin swart verkleur...Hy het nooit aan die masker gedink nie. Dit het in die voertuig agter gebly toe hy die kraak gaan blaas het. Die voertuig swenk van die pad af. Die figuur agter die stuurwiel se oë raak dof net toe die voertuig die boom tref...



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Buitekamer
Sjoe grillerig maar goed weergegee.
4 jaar 6 maande 1 week 5 dae 2 ure oud



Vergete Pioniers

deur neels claasen

n spoorwegroman uit die sestigerjare



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar