Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die erf is vaal. Die wintergras agter die lae, bruin baksteenmuurtjie lê bleek in die Junie-middagson. Links van die swart inknip-voorhekkie is die tweespoor-oprit na die garage. Tussen die sementspore kruip wit vuurklippies, wat eers skerp geblink het, weg onder stof en koper herfsblare deur die wind agtergelos.

Onversorgde struike kleur die binnerand van die baksteenmuurtjie in en na die agterkant van die erf staan twee populierbome hartseer vir die huis en kyk. ‘n Erewag van roosbome lei van die voorhekkie tot by die stoep. Maar die wagte staan sonder dissipline, asof hulle geen agting vir die besoeker het nie. Die fonteintjie van die waterstruktuur in die middel van die grasperk spuit nie, die water lê bruin en vlak in die bak met sy fyn geëtste engeltjiefiguurtjies.

Dit is duidelik dat hier ‘n mooi tuin was.

André klim uit sy 1995 Toyota Tazz en stap na die hekkie toe. Dis twintig oor twee en ten spyte van ‘n ligte noord-oostewind ‘n baie aangename dag. Die naam op die koevert is P.H. Oosterhuis. Hy behoort tuis te wees aangesien hy vir drie maande, sonder kennisgewing, eenvoudig nie by die werk opgedaag het nie.

Dit is sy eerste jaar as prokureursklerk. Hy het besluit om sy klerkskap hier in Zastron te doen, waar hy skoolgegaan het sedert sy ouers, toe hy nege jaar oud was, hiernatoe verhuis het om ‘n slaghuis te bedryf. Sy studies het hy in Bloemfontein voltooi en hy is nou in die sesde maand van sy klerkskap. Dinge is maar rustig hier in die dorp, ou seun, het meneer Schutte aan hom gesê op sy eerste dag. “Maar jy sal baie leer.”

Die knip op die voorhekkie is stram. Die hekkie sing as André dit oopstoot. Hy stap op die paadjie tussen die verwaarloosde roosbome deur, by die trappies van die stoep op. Die huis is van ligte siersteen gebou, die kosyne en vensterrame wit geverf. Die woning is in ‘n goeie toestand; die voëlmis teen die voorste venster, die stof op die stoep en die spinnerakke in die vensterraam spreek egter van afskeping. Is meneer Oosterhuis ooit hier? Of het hy iewers in die niet verdwyn? Daar word tog in die dorp gepraat van mense wat hom telkens gewaar. Miskien een keer in twee weke, as hy net voor toemaaktyd by die kafee instap, of iewers wanneer dit stil is by die apteek of drankwinkel aandoen. Tannie Frienie het selfs genoem dat hy ‘n groot rol gordynlap by Die Mannekyn gekoop het.

Meneer Oosterhuis, of Paultjie, soos daar deesdae na die veertigjarige verwys word, was weliswaar nooit ‘n sosiale vlinder nie. Maar hy was ‘n aangename man wat as krediteure-bestuurder vir jare by die koöperasie gewerk het. Hy het geen familie op die dorp nie, en sy kuiergaste was oppervlakkige vriende. Amper eerder kennisse as intieme sielsgenote. Hy was getroud, maar het geskei ‘n jaar voordat hy Zastron toe verhuis het. Dit moet so agt jaar wees nou. Geen kinders nie.

Die laaste dag wat Paultjie by sy kantoor opgedaag het vir werk, laat in Februarie, word gesê dat hy senuagtig voorgekom het. Hy kon nie vir ‘n oomblik stilsit nie, in en uit sy kantoor. Hy het baie koffie gemaak, en is teen drie-uur die middag huis toe. En dit was die laaste wat sy kollegas hom gesien het. Nadat hy vir vyf dae nie by die werk opgedaag het nie, en na herhaalde pogings deur die koöperasie se bestuur en sy kollegas om hom te kontak, is hy aanvanklik geskors sonder betaling. Kloppe teen die deure en ruite, foonoproepe en selfs klippe op sy dak is deur ‘n absolute gebrek aan reaksie begroet. ‘n Maand later is die skorsing bekragtig en deur sy afdanking opgevolg.

Die polisie is ook na drie dae van afwesigheid ingeroep. Die man kon beseer of selfs dood gewees het. Vir hulle het hy wel oopgemaak. “Kan ek help menere?” het Paultjie van agter ‘n half-oop deur gevra.

“Paul, ek verstaan jy was vir drie dae nie by die koöperasie nie. Hulle het gevra dat ons hier aandoen. Ons het net kom vasstel of hier nie fout is nie.”

“Ek is reg, dankie vir julle belangstelling. “ En om die gesprek tot ‘n einde te dwing: “Het ek die wet oortree?”

“Nee Paul. Ons wil net …”

“Dankie. Totsiens en lekker dag”, en daarmee is die deur weer toegemaak. Die konstabels het mekaar met gefronsde wenkbroue aangekyk. Wenkbroue wat gesê het: Dit is darem nie die Paul wat ons ken nie.

Sedertdien het Paultjie homself afgesonder gehou, enige vrae op sy uitstappies ontwyk en nie veel meer woorde as “middag” en “totsiens” gebruik nie. Dit wil voorkom asof hy nooit weer sy telefoon geantwoord het nie. As ‘n guns aan Kobus Beyers, die hoof –bestuurder van die koöperasie, het een van die konstabels wat by sy huis was, by Telkom navraag gedoen oor Oosterhuis se telefoonlyn. Dit het geblyk dat hy geen meer oproepe gemaak het sedert sy “verdwyning” nie, maar wel internet-data gebruik het. Sy rekening is steeds elke maand elektronies betaal.

‘n Ongemaklike gevoel wurm hom deur André as hy aan die deur klop. Daar is nie ‘n klokkie nie, ook nie ‘n hek voor die deur nie. Stilte.

André klop weer, geen reaksie nie. Hy klop aan die sitkamervenster. Dan stap hy regs om die huis en klop aan elke venster. Dit is belangrik dat hierdie dagvaardiging in Oosterhuis se hand afgelewer word. Hy weet nie eers waaroor dit gaan nie. Meneer Schutte het dit net vinnig na middagete in sy hand gestop en gevra dat hy dit aflewer. En hy wil graag wys dat hy dit kan doen, dat daar niks in sy pad staan om ‘n taak afgehandel te kry nie. Hy stap weer na die voordeur toe en draai die deurknop.

Dit wikkel effens na beide kante toe. Hy stamp die deur. Niks gebeur nie. Daar moet tog ‘n agterdeur ook wees, reken André. Van die huis tot teen die agtermuur van die erf loop ‘n muur van ongeveer twee meter hoog, langs die populierbome. Daar is ‘n hekkie, stewig gesluit deur ‘n ketting en slot. Die agtermuur is ook hoër sodat ‘n binnehof geskep is. Daar is net een manier, bo-oor.

André land in die binnehof, sy netjiese klere lyk nou meer soos ‘n skoolseun s’n na pouse.Daar is die agterdeur. Dit moet net, dink André as hy naderstap. Hy wikkel aan die deur… dit gaan oop!

Die deur loop direk by die kombuis in. Dis donker binne. ‘n Muwwerige reuk, ‘n muwwerige gevoel, omhels hom. Hy staan ‘n oomblik stil sodat sy oë die lig gewoond kan raak. In die skemerlig lyk die kombuis deurmekaar. Hy stap na die deurgang tussen die kombuis en die gang en soek die ligskakelaar. Hy druk die knoppie onderwyl hy omdraai om terug na die kombuis te kyk. Die vertrek verhelder en André staan effens geskok as hy die gemors sien. Die kleinerige, ronde houttafel in die middel van die vertrek is gepak met brood, muwwerig; ‘n krummelrige broodbord; ‘n groen margarienbakkie; groenteskille; leë en vol blikkies boeliebeef; leë pilhouers, drankbottels en dies meer.

Vuil skottelgoed staan op die wasbak, die kombuiskassies, en die mikrogolfoond. Die blokkiesteëlvloer is vuil en taai. Onder die ketel lê ‘n pak papiere wat die aspirant-prokureur se aandag trek en hy besluit om daarna te loer. Beleggingsdokumente, blyk dit deur sy oë oor die voorste bladsy te gooi. Die syfer by aanvangsbelegging lees R250,000. Die uitkeerbedrag laer af is minder as sewe duisend rand. Meteens onthou André dat hy nie eintlik veronderstel is om ongenooid binne iemand anders se huis te wees nie. Hy draai snel om in die rigting van die gang en die res van die huis.

Hy skrik. Dis ongewoon. ‘n Knop vorm in sy keel en die onrustigheid van vroeër ruk hom aan die skouers. Figure groei uit die gangmure, uit die dak uit en van die vloer af. Dit is in die vorm van menskoppe, maar ook ander vorms. Miskien drake of monsters. Hy vries vir ‘n oomblik. Dan sit hy, bewerig, die skakelaar op die muur regoor hom aan. Soos ‘n see van kleurige gedaantes oorweldig die figure hom. Dit kyk in alle rigtings, strak gesigte van die dood. Oorgetrek met blou, skarlakenrooi, en groen lap met patrone, maar die oë is hol en die monde oop en uitdrukkingloos. En die monsters tussen in. En ‘n vreemde reuk wat hom vanuit die figure tref.

Katvoet en geboë tree hy vorentoe, te bang om aan die grillige gedaantes te raak. Ou Paultjie het die kluts kwyt geraak. Hy weet nie wat om verder te verwag nie. Of moet hy omdraai? Sy vingers is nat gesweet op die nou gekreukelde brief in sy hand. Hy beweeg vorentoe maar sy toon tref ‘n halfvol-bottel brandewyn. Dit val om en mors op die swartgeverfde gangmat.

Die eerste deur is na regs, toe. Die reuk is nou sterk in André se neus. ‘n Vrot reuk, en alkohol en moontlik gom. Die swart nalating van rookgolwe sit teen die deur. Dalk is dit nou die regte tyd om om te draai. En dan wat te sê? Wat het hy dan hier wys geword vanmiddag?

Hoe lyk die sitkamer? Hy ys.

Dan stoot André die deur stadig oop. En hy laat val die brief.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die dagvaarding
Baie goed. Lekker spannend!!
5 jaar 3 maande 5 dae 13 ure oud



Weerloos

deur Maangodin

Eroties Afrikaans - sodat ons in ons eie taal geprikkel kan word.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar