Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hier lê hy.

Sy lang maer liggaampie lyk uitgeteer.

Sy sit haar arms om hom, hou hom styf teen haar hart vas en sy ween.

Ja, sy ween.

Hy is al wat sy het. Haar hele lewe.

Sy was maar net dertien toe haar moeder oorlede is.

Haar pa was ‘n goeie man. Hy het vir haar alles gegee wat haar hartjie begeer het. Hy is slegs ‘n jaar na haar ma dood.

Die eerste man, na haar pa, wat vir haar liefde gegee het, of sy het gedink dit was liefde, het haar net so gelos nadat sy swanger geraak het. Sy was eensaam en verlore. Sy kon nie meer skoolgaan nie en moes gaan werk om vir hulle te sorg. Vir haar en hierdie hele lewe van haar wat nou hier lê.

Doodsbleek en in ‘n koma lê hy. Sy ween bitterlik. Haar hele lyf ruk. Sy verwyt haarself. Waar was sy toe hy haar nodig gehad het? Waar? Al wat vir haar saak gemaak het was materieële dinge. Sy wou nie hê hy moes afsteek by sy maats nie. Hy moes hê wat hulle het. Sy het net meer ure gewerk om meer geld te verdien om vir hom te kon gee wat hy vra. As sy tog net nog een kans kon kry...

‘n “Overdose” het die dokter gesê.

“Dit is maar net nog ‘n manier van selfmoord” het die polisieman gesê.

Selfmoord ja. Hoeveel jong kinders besef dat dwelms maar net ‘n ander manier van selfmoord is. As jy nie doodgaan daarvan nie sal jou hele lewe dood wees, nutteloos, doelloos.

“Dit sal nie met my gebeur nie.” sê hulle almal. Wat laat hulle dink hulle is beter as enige ander dwelmverslaafde?

Sy het hom gewaarsku. Vir hom vertel dat dwelms gevaarlike goed is. Vir hom gesê dit neem alle aspirasies in die lewe weg. Hy sal nie meer kan konsentreer op sy skoolwerk nie. Hy sal bitter ongelukkig raak, want dit is wat die dwelms aan ‘n mens doen. Vandag voel dit vir jou of jy vlerke het en more voel dit of jy in die hel is. Elke dag moet jy ‘n bietjie meer gebruik om jou “hoog” te laat voel. Elke dag beroof dit jou van ‘n stukkie van jou persoonlikheid, van jou menswees, van jou selfrespek.

Sy het vir hom vertel wat met haar gebeur het. Mense wat hulleself haar vriende genoem het, wat eintlik haar grootste vyande was. In die begin het hulle haar drinkgoed “gedokter”. Hulle het vir haar elke dag ‘n bietjie gegee totdat sy vasgevang was in die web van verslawing.

Sy is afgedank by haar werk want haar baas het haar gevang steel. Gesteel om dwelms te koop! Hy het vir haar gesê as sy nie wil tronk toe gaan nie moet sy saam met hom bed toe gaan. Dit was ook nie meer vir haar snaaks nie want sy moes dit gereeld doen om haar kwota dwelms te kon bekostig.

Nadat sy haar werk verloor het, het sy begin om die goed te verkoop. Hulle het nie net van haar ‘n “junkie” gemaak nie, maar ‘n dwelmsmous ook. Ja, sy sou enigiets doen, lieg, steel, haar liggaam verkoop, soebat en smous. Enigiets. Sy het geen selfrespek meer oor gehad nie. Niemand anders het respek vir haar gehad nie.

Die dag toe sy uitvind sy is swanger het sy ‘n besluit geneem. Sy het voor ‘n keuse te staan gekom. Sy kon kies of sy die baba wil hê en ophou dwelms gebruik en of sy wil dwelmsgebruik en nie die baba hê nie. Sy het die baba gekies, maar dit was nie maklik om die dwelms te los nie.

Sy onthou daardie eerste paar dae. Sy was so siek soos ‘n hond. Haar hele liggaam het geruk en gehunker na die dwelms. Die krampe het haar hele lyf deurtrek en sy het met tye geskreeu van die pyn. Met tye was sy so naar dat sy die helfte van die nag op haar knieë voor die toilet deurgebring het. Die ander helfte van die nag het sy die aakligste drome gehad en somtyds wakker geword, sopnat gesweet, net om weer in ‘n nagmerrie te verval. Sy was brandmaer met donker kringe om haar oë wat diep in haar kop gesit het.

Dit was ‘n helse stryd om nee te sê vir die dwelms. Sy onthou dat sy soms so aan die ruk gegaan het van die koue en die krampe dat sy kaal in die hoek van ‘n warm stort gaan sit het. Daar het haar trane en die warm water vrylik gevloei totdat die rukkings bedaar het.

Haar vriende wou nie meer met haar meng nie. Sy het ook besef dat hulle haar net weer sal verlei en weggebly van hulle af. Sy was ook bang dat hulle weer op ‘n skelm manier die dwelms in haar drankie sal gooi.

Sy onthou die dae wat sy gaan werk soek het. Elke keer as iemand net sy kop vir haar geskud het was die versoeking om terug te keer dwelms toe, soveel groter. Sy was desperaat. Op ‘n dag, na die tiende restaurant, draai sy met trane in haar oë om toe sy net nog weer ‘n nee kry. ‘n Vrou wat daar gestaan het het haar jammer gekry en gesê sy kan haar tydelik help want een van haar klerke is siek. Dit het baie gehelp en sy het harder gewerk as ooit in haar lewe. Later het die vrou haar gehelp om matriek te skryf en verder te gaan studeer.

Die eerste vier maande was hel. Dit het makliker geword toe sy eers die eerste beweging van die baba begin voel het. Hy was elke dag vir haar ‘n troos. Elke beweging in haar het haar aangespoor om sober te bly. Elke dag het sy gebid dat hy ‘n gesonde baba sal wees. Dat haar dwelmmisbruik hom nie sal affekteer nie.

Nou lê hy hier in ‘n wit hospitaalbed en sy klou hom krampagtig vas en bid soos sy nog nooit gebid het nie.
“Here, moet hom asseblief nie vat nie. Ek sal hom elke dag bystaan en hom hierdeur help. Here U weet watse stryd het ek gehad. Ag Here ...”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die dwelmsmous
Die verhaal is baie goed geskryf. Juis omdat dit in vandag se lewe so van toepassing is.
11 jaar 10 maande 3 weke 4 dae 14 ure oud


Hartverskeurend! Baie goed geskryf, Piet Magriet!

11 jaar 10 maande 4 weke 15 ure oud


Baie goed geskryf, ek kon omtrent nie deur my trane sien om tot die einde te lees nie. Dis my grootste vrees vir my kinders ook. Dit laat mens magteloos voel, omdat dit so maklik is vir n kind om onskuldig in die goed betrokke te raak en dan is dit n stryd wat voorle.
Groete
G
11 jaar 10 maande 4 weke 1 dag 2 ure oud


dwelmsmous
n mens kan moord pleeg ,hoeveel kinders leef in die dwelm hel , hartroerend.groete.berg
11 jaar 11 maande 13 ure oud


ek lees en lees en huil saam teen die einde, en wonder saam met jou of die Here haar gebed sal verhoor. jy skryf dit so sielvol mooi.
11 jaar 11 maande 16 ure oud



Reistog van Genade

deur Hannelie

My genade reistog van diagnosering van bipolariteit en my reistog na die veiligheid van God se Arms



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar