Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

31 Desember 1998


My liefste Ludwig,

Ons Stander huis was heerlik vol met die Kersfees familie saamtrek, maar tog ook vrééslik leeg. Gelukkig is dit my beurt, wat vir minder eensaamheid gesorg het. Die samesyn was gesellig en ieder en elk van ons gaan nou op die grasperk vergader, om die Oujaar tradisie na te kom en die vuurwerkvertoning saam te kyk. Ek verlang waar ek hier vir jou sit en skryf, op jou gunsteling wiegstoel waar jy altyd gesit en pyp rook het. (Ai! Ek ruik daardie Cherry as ek net daaraan dink.)
Ek is opgewonde om nog ’n slag te sien hoe die jonges se ogies gaan ophelder wanneer die eerste vuurwerk die lug inskiet. Dit is jammer jy kan dit vir die eerste keer nie van naby sien nie, my skattebol. Al wie ook kort is Ernest. Dit was ’n tawwe jaar met ousus Salomie se egskeiding en as dit nie vir Christiaan se nierskenking was nie, moes ek ons Wanda’tjie, laatlam-engelkind, langs jou bêre. Daardie blêrrie K! Kan jy glo dat een jaar al verby is?
Hierdie jaar was tameletjie taai sonder jou en ek kan wraggies nie meer wag om daarvoor koebaai te heet nie. Tenminste is ek geseënd om al drie ons kinders (en hulle vyf kleines) hier te hê. Jy sal nes altyd baie trots op hulle wees wat sulke pragtige voorbeelde vir hulle eie is wat so mooi opgroei.
Jou Loekie-naamgenoot het weer probeer skoot sit, maar hy is nou te groot én swaar. Hy is heelwat frisser en Salomie vertel hoe hy deelneem aan spier-wys kompetisies. Ek het ’n paar kiekies gesien en kon jou oog-appel amper nie eers herken met daardie bruine lyf en skrapse broekie nie. Ai, die kind!
Hy probeer emosioneel sterk wees vir sy ma en suster met die egskeiding. Lindie aanvaar dit baie swaar. Sy spandeer meeste van haar tyd binnehuis aan lees. Ek hoop hartlik dat sy goedgekeur word vir ’n beurs, want ek is onseker of daar nog universiteitsgelde kan wees.
Die ander kleine drietjies is in die omtrek. Chrissie se tweeling speel iewers tog te heerlik met eenderse poppe wat hulle by Kersvader gekry het. Wanda se Erik was natuurlik die sport gewees om so aan te trek. Al is vinkel en koljander so ma-vas het hulle darem Nicolene se rokspant kon los om die geskenke te ontvang. Dit is ook hoogtyd aangesien Carla en Chanté die nuwe jaar moet groot skool toe!
Klein Erik is al aan die slaap, nie dat hy van vuurwerke sal verstaan nie. Hy is omtrent lui (liewer stroopsoet), maar ek was verbaas om te sien dat hy loop! Hy was al ’n jaar gewees! Al dra hy nie die Stander familie name nie, aard hy darem vreeslik baie na sy oupa. Hy lyk ook by die dag al meer na jou! Ons het reeds vanmiddag die albums nostalgies deurgeblaai vir bewyse. Daar is baie van hulle nes al die goeie herinneringe daarin!
Die familie tyd is amper om. Behalwe dat Salomie nou by my bly en na my omsien, moet Christiaan en Wanda terugkeer na hulle tuistes. Ek wens elke dag dat hulle nader kon woon. Ek wens ook dat jy naby kon wees, want al is die familie tyd amper om, is dit wanneer ek (behalwe wanneer ek alleen is) die meeste na jou verlang.
Jou plek is leeg. Al is jy in al ons harte, mis ons jou elke dag. Wanneer jy met ons die Onse Vader moet opsê by jou plek aan die kop van die tafel. Wanneer niemand die kitaar kan speel vir ons om Kersliedere saam te sing nie. Wanneer die waatlemoen gesny moet word, omdat dit altyd jou werk was. Dit is hierdie klein dingetjies wat nog altyd saak maak en spesiaal is, maar ons weet al kan jy nie in die vlees by ons wees nie, is jy wel hier in die gees.
Ek kan dit sien in Salomie se optrede, in Chrissie se gelaatstrekke en Wanda se gesindheid. Generies het hulle so baie by jou geërf dat ons onbaatsugtig altyd aan mekaar vas gegom sal bly. Moelike tye sal kom en gaan, maar ons LIEFDE sal deur dit alles bly staan. Vir altyd.

Dit is amper tyd om die laaste sekondes af te tel. (Ek weet nie waarom die kinders geniet om dit te doen nie). As die Here my vir 'n tweede jaar spaar, sal ek weer op hierdie dag vir jou skryf.

Lief vir jou my lief én altyd se enigste.

Jóú Enigste
Elsa




© Kopiereg Voorbehou – L Badenhorst



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die eerste brief
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die LIEFDE projek.
3 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 23 ure oud


brief
mooi baie mooi !
3 jaar 7 maande 3 weke 1 dag 23 ure oud


Die eerste brief
Zellie, ek dink jy het baie mense se hartsnare getokkel met die skrywe. Dit is 'n pragwerk.
3 jaar 7 maande 3 weke 2 dae 3 ure oud


Ludwig
Zellie dit is n pragwerk van verlange na n maat wat nie meer daar is nie. die seer is altyd hierdie tyd van die jaar op sy ergste
3 jaar 7 maande 3 weke 4 dae 11 ure oud



Toe Snoeks nog Snoekie was

deur Manie Jackson

“Toe Snoeks nog Snoekie was” Is ‘n storie wat vertel word deur die klein malteser, Snoekie. eindlik is die storie vertelle my ma , Babs Lourens. Dit is die storie van al haar mense en die ander diere wat op die kleinhoewe net buite Pretoria saam met haar gebly het. Dis werklike gebeure en mense, dit begin ongeveer in 1995 – oor ‘n tydperk van ongeveer 6 jaar, geen fiktiewe karakters nie, net die gebeure uit die jong hondjie se oogpunt.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar