Kortverhale

Titel: Die Engel
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dis al laat toe die klop aan die deur opklink, so sag dat hy vir 'n oomblik dink hy het hom dit verbeel. Dan kom dit weer, net-net hoorbaar bo die geluide wat die brandende hout in die herd maak.
In die ou dae sou hy opgestaan het en die deur gaan oopmaak het, maar in hierdie donker tye moet mens versigtig wees. Daarom sit hy vasgenael op die rand van die bed, terwyl hy sy opsies oorweeg.
Nie oopmaak nie? Almal weet tog dis malligheid om dié tyd van die nag buite te wees. Almal weet dat mens jou doof en blind hou in die nag, al is daar iemand wat klop aan jou deur.
Oopmaak? Die gevaar is groot. Behalwe vir die donker gesante wat deesdae al hoe slimmer raak, is daar die desperates wat kom om te plunder. Dié wat soos diere instorm en vat wat hulle wil hê. Destydse familiemense wat van hongerte en desperaatheid mal geword het. Oor hulle kinders wat nie ophou huil nie en hulle oumense wat van swakte doodgaan. Mens keer hulle nie, nie as jy wil bly lewe nie. Jy leef liewer vir 'n ruk met skaarsste saam tot jy weer iets in die hande kry. Die ergste is as hulle die medisyne vat.
Daarom sit en wonder hy, en toe hy uiteindelik sy besluit maak is sy mond droog en voel hy hoe sy hart harder en vinniger begin klop. In die ou dae sou hy nie bang gewees het nie.
Eers dink hy daar is niemand buite nie. Hy sien net die gloed van die lig wat saam met hom by die deur uitloer en die wit van die sneeu en ys wat verderaan uitgevee word deur die donkerte. Hy is verlig toe hy terugtree om die deur weer toe te maak. Hy sal homself nie hoef te verwyt omdat hy iemand vergeefs in die koue laat staan en klop het nie. Miskien was dit 'n toets, dink hy. Miskien was dit 'n toets en het hy dit geslaag. Dit kan iets wees om mee te onderhandel as mens later weer 'n guns moet vra van die Een wat altyd daar is.
Maar dan verskyn die figuur uit die donkerte soos iets wat deur 'n kulkunstenaar tot daarwees getoor is. Dis 'n gemantelde figuur met 'n kap wat so diep en donker is dat hy nie 'n gesig kan uitmaak nie. Ek moes nooit oopgemaak het nie, dink hy. Ek was mal.
Daarom begin hy die deur toedruk, maar hy stop die beweging toe 'n skraal hand met lang, wit vingers na hom toe uitgehou word. Dis 'n vrou se hand. Later sou hy homself vertel dat hy eintlik moes onthou het van die Farqhard-gesin wat amper heeltemal uitgewis is. Die een kind het bly leef om te vertel van 'n vrou wat die gesante tot binne-in die huis gelei het.
"Asseblief," sê sy en haar stem is sag soos mens se asem as jy rustig slaap. "Asseblief, Meneer, ek kry bitter koud. Net 'n uur se rus by die vuur, dis al wat ek vra." Dis 'n jong stem met 'n rafelrandjie om, soos iemand wat probeer om nie te huil nie.
Hy hou die deur net effens oop, verwag half dat 'n donker horde enige oomblik deur die donkerte aangehardloop gaan kom. "Wie is jy," vra hy. "Waar kom jy vandaan? En het jy nie 'n huis nie?" Ek klink soos 'n barbaar, dink hy, iemand sonder 'n kriesel jammerte in sy lyf.
"Hier is iets wat ek moet kom doen; ek loop al vir drie dae. Ek het 'n huis gehad, maar die vrou by wie ek gebly het, het my uitgegooi."
Dadelike agterdog. "Hoekom nogal?"
Sy antwoord nie. Vir 'n rukkie is die stilte volkome, selfs die hout het opgehou knetter asof dit wag vir haar woorde. Dan haal sy die kappie af. Stadig, soos iemand wat bang is sy kry seer. Die asem gaan steek in sy keel vas. Want sy het die koors, dis ingeêts op haar gesig. Bloedlose vel, ingesakte oë, wit lippe en die maer wat deel is van die koors.
Sy moes mooi gewees het, eens op 'n tyd, dink hy tussen die ontsetting deur. Haar hare is goud soos dié van die engelprente wat hy in die ou dae, voor die manuskripte verbrand is, op die droë ou bladsye gesien het. Ten spyte van die siekte is daar 'n sagtheid op haar gesig, 'n soort wyse gelatenheid wat hom die deur laat oopmaak sodat sy kan inkom sonder dat hy verder daaroor dink.
Sy maak "dankie" met haar lippe, maar geen klank kom uit nie. Haar oë is nat. Sy skuur by hom verby, versigtig om nie aan hom te raak nie. Daar is sommiges wat sê die koors tref jou vinniger as 'n sieke aan jou raak.
"Kom, dan sit jy." Hy trek vir haar die stoel nader wat langs die bed gestaan het. Sy gaan sit voor die vuur, vou haar lang rok styf om haar bene en leun vorentoe om daardie maer hande na die vlamme toe uit te hou.
"Die kind..." Sy kyk bed se kant toe, na die bruin krulkop wat net-net onder die velkombers uitsteek.
Hy knik. "Sy's nou al drie dae lank siek." En met die woorde saam gaan sit daardie nou al bekende stuk iets in sy keel. Drie dae, vier, vyf op die meeste, dan hou die siekes gewoonlik op stry teen die seer en die moegheid. As die hoes verby is, is die lewe se einde gewoonlik baie naby. Amalinka het voor daglig al opgehou hoes.
"Ek is jammer..."
Iets in die opregtheid van haar woorde laat hom praat; die woorde val oor sy lippe, stadig en toe vinniger, baklei om eerste uit te kom, en hy is in sy agterkop skaam oor hoe die emosie sy stem dik maak.
"Haar ma is eergister dood. Sy het lank geleef, hard baklei sy was so dapper dat sy my laat huil het sy het gewag tot Amalinka nie meer wakker was nie en ek het haar daar buite onder die boom begrawe en die grond was so hard van die ys dat dit my halfdag gevat het om die graf te grou en ek was so jammer oor ek nie vir haar 'n kis kon maak nie, die hout, die hout en om die grond op die lap te gooi wat haar gesig toemaak..."
Hy het nie meer asem nie. Die gekneusde gevoel in sy binnekant is weer skerper, maar hy gee nie om nie, hy hou vas aan die gevoel sodat dit by hom sal bly tot hy self dood is. Hy skuld haar dit. Hy hoop sy weet.
"Amalinka beteken Geseënde."
"Ja. Haar ma was ook Amalinka. Partykeer as ek een van hulle geroep het, het altwee na my toe gekom en dit was so goed, altwee my Amalinka's by my."
Sy glimlag vir hom soos een wat weet van blywees en gelukkigheid en daardie vol beker-wat-oorloop gevoel van liefwees.
"Jy's seker honger," sê hy, skielik weer saaklik. Amalinka het hom altyd geterg oor sy praktiese geaardheid. Dan het hy vir haar gesê: "Jy droom, ek doen, jy bou lugkastele in jou kop, ek maak stene en begin bou. Ons is goed saam."
Daar is nie meer baie vis nie. Die brood is ook amper op, sien hy, maar hy maak haar bord vol. Hy gee die kos vir haar by die vuur, sodat sy so lank as moontlik in die hitte kan bly sit. Sy gaan spoel self die leë bord in die wasskottel uit voor sy weer op haar plek gaan sit. Die beloofde uur is amper om.
"Bly tot dit oggend is," nooi hy toe sy later opstaan en die mantel weer oor haar skouers vou. "Dis te gevaarlik buite dié tyd van die nag. En te koud na jy so by die vuur gesit het."
Hy trek sy bed nader aan die vuur en toe sy probeer keer vertel hy haar dat hy nie moeg is nie, dat hy by Amalinka moet wakkersit om haar te versorg, dat sy netsowel op sy bed kan lê anders gaan dit leeg eenkant staan. Haar asem raak diep en rustig sekondes nadat sy gaan lê het.
Dis diep nanag toe die kouekoors haar vat. Hy stapel velle op haar en trek die bed nog nader aan die vuur nadat hy die laaste van die groot houtstompe opgesit het. Die gehoes laat haar kromtrek en toe die bloed op haar lippe gaan sit, bring hy die oorblywende medisyne wat hy vir Amalinka se laaste ure gespaar het. Dit maak die pyn dood, al kan dit nie die hoes laat ophou nie.
Die nag verander in die hel. Amalinka se koors word erger en hy was haar met yswater. Die onbekende vrou hou aan en aan en aan met hoes en hy was bloeddoeke uit om net weer en weer haar lippe te gaan afvee. Hy deel die medisyne tussen die twee, versigtig om nie 'n druppel te mors nie, al weet hy dit beteken niks meer nie.
In die laaste ure voor dagbreek is Amalinka weg. Hy sit langs haar op die bed en vryf oor haar hare en haar wange en hy kan dit nie oor sy hart kry om die velkombers oor haar gesig te trek nie. Dit lyk asof sy slaap. So rustig. Terwyl hy na haar sit en kyk, sien sy oë die Amalinka van 'n ander tyd. Die een wie se wange rooi appels is, die een wat op sy skoot kom klim en die stukkende plekke op sy hande soen, wat by die wasskottel staan en punttoon by die borde en bekers probeer uitkom om te help was. Amalinka die mooie, sagte, onaangeraakte. Sy Geseënde wat hom kom seën het met 'n eiesoortige eienaarskap..
Hy staan op toe die vrou weer onrustig raak, onwillig om sy kind alleen te los noudat sy dood is. Die groot stompe is opgevreet deur die vlamme en die koue is besig om saam met die donkerte onderdeur die deur te kruip. Hy gee haar die laaste medisyne en hy hou haar hand vas, spyt omdat hy nooit haar naam gevra het nie. Dis moeilik om te troos as jy nie 'n naam kan noem nie.
Toe dit oggend word, maak sy haar oë weer oop. Sy glimlag vir hom en sê: "Ek is bly," terwyl sy met verstommende krag sy hand druk. Hy sou later onthou hoe die vuur hoog en helder opgevlam het voordat dit in pas met haar wegglip in die as weggesak het.
Dis al helder daglig toe hy uiteindelik genoeg krag bymekaargemaak het om met die graaf uit te stap na die boom toe. Hy sal vir die vreemde vrou langs sy twee Amalinka's 'n lêplek maak, want in hierdie nag het sy aan sy siel kom raak en op 'n vreemde manier deel van sy gesin geword.
Hy grawe haar graf eerste, onwillig om die finaliteit te erken deur Amalinka s'n te grou. Dié sal hy so lank as moontlik uitstel. Terwyl hy werk, probeer hy om die onthou te keer. Onthou maak nou te seer. Later, as sy werk klaar is, sal hy hom in die hut toemaak en dan sal hy onthou tot hy nie meer kan nie. Iets in hom skree toe hy Amalinka se plek regmaak.
Nadat hy die vrou met 'n kombers van grond toegemaak het, maak hy met stok en lap vir haar 'n houtkruis wat hy aan die koppenent van die graf indruk. Sonder dat hy weet hoekom, weet hy dat 'n kruis vir hierdie vrou gepas is. Ek kan nie behoorlik bid nie, vertel hy die Een wat altyd luister. Ek is te moeg nog. Vergeef dit; ek is swak.
Hy staan op en terwyl hy wegstap om sy kind te gaan haal, hoor hy die geluid vir die eerste keer. Hy gaan staan in ongeloof. Dis nie moontlik nie. Daar is geen voëls meer nie, hoe kan die soet gesing dan waar wees? Hy kyk stadig om, bang dat dit nie regtig is nie en sy uitroep klink yl in die oopte.
Want die dooie boom wat bo die grafte uittroon is vol bloeisels. Wit van kleur wieg hulle in die bries wat hulle parfuum na hom toe aandra.
En skielik weet hy.
Sy voete gly op die ys toe hy hut toe hardloop. Hy stamp die deur oop en sy hart ruk in sy bors toe hy besef dis waar.
Amalinka sit op die bed en sy hou haar arms na hom toe uit. "Ek het die mooiste droom gehad, Pappa," fluister sy en sy glimlag.







Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die Engel
Pragtige storie!
10 jaar 9 maande 3 weke 5 ure oud


ek sekondeer wat almal hier gese het!
12 jaar 1 maand 2 dae 8 ure oud


wat n uitstekende roerende verhaal - ek het my gehaas oor die lyne om net uittevind wat gebeur -
jou storie is boeiend - vertellend - jou prente - skilderye-

jou talent is groot
13 jaar 2 weke 4 dae 1 uur oud


Goed geskryf, Madz; te veel "engele" klop tevergeefs...!
13 jaar 3 weke 2 dae 10 ure oud


Madz
Werklik, jy het die gawe om my weg te voer, my binne in jou stories te plaas en my deel daarvan te maak.
Jy het ‘n pragtige skryftrand en ek het hierdie storie geniet.
Hartlike groete,
Piet Magriet.
13 jaar 3 weke 2 dae 10 ure oud



Lelani

deur Rachelle du Bois

Lelani Botha bestuur die eksklusiewe boetiek op die dorp. Sy is beeldskoon, stylvol en kunstig. Maar sy dra swaar aan ‘n geheim waarvan niemand weet nie. Tot hul botanis buurman Leon Postma haar eendag betrap in ‘n situasie wat sy nie langer kan wegsteek nie. Hy weet nou baie meer as wat enige ander mens van haar weet en sy verkwalik hom daarvoor. Hy het geen reg om te weet nie. Sy is pragtig, vurig en wantrouig. En sy is in Leon Postma se lyf, in sy kop en sy bloed. Hy sal vir haar ʼn brug oor die water bou wat haar na hom toe sal bring. Of so hoop hy. Maar Lelani bied hewig weerstand teen haar groeiende aangetrokkenheid tot Leon. Sal sy toegee aan die man wat soos ʼn koors in haar binneste kom intrek het? Sal sy uiteindelik die brug na hom toe oorsteek?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar