Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ta Liefie en Frikkie woon op die dorp na die oom se onverwagse afsterwe. Sy het maar dorp toe verhuis en die plaas aan ‘n buurman se bekwame sorg oorgelaat en daar word darem goed na gekyk. Sy het maar altyd haar hande vol gehad met Frikkie, en sou nie die mas alleen op die plaas opkom nie. Sien Frikkie was haar en die oorle oom se enigste boorling, en die kind het nie te duidelik uitgekom nie. Hy was so stadig met die verstaan dat hy vreeslik op skool gesukkel het en sy hom naderhand uitgehaal het daar, want daar was te veel klagtes. Die klagtes het oor twee , nee eintlik drie dinge gegaan. Sien Frikkie was stadig en naderhand heeltemal te groot van postuur vir die maats waarmee hy die klas moes deel. Dan was natuurlik die aanvalle waarmee hy gebore is. Frikkie het erg aan ‘n soort vallende siekte gelei, en sy gedurige aanvalle het glo veral die kleiner kinders ontstem.
Die groot probleem was egter nie die aanvalle en Frikkie se lyf nie. Frikkie het begin baard kry, en daarmee saam ‘n ongekende en skaamtelose belustigheid vir die jong meisies. Niks kon hom keer as hy eers belangstelling in ‘n nooi gekry het nie. Frikkie het nie verstaan waaroor die dinge van ‘n man en ‘n meisie gaan nie, en Ta Liefie en die oom het ook seker nie mooi geweet hoe of kans gesien om hom voor te berei nie. Frikkie sou in elk geval seker nie verstaan het nie. Die oom is in dieselfde tyd oorlede en Ta Liefie moes maar self sien kom reg en niks het gebeur nie.
Dit was dan ook na een redelik ernstige voorval wat Meneer Boonzaaier, die skoolhoof, een middag by Ta Liefie se huis in die dorp opgedaag het en die bul met deernis (soos hy vertel het) by die horings gepak het. Dit kon nie so aangaan nie het hy geredeneer en Frikkie sou moes skuif na ‘n spesiale skool in die stad. Daarvan wou Ta Liefie natuurlik niks hoor nie en het Frikkie opsluit die volgende dag by die huis laat bly, en die dag daarna en daarna. Frikkie het gou aangepas en maar so in die werf gespeel soos ‘n klein kind. Hy was doodgelukkig in sy eie wereld op die werf en salig onbewus van die stories op die dorp. Frikkie het nie verstaan of geweet van die gevolge van sy dade nie, veral nie oor die reaksie wat gevolg het as hy sy oorontwikkelde manlikheid sommer so op die speelgronde vir die meisies gewys het nie.
Die maande het verbygegaan en Frikkie se speelplek het vergroot. Ta Liefie het seker maar te gerus geraak en hom laat begaan, want almal op die dorp het hom immers geken en hy was veilig. Sy het geredeneeer by vriendinne dat Frikkie nie soos ‘n dier op hok kon staan nie, en hom laat begaan. As Frikkie iewers op straat ‘n aanval sou gekry het was daar immers altyd iemand naby wat die nodige kon doen. Hy het so ‘n ruk daarna sommer daar waar hy geval het en gehelp is geslaap en dan weer net aangegaan. Sy gunsteling speelplekke was by die koöperasie, agter die stasie en naby die kafee. Frikkie was ‘n aangename en vriendelike mens en het met almal, bekend of onbekend, ‘n geselsie probeer aanknoop, so op sy kinderlike en onskuldige manier. Frikkie was maar net Frikkie en eintlik kon niemand die dorp sonder sy teenwoordigheid voorstel nie. Die vrede sou egter nie hou nie.
Een middag daag die Polisiekaptein lo by Ta Liefie se huis op. Sy skrik haar skoon boeglam en laat die man vining binne. Ta Liefie was ‘n Godsvresende Gereformeerde vrou en die polisie stop nie sommer by haar huis nie. Die skande was te geweldig om te verduur. Die Kaptein met sy ruie snor en kordaat houding roer sommer dadelik die saak aan. Nou moet mooi onthou word, dit was in die dae toe kontak oor die kleurgrens heen nog erg oor gefrons was, veral op die platteland. Die Kaptein het Frikkie baie goed geken en spreek hom uit oor sy bekommernis oor Frikkie se belangstelling in die kleinmeide wat by die koöperasie en kafee brood en ander goed koop. Frikkie was glo al te danig met hulle en is al gesien waar hy agter die koöperasie in die bloekombos in verdwyn saam een van die hulle. Die mense praat en Ta Liefie moes saamwerk met sy plan. Dinge kon nie so aangaan nie en hy was veral bekommerd oor as een van die kleinmeide in die ander tyd raak.
Die Kaptein het glo klaar kontak gemaak met ‘n dokter in die Kaap wat Frikkie onder hande sou neem en die lastige belustigheid vir altyd sou stop. Ta Liefie het probeer keer , maar die Kaptein was ferm en het gedreig met allerlei ernstige dinge. Geld was nie regtig ‘n kwessie vir Ta Liefie nie en sy kon maklik die dokter bekostig, want die boerdery het immers goed gesorg onder die buurman. Sy en Frikkie is dan ook toe binne dae weg met die trein na die dokter in die Kaap. Na sowat ‘n week was hulle terug, en Frikkie was ewe skielik redelik skaam en wou nie sommer uit die erf nie. Ta Liefie het aan ‘n paar susters by die Kerk (wat natuurlik die hele dorp vertel het) verduidelik dat Frikkie glo onder narkose was en die dokter ‘n klein operasie gedoen het. Frikkie het dan ook pille gekry wat die apteek op die dorp maandeliks sou voorsien. Een per dag en Frikkie sou hom gedra, so maklik was dit. Frikkie was na ‘n paar weke maar weer oral in die dorp te sien, maar hy was baie meer besadig en skaam. Hy het glo nie eers na die kleinmeide se kant gekyk nie. Die mense het ook gesien hy word al hoe dikker. Ta Liefie het op haar knieë gegaan en gedank vir die vrede wat toe sou heers met Frikkie, of so het sy gedink.
Een Maandagoggend egter was dinge net verkeerd op die dorp, sommer net verkeerd. Verstaan mooi hoe die dinge in mekaar gesteek het. Daar was drie Kerke, die NG Kerk natuurlik, die Dopper Kerk en dan die AGS. Geen ander gelowe of Kerke is geduld nie. Dinge is op ‘n sekere manier gedoen en mense moes nie neuk nie. Almal het hulle plek geken en mekaar se menings gerespekteer. Die drama het teen ligdag begin toe die eerste boere ingery het dorp toe en gesien het daar is baniere teen die drade buite die dorp van ‘n profeet wat glo die volgende week in ‘n tent sou kom preek. Die ontsteltenis was erg, en daar was ‘n hele toeloop by die Burgermeester en Polisiekaptein se kantore om beswaar aan te teken. Dit was glo van die duiwel self, kettery en sommer kommunisme en veral die dinge van die laaste dae, is geredeneer. Dit moes gestop word, daaroor was daar nie twyfel nie. Nog die Burgermeester, nog die Polisie kon natuurlik iets doen. Die sogenaamde profeet het immers wettig aansoek gedoen om sy tent op te slaan op die dorpsplein. Die Regering se beleid was nie om in te meng met mense se geloof nie, en daar was niks aan te doen nie. Die mense moes maar net self wegbly is geredeneer.
Nou daardie redenasie was natuurlik soos om te hoop dat die lastige vlieë sal wegbly as die nagkar die vorige aand in die strate was en daar iewers ‘n ongeluk met ‘n vol emmer was. Geen hoop nie, maar wat kon gedoen word.
Natuurlik het die skinderstories by die uur gegroei soos stertjies en soms sommer groot sterte aangelas is. Niemand het ‘n idee gehad wie die profeet was of van waar hy gekom het nie, maar sy woorde op die baniere was dan tog so na aan die Woord. Die profeet se pamflette het dan ook die Donderdagoggend heel geheimsinnig in al wat ‘n posbus is verskyn. Daarin het hy te vertelle gehad oor die wondere wat hy sou verrig in die Naam van die Gees. Dit was net Gees dit en Gees dat, en Heilig hier en Heilig daar. Blindes sou glo sien en dowes glo hoor en kreupeles glo loop. Die man het egter ook allerlei hulp gehad vir lastige kwale soos knaende hoofpyne en rugpyne en maagprobleme en ander derglike dinge waaroor ordentlike mense nie sommer praat nie. Daar was egter kwaai gefrons oor sy gewaande hulp met huweliksprobleme. Hoe durf hy; niemand op die dorp het natuurlik ooit so iets gehad nie, en hoe durf hy die mense beskuldig van egbreuk. Dit het egter net olie op die vuur van nuuskierigheid en die dorp is in kampe verdeel. Daar was die wat reguit veroordeel het, die wat geredeneer het om maar net te laat begaan, en die enkeles wat geredeneer het dit is in heel in orde.
Ta Liefie was een van die wat sommer prontuit gesê het die man is die bloedbroer van Beëlsebul en ‘n valse profeet en dalk die Antichris self. Sommige van haar en andere se uitbarstings het aan laster en naamskending gegrens, maar nie een van hulle het ooit ‘n oog op die man gehad nie. Toe gebeur dit. Een of ander bemoeisieke dink daaraan dat die profeet dalk met Frikkie se toevalle kan help. Dit het natuurlik nie lank geneem vir die storie om Ta Liefie se gewillge ore te bereik nie, en sy was hewig ontsteld. Sy is glo reguit pastorie toe en daar is glo hard gepraat is oor onder andere die eindtye, die Swart gevaar en kommunisme.
Die tent het skielik Saterdagaand op die dorpsplein verskyn. Sondagoggend was al en leef en beef in die drie Kerke en daar is hard gepreek en vermaan oor die gevare van die profeet en die dinge van die laaste dae. Tot almal se verbasing was dit die Dopper dominee wat tog ook gewys het op verdraagsaamheid en die hele saak dat alle dinge beproef moes word en dat die goeie behou moes word. Dalk het sy boodskap nie uitgekom soos hy wou nie, en sou dit op ‘n ander geleentheid meer gepas gewees het, want ‘n onbeplande saadjie was geplant. By die tent was dit so stil soos die graf die Sondag en almal het na Kerk weer daar verby gedraai om te staar. Al wat te siene was, was die tent en twee groot vragmotors wat skynbaar die vrag gekarwy het. Daar is agter hande gepraat en geskinder. Die profeet sou volgens die pamplette die Maandagaand om sewe uur op sy pos in die tent wees om die Gees se sake aan te roer.
Die Maadagaand was die maan onheilspellend donker en miskien ook omdat die dorp se ou straatliggies maar sleg daaraan toe was, het daar ‘n klompie karre naby die tent gestaan. Heelwat dorpsmense is ook gesien nader sluip. Daar was duidelik opwinding in die tent en kort-kort ‘n ritmiese gehande klappery. Die res van die dorp was doodstil, seker maar soos almal geluister het. Teen tien uur was dit oor en die dorp donker.
Dinsdagoggend ligdag bet die telefoonlyne begin werk. Tilda by die sentrale het vertel dat sy nie kon voorbly met drade in gate druk en uittrek nie. By die gewone geselsplekke was meer mense. Het jy gehoor dit…. en sy was ook daar….. en hy het wragtag ou Sarie se kopseer weg gebid, en so gaan het dit gegaan.
Intussen die storie natuurlik by Frikkie uitgekom het, en hy het aan Ta Liefie geknaag oor tent toe gaan. Sy het vertel dat hy vreeslik aangegaan het oor die blindes wat sou sien. Die enigste blinde was ou Jafta wat daagliks voor die kafee gebedel het, en Frikkie het hom goed geken. Hy het blykbaar nie aan sy eie siekte gedink nie, want hy het waarskynlik nooit werklik besef wat met hom gebeur nie. Hy wou glo weet of die profeet soos Jesus die klei op Jafta se se oë sou sit. Sy het glo geraas, verduidelik en gedreig met die vure van die Hel, maar Frikkie wou gaan. Ta Liefie het naderhand glo nie meer geweet watter kant om te keer nie. Ta Liefie se Gereformeerde opvoeding het haar verbied om die ding selfs te oordink, maar die saadjie van Sondag se preek, was soos ‘n stille imflamasie in haar agterkop. Sy het later vertel dat sy nie kon ophou dink daaraan hoe dit sou wees as Frikkie se aanvalle tog net kon wegbly nie. Sy het vertel dat die gedagte vir meer verstand vir Frikkie ook sy satanskop uitgesteek het, maar die het sy gesmoor. Sy het immers geglo almal is die Here se maaksel en mens mag nie oordeel nie. En tog, as die aanvalle net wou wyk.
Ta Liefie was glo weer pastorie toe om haar vertwyfelinge te gaan bespreek, maar soos dinge toe moes uitwerk was dominee die plaaswyke in vir sterwensbegeleiding en sou dalk eers baie laat terug wees, of dalk oorslaap. Dit was blykbaar net daar op die pastorie se voorstoep dat Ta Liefie haar groot besluit geneem het. Die onuitstaanbare gekerm van Frikkie, Sondag se preek en toe die afwesigheid van dominee as laaste teken, moes haar oortuig het. Dinsdagaand was dit tent toe en basta. Sy is reguit huistoe en het Frikkie in die bad gestop en begin skrop. Vergete was die vermaninge van die dokter om Frikkie weg te hou van te veel opwinding. Sy het vertel sy het sommer daar en dan ook finaal besluit dat die man ‘n blessitse kwak was wat met al sy boekgeleerdheid in die Kaap sit. Wat het hy geweet van hoe dit werklik was.
Ta Liefie het nooit dinge uit haar beurt gepraat of gedoen nie, maar was beslis ook nooit bang om ‘n standpunt waarin sy geglo het in te neem nie. So is sy toe net na ses glo met Frikkie aan die hand by die voordeur uit. Sy het haar Sondaghoed opgehad, dit was immers die dinge van die Here wat hier ter sprake was en mens moet respekte hê. Waar ander nog in ‘n systraat sou afsluip, het sy en Frikkie sommer reg in die middel van die hoofstraat aangestryk. Frikkie was glo amper buite homself van opgewondenheid. Ta Liefie is glo reguit by die tent in en het reg voor in die tent saam met Frikkie gaan plek in neem.
Die aand was daar glo heelwat meer mense as die vorige aand, seker meer wat kans gesien het. Net na sewe begin die profeet toe glo heel dramaties met opnames van kerkorrelmusiek wat speel en die Bybel al swaaiende in sy hand. Dit was glo net hallelujas en heilig dit en heilig dat, en prys sus en prys so. Die man het glo gepreek dat die sweet hom uitslaan en kort-kort op die Bybel geslaan en die dan oopgemaak en met sy vinger op verse gedruk terwyl hy die Bybel hoog ophou sodat almal kon sien. Hy slaan toe glo vining oor na ‘n hallelujalied wat wel bekend is en almal sing saam. So gaan dit toe blykbaar vir ‘n hele ruk.
Ou Frans Joubert wat heel agter gesit het, en om een of ander rede nie opgesweep geraak het nie, het later vertel dat hy gesien het hoe die ligte stelselmatig een vir een afgesit is tot die meeste lig reg op die verhoog was. Toe het daar op een of ander onverklaarbare manier wat net die profeet en sy stille helpers kon verstaan, ligte rook begin inkom in die tent. Dit was so stil en stadig gedoen dat niemand dit opgemerk het nie. Die profeet het al hoe harder gepraat en al hoe meer hallelujas en gees dinge kwytgeraak. Die meeste mense, behalwe Ta Liefie natuurlik was teen die tyd op hulle voete met die hande in die lug.
Toe gebeur dit.
Ta Liefie het Frikkie aanhoudend aan sy baadjie afgetrek stoel toe as hy prober opstaan, en naderhand opgegee. Frikkie was weggevoer in absolute ekstase. Die volgende oomblik slaan Frikkie toe glo op die grond neer reg voor die profeet met die ergste aanval ooit. Die skuim was sommer dadelik by sy mond uit en hy het glo iets vreesliks gebrul en stuiptrekkings gehad. Dit was natuurlik net olie op die vuur vir die profeet en hy buk toe glo oor Frikkie en skree vir almal om die Gees te kom aanskou. Nou ja, die meeste wat voor gesit het was natuurlik net so opgesweep en het heeltemal vergeet van Frikkie se aanvalle. Almal dring toe glo nader en dit is ‘n ongekende gegil van hallelujas en derglike woorde wat seker ooit uit NG en Gereformeerde monde te hore was.
Dis toe dat Ta Liefie toe glo eers reageer. Dalk was sy ook effe meegesleur deur die hele spektakel en kon nie onmiddelik reageer nie. Sy spring toe uiteindelik op uit haar stoel en bulder bo al die lawaai uit “die Gees se gat, die kind is flou”.
Die stilte daarna was glo oorverdowend. Almal het stadig teruggestaan, die profeet ook. Die mense het stil-stil weggeraak uit die tent en Ta Liefie het Frikkie gehelp.
Die volgende oggend was die tent met profeet en al glo weg. Vreemd genoeg, Frikkie het daarna al hoe minder en minder aanvalle gekry.

Met dank aan Janette vir die oorspronklike storie. Dit was baie korter, maar in essensie dieselfde.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Buffelshoek se nuwe stasiemeester

deur neels claasen

n Spoorwegroman oor die lewe op die buitestasies in die sestiger en sewentiger jare



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar