Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

My ouma, volgens my ma, was 'n baie statige vrou in haar tyd. Sy het drie kinders alleen groot gemaak en nog naaldwerk gedoen om die pot aan die kook te hou. My ouma was ook nie een wat sommer grappies kon maak nie, maar as sy dit wel gedoen het, dan was dit nou regtig besonders. Volgens my ma, het my ouma nog nooit die see gesien nie. Op 'n dag kon hul dit nou bekostig om 'n bietjie weg te kom en my ouma besluit om die kinders see toe te vat. In haar gedagtes was die see so groot soos 'n gewone dam.

Hul moes van Johannesburg area met die trein ry na Maidstone en daardie tyd het die trein by elke ou stasietjie gestop. My ouma het glo baie kos gemaak vir die trippie af see toe. Skaap boud, vleis, brood, ens. Hulle het in hul kompartement gaan sit en die trein het vertrek. Op elke stasie het my ouma vir my ma gesê sy moet tog kyk dat hulle op die regte plek afklim.

Nie te lank nie, kom daar 'n arm familietjie op die trein ook op pad iewers heen en hul deel toe maar die kompartement met my ma-hulle. Of hul nou 'n plekkie geboek het weet ek nie, as ek reg kan ontou het hulle maar in die gang gestaan. Die kinders se ogies was so vas genael op die kos wat my ma-hul gehad het en my ouma het maar aangebied dat hulle saam kon eet. Sy was onder die indruk dat hul binnekort by hul bestemming sou wees en daar is hopeloos te veel kos. Die mense, wat natuurlik vrek honger was, het ingeklim en kort voor lank is die kos toe klaar.

Hul het deurnag gery en kom toe by 'n stasie. Die mense klim af en my ouma vind toe uit dat hul eers die volgende oggend by Maidstone sal aankom. Toe moes my ma by die stasie kantien gaan broodjies koop sodat hulle darem kos kan hê vir die dag. Hulle het uitgeklim en my ouma was bang hul kon nie die kompartement kry nie, en het 'n skoen in die deur gesit om dit maklik uit te ken. Hulle het lekker eers ontbyt geeet by die kantien en omdat dit my ouma se eerste keer op die trein was,het sy ook nie geweet dat die trein, terwyl die mense buite wag, net besig was om te "shunt" nie. My ouma sien die petalje en sy skree vir die 3 kinders hul moet hardloop, die trein ry vir hulle weg! My ma gryp al die toebroodtjies en al 4 van hulle hardloop agter die trein aan... toe stop die trein en beweeg weer terug. Daar draai my ouma om en skree weer vir die kinders hulle moet hardloop want die trein gaan nou weer daai kant toe. Intussen skree sy vir die hele stasie om te hoor: "The train is going without us!" My ma kom toe agter dat al die mense op die peron staan en lag vir hulle. Sy kry toe my ouma aan haar rok beet en sê vir haar sy moet ophou, want die trein is nie besig om weg te ry nie, maar net besig is om te skuif. Nadeloos om te sê, skaam skaam het hulle om die hoekie gaan staan en toe uitgebars van die lag.

Nog is het einde niet! Die volgende oggend kom hul naby hul bestemming en my ma moes op die uitkyk wees vir Maidstone se stasie. Daar aangekom kan 'n mens dit skaars 'n stasie noem. Hul moes amper uitklim in die vlaktes. Gelukkig het hul vervoer vir hul gewag en geneem na die vakansie oord waar hul sou tuis gaan. Daar was mooi rondawels waar my ouma hul tuis gegaan het en 'n swembad op die perseel. My ma het my ouma aangehits om saam met hul te kom swem, maar sy was nie lus nie. Die volgende oggend sou hul 'n bietjie in Durban gaan spandeer het by die see. My ouma was glo heel opgewonde oor die nuwe ontwikkeling, want daardie dag sal sy seker nooit vergeet nie.

Op pad in die bus, vertel my ma vir haar hoe die see lyk en wat sy sal sien. Toe hul so oor die bult kom met die straat in Durban wat na die see se kant toe gaan, sien my ouma net hierdie groot spul water voor haar. Haar oë rek groot en sy spring op en sê hardop: "Jul kry my nie in daardie groot dam nie!" My ma het net haar kop laat sak in skaamte. Sy het my ouma aan haar rok getrek en gemaan om te sit.

Uiteindelik by die strand aangekom, was my ouma baie skepties oor die spul water. Maar toe sy sien hoe heerlik baljaar die mense op die strand en in die water, het sy dit stadig gewaag om te gaan swem. My ma was heeltyd saam met haar en dit was moed hou om my ouma te kry tot by die water. Voetjie vir voetjie het sy stadig ingegaan. My ma het gesê, toe my ouma eers in die water is en voel hoe die see haar skommel, toe wil sy nie daar uit nie en het soos 'n kind baljaar in die groot dam se water.

Met die vertrek terug Johannesburg toe, kon my ouma nie uitgepraat raak oor die heerlike water en die vakansie wat hul kon geniet nie. Jare daarna het my ma nog die storie vertel vir ons en elke keer het ek net gesit en luister en gelag. Dit was vir haar 'n belewenis en 'n goeie les was geleer.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Baie oulik
Dis 'n baie sweet storie!! Ja, beslis iets wat die nageslagte kan lees. Dis so kosbaar om hierdie staaltjies vir die volgende generasie te bewaar.
8 jaar 3 maande 1 dag 12 ure oud


---
Dit was nou 'n heerlike, ontspannende, lekker`lees verhaal die! ( Die groot dam ... hahaha ... !Kostelik! ) Mind you, ek dink van "bo" af sal dit seker soos 'n hengse groot dam lyk (",)
8 jaar 3 maande 2 dae 13 ure oud


Geniet
Ek gaan DOOD oor ware stories, want dis die lekkerste stories wat daar is! Bêre hierdie een vir jou nageslag.
8 jaar 3 maande 2 dae 20 ure oud



Katarsis

deur http://www.woes.co.za/

Katarsis, ’n versameling gedigte deur 3 skrywers, tribalmoon, Berg en Chenél Pieterse-Boyle in Afrikaans, bevat ’n uiteenlopende versameling gedigte wat ’n ryk diversiteit van temas en denke byeenbring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar