Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die hart van ‘n moeder.

Die laaste mense het nou net gery. Naomi staan alleen in die voorhuis. Dit is al skemer, het al begin koel word. Waar is haar trui? Sy is moeg. Sy is vrou alleen. Sy is ‘n ma, nee, sy was ‘n ma… Sy het vandag haar enigste kind begrawe. ‘n Leeftyd van herinneringe spoel oor haar soos die soepel trane oor haar wange kruip.

Die weemoed vul haar weer. Die vrae sonder antwoorde vul haar hart. “Here, hoekom?” fluister sy sag. Sy onthou die dag toe die verpleegster klein Isak in haar arms kom gee het. ‘n Klein wonderwerkie op sy eie. Niemand het gedink dat een van hulle twee dit deur die geboorte sou maak nie.Noami was nie meer vandag se kind nie. Maar hulle het. Saam is hulle daar deur!

Sy klein tyd jare speel voor haar af soos Naomi na die foto’s staar. Daar het hy begin tande wissel, sy eerste fiets, sy eerste dag op skool. Hartseer vir hulle beide, maar hy was mamma se grootman. Die skool operette foto’s, sy eerste dag op hoërskool. Tiener jare het begin. Was maar nie elke dag maklik nie, maar hulle het kopgehou.

Dit het nog koeler geword. Naomi staan op. Sy voel nou eerder soos die Mara van ouds. Sy is dolleeg. Sy stap die donker, koue gang af. Isak se kamer deur is toe. Sy kamer is donker. Sy oë is toe. Gesluit vir die vreugde van menswees. Sy ore doof vir die geluide van die lewe. Huiwerig maak sy die deur oop. Sal sy? Sal sy die kamer binnegaan waar haar lieflingskind sy laaste dae gely het? “Nee, ek kan nie” sê sy vir haarself. Sy draai om en loop verby na haar eie kamer toe.

Trietsig gaan sit sy op die rand van haar bed. Die enigste teken van lewe in die koue huis is die reuk van al die blomme wat almal gebring het. Nie dat die blomme haar kind sal terug bring nie. Ironies. Haar blomme het sy vir hom gegee terwyl hy nog geleef het. Hy is nie meer daar nie. Sy voel meteens die woede van voor af in haar borrel soos ‘n rivier wat in vloed afkom! “Hoe kan U ‘n God van liefde wees?” daag sy haar Skepper uit! “Here, hoekom? Hoekom? Hoekom?! Eers my man, my eggenoot, my rots en nou, nou moet U ook my kind vat?! My enigste. Al wat ek nog oorgehad het?”. Met haar gesig in haar hande en met trane wat vloei soek sy ‘n teken, ‘n antwoord, soek sy rus vir haar siel. Naomi weet nie hoe hierdie rou seer in haar ooit sal genees nie!

Net soos die kanker wat op haar Isak geteer het teer die rou op haar.

Haar man se afsterwe was vinnig en pynloos. Dit was altyd sy wens gewees hoe hy eendag wil sterf. Eendag. Net jammer sy eendag het te gou gekom. Die gedagtes van haar man bring nog weemoed en trane.

Die kille donker van die nag kruip deur die stil huis. Naomi staan op en stap kombuis toe. Maak maar tee vir haar. Net een beker. Nie twee nie. Sy is nou alleen. Met die beker warm tee stap sy terug na die voorhuis toe. Weer verby Isak se kamer. Sy staan en staar by die oop deur in. Is dit hoe Maria moes gevoel het by die leë graf van Jesus? Sy wonder. Die wil om die kamer te betree is weer daar, maar haar moed begewe. Sy kan dit nie doen nie. Sy stap verby. Terug voorhuis toe.

In die voorhuis gaan staan Naomi voor die venster. Die gordyne is nog oop. Buite in die donker is sy tuin. ‘n Deel van haar kind wat hy nagelaat het. Sy sonneblomme sal seker hierdie jaar so mooi wees. Hy sal dit nie eens sien nie. Sonneblomme was nog maar altyd sy geliefkoosde gewees. Het hom altyd hoop gegee om aan te gaan.

Sy onthou die dag toe hy begin siek word het. Hy was jonk en nie een van hulle het gedink dat hy ooit iets soos kanker sal kry nie. Dis ‘n siekte wat ander mense kry. Ou mense. Nie hy nie. Maar die dag toe hy tuis gekom het met die uitslae van die toetse het alles verander. Realiteit het hulle in die gesig gestaar. Hy het kanker gehad.

Na al die vele toetse het die dokters limf sarkome ontdek. Hy was deurtrek met hulle.

Die eerste onkoloog wou sny. Maar op die ouderdom van 26 het Isak nie kans gesien om met die letsels saam te leef nie. Sou dit suksesvol gewees het. Dit sou buitendien ‘n baie groot operasie gewees het. Hy het vir ‘n tweede opinie gegaan en het toe besluit op chemoterapie as behandeling. Sy kanse om genesing was redelik goed. Hy was nog jonk onthou.

Naomi sug. In haar geestes oog sien sy nog die dag so helder toe haar kind in die kombuis ingekom het met trane in sy oë. In sy hand ‘n klossie hare. Een van die baie newe effekte van die terapie. In die dae daarop het die ander newe effekte begin. Die naarheid na elke sessie. Die reuke en kos wat hy nie meer kon verduur nie. Dit was soos ‘n dolk in haar hart om haar kind so te sien agteruitgaan. Hy het swakker geword. Sy hare het alles uitgeval. Hy was bleek. Werk die behandeling dan nie het sy vele kere gewonder?

Soos die mure van Jerigo gebreek het het haar wese gebreek toe Isak, haar kind, die dag nie meer kon opstaan nie. Hy het net in sy bed gelê. Na die dak gestaar. Sy het nooit dat hy haar trane gesien het nie. Sy was altyd die rots vir hom gewees om op te steun. Maar sodra sy alleen was het die hartseer oor haar gesig gerol.

Toe breek die dag van wonderwerke aan! Naomi was so dankbaar toe die uitslae van die toetse terug gekom het en dit het gewys op beterskap. Isak het weer begin loop, weer self dinge begin doen. Haar kind het weer begin leef! Hoop het hulle dae gevul soos ‘n reënboog na ‘n storm. Dit is in die tyd dat Isak ook begin skryf het. En sy tuin begin het. Hy het sy stempel afgedruk om ander te help verstaan waardeur hy gegaan het. Deur sy gedigte het hy vir ander probeer hoop gee.

Dag vir dag het hy beter en sterker geword. Dag vir dag het hulle meer hoop gekry. Haar kind is weer terug! Naomi onthou meteens weer die vreugde van daardie dae. Sy was so trots op hom gewees. Op die lig wat hy vir ander uitgestraal het…die hoop wat hy hulle gegee het. Hulle wat dag in en dag uit op daardie pad was wat hy gestap het.

Haar tee is koud besef sy. Traag maak sy die gordyne toe. Dit voel vir haar of sy die einde van ‘n era voor haar afsluit. Die laaste gordyn sak oor die verhoog. Daar is die keer geen toejuiging nie.

Wat sal sy tog doen? Sy is nou alleen in hierdie wêreld gelaat. Miskien moet sy êrens ‘n lig aanskakel. Dis donker. Dis stil. Dis koud.

Sy stap stadig weer die gang af. Nee, sy sal nie eers by sy kamer in kyk die keer nie. Sy gaan net verby stap. Dis verby. Alles is verby. Isak se lewe, maar tog ook sy lyding. “Ek moet dankbaar wees” sê sy vir haarself. Hardop. Hoekom is sy dan nie?

Met die woorde nog vars uit haar mond en in haar gedagtes skakel sy die kombuis lig aan en plaas die beker, nog gevul met koue tee, in die wasbak. Sy is alleen, maar skielik is daar ‘n stem wat haar roep.‘n Stem wat weer die wil in haar wakker maak om na Isak se donker kamer toe te gaan.

Sy draai om. Sy poog om elke greintjie moed wat sy nog oor het bymekaar te skraap. Sy stap uit die kombuis uit. Isak se kamer haar bestemming. Voor die oop deur voel sy hoe haar hart vinnig klop. Angs vul haar diep van binne. Die rou is diep. “Ek kan dit doen” moedig sy haarself aan. Sy huiwer nog. Maar sy weet, doen sy dit nie, sal sy nooit troos kan kry nie.

Naomi stap die vertrek binne en skakel die lig aan.

Sy stap tot langs die leë bed. Dit is netjies opgemaak. Dit het nog lewe in dit gehad tot vyf dae terug. En toe, toe niks meer nie. Sy boeke op die boekrak is netjies soos hy dit altyd gehad het. Op sy lessenaar is sy rekenaar. Afgeskakel. Sy vingers sal nie weer oor die klawerbord gly nie. Naomi staan net daar. Sy voel so leeg. Sy stap tot by die lessenaar en gaan sit.

Dis so amper asof sy nog Isak se teenwoordigheid daar binne saam met haar voel, “My kind, is jy hier by mamma?” vra sy sag. ‘n Teer en warm gevoel vul haar meteens. Skielik voel Naomi nie meer so alleen nie. Dit is nie meer so koud om haar nie.

Sy draai om en kyk na die leë bed.

Sy sien Isak weer daar lê. Dit het so gou gebeur. Hy het weer siek geword. Tog het hy nie tou opgegooi nie. Hy het baklei. Hy het geweier om te sterf. Tot kort voor hy te swak begin word het Isak nog geskryf. Hy het nog buite toe gegaan na sy tuin toe. Al kon hy nie self meer baie gedoen het nie, het hy probeer.

Maar tog, ten spyte van hoop, geloof en gebede het hy swakker geword. Naomi en die dokters het besef dat tyd nie aan sy kant was nie. Miskien het Isak dit self ook besef. Tog het hy niks gewys nie. Hy wou sterk wees vir Naomi se ontwil. Sy besef dit nou.

Die kanker het verder geteer. Soos ‘n parasiet sy wese stuk vir stuk verorber. Sy kon niks doen as om te staan en kyk hoe haar liefling kind besig was om te sterf. En tog het Isak nooit moed verloor nie. In die swaarste van tye toe hy in oneindige pyn moes verkeer het, het hy dit nooit gewys nie. Tot op sy einde toe het sy oë geblink, sy glimlag nooit gekwyn.

En toe verlede Woensdag, toe sy die oggend by die kamer ingestap het met sy oggendtee, was hy weg. Sag het Isak gegaan.

Naomi draai terug na die lessenaar en besluit om die laai oop te maak. Nog steeds het sy die warm gevoel om haar dat sy nie alleen daar in die kamer sit nie.
Heel bo in die laai lê ‘n koevert. In groot letters opgeskryf lees sy dit. “Mamma. Vir Moedersdag”. Sy snak na haar asem. Gister was Moedersdag gewees.

Haar hande bewe soos sy die koevert versigtig uit die laai haal. So amper asof dit sal kan breek as sy dit laat val. Stadig maak sy dit oop. Binne ‘n papier. Sy haal dit uit en voel hoe ‘n enkele traan oor haar wang begin loop.‘n Brief, dink sy. Stadig vou sy die papier oop. Stilte. Trane. Sy lees met ‘n gebroke stem :”
Ma

Ek skryf vandag vir ma
‘n gedig sonder ritme en sonder rym.
Dit wat ek wil sê is tog so eenvoudig,
want dit borrel vanuit my hart.

Donker was die dag; ek moes gaan lê,
my lewens uurglas so byna byna leeg,
maar jy het my by die hand geneem
en opgedra aan God.
Langs my sy was ma altyd daar,
in jou oë het ek weer krag gevind.
Ek het opgestaan en voortgegaan!
Moederliefde het my op vleuels van die wind gedra!

Die trane het ek nooit gesien,
die smart so goed vermom.
Ek verstaan dit was ‘n tyd van hel,
maar saam is ons daar deur!

Dankie – alleen sou ek nie kon.
Ma is my Sion in my noorde,
die rots waarop ek staan…

Ek skryf vandag vir ma
‘n gedig sonder ritme en sonder rym.
Dit wat ek wil sê is tog so eenvoudig.

Ek is ewig lief vir ma!”

Isak se swanesang. Naomi kan nie waterval van trane keer nie. Alleen sit sy daar en huil. Maar nie meer trane van rou nie! Nee. Dit is trane van verligting. Sy het haar antwoorde waarop sy so gewag het. Haar kind het gegaan met vrede in sy hart. Sy weet nou dat hy lief was vir haar. Al het hy dit baie vir haar gesê. Nou weet sy dat sy die gedagte van Isak met liefde kan koester. En dit sal sy doen tot sy eendag haar kop sal neer lê.

En wat Naomi nie kon sien nie was dat daar voor Isak se kamer venster in ‘n volle glorie ‘n sonneblom gestaan het. ‘n Enkele sonneblom. En op die blom se hart van goud, ‘n enkele druppel dou…


Die einde.







Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Pragtig geskryf.
9 jaar 2 maande 2 weke 22 ure oud


my vriend, dis skitterend, ek kan net Naas se trane deel. soveel mammas se seer kan nie eers so getroos word nie, maar ek sal eendag jou woorde onthou.
a.
9 jaar 2 maande 2 weke 1 dag 10 ure oud



Sonsoene

deur Doret Johnstone-Robertson

In hierdie versameling verse is daar telkens verwysings na die natuur: die son, die maan, die sterre, blomme, seisoene; en ook na God - die bron van inspirasie, vrede en vreugde.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar