Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek staan voor die spieël in die aanttrekkamer van die klein kapel en knap my grimering op. My selfoon vibreer in my handsak, maak sy kenmerkende diskrete piep-piep-geluid, maar ek ignoreer dit. Vir 'n paar minute soek ek net stilte en alleen wees. Ek is uitgeput, moeg van reëlings tref en telefoon antwoord, tee drink saam met besoekers en mene se simpatieke woorde en omhelsings verduur. Ek weet hulle bedoel goed, maar dit raak alles net te veel.

Ek bêre my grimeersakkie in my handsak, skakel my selfoon af en gaan staan by die venster sodat ek kan uitkyk op die parkeerterrein. Daar staan nogal baie voertuie, sien ek. 'n Paar mans staan half eenkant en rook. Ek ken net een van hulle, die res is almal vreemd.

'n Krom ou man kom hand aand hand met 'n ewe krom ou tannie aangestap. Stadig en statig met hulle kieries. My ma se oudste suster en haar man. Ek wonder hoeveel van my ma se mense is nóg vandag hier? Ek oorweeg dit vir 'n oomblik om in die kapel in te gaan en te gaan kyk, maar bedink my dan. Ek's nie lus vir mense nie.

'n Sagte klop aan die deur laat my opkyk en toe die deur oopgaan, is dit een van die lyksbesorgers wat sy inloer. "Ons kan maar so oor tien minute begin," sê hy en ek knik. Hy trek die deur sag agter hom toe, gewoond daaraan om saggies met die dooies om te gaan.

Hoekom is begrafnisondernemers altyd so verskriklik somber? Al asof dit hulle eie bloedfamilie is wat dood is. 'n Verskriklike verlies. Donker pakke, donker dasse, sagte, donker stemme, nie 'n sweem van 'n glimlag nie...

Ek stap saam met die familie heel laaste by die kapel in en gaan sit in die voorste ry. Vermy oogkontak sover moontlik, loop kop onderstebo. Laat die mense maar dink wat hulle wil. Die predikant lewer 'n hartroerende mooi boodskap, bid vir die familie en vriende, sê dankie vir die oorledene se lewe. Iemand huil verdrietig, ek hoor die geritsel van tissues rondom my.

"Soos julle almal weet, was oom Jon vir ses en dertig jaar met tannie Linda getroud," sê die predikant en sy oë gly oor die roubeklaers. "Hoewel hy nooit kinders van sy eie gehad het nie, het hy tannie Linda se twee soos sy eie aangeneem en grootgemaak. Boetman kan ongelukkig nie vandag hier wees nie, maar Fransisca is hier en ons gee nou vir haar 'n geleentheid om 'n paar woorde oor wyle oom Jon te sê." Hy kyk na my en ek staan op, gaan staan by die mikrofoon wat reggesit is. Ek tik op die mikrofoon. Dood. Dan voel-voel ek na die skakelaar teen die kant, skuif dit op, tik weer op die mikrofoon. Steeds dood.

'n Man kom van agter af gestap, 'n ander mikrofoon en draad in die hand. "Ons gee net so 'n oomblikkie kans," sê die predikant. "Tegnologie werk mos nie altyd saam nie." Die man koppel die ander mikrofoon en toets dit. Dit werk. Hy stap weer agtertoe, die foutiewe mikrofoon en draad in die hand.

Ek kyk na die kapel vol mense. Baie familie, so hier en daar iemand van my ma se mense, vriende van my stiefpa. "Ek en my boetie was twee jaar oud toe ons eie pa dood is. Ek dink nie een van ons kan hom regtig onthou nie. Wat ons wel onthou, is dat dit vir 'n lang tyd net Ma en ons twee was. En toe, op 'n dag, kom oom Jon. Hy was soos magic in ons lewens. Want hy't met ons gespeel en ons parkie toe gevat en allerhande dinge met ons gedoen wat 'n pa sou doen." Ek sien hoe die mense glimlag, hoe party hulle koppe knik. Ek en Boetman was so bly gewees toe oom Jon en Mamma trou... Maar hy was NOOIT my pa nie." Ek hoor hoe party mense hul asems skerp intrek.

"Ek is nie spyt pa Jon is dood nie. Boetman ook nie. Enkele maande nadat hy en my ma getroud is, het hy met sy streke begin. Speletjies. Lekker speletjies, volgens hom. Nuwe speletjies. Eers was dit net ek. Later Boetman ook. Hy't ons bang gepraat, gesê ons mag nie vir Ma daarvan sê nie. Nie dat sy buitendien veel geweet het nie, want die drank en pille het haar verstand benewel." 'n Man staan op. Pa Jon se neef. "Fransisca..."
"Sit en luister! Ons moes goed met pa Jon en met mekaar doen. Gruwelike dinge, alles deel van sy speletjies. Ek was veertien jaar oud toe hy besluit het ek is gereed vir seks. Wat hy met my arme boeta gedoen het... " Ek sug. "Ek het amper sewe en dertig jaar lank stilgebly hieroor. Ek weet baie van julle wat hier sit dink ek en Boetman is die ondankbaarste kinders onder die son. Skaars klaar met skool, toe foeter ons oorsee. Oorsee was ver genoeg van hóm af. Maar nie ver genoeg van jou seerkry af nie."

"Daar was die ander kant van pa Jon ook. Die man wat 'n siek duif sou versorg, of iemand met kar moeilikheid langs die pad sou help. Die man wat maklik kon lag en gesels en geliefd was onder sy vriende. Die gesig wat hy vir die buite wêreld gewys het." Ek kyk af, sien 'n vieslike vuil kol op die mat raak. Dan kyk ek op en glimlag. "Pa Jon, Janus-gesig man, ingeval jy gewonder het, ek en Boetman is ten spyte van alles okay. Nou kan jy in vrede rus, die waarheid is uiteindelik uit."

Ek stap terug na my sitplek, kry my handsak en stap by die kapel uit. Ek voel hoe die mense my agterna kyk, maar niemand sê iets nie. Selfs die predikant weet nie heeltemal wat om te sê nie, maar ek hoor sy stem draal. Dit klink of hy bid.

Toe ek buite kom, lig ek my kop na die son en voel hoe die warm strale van ie son op my vel skyn. Weldadig warm soos die lewe. Die lyksbesorger van vroeër kom na my toe aangestap, sit sy arms om my en glimlag. "Ek is trots op jou, Fransussa."



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

DIE DODELIKE SPEL

deur neels claasen

Speurverhaal waarin luit. Kas Dreyer die moord op n smokkelaar ontrafel



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar