Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



Die voordeur klokkie lui. En lui. En lui. Wie kan dit wees, wonder sy. Met hare vol skuim probeer sy ʼn handdoek gryp maar seep brand haar oë en sy weet sy sal dit nie maak nie. Dalk wag die persoon. Haastig vlieg sy teen die trappe af , gelukkig kaalvoet.

Hoopvol maak sy die deur oop. Net die hitte slaan haar asem weg. Haar oog vang ʼn wit koevert wat daar lê. Sy buk vinnig terwyl sy loer, maar die straat is leeg. Op die koevert net die woorde: Troetels. Wie op aarde ken haar troetelnaam wat haar pa nog vir haar gegee het. Sy skeur die koevert oop want nuuskierigheid is haar tweede naam. Net een sin – Sien jou vandag, half vyf by Ons Huisie naby Blouberg, as jy wil weet wie ek is. Net dit. Sy staan daar met papier in die hand, ʼn hand wat liggies bewe. Sy het geen idee. Dan sien sy op die agterkant, ʼn vers.

oor ʼn koppie koffie
wil ek jou sien
dalk gaan stap
langs die bloue see
tot tafelberg sag
in golwe wegsink

Sy kyk op haar horlosie. Dis 12 uur. Nat hare en gesweet van al die werk in die huis. Sy blaai in haar verbeelding deur elke boek en bladsy wat sy kan onthou. Geen idees wat opkom nie. Wie is die man en hoe het hy haar adres gekry. Sy het pas hier ingetrek.

Nuuskierigheid kry die oorhand. Dis tog net ʼn koffie en dis tussen ander mense. Wat kan sy verloor. Sy storm terug boontoe, stort en dan hare droogblaas. Dan haar heerlike parfuum wat sy hou vir spesiale geleenthede. Sy borrel soos ʼn tiener wat vir ʼn eerste afspraak regmaak. Sy sing uit volle bors...Sewe oseane... dit maak haar vrolik. Skielik wonder sy hoekom die lied..dis asof iemand dit vir haar gestuur het om te sing.

Die verkeer is lig vir ʼn Saterdag. En tog voel die stop by elke verkeerslig soos ʼn ewigheid. Hoekom moet elke lig rooi wees as jy haastig is, wonder sy hardop. ʼn Spier spring in haar wang en sy skrik amper en besef die senuwees begin pla. Wie is die man, want die nota was uitgedruk. Geen leidraad.

Gelukkig is daar darem parkeerplek vir haar met smouse wat skielik om haar swerm. Sy maak net geen kontak en kyk stip na die horlosie se wyster. Die horlosie wys dis amper tyd. Sy kyk gou in die spieël of haar hare darem nog in plek is. Dan kyk sy om haar rond maar elkeen gaan sy eie gang.

Skielik druk iemand blomme teen die venster. Sy kyk. Sy sien net ʼn gesig wat agter die blomme skuil. Dan sien sy die nota soos wat sy in die koevert gekry het. Dit moet hy wees. Stadig maak sy die deur oop. Haar oë verstar. Dit kan mos nie wees nie. Hy bly dan oorsee. Middag Troetels, bly om jou te ontmoet en dankie dat jy tog gekom het. Haar hart slaan soos Afrika tromme in haar bors. En met ‘n snik val sy in sy arms. Die man met die grys hare.

© Werner Die WoordSkilder ☼ – 16 November 2015



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Dans van die Vlammevers

deur Evelyn van der Merwe

100 Gedigte met inspirasie, humor en ‘n kykie na die ou dae.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar