Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende




Die voordeur klokkie lui … en lui … en lui. Sy wonder wie kan dit wees? Met hare vol skuim probeer sy ʼn handdoek gryp, maar seep brand haar oë en sy weet sy sal dit nie maak nie. Sy hoop die persoon wag, en vlieg haastig kaalvoet teen die trappe af.

Hoopvol maak sy die deur oop, maar net die hitte slaan haar asem weg. Haar oog vang ʼn wit koevert wat daar lê, en sy buk vinnig om dit op te tel terwyl sy loer of sy iemand sien … die straat is egter leeg. Op die koevert net die woorde: ‘Troetels.’ Wie op aarde ken haar troetelnaam wat haar pa nog vir haar gegee het. Sy skeur die koevert oop want nuuskierigheid is haar tweede naam. Net een sin is op ‘n velletjie papier– ‘Sien jou vandag half vyf by Ons Huisie naby Blouberg, as jy wil weet wie ek is.’ Net dit. Sy staan daar met die papier in haar hand, ʼn hand wat liggies bewe. Sy het geen idee wie dit kan wees nie. Dan sien sy op die agterkant ʼn vers …

oor ʼn koppie koffie
wil ek jou sien
dalk gaan stap
langs die bloue see
tot tafelberg sag
in golwe wegsink

Sy kyk op haar horlosie. Dis al 12 uur en haar hare nat en gesweet van al die werk in die huis. Sy blaai in haar verbeelding deur elke boek en bladsy wat sy kan onthou. Geen idees wat opkom nie. Wie is die man, en hoe het hy haar adres gekry? Sy het maar pas hier ingetrek.

Troetels se nuuskierigheid kry die oorhand. Dis tog net ʼn koffie, en dit is tussen ander mense. Wat kan sy verloor. Sy storm terug boontoe, stort vinnig en blaas haar hare droog. Sy spuit ‘n titseltjie van haar heerlike parfuum aan wat sy hou vir spesiale geleenthede. Sy borrel oor soos ʼn tiener wat vir ʼn eerste afspraak regmaak. Sy sing uit volle bors...’Sewe oseane...’ en dit maak haar vrolik. Skielik wonder sy … hoekom dié lied..dis asof iemand dit vir haar gestuur het om te sing.

Die verkeer is lig vir ʼn Saterdag. En tog voel die stop by elke verkeerslig soos ʼn ewigheid. Hoekom moet elke lig rooi wees as jy haastig is, wonder sy hardop. ʼn Spier spring in haar wang. Sy skrik amper, en besef die senuwees begin pla. Wié sou die man wees, want die nota was uitgedruk … dus is daar geen leidraad.

Gelukkig is daar darem parkeerplek vir haar met smouse wat skielik om haar swerm. Sy vermy kontak met hulle, en kyk stip na die horlosie se wyser - dis amper tyd vir hulle afspraak. Sy kyk gou in die truspieël of haar hare darem nog in plek is. Dan kyk sy om haar rond vir ‘n bekende gesig, maar elkeen gaan sy eie gang.

Skielik druk iemand blomme teen die venster. Sy kyk verskrik op en sien net ʼn gesig wat agter die blomme skuil. Dan sien sy die nota soos wat sy in die koevert gekry het. Dit mòet hy wees. Stadig maak sy die motordeur oop. Haar oë verstar - dit kan mos nie wees nie -hy bly dan oorsee.
“ Middag Troetels, bly om jou te ontmoet ,en dankie dat jy tog gekom het.”
Haar hart slaan soos Afrika tromme in haar bors. Met ‘n snik val sy in die arms van die man met die grys hare, en klankloos en met verwondering vorm haar lippe een naam ‘Willem’.


Die koevert - DEEL 2
Die oomblik is te groot vir haar en sy bars uit in trane. “Dis regtig jy,” kry sy dit uit tussen diep snikke. “Regtig jy.” Sy neem haar twee hande en vou dit om sy gesig, trek hom nader. “Hoe het jy geweet waar ek bly, wie was saam in hierdie wegkruipspeletjie? Sê toe, ‘seblief man.”

Willem lag oopmond en kyk vir haar. “Haar naam begin met ʼn M. En dis al wat ek gaan sê. Sien vinger op my lippe.”

Hoog bo lag ʼn seemeeu ewe verwaand, en swenk weg tot ver oor die see. Tafelberg se hoed is op en die wind se waai roer die blare net-net.

“Kom ons gaan drink iets, ek is so dors na die wag en jy seker ook van die ryery.” Hy gryp haar hand, trek haar nader en plak ʼn soen op haar neus. “As jy wil kan ons eerder vanaand lekker gaan eet. Of is daar ’n ander man wie jou dalk klaar uitgenooi het?” Hy kyk haar gemaak bekommerd aan.

Sy lag uitbundig. “Nee, nee glad nie....ek sou net TV gekyk het vanaand. Kom ons gaan drink ʼn koeldrank en dan wil ek graag langs die see gaan stap. Dit is as jy nie omgee om langs my gesien te word nie.”

Hy gaan staan voor haar, kyk haar stip in die oë. “Met jou stap ek enige plek. Met jou hand in myne.” Hy lag, … “dis te sê, as jy wil.” Ondeund trek hy haar nader, en vir ʼn oomblik is die wêreld net vergete … dis ʼn soen wat die aarde laat bewe.

Sy maak keel skoon, trek haar klere reg en stap vooruit. “Kom, ek is dors, kom koop vir my ʼn koue vrugte sap.”

Die geselskap vloei gemaklik, en is dit ongelooflik dat die gesels net aangaan waar hulle laas opgehou het. Woorde op ʼn rekenaarskerm wat altyd net klankloos was … nou lewe alles. Daar is klank en daar is betekenis, en daar is HY. Sy voel ʼn blos wat oor haar sprei met gedagtes wat sy nie kan of wil keer nie. Haar hele lyf gloei.

“Kom ons gaan maak voete nat,” terg sy hom, “of is jy bang vir ons koue water? Dis net Blouberg.”

Willem spring op, gryp haar hand en gooi ʼn twintig rand fooi neer op die tafel. Hy is vir geen oomblik spyt hy het daardie duur vlug op die ingewing van die oomblik gemaak nie. Die kredietkaart se balans het beslis ʼn duik weg, maar dis môre se probleem. Hierdie vrou is mos goud.

Kaalvoet stap hulle op die warm sand. Haar lag word ʼn klokkespel, en sy dans voor hom deur die vlak waters. Branderplankryers durf branders aan, geklee vir die oomblik. Die son skuif laer en die goudoranje horison raam die blye oomblik.

Hy kyk op sy horlosie. Dit raak laat en hy raak honger. Hy het ʼn dubbelkamer bespreek, maar hy het nog nie die moed gehad om te vra om sy die aand sal oorbly nie. Die hotel lê by die see en sy kan haar kar binne parkeer.

“Troetels, ek wil jou iets vra … maar as jy nie kans sien sal ek dit ook verstaan. Sien jy daardie hotel, dis waar ekke bly vir die naweek. Ek het gehoop dat...” Hy glimlag so mooi vir haar, haar weerstand verkrummel.

Sy storm hom onderstebo dat hy in die water val. “Ja – ja – ja ... ek wil graag die aand by jou deurbring. Ek sal my mooi gedra Willempie, ek belowe.” Guitig lag sy vir hom. “Kom laat ons gaan, my maag skree van die honger. Ek het vanoggend laas geëet.”

Gelukkig het Willem darem ʼn handdoek wat hy saamgebring het om op te sit. “Kom ek droog jou af, dan kan ons met my motor ry. Toe-toe-toe, maak gou, jy mors kosbare sekondes.” Met groot treë vat hulle die kortste pad tot by haar kar.

“Troetels, jy ken jou kar en jy weet waarheen. Ek het die sekuriteitskaartjie by my sodat jy binne kan parkeer” neem hy ‘n selfstandige besluit.

Hy rus sy hand op haar been, en verkyk hom aan hierdie eenvoudige beeldskone vrou. Sy hartklop vinniger as ʼn resiesperd op spoed as hy voel hoe haar hand op syne rus.

Sommer gou is hulle tuis, en hy spring uit om die deur aan haar kant oop te maak.

“Dankie my prins” sê sy en buig diep voor hom. “Ek sluit net my motor, en dan kan ons ingaan. Ek het niks saamgebring vir die onbeplande oorslaap nie, maar ek glo nie ek het enige iets nodig behalwe myself nie né.”

Die hysbak is leeg en soos blits is hulle op die boonste vloer. “Dit moes jou ʼn fortuin gekos het, meneer. En waar kry jy al die geld, mmm?”

“Moet jou nie kommer nie, Troetels, dis môre se probleem.”

Spontaan soen sy hom weer terwyl hulle stap na kamer nommer 7. Binne is dit ruim en splinternuut. Sy storm na die balkon en sien die prag van die see wat onder in die laaste son verdrink.

“Willem, kom hier. Kom staan hier langs my, en kom soen hierdie vrou wat oorloop van geluk.”

Hy neem haar sag in sy arms, die soene verinnig, en weet hulle dat hierdie aand net aan hulle behoort. Hy kyk vir haar, en sy kyk vir hom. Dis in die lug … dis liefde wat hang tussen gister en nou. En sy weet sy begeer daardie lyf wat nog see-nat aan sy lyf kleef.

“Ek is honger vir …” begin hy.

Sy val hom gemaak-kwaai in die rede. “Ek dink ons gaan eers òns eetmaal geniet.” Sy stap nader en trek sy nat T-hemp met een beweging uit. Dan gryp hy haar bloes en knoop dit so vinnig as wat sy dom vingers hom toelaat, oop. Asof die wind waai spat klere in alle rigtings en die rusbank word die naaste bed.

Twee lywe wat mekaar vir die eerste maal ontmoet, word met soene bedek. Tonge daag mekaar honger uit vir ʼn tweegeveg. Lippe word ruspers, en vingers kry voete om liggame te verken. Dit bly neem en gee … en gee en neem. Liefde word ʼn passie wat koorsagtig die wenpaal soek. Twee mense wat soveel het om gee, en weet wat hulle begeer - twee gedagtes word net een, met die mikpunt om die klimaks van die oomblik saam te ervaar. Uitgeput klou hulle aan mekaar, nie een wil los nie. Ware liefde het vanaand sy plek gevind in twee harte.

“Is jy honger Troetels, ons kan gaan uiteet as jy so voel?” Kosbaar druk hy haar teen hom vas, teësinnig om haar te laat gaan.

“Willem, my Willem. Al waarvoor ek honger is, is vir jou, my engel. Ons kan later eet.” Daarmee nestel sy weer in sy arms, en bied haar lippe uitnodigend vir hom aan.

SLOT vervolg

© Werner Die WoordSkilder – 14 Desember 2015



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

koevert 1
Defnitief Eros liefde. Ek wonder net hoe pas die man in haar lewe in...?
3 jaar 11 maande 13 ure oud


Koevert
'n Sprokie vol liefde, sowaar!
3 jaar 11 maande 3 dae 10 ure oud


Die koevert 1
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die LIEFDE projek.
3 jaar 11 maande 3 dae 13 ure oud



Bertha se Stories

deur natasha dutton

"...my issues is maar soos joune, my vrese gegrond op ervarings, dinge waarvoor jy ook bang is. Die enigste verskil is, ek is 'n stort mens, geen badprop wat my geparfumeerde water in toom kan hou nie. Die lewe is nie 'n bad vol foam bath nie, nee jong, so maklik is dit nie. Die poepwalms laat jou verstik, nie eers te praat van die vloeistowwe nie! Maar dis die lewe." Wel, nou weet jy wat om van hierdie boek te verwag...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar