Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



“Troetels, ek is nou honger. Kan ons nie maar by ʼn lekker restaurant gaan sit, al eet jy net slaai, want ek kan nou maklik ʼn yslike steak en skyfies verorber. Ons hoef mos nie na ʼn ‘smart’ plek te gaan nie, die Spur maak mos lekker kos.”

Sy kyk Willem met sulke honger oë aan. “Kyk net hoe woes lyk ek na hierdie soensessie saam met jou. My hare hang in slierte teen my gesig, en daarby het ons nou twee natgeswete lywe ook.”

Hy kyk na haar met sy kop na eenkant gekantel, en fluister net “jy lyk lieflik nes jy is, maar ek is honger en netnou gaan ek jou verslind as ons nie nou ry nie.”

Met ʼn vinnige stort en hare was voel Troetels weer op haar gemak. Toe Willem in die stort is loer sy na die silhoeët van die man wat haar so betower. Sy raak heeltemal weg in haar eie wêreld, en skrik haar koud as sy voel hoe hy haar weer vasgryp met sy nat lyf pas uit die stort. Hoe wonderlik het die lewe binne een dag geword, en met die werklikheid van die liefde wat sy kan ervaar saam met die prins van haar drome.

“Troetels....troetels....is jy met my, of het jy weer vergete geraak in jou drome. Kom jong, die lewe staan nie stil nie, en ons moet nog ʼn ent ry want ek wil daarna nog saam met jou langs die see gaan stap. Dis volmaan vanaand en ek dink net dit gaan die mooiste aand wees. Ek dink nou net ons moet sommer ʼn draai by ʼn winkel maak en ʼn paar goedkoop kerse optel. Dink net as ons op die strand sit tussen daardie kerse wat hulle flikkervlam-danse in mekaar se oë doen ... dis mos die lewe” laat Willem in ʼn steeds romantiese bui hoor.

Gelukkig is daar nog ʼn winkel oop, en spring Willem ewe sjarmant uit en pluk Troetels se deur oop. “Kom, kom ... ons moet gou kerse kry en dan ook ʼn lekker bottel JC le Roux. Sommer ook een glas waaruit ons saam kan drink.”

Sy gryp ʼn pak gekleurde kerse en betaal sommer vir alles, terwyl arme Willem nog probeer om die omskakeling van sy ponde om te reken of hy darem genoeg geld by hom het. “Kom Willempie, jy mors nou tyd en jy wil nog jou maag ook vol kry” laat sy speels hoor.

Die aand verloop verder asof dit so vooruit beplan was. Gelukkig is die restaurant nie baie besig nie, die diens is flink, en die kos word vinnig bedien. John is sommer ʼn puik kelner, en met die belofte van ʼn ekstra fooitjie kry hulle bo-baas diens, en alles met ʼn reuse glimlag op die gesig. Dalk lees hy verby hulle menu en sien reeds waarheen hulle reis is. Troetels geniet haar heerlike hoenderslaai, en Willem sy eie heerlikste steak. Dis weer regte egte Suid-Afrikaanse kos vir ʼn slag wat hy met smaak verorber.

“Willempie, ek weet jy is mal oor nagereg maar ek dink dis nou tyd dat ons hierdie aand gaan afsluit op die strand.” Troetels kyk hom aan met ʼn belofte in haar oë wat blink van opgewondenheid.

Die maan het reeds sy reis vir die aand begin, en sit met ʼn helder vol mond glimlag asof hy weet hy is daar om vir hulle die aand meer romanties te maak. Die strand is verlate, en net die golwe spoel lui-lui uit oor die spierwit sand. Hulle taak is mos vier-en-twintig uur per dag. Met skoene uitgetrek stap hulle oor die sand waar die seediere reeds hulle spore kom los het ... selfs ʼn krap wat dwars draf om ook sý aand êrens te gaan afsluit.

“Kom ons plant al ons kerse sommer hier, en dan kan ons mos ʼn entjie gaan stap.” Dis heeltemal windstil, en die aand kon nie meer volmaak gewees het nie. Hand aan hand stap hulle oor die sand wat tussen hulle tone uitloer en uitbundig, soos tieners, lag hulle met elke tree.

Willem draai na haar, en vir ʼn oomblik huiwer sy. Sy lees die kyk in sy oë en sien hier kom iets wat op sy hart is.

“Troetels, ek het nie hierheen gevlieg sonder om mooi oor alles te dink nie. Ons het ure gesels en mekaar op ʼn heeltemal ander manier leer ken, en dit nog met my in ʼn ander land. Londen is waar ek nou my lewe lei en waar ek goed verdien, en my lewe weer kon opbou. Ek het vandag besef toe ek jou sien dat ek werklik kan sê dat ek lief is vir jou, en ek hoop dat jy ook darem iets in jou hart vir my voel.”

Trane rol een vir een oor haar wange as sy net na die man voor haar staar, en sy val in sy arms. Met ʼn rou snik uit haar bors kry sy die woorde uit wat sy al die heeldag op haar tong dra, maar te bang was om dit te uiter teenoor die man wat haar voete onder haar uitgeruk het. “Ek is liewer vir jou as wat jy ooit sal besef, en jy het my weer mens gemaak, my heel gemaak van al my stukkende gisters. So Willempie met die gryse hare, hierdie vrou wat hier voor jou staan het jou lief soos ek nog nooit in my lewe lief gehad het nie.”

Terug by die kers-kring gaan sit hulle styf teen mekaar, en die liefde vloei spontaan tussen twee mense wat gister nog nie eers mekaar werklik geken het tot die ontmoeting vroeër in die middag nie. Sy gryp die bottel uit sy hand en sê met die vrolikste stem denkbaar “Willem, met hierdie sjampanje wil ek vanaand vir jou myself gee sodat jy my vir altyd lief kan hê soos ek jou reeds lief het.”

Die bottel skiet oop en die bruis van sy inhoud vloei oor haar hand. Sy lek elke druppel op, drink ʼn groot teug uit die bottel, en gee dit dan vir Willem. Saam vloei die borrels uit in hulle droë kele, en trek die maan ʼn frons oor sy gesig waar hy twee mense sien wie se lywe een word.


Die koevert – DEEL 4

Die laaste kers blaas ook sy asem uit, en sy rook trek in ʼn reguit lyn op na waar die maan nog met ʼn glimlag afloer na die strand. Willem kyk na die mooi vrou wat hier langs hom uitgestrek lê, en alles voel nog soos ʼn droom vir hom. “Kan soveel dinge, mooi dinge in so ʼn kort tyd gebeur”, wonder hy hardop.

Troetels maak haar oë stadig oop, en draai met ʼn glimlag op haar mond, wat wyer loop as die strand, na hom en neem sy hand. “Willem, jy is die wonderlikste, mees aantreklikste man wat ek nog in my lewe ontmoet het. Vir my is dit die grootste oomblik in my lewe, en ja ek het al ook lief gehad. Die wonder van hierdie liefde is net ongelooflik”.

Hy trek haar op sodat haar naakte lyf styf teen syne is. “Troetels, jy is die asemrowendste, lieflikste vrou wat ek nog ooit ontmoet het. Ek is geen oomblik spyt ek het hierheen gekom om jou te kom verras nie. Dit is ongelukkig ʼn kort kuier, want my werk het laat weet dat daar ʼn belangrike projek ingekom het, en hulle soek my onmiddellik terug in Londen. So, ek moet ongelukkig later vanmiddag vlieg”.

Trane loop oor haar wange want hoé kan dit sommer net alles so eindig. Hierdie man wat in haar lewe ingestap het is weer oppad huis toe. Sy hou hom so styf vas dat hy nie haar trane kan sien nie, maar haar lyf begin te ruk soos die hartseer deur haar sny. “Willempie, dis mos te gou , en wanneer sien ek jou dan weer ... of gaan ek jou nooit weer sien nie. Is dit wat nou vir ons voorlê?”

Hy kyk in haar groen oë en lig haar kop op, en sê: “Nee Troetels, ek glo nie dis ʼn finale groet nie, nie na wat ek alles saam met jou ervaar het in hierdie kort rukkie nie. Ek moet ongelukkig terug gaan want dit is ʼn groot projek wat ons maatskappye hard voor gewerk het. Jy gaan my weer sien, dit kan ek jou belowe”.

Stadig stap hulle hand om die lyf terug na waar die kar geparkeer is. “Ek gaan hierdie leë bottel sjampanje vir my as soewenier saam huis toe vat. Ek weet dit is net ʼn bottel, maar dis een wat vir my soveel waarde gaan hê as ek elke dag aan jou dink.” Stadig maak hy vir haar die deur oop sodat sy kan inklim. In totale stilte ry hy terug na die hotel, elkeen met sy eie gedagtes wat probeer om alles te verwerk wat in die afgelope twaalf ure gebeur het. Stadig gaan die hek oop en hy ry na binne. Dan stap hulle traag na die hysbak sodat hulle darem ʼn lekker stort kan geniet voor die groot afskeid.

Willem bestel vir hulle ʼn heerlike ontbyt maar die kos lê op die borde onaangeraak. “Kom Troetels, ons moet iets eet. Ons is nou baie emosioneel maar hierdie dag is net ʼn begin. Ons gaan nie nou sommer opgee nie, nee ... nee, en nogmaals NEE. Dit is net werk en verander mos niks aan my gevoelens vir jou nie.”

Sy kyk hom aan met haar kop skuins gekantel. “Willem ... WILLEM ... ek het jou so ontsettend lief, jy beter sorg dat ons mekaar weer sien.”

Hy gryp haar hand styf vas, en fluister: “Jy is die beste dinge wat nog in my lewe gebeur het, jy sal nog sien, ons gaan ʼn vol lewe saam geniet.”

Na ʼn gepeusel aan die ontbyt wat amper net so terug gaan op die trollie, neem Willem sy tas en begin haastig sy klere in te pak. Sy staan styf teen hom om vir oulaas nog so naby as moontlik aan hierdie wonderlike man te kan wees. Sy wil die manlikheid van hom indrink en dit alles weg bêre tot hulle mekaar weer sal sien. Sy gryp haar foon, en laat hulle vir oulaas saam ʼn selfie neem sodat sy darem hierdie oomblik elke dag saam met haar kan dra.

Die afskeid in bitter swaar toe sy in haar eie kar klim en weg ry. Sy kyk in haar truspieël hoe hy al hoe kleiner word, en sy sien net sy arms wat nog wild swaai, en meteens is hy weg ... so asof hy glad nie daar was nie, asof die ure saam met hom net ʼn illusie was. Sy stop skielik en trek van die pad af. Sy wil omdraai, net nog ʼn paar minute met hom deel, maar sy weet dit sal dinge net erger maak. Sy haal haar foon uit en kyk na die laaste foto van hulle twee, en sy weet vir hierdie man gaan sy wêrelde versit.

***

Willem kyk uit oor die Teemsrivier, sy gedagtes baie ver van hier. Hardop praat hy met homself. “Ek wens ek kon net weer ʼn dag saam met jou wees Troetels, net een dag se volle vier-en-twintig uur. Jy is en bly die vrou van my drome, en ek wil my lewe met jou deel”. Hy draai weg van die venster as daar ʼn klop aan die deur is. Hy maak oop en daar staan sy sekretaresse met ʼn wit koevert in haar hand.

“Meneer, jammer om te pla, maar hier was ʼn vrou gewees wat net gevra het of u hier. Sy het toe vir my die koevert gegee, en voor ek iets kon vra het sy omgedraai en verdwyn. So ek kon nie uitvind wie dit was en waarom sy vir u gesoek het nie.”

Hy hou die koevert in sy hand, kyk na die geskryf, maar dit is getik en geen aanduiding van waar dit kom nie. Stadig skeur hy die koevert oop, en daar is net ʼn enkel vel papier wat hy uithaal met die woorde: ‘Ek sien jou vyf-uur by Trafalgar-plein by die spuitfontein. Hy laat sak sy hand en ʼn traan rol oor sy wang. Kan dit wees, kan dit regtig wees? wonder hy.

Willem storm uit sy kantoor en gil net vir Gill dat sy maar boodskappe moet neem as iemand hom soek, want hy moet dringend in die stad wees. Hy hardloop met sy baadjie wat hy so in die hardloop probeer aantrek. Die hysbak vat hierdie keer net te lank om tot bo te kom, en hy storm sommer self die tien vloere na benede, vat net elke tweede trap grond.

Die ondergrondse treine is vinnig en Willem is in ʼn japtrap by sy bestemming. Hy weet van ʼn Suid-Afrikaanse winkel hier naby, en hy weet net wat hy daar moet kry. En dan nog ʼn bossie blomme ook gryp voor hy by die plein aankom.

Die groot horlosie slaan sy vyf slae en hy staan verbouereerd en rondkyk. Hy wil weet of sy 6de sintuig darem reg was.

“Willem, is dit jy Willem? Jy kan maar omdraai.” Hoe kosbaar bekend klink dit nie.

Stadig draai hy in die rigting van die stem en sien ʼn vrou wat lyk soos Troetels, maar iemand wat gewig aangesit het. Hy storm op haar af, gryp haar om die lyf en bars uit in trane van blydskap. Hy kyk na haar en soen haar met mening. “Wat maak jy hier, en hoekom al die tasse? Jy lyk so goed en so pragtig. Ek het my dood verlang na jou, en hier staan jy voor my.”

“Willempie, ons is hier want ons het jou gemis.”

“Ons ... maar jy is dan hier op jou eie” vra Willem met oë wat groot-oog vir haar loer.

Sy kyk hom weer skeef-kop aan, en sê: “Willem, Willem, hier is iets wat ek in ʼn groot koevert vashou, en die inhoud gaan jou antwoord wees om jou ONS-vraag.”

Hy neem die groot bruin koevert uit haar hand, maak dit stadig oop en trek die inhoud uit. Onmiddellik sien hy dat dit ʼn sonar is en hy gryp haar om die lyf en vra: “ Is dit wat ek dink jy vir my wys ... kan dit regtig waar wees! Dis nie dalk ʼn groot nagmerrie wat ek hier ervaar nie?”

“Nee Willem, die aand op die strand onder die maanlig was ʼn vrugtevolle aand. Ek en jy gaan die ouers word van ʼn tweeling, en ja ... een van elk. En dis waarom die tasse hier staan Willem, want ek, Troetels, is hier om te bly sodat ons saam hierdie groot fonds van ons kan groot maak, en vir hulle kan leer hoe wonderlik ons liefde is. Ek het jou lief Willempie, en ek hoop ek sal jou die gelukkigste man op hierdie aarde maak.”

© Werner Die WoordSkilder – 15 Desember 2015



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

koevert 3
Mooi. Nou weet ek hoe hy in haar lewe pas - dalk moet jy dit duideliker maak aan die begin van die storie? Stem saam met Kiekies.
3 jaar 11 maande 1 week 1 dag 2 ure oud


3+4
So heerlike droomverlore romantiese verhaal. And they lived happily ever after! Presies soos dit in stories is.
3 jaar 11 maande 1 week 2 dae 22 ure oud


Die koevert Slot
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die LIEFDE projek.
3 jaar 11 maande 1 week 3 dae 3 ure oud



HOOP

deur Ano

HOOP is 'n hulpmiddel vir persone wat sukkel om die dood van 'n geliefde te verwerk. Die hoofstukke is kort en aan die einde van elkeen is 'n paar vrae wat jy aan jouself kan stel. Vrae soos 'Van watter metodes maak jy gebruik om van jou rou af weg te vlug', of 'Hoe hanteer jy verjaarsdae en ander feestelike byeenkomste'? Hierdeur hoop ek die leser sal tyd in introspeksie deurbring en vir homself 'n paar antwoorde vind.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar