Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende



“Troetels, ek is nou honger. Kan ons nie maar by ʼn lekker restaurant gaan sit, al eet jy net slaai, want ek kan nou maklik ʼn yslike steak en skyfies verorber. Ons hoef mos nie na ʼn ‘smart’ plek te gaan nie, die Spur maak mos lekker kos.”

Sy kyk Willem met sulke honger oë aan. “Kyk net hoe woes lyk ek na hierdie soensessie saam met jou. My hare hang in slierte teen my gesig, en daarby het ons nou twee natgeswete lywe ook.”

Hy kyk na haar met sy kop na eenkant gekantel, en fluister net “jy lyk lieflik nes jy is, maar ek is honger en netnou gaan ek jou verslind as ons nie nou ry nie.”

Met ʼn vinnige stort en hare was voel Troetels weer op haar gemak. Toe Willem in die stort is loer sy na die silhoeët van die man wat haar so betower. Sy raak heeltemal weg in haar eie wêreld, en skrik haar koud as sy voel hoe hy haar weer vasgryp met sy nat lyf pas uit die stort. Hoe wonderlik het die lewe binne een dag geword, en met die werklikheid van die liefde wat sy kan ervaar saam met die prins van haar drome.

“Troetels....troetels....is jy met my, of het jy weer vergete geraak in jou drome. Kom jong, die lewe staan nie stil nie, en ons moet nog ʼn ent ry want ek wil daarna nog saam met jou langs die see gaan stap. Dis volmaan vanaand en ek dink net dit gaan die mooiste aand wees. Ek dink nou net ons moet sommer ʼn draai by ʼn winkel maak en ʼn paar goedkoop kerse optel. Dink net as ons op die strand sit tussen daardie kerse wat hulle flikkervlam-danse in mekaar se oë doen ... dis mos die lewe” laat Willem in ‘n steeds romantiese bui hoor.

Gelukkig is daar nog ʼn winkel oop, en spring Willem ewe sjarmant uit en pluk Troetels se deur oop. “Kom, kom ... ons moet gou kerse kry en dan ook ʼn lekker bottel JC le Roux. Sommer ook een glas waaruit ons saam kan drink.”

Sy gryp ʼn pak gekleurde kerse en betaal sommer vir alles, terwyl arme Willem nog probeer om die omskakeling van sy ponde om te reken of hy darem genoeg geld by hom het. “Kom Willempie, jy mors nou tyd en jy wil nog jou maag ook vol kry” laat sy speels hoor.

Die aand verloop verder asof dit so vooruit beplan was. Gelukkig is die restaurant nie baie besig nie, die diens is flink, en die kos word vinnig bedien. John is sommer ʼn puik kelner, en met die belofte van ʼn ekstra fooitjie kry hulle bo-baas diens, en alles met ʼn reuse glimlag op die gesig. Dalk lees hy verby hulle menu en sien reeds waarheen hulle reis is. Troetels geniet haar heerlike hoenderslaai, en Willem sy eie heerlikste steak. Dis weer regte egte Suid-Afrikaanse kos vir ʼn slag wat hy met smaak verorber.

“Willempie, ek weet jy is mal oor nagereg maar ek dink dis nou tyd dat ons hierdie aand gaan afsluit op die strand.” Troetels kyk hom aan met ‘n belofte in haar oë wat blink van opgewondenheid.

Die maan het reeds sy reis vir die aand begin, en sit met ‘n helder vol mond glimlag asof hy weet hy is daar om vir hulle die aand meer romanties te maak. Die strand is verlate, en net die golwe spoel lui-lui uit oor die spierwit sand. Hulle taak is mos vier-en-twintig uur per dag. Met skoene uitgetrek stap hulle oor die sand waar die seediere reeds hulle spore kom los het ... selfs ‘n krap wat dwars draf om ook sý aand êrens te gaan afsluit.

“Kom ons plant al ons kerse sommer hier, en dan kan ons mos ‘n entjie gaan stap.” Dis heeltemal windstil, en die aand kon nie meer volmaak gewees het nie. Hand aan hand stap hulle oor die sand wat tussen hulle tone uitloer en uitbundig, soos tieners, lag hulle met elke tree.

Willem draai na haar, en vir ‘n oomblik huiwer sy. Sy lees die kyk in sy oë en sien hier kom iets wat op sy hart is.

“Troetels, ek het nie hierheen gevlieg sonder om mooi oor alles te dink nie. Ons het ure gesels en mekaar op ‘n heeltemal ander manier leer ken, en dit nog met my in ʼn ander land. Londen is waar ek nou my lewe lei en waar ek goed verdien, en my lewe weer kon opbou. Ek het vandag besef toe ek jou sien dat ek werklik kan sê dat ek lief is vir jou, en ek hoop dat jy ook darem iets in jou hart vir my voel.”

Trane rol een vir een oor haar wange as sy net na die man voor haar staar, en sy val in sy arms. Met ‘n rou snik uit haar bors kry sy die woorde uit wat sy al die heeldag op haar tong dra, maar te bang was om dit te uiter teenoor die man wat haar voete onder haar uitgeruk het. “Ek is liewer vir jou as wat jy ooit sal besef, en jy het my weer mens gemaak, my heel gemaak van al my stukkende gisters. So Willempie met die gryse hare, hierdie vrou wat hier voor jou staan het jou lief soos ek nog nooit in my lewe lief gehad het nie.”

Terug by die kers-kring gaan sit hulle styf teen mekaar, en die liefde vloei spontaan tussen twee mense wat gister nog nie eers mekaar werklik geken het tot die ontmoeting vroeër in die middag nie. Sy gryp die bottel uit sy hand en sê met die vrolikste stem denkbaar “Willem, met hierdie sjampanje wil ek vanaand vir jou myself gee sodat jy my vir altyd lief kan hê soos ek jou reeds lief het.”


© Werner Die WoordSkilder – 06 Desember 2015



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

MAMMON

deur Piet Schoombie

Mammon handel oor 'n beroepsgholfspeler se lewe en ervarings plaaslik en oorsee. Soos die boek se naam aandui, speel geld deurgaans ’n belangrike rol..



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar