Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

KORTVERHAAL
Geskryf deur : Elize Botes



Die 'konneksie'


Skoene uitskop, koue hande om my warm beker Milo, bene optrek. As ek lang hare gehad het sou ek dit losgemaak het soos die 'girls' op die tv en my kop geskud het vir die gevoel van bevryding! Dit voel asof die rusbank my behoorlik verwelkom en omvou na die lang dag op kantoor.

Sy skuif tot teenaan my en rus haar dogtertjie-hand op my been. Ek draai my kop skuins sodat my wang teen haar sagte haartjies rus. Die sproetgesiggie kyk op. Haar gesiggie is ernstig en die waterige brongitis-ogies kyk my direk en intens aan.

"Mamma, ons moet privaat praat."

Ek frons. Skool was nie deel van haar dag nie omdat sy siek is en moes tuisbly. Is dit wat haar omkrap? Sy is dol oor skool en dit grief haar om 'n onnodige dag tuis te spandeer. Ek sit my koppie Milo neer, draai myself om op die rusbank sodat ons knieë teen mekaar gevou is op die bank en ons gesigte na mekaar gedraai is. Wanneer haar stemmetjie daai presiese woorde uiter beteken dit dis tyd om kopstukke te gesels ...

Haar ogies is ernstig. "Mamma was jy baie jonk toe jy my pa ontmoet het?"
Hoor ek reg? Dit gaan nie oor skool nie maar oor haar pa? "Ja my liefie, ek was baie jonk."
Stilte van haar kant af. Ek kan sien hoe sy haar woorde mooi oorweeg voordat sy dit uiter.
"Ek wil nie snaaks wees nie maar Mamma was TE jonk want dis hoekom Mamma nie kon gesien het my pa is NIE pa-materiaal nie".
Ek het nie 'n antwoord nie, inteendeel, ek is eintlik stomgeslaan!
Haar voorkop is in 'n frons geplooi. "Is Mamma seker hy is my pa?"
Gonnatjie piet, waar kom die kind aan hierdie vrae? "Natuurlik my kind!"
Die uitdrukking op haar gesiggie verander geensins nie en die sproetjies is amper halfmaan gedruk deur die hewige frons. "Hoe seker is Mamma hy is my pa?"
"Doodseker my liefie, hy IS jou PA!"
'n Doodse stilte en dan 'n baie besliste antwoord .. "Ek dink ons moet bloedtoetse doen want ek dink nie hy is my pa nie want daar is nie 'n konneksie tussen ons twee nie."
As daar nou 'n luggie van buite deur die vensters moes kom sou ek sweerlik omgeval het. "Huh? Hy is jou pappa vir elf jaar al. Watse konneksie praat jy van?"
Sonder huiwer of skroom kom die antwoord : "As hy my pa was dan sou hy lief gewees het vir my en met my gepraat het en aandag aan my gegee het en nie net altyd my afgebreek het en geld gee nie. Regte pa's doen sulke goed met hulle bloed kinders."
Wat antwoord ek 'n kind van elf wat so korrek in haar stelling is sonder om haar pa in 'n slegte lig te stel deur met haar saam te stem? Sy kla nooit. Sy is 'n sonstraal. Ek is bewus van die feit dat haar pa dink dis genoeg aandag en liefde as hy haar 'n geldjie in die hand stop en aflaai by die winkelsentrum en ek weet ook sy kom altyd stil en teruggetrokke terug van haar pa af. Tog het ek nooit besef presies hoe sterk sy oor die saak voel nie.
"Maar my liefie, het jy al vir pappa al hierdie goetertjies gesê?"
"Nee." Haar stemmetjie is onverskrokke en sonder terughouding.
"Maar hoekom nie? "
"Want hy luister nie en hy stel nie belang in wat ek sê nie. Ek praat nooit een sin klaar nie want ek irriteer hom as ek praat."
My hart maak 'n eina-ouch. Hoe moet 'n kind voel as sy nie wil praat nie omdat sy agterkom sy irriteer haar pa? "Maar hoe wil jy dan hê moet pappa weet sy optrede pla jou?"
Sy kry 'n vies uitdrukking op haar gesiggie. "Mamma ek is plein oMgeskik met hom maar hy is te stupid om dit agter te kom."
Wow. Ek is nie gewoond my kind gebruik sulke uitdrukkings nie maar ek weet dis nie nou die regte oomblik om haar oor die vingers te tik daaroor nie. "Maar my kind, mens is nie oMgeskik met mense nie, nooit ooit nie al maak hulle jou kwaad. Dink jy nie dis beter as jy net reguit met hom praat nie?"
Ek weet sommer ek gaan geen hond haaraf maak toe sy my antwoord nie. "Ag dit maak nie saak nie want hy kom dit nie agter nie. As die konneksie daar was sou hy dit agtergekom het Mamma."

My mamma-bootjie is skielik op 'n skommelende see. Liewenheer, ek het al soveel gesprekke met haar pa gehad en vir hom verduidelik dat sy liefde en aandag verlang. Sy is al groot genoeg om te verstaan en waar te neem en haar eie gevolgtrekkings te maak. Gereeld is haar tas gepak as dit sy naweek is en net so gereeld kom sy stil en teruggetrokke terug. Liewenheer, sy is so 'n bondeltjie plesier en liefde. Kan haar pappa dit nie maar net eenkeer raaksien nie?

"Mamma, Ma sê altyd ons moet die humor in alles sien nê?"
Ek glimlag. Ag dankie tog, die onderwerp word ligter. My skommelende mamma-bootjie begin weer stabiliseer. "Jip."
"Nou Mamma, wat is die humor daarin dat my pa so oud is?"
Gonna, ek is seker daar het so pas 'n dwarswind opgesteek oor die ouer-vaarwaters. "Maar my liefie, jou pappa is mos nie oud nie! Hy is net so oud soos al Mamma se ander vriende. Hy is maar net 4 jaar ouer as Oom Steven in ons kerk en jy sê nooit Oom Steven is oud nie?"
"Nee my pa is nie! En Oom Steven is ook nie oud nie, hy is Cindy se pa en hy is lief vir Cindy en die kinders by die kerk. My pa is ouer as oupa want hy sit net waar hy sit en hy beweeg net as hy vleis eet of drink."
Nee kyk, wat te erg is, is darem nou te erg. Ek probeer my stemtoon aanpas om nie té kwaai te klink nie, maar darem berisperend genoeg dat sy weet sy mag nie so praat nie. "My liefie nee, dis darem nie reg nie, mens praat nie so nie."
Dit lyk asof sy wil huil maar ek weet nie of dit my stemtoon of haar eie frustrasie is wat haar so laat voel nie. "Mamma, mag ek lelik praat?"
"Hang af wat jy wil sê. Jy mag nie vloek nie."
Sy kyk op haar hande af en loer dan onder haar ooglede op na my. "Mamma weet mos ouma sê altyd iets as iemand net heeldag wil sit? Mamma, ek dink Pappa se gatwortels het ook al vasgegroei waar hy sit want dis wat ouma sê gebeur met mense wat niks wil doen nie."
Moet ek lag of raas? My mamma-hart sê ek moet raas maar my menswees laat my 'n glimlag onderdruk. Stilbly is soms ook 'n antwoord. Eerder maar net weer 'n slukkie Milo neem en wag dat die skommel-bootjie weer in rustige waters vaar.

"Mamma, ek gaan volgende jaar hof toe die dag na my verjaarsdag."
My hande vat die beker onwillekeurig stywer vas en die Milo stort amper oor die rand. "Huh? Hof toe? Vir wat?"
Waterpas kyk sy my in die oë ... "Want ek het gaan uitvind by die skool en as ek 12 is mag ek sê ek wil nie meer my pa sien nie en ek kan dit in die hof gaan sê en dan kan my pa nie sê dis Mamma se skuld nie."
Ek het nie woorde nie ... ek het nie eers 'n antwoord nie! Is haar gevoel van verwerping regtig so diep gewortel? Ek sit my beker neer en vat haar een handjie styf in myne. "My liefie, jou pa is jou pá my kind. Hy kom haal jou elke tweede naweek en jy gaan dan altyd saam. Al die pappa's is nie dieselfde nie en almal speel en praat nie met hulle kinders nie. Daar is kindertjies wat nie eers die voorreg van 'n pappa hét nie my liefie."
Lank en woordeloos staar sy in my oë totdat ek naderhand dink sy gaan nie antwoord nie. Sy haal haar handjie tussen my twee hande uit, staan van die rusbank af op en kom staan reg voor my. Sy vou haar kinderhandjies om my twee hande en haar waterige ogies straal simpatie uit ... "Hy is nié my pa nie want ons het nie daai konneksie nie en Liewe Jesus sal mamma volgende keer beter oë gee om pa-materiaal raak te sien, moenie worry nie Mamma."

Ek druk haar teen my vas en ek weet ek moenie nou huil nie. Ek glimlag teen haar skouertjie maar die eina-ouch in my hart voel skielik soos 'n mes wat heen en weer geruk word in my binneste. Liewenheer ... sy is só vasberade en selfstandig ... in U Hande gee ek haar oor ... skenk my insig, leiding en genade asseblief ..."

Geskryf deur : Elize Botes
14/6/2006



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Hi Elize,

My hart het nogal uitgegaan na daai dogtertjie!

Ek sien jy was BESIG, vrou! Lekker skryf in Pretoria se koue winter. Dis nou somer hier waar ek sit en raak sommer aan daai ander "vreeslike warm plek".

CarolW
13 jaar 9 maande 3 weke 1 dag 15 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar