Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dis Oukersaand. Leona is so kwaad vir Jakobus, dat sy nie ‘n woord met hom praat terwyl hulle oor die Karoovlaktes voortspoed op pad huis toe nie.

Hulle is die eienaars van die enigste motorhawe op hul dorp. Jakobus is die werktuigkundige en Leona behartig die kantoor en die petrolverkope. Drie maande gelede het Leona een aand, toe hulle die werkswinkel met huistoegaantyd toegesluit het, oor ‘n stuk gereedskap op die vloer gestruikel en per ongeluk in die ghriesput geval. Sy het beide bene, haar bekken en haar regterheup gebreek en moes maande in die hospitaal in die stad deurbring. Jakobus het getrou elke tweede Sondag die langpad aangedurf om haar te besoek.

Die Saterdag voor sy eerste besoek het sy hom gebel en gevra om haar vier somersnagrokkies in haar onderste laai saam te bring, want sy was moeg vir die hospitaaljurke. Jakobus, wat sy lewe lank nog onoplettend en ongeërg oor huissake en vrouedinge was, het dou-voor-dag die Sondagoggend almal in die hospitaalsaal op haar selfoon wakker gelui en gevra: “Hoe moet ek weet watter van die stapel nagrokke in die laai is die somerslaapklere?”
“Dis die vier sonder moue, my ou man.”
Hy het met haar vier onderrokke in ‘n Checkerssak by die hospitaal opgedaag. ‘n Swarte. ‘n witte en twee vleeskleuriges. Sy moes maar gelate ‘n verdere twee weke in die hospitaaljurke deurbring.

Eergister het sy onverwags gehoor dat sy vandag ontslaan sou word. Sy sou tuis wees vir Kersfees! Sy sou nou wel nie tyd hê om ‘n kersmaal te kook nie, maar om by haar eie kombuistafel met selfs net roereier op ‘n braaibroodjie saam met Jakobus op Kersdag te sit, sal vir haar ‘n koningsmaal wees. Toe tref die ontstellende gedagte haar. Klere! Sy sou vir Jakobus moes verduidelik watter klere om vir haar saam te bring om die hospitaal mee te verlaat. Nadat sy lank daaroor nagedink het, het sy besluit om hom te vra om haar rooi rok, die een met die kragie, te bring. Sy besit net een rooi rok. Genadiglik is haar man nie kleurblind nie en is daar nie ‘n kans dat hy met die verkeerde rok sal opdaag nie.

Jakobus het vroeër vanmiddag met ‘n allemintige groot tas by die hospitaalsaal ingestap. Sy het heimlik by haarself geglimlag. Dit lyk darem of hy ag geslaan het op haar tirade oor die Checkerssak ‘n paar maande tevore. Terwyl hy die gordyne om haar bed diggetrek het, het sy gesê: “Ons het mos darem kleiner tasse.”
Hy het met ‘n frons na haar gekyk en geantwoord: “Maar jou rooi rok sou mos nie in een van hulle pas nie. Die een met die kraag.”

Sy het in ongeloof gestaar na die rok in die tas. Dit was die rok wat sy in ‘n lawwe dorpskonsert die jaar na hul troue, meer as dertig jaar gelede, aangehad het. Sy het destyds die rol van Aspoestertjie se stiefma vertolk. Die groteske rooi gewaad was haar uitrusting na die koninklike bal. Dis gemaak van blink satyn met lae en lae stokstywe rooi net wat onder die wye uitskopromp vasgewerk was en effens uitgesteek het. Die nousluitende bo-lyfie is afgewerk met ‘n kraag van dieselfde stokstywe rooi net wat ingeplooi regop gestaan het soos ‘n waaier om haar agterkop. En die hele tabberd was vol silwer blinkertjies geplak. “Waar op gods aarde het jy hierdie rok uitgekrap?” het Leona deur haar dun lippies gesis.
“Ek moes nogal baie lank soek. Ek het dit op die ou end in een van die bokse op die balke in die buitekamer gekry,” het Jakobus kennelik hoogs in sy skik met homself geantwoord.

Jakobus moes die bont gehekelde lappieskombersie in die motor gaan haal om oor haar skouers te gooi, want die ritssluiter moes oopbly omdat die rok na al die jare hopeloos te klein was. ‘n Verpleegster het haar in die gang af en oor die parkeerterrein in ‘n rolstoel na hul motor toe gestoot; haar stomme man bedremmeld met die yslike tas en die twee krukke agterna. “Dame lyk soos Vader Krismis se vrou,” het die karwagter gesê.


“Dis seker onvanpas om nou vir jou die goeie nuus te vertel, maar Marita en die kleinkinders sou vanmiddag al aangeland het vir Kersfees. Hulle het gister ‘n vlug in Parys gehaal,” verbreek Jakobus die stilswye in die motor toe hulle net sowat ‘n kwartier se ry van die huis af is.
Haar hart bokspring skielik van vreugde. “Van wanneer af weet jy al?”
“Van verlede week af. Ek het dit gehou as ‘n verrassing vir jou.”
“Gelukkig het jy darem genoeg tyd gehad om die kersboom by ou Pieter te gaan kap.”
“Die kersboom?” vra Jakobus oorbluf.
Leona bars in trane uit. Dis nou die laaste strooi. Hul enigste dogter en liewe kleinkinders is by die huis vir Kersfees. En daar sal nie ‘n kersete en presente wees nie. En die beddens is seker nie oorgetrek nie. En die huis is tien teen een nie eers skoon nie. En daar sal vir die eerste keer in hul getroude lewe nie ‘n kersboom wees nie.

Sy sien die gehuurde motor van ver af voor hul huis staan. Toe hulle op die oprit stilhou, kom Marita en die kinders hulle tegemoet gestorm. Leona is so oorstelp dat sy van voor af begin grens. “Ek is so jammer dat ons nie eers ‘n kersboom vir die kinders het nie!” snik sy op Marita se skouer toe haar dogter die motordeur oopmaak en haar uithelp. Meteens sien Marita haar ma se uitrusting raak. Sy kruip op die sypaadjie rond soos sy lag. “Ag hemeltjie tog, Pappa! Wat het jy nou weer aangevang? En wat wed ek julle ons is vanaand die enigste huis op die dorp wat ‘n lewende krismisboom op krukke het!”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

AC
DIE KRISMISBOOM
Ha ha ah ha ha hahaah - dis baie mooi geskryf.
8 jaar 4 maande 2 weke 6 dae 10 ure oud


Krismisboom
Oe dit was 'n lekker lag storie. Dit is baie oulik. Dankie vir die laataand humor hier voor my pc. Hou so aan.
8 jaar 4 maande 3 weke 3 dae 13 ure oud


bwahahaha
En almal hier by my wonder waarom ek op die grond in die kantoor rondkruip en histeries lag!
Niemand hier verstaan Afrikaans of Plattelandse boere nie, so ek kan dit nie eers met iemand deel nie!
Dit is SO oulik - skryf nog - het Jakobus die kersfees oorleef?
8 jaar 4 maande 3 weke 4 dae 9 ure oud


Krismisboom
Wat 'n fantastiese, boeiende storie! Ek voel of ek kan lag en huil, alles deurmekaar.
8 jaar 4 maande 3 weke 4 dae 22 ure oud


Kommentaar
'n Lekker ligte verhaal met 'n verrassende einde. Doen so voort.

Vonnie
8 jaar 4 maande 3 weke 5 dae oud


Lekker gelees
Goed geskryf.
8 jaar 4 maande 3 weke 5 dae oud


DIE KRISMISBOOM
O alla Krismis, ek het nou heerlik gelag! Iewers in my argiewe is ook amper so 'n rooi rok. Sal dadelik daarvan ontslae moet raak!
Ek geniet jou werk!
8 jaar 4 maande 3 weke 5 dae oud


BOOM
Leona, ek is vreeslik jammer! Die trane rol oor my wange! Maar ek huil nie saam met jou nie. Ek lag my 'n papie! Elize, as daar iets van jou in my inboks is hanteer ek dit soos my kos. Ek eet eers die kool en rys, dan die vleis. dan trek ek die poedieng nader, maar ek eet nie dadelik nie. Ek staan eers op om koffie te maak. Om die lekker bietjie uit te rek. En ek is NOOIT teleur gestel nie. Jou peoding-werk is altyd STROOPSOET!
8 jaar 4 maande 3 weke 5 dae 2 ure oud


Krismisboom
Ai, 'n Man is heel koersvas. Hy verdwaal nie maklik nie - in teen stelling met vroue. Dog, in 'n vrou se klere kas....?
Wag so 'n bietjie. Ek hol buurvrou toe: "kom help asseblief!"
8 jaar 4 maande 3 weke 5 dae 5 ure oud



Katarsis

deur http://www.woes.co.za/

Katarsis, ’n versameling gedigte deur 3 skrywers, tribalmoon, Berg en Chenél Pieterse-Boyle in Afrikaans, bevat ’n uiteenlopende versameling gedigte wat ’n ryk diversiteit van temas en denke byeenbring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar