Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hy hou by die vierrigting-stopstraat stil. Hy kyk rond, maar nie na die verkeer uit die ander drie rigtings om te bepaal wie eerste moet ry nie. Sy oë skandeer die die motors vir ‘n spesifieke een. ‘n Blou Mazda. Hy kyk na die nommerplate van die aankomende voertuie, geeneen bekend nie.

‘n Luide toeter blaas agter hom. Hy moes lankal gery het, maar sy gedagtes is vasgevang in sy soeke. Hy ry stadig vorentoe oor die kruising. Die motor agter hom toet weer. Daar is ‘n minibus-staanplek omtrent ‘n honderd meter ná die kruising. Hy trek daar af en klim uit.

Hy gaan sit sommer op die sypaadjie, sy oë steeds gerig op die aankomende verkeer, waar hy verwag die motor vandaan moet kom. Redelik stiptelik elke middag tussen twintig oor vyf en half-ses is dit hier verby. En hy is dieselfde tyd hier verby, in die teenoorgestelde rigting, soos vandag. Sy sig word beperk deur die voertuie en hy staan op, gaan leun teen sy motor aan die passasierskant. Nou kan hy beter sien. Maar steeds nie wat hy wil nie.

Die Johannesburgse verkeer dreun stadigaan verby, geen ophou nie. ‘n Minibus-taksie hou agter hom stil. Passasiers klim op en af, terwyl die bestuurder hom uitdrukkingloos aankyk, waar hy in die stilhouplek geparkeer staan. Die minibus trek weg en vir ‘n oomblik word sy sig versper. Hy kyk vinnig as hy ‘n blou Mazda-sedan sien verby ry. Hy kan die nommerplaat van agter sien. Nie die voertuig waarna hy soek nie. Hy weet hy sal nie weer die voertuig kry nie. Maar dit knaag aan hom.

Mandie het op vier-en-dertig beplan om haar eerste kind te kry. Sy was tevrede met haar loopbaanvordering, waar sy as projekbestuurder goeie opgang gemaak het in die suiwelmaatskappy waarvoor sy gewerk het. Sy was inderdaad ‘n gedrewe beroepsvrou, en haar ontvanklike persoonlikheid, medium-lengte blonde hare en pragtige blou oë het haar geensins teruggehou om haar ambisies te bereik nie.

Die eerste projek waaraan sy gewerk het was in ‘n reuse gemors. Sy het pas by die maatskappy aangesluit, toe maar ses-en-twintig. ‘n Omwenteling in die logistieke stelsel was voorsien, en die nuwe prosesse wat geïmplementeer sou word sou aansienlike besparings meebring. Die totale projek, wat oor nege maande sou strek, was egter na vyf maande ver agter skedule. Die voltooiingstadium was as drie maande aangedui, en daar was kern-kwessies was nie opgelos was nie. Die gevolg was dat die hoof- projekbestuurder twee weke ná Mandie se toetrede ontslaan is. Die projek was sonder ‘n leier en daar sou op die nuweling Mandie en twee ander middelvlak projekbestuurders staatgemaak word om die leisels oor te neem.

Sy het die geleentheid raakgesien om onmiddellik ‘n naam vir haarself te maak, en tot sestien ure per dag gewerk om die projek te red. Sy het aanvanklik baie tyd spandeer om die werklike vordering op die projek te bepaal en die redes vir die probleme te identifiseer. Daarna het sy eenvoudig die leiding geneem en baie konsultasies met die ander projekbestuurders en ander rolspelers gehad. Deur haar toedoen kon sy, hoewel sy nie die ervaring of vaardighede gehad het om self die kritiese probleme op te los nie, die hantering van die probleme bestuur en seker maak die regte mense kom bymekaar om die kwessies effektiewelik aan te spreek. Die sukses van die projek, teen die verloop in, het haar dadelik op die spoor na sukses geplaas.

Nou, agt jaar later, was Mandie reeds gesout in haar pos as Direkteur: Hoë-prestasie en ontwikkeling. En desnieteenstaande haar uitmuntende loopbaangroei, was haar persoonlike doelwitte baie meer as net professioneel; haar huwelik en uiteindelik ‘n gesin was groot prioriteite vir haar. Sy het haar planne met die direksie bespreek, en vir reeds drie dae gewerk in haar nuwe rol, waar sy ‘n meer toesighoudende funksie sou vervul; ‘n rol wat haar in staat sou stel om meer tyd by die huis te spandeer. En weliswaar nie voor die rekenaar nie.
Hierdie verandering in haar werksomstandighede was goed bemiddel deur haar goeie verhoudings met haar mede-direkteure. En vir haar man, wat sy eie beroep en toekoms gehad het om na om te sien, was dit natuurlik goeie nuus. Die eerste aand wat Mandie in haar gewysigde rol was, het hy haar vir aandete uitgevat na ‘n Griekse restaurant. Daar het hulle voor die eerste glas wyn geskink is, al begin gesinsbeplanning doen. Hulle het amper soos hoërskoolkinders aan die giggel geraak, opgewonde oor die nuwe rigting wat hul lewens sou inneem. Eintlik het die opgewondenheid al begin voordat hulle nog by die restaurant was. Toe hulle in die verkeer by mekaar verbygery het, net duskant half-ses, soos amper elke middag . Sy, oppad huis toe, en hy oppad gimnasium toe. Hy het vir haar geroep: ”Haai sexy, hoe lyk dit? Kan ek jou uitvat vanaand?”

Die motor se neus het opgefrommel aan die regterkant. Die lugsakke het nie ‘n verskil gemaak nie. Dit was twee dae na die ete en Mandie het nie daardie middag tuis gekom nie. Sy sou nooit weer nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

kruising
Ek ditto Moekie dat dit tragies is. Goed neergepen
5 jaar 3 maande 1 dag 1 uur oud


Die kruising
Ek is hoendervleis. Baie goeie storie, nie verwag die einde sou so ongenaakbaar wees nie.

Ek hou van jou styl.
5 jaar 3 maande 1 dag 1 uur oud



Die Lied van Lorelei

deur Rachelle du Bois

Mikrobioloog Talana de Waal keer na haar familie se sitrusplaas in die Laeveld terug om navorsing te doen. Sy bring haar vriendin en kollega, Dr Lerina Keyser saam. Alles gaan voor die wind tot haar kleinboet en sy vriend besluit hul ouer broers, Marius en Armand se liefdeslewe het 'n hupstoot nodig. Die misverstand wat volg het katastrofiese gevolge. Die vreeslike flater laat die wraak van die meisiekinders vlamvat. Tot die bye swyg en die swartvlieë hou op eiers lê . . .



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar