Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die son se strale dartel ligvoets oor die vensterbank tot op die bruin leunstoel waar ek rustig sit en dut.  “Wa…wa…. wat?” skrik ek vervaard wakker as die skril geskel van die telefoon die stilte aan flarde skeur. 

 

My  knopperige hande druk swaar op die armleunings soos ek al kreunend regop kom.  Stadig skuifel ek aan na waar die foon op die hoektafeltjie al hoe ongeduldiger skril.  “Ek kom!  Ek kom!”mompel ek, al so of die persoon aan die ander kant haar kan hoor en sal weet om bietjie langer aan te hou.

 

“Hallo.  Hallo,” antwoord ek met ‘n kraak in my stem.

 “Hallo Ma, dis ek, Daleen. ”Ek wou net laat weet ek kom Vrydag deur vir ‘n konferensie en ek kom Saterdag vir ma kuier.”

“Ai my kind,” sê ek oorstelp, “dit sal so goed wees om jou weer te sien.” 

“Ek moet gaan, ma.  Sien ma dan Saterdag”.

 “Totsiens my kind,” sê ek met trane wat oor my wange stroom.

 

Daleen kom kuier.  Eindelik sien ek weer my meisiekind!  Ek moet seker maak dat alles reg is – alles moet perfek wees vir my Daleentjie.

 

Dagbreek die volgende dag was ek al op en koorsagtig besig om reg te maak om dorp toe te gaan.  In my haas ontwikkel ek tien duime en twee vingers.  Maar uiteindelik is ek klaar en kom dan so teen nege uur met my swart ou Fordjie daar by die winkelsentrum aan.

 

Laat ek net gou op my lysie kyk dat ek nie dalk weer iets vergeet het nie. Ek skuif my brilletjie reg op my neus..  Melk, brood, eiers – ai, ek het sowaar die room vergeet.  Dis heel aan die ander kant van die winkel!  Al leunend op die rooi trolletjie kom ek toe wel daar aan.  Nou net gou betaal en dan kan ek pad vat huistoe.

 

Hier jy!!!   Hoe laat so ‘n jongetjie my nou skrik.  Kom met so ‘n vreeslike  spoed hier reg by my verby met daardie vreeslike skaatsding van hom.  My arme hart fladder nou soos ‘n bang voëltjie van die skrik.  Wag, laat ek net eers bietjie hier op die bankie sit om  my asem terug te kry.  Vandag se kinders is tog so onverskillig – geen geduld met die ouderdom nie. 

 

So ja, nou kan ek weer aanstap.  Moet nog net gou daar by Ansie langs gaan.  Sy  help vandag weer daar by die kerk se stalletjie met die verkope.  Die ou Ansie, sy is so ‘n voorslag – sit nooit vir ‘n oomblik stil nie.  Haar hande is altyd besig met brei vir die ou weeskindertjies, of met mosaïek, laslappies en ek weet nie wat nog als nie.  Maar waar dwaal my gedagtes tog nou alweer….

O ja, die melktert!  Ek moet een van Ansie se treffer melkterte kry vir saam met die tee…..

 

Hier is ek darem nou by die hek – wat draai ou Benjamin tog nou vandag so om die hek oop te maak.  “Môre Tannie Mienie, darem maar ‘n pragtige dag né?”  “ Môre Benjamin,”  groet ek ons getroue hekwag.  “Hoe gaan dit nou met jou vrou – sterk sy nog mooi aan na die operasie?”

“Ja dankie, Tant Mienie, dit gaan nou al baie beter.  Tant Mienie moet maar mooi ry daar om die draai, ou Nicholaas is al weer besig om sy karavaan te pak – sal seker nou weer ses maande weg wees tot na die winter.”

“Baie dankie, Benjamin, ek sal mooi kyk”

 

Die ou Nicholaas is tog so ‘n rustelose siel – altyd op pad êrens heen met daardie karavaan van hom.  Dis vandat sy vroutjie hom ‘n paar jaar terug ontval het, dat die swerwerslus hom so gepak het.  Dis ook omdat sy kinders nooit hier kom nie – arme, eensame mens.  Wonder waar is hy hierdie keer op pad heen?,  mymer ek by myself terwyl ek aanstap met my pakkies.

 

Ai, hoekom hulle tog nou sulke sware houtdeure by ‘n ouetehuis moet insit, gaan my verstand te bowe – dis so ‘n gesukkel as mens se hande so vol is, en nou begin die windjie ook so koud te waai hier om die hoekie.

 

Daar’s  ‘n vreeslike gewoel in die eetsaal, en jy kan maar weet ou Martie is weer die voorbok.  Môre is mos Mariaan se groot vieringsete.  Dat ‘n mens nou op die rype ouderdom van 80 jaar kan graad vang. Nou is sy ‘n doktor in die letterkunde.  Maar dis ‘n droom wat waar geword het.  Met al die jare se geswoeg om ses kinders groot te kry, was die tyd en geld maar skraps.   Dis tog jammer ek sal nie daar kan wees nie - maar more kom my meisiekind mos vir my kuier.

 

Waar bly die hysbak tog – ek kan nie met al die pakkies die trappe klim nie.  “Môre  Neels. En wat maak jy hier?  Jy is mos altyd Saterdag op die golfbane.”

“Môre Mienie.  Vandag bly ek met Jan Tuisbly se karretjie.  My ou vrou voel nie alte wel nie, maar ek het darem die Wêreldbekerrugby vanmiddag om na uit te sien. Dis ook omtrent al wanneer jy my tuis sal kry op ‘n Saterdag.  Ek onthou nog my eie rugbydae en daardie wendrie wat ek gedruk het vir die Blou Bulle.  Het ek jou ooit vertel???

“Anderdag Neels.  Ek is bietjie haastig – môre kom my meiskiekind  kuier en ek het nog baie om te doen”

 

Die ou Neels, almal in die ouetehuis ken die storie van sy wendrie vir die Blou Bulle en hy is so trots soos ‘n pou.  Dit met daardie einste wedstryd wat hy sy ligamente geskeur het en die rugby moes los.  Maar nog net so sportmal soos altyd.  Dis die wat hy so gedurig op die golfbane boer.

 

“Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer… “ neurie ek terwyl ek die laaste afrondings aan die tafel doen.  So ja, nou is alles klaar.  Ek wil nog net hierdie blokraaisel klaarmaak voordat ek gaan inkruip.  “Wat is ‘n ander word vir pedanties???”  Dit klink vir my so bekend  - wie sê dit tog altyd.  “O ja, Paulatjie” dink Tant Mienie so in haar enigheid by haarself.

 

O, die vreugde van ‘n lekker warm bed,” dink ek en skud my kussing reg.  Toe-le-die, toe-le-die, toe-le-die, sing die selfoon langs my bed.  “Nou wie bel dan nou so laat in die aand,” sug ek en gryp na die foon.

“Hallo, hallo” antwoord ek. 

“Hallo ma, dis ek Daleen.  Ek bel net om te sê ek kom nie meer nie…..”

 

Tant Mienie snak na asem en voel hoe die foon uit haar vingers val. Haar oë rol terug in haar kop en haar asem roggel in haar keel.  Die pyn klem haar bors in ‘n doodsgreep … Krampagtig gryp  haar vingers die komberse vas en dan is alles stil…

 

 

 

 

 

 

 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Laaste dag
Boeiend geskryf, en ek het nog gehoop daar kom nog 'n episode toe is dit al die tyd 'n drama. Welgedaan.
11 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 7 ure oud


jou stukkie skrywe het my so vasgevang, en soos Meraai noem, hoe weet ons?
11 jaar 7 maande 2 weke 5 dae 14 ure oud



Lelani

deur Rachelle du Bois

Lelani Botha bestuur die eksklusiewe boetiek op die dorp. Sy is beeldskoon, stylvol en kunstig. Maar sy dra swaar aan ‘n geheim waarvan niemand weet nie. Tot hul botanis buurman Leon Postma haar eendag betrap in ‘n situasie wat sy nie langer kan wegsteek nie. Hy weet nou baie meer as wat enige ander mens van haar weet en sy verkwalik hom daarvoor. Hy het geen reg om te weet nie. Sy is pragtig, vurig en wantrouig. En sy is in Leon Postma se lyf, in sy kop en sy bloed. Hy sal vir haar ʼn brug oor die water bou wat haar na hom toe sal bring. Of so hoop hy. Maar Lelani bied hewig weerstand teen haar groeiende aangetrokkenheid tot Leon. Sal sy toegee aan die man wat soos ʼn koors in haar binneste kom intrek het? Sal sy uiteindelik die brug na hom toe oorsteek?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar