Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Bettie en Sois was boemelaars, desjare in Vanderbijlpark toe ek daar op skool was.

Ek het die paartjie goed geken want hulle het net so twee of drie plekke gehad op my pad skooltoe waar hulle gewoonlik hulle ding gedoen het. Geboem het, leeggelê het en sommer net soms gesit en staaltjies van die verlede oor en oor vir mekaar vertel het. Dan het hulle heerlik en tandeloos gelag vir dinge en mense waarvan net hulle geweet het.

Een van hierdie plekke was onder ‘n groot boom oorkant die kafee op die hoek. Daar was ‘n klein parkeerterrein waar hulle soms bakhand gestaan het vir ‘n eetdingetjie of ‘n blink muntstuk van ‘n vryggewige Vanderbijlparker. Ekself het ‘n paar keer my toebroodjies geskenk oppad terug van die skool. Gewoonlik die broodjies met rooikonfyt op. Het jy al ‘n platgedrukte bruinbrood-rooikonfyt-broodjie op ‘n warm somersmiddag moes eet terwyl jou maats ontwerper-kosblikke oopmaak met kraakvars ontwerpers-eetgoed daarin? Dis nou nie dat ek ondankbaar was nie, maar my eetlus het vining die wyk geneem by die aanskoue van my eie verbeeldinglose toebroodjie as ek pouse saam die maats onder die koelte van die jakarandaboom gaan sit het. Ek het my status as ‘n arm kind soms moeilik aanvaar maar gelukkig was Bettie en Sois daar om my daagliks te herinner aan hoe gelukkig ek eintlik was.

Die twee boemelaars het nie veel met my gepraat nie, maar wat vir my nogal aanskoulik was, was hulle ooglopende verknogtheid aan mekaar. Hulle was nooit baie vêr van mekaar af nie en het alles gedeel wat na hul kant gekom het. Of hulle getroud was of sommer net so in die loop van hul lewe aanmekaar vasgehaak het sal ek nie weet nie, maar dis ook nie belangrik nie. Hulle het mekaar gehad en dit was genoeg.

Ewenwel, ek het klaargemaak met skool en weggetrek uit die omgewing. So het Bettie en Sois net nog twee stippeltjies in my verlede geword. Mense wat stukkend gebreek het en toe maar sukkel-sukkel probeer het om weer heel te word, al is dit net vir ‘n rukkie onder ‘n boom oorkant ‘n kafee.

Tot nou anderdag. Ek loop ‘n ou kennis en buurdogter van my skooltyd raak in een van my grootword-dorp se winkelsentrums, op my pad na die ouetehuis. Pa het al vir my gewag om hom te kom haal vir ‘n kuiertjie. So raak ek en die ou kennis aan die gesels wat tipies aan ons vroumense, oorloop na ‘n vinnige koffie in die winkeltjie met die lekker groot muffins.
Iewers tussen die koffie en die warm muffin uit sy papierrokkie uithaal, vra sy my of ek gehoor het van Bettie en Sois? Dit neem my ‘n rukkie om die twee boemelaars se verweerde gesigte op te roep en ek skud my kop. “Nee, ek het die twee siele laas gesien toe ek my finale vak in matriek geskryf het. Dit is donkiejare gelede.”
Haar oë raak effe mistig en die storie kom lê half swaar op die tafel tussen die muffins.

So ‘n wyle na ek weg is uit die dorp het Sois en Bettie ‘n gelukkie gekry toe die kafee verkoop is aan Manny, ‘n Portugees met ‘n hart vir die stukkende potskerwe van die ou lewe. Hy het gereeld vir die twee boemelaars kos en water gegee en selfs ‘n geldjie as hulle die kafee uitgevee het en die rakke afgestof het.
Dit was toe ook mos die tyd wat die eerste Lotery-masjiene kop uitgesteek het in elke plek van handeldryf. Al wat leef en beef en wie nog geld oorgehad het na daardie vrou se skelm-skema in die Vaaldriehoek, het begin om die nommertjies-dobbelspel te speel.

Die opgewondenheid het ook van Bettie besit geneem en sy het met groot oë die spulletjie dopgehou as mense die winkel besoek. Met besem in die hand het sy soms voorstelle van nommers gegee as dit blyk of die twyfel die mense oorkom. So het sy al hoe meer en meer mense sien terugkeer na die winkel om hul wengeld te kom opeis. Bettie se raak-voorspellings het die buurt laat gons en party dankbares het selfs ‘n noot op die toonbank vir haar gelos na so ‘n gelukkie. Manny het nie omgegee nie want Bettie het begin om ‘n aanwins vir sy besigheid te raak.

Toe byt die dobbelgogga met mening vir Bettie. Sy begin haar eie lottokaartjies koop, maar helaas, met min sukses. Dit blyk asof haar goeie voorspellings net vir ander gewerk het. Dit het haar egter net meer vasbeslote gemaak en sy het meer kanse gewaag met hulle winkelgeldjies terwyl Sois maar sy afstofwerk in die stilligheid gedoen het. Bettie het gedroom van nuwe klere by die winkel met die rooi hanger, jy weet, die een waar jy nou lekker koop en dan sweet aan die einde van die maand. Soms het sy ook gedroom van ‘n huis langs die Vaalrivier. Een waar Sois sommer so van die stoep kan visvang en sy ‘n paar ganse kan aanhou.
In die proses het Bettie nie agtergekom dat Sois stiller, maerder, en bleker raak nie. Die Vaaldriehoek se stof, rook en baie seisoene onder die Afrikason en -sterre het vir Sois kom inhaal daar waar hy een middag die rakke agter in die winkel afgevee het.
Hy was net ‘n dag of twee in die hospitaal toe moes hy loop. Die potskerwe van die lewe het nie altyd ‘n keuse nie en moet soms baie vinniger as ander weer op koers kom. Bettie het vir ‘n ruk al haar aandag aan hom gegee daar waar hy onder die boom gesit het – sy oë dof en sy maer hande om sy opgetrekte bene gevou. Hulle liefde en omgee vir mekaar was diepgewortel en Sois het ‘n opflikkering beleef. Dit het gelyk of hy sy kragte herwin onder Bettie se liefderyke versorging. Sy het meer gebedel as gewoonlik en kort-kort eetgoedjies aangedra.

Maar een Woensdagmiddag het die nommertjies weer in Bettie se kop rondgespring en sy het haar laaste muntstukke oor die toonbank gestoot saam met die ingekleurde kaartjie en Manny se potlood.
Die loterykaartjie in Bettie se sak het haar gebrand en sy wou vroeg die Donderdagoggend gaan kyk of sy die nommers reg voorspel het. Dis al waaraan sy kon dink daardie aand en het nie agterkom Sois is weer skielik bleker as gewoonlik nie. Terwyl Sois nog vas aan die slaap was die volgende oggend, het sy haar kans waargeneem. Sy het vinnig oor die pad geloop toe sy sien Manny skryf die wennommers op die geel loterybord teen die muur.

Dit was oggendspitstyd en die voertuie het sonder ophou verbygejaag fabrieke toe. Haar oë was vasgenael op die bord teen die kafeemuur, die loterykaartjie in haar maer, bruin vingers vasgeklem.

Bettie was te stadig vir die swaar vragmotor en kon nie betyds uit die pad spring nie. Niemand weet presies wat gebeur het nie. Die vragmotor het ‘n hele paar meter verder eers met skreeunde remme tot stilstand gekom.
Manny was eerste by Bettie.

Heelwat later, net voordat hulle die ambulansdeure wou toeklap en die sirenes al lankal afgesit is, het Manny onthou van Sois. Waar was Sois? Die ongeluk het dan reg voor die boom gebeur waar hy geslaap het?
Toe hulle by hom kom, was dit duidelik dat Sois al geruime tyd weg was. Mooi toegemaak onder Bettie se verslete jas. Hulle het hom toe maar saam met haar in die ambulans gelaai. Staatslykshuis toe. Saam in die lewe, saam in die dood.
Ek voel hoe word die muffin effe dik in my keel.

Manny het die lottokaartjie uit Bettie se hand getrek net voordat hulle haar op die draagbaar getel het. Hartseer maar tog effens opgewonde, het hy later die nommers gaan vergelyk met dié op die bord. Kan jy dit glo! Bettie het vier nommers reggehad en die kaartjie het R20 000 gewen in die Woensdagaand-trekking!

Goeie ou Manny het alles self gereël. Bettie en Sois is saam in een graf begrawe in ordentlike winkelkiste en uitgedos in splinternuwe klere van die winkel met die rooi hanger. Manny het selfs ‘n houtkruis laat aanbring met net hulle name daarop en die datum van hul dood. Daar was geen familie of vriende wat meer besonderhede kon verskaf nie. Dit was dan ook net Manny en sy vrou saam met hulle pastoor wat sommer so langs die oop graf afskeid geneem het met ‘n paar woorde. Met die res van die geld het Manny ‘n mooi bankie laat aanbring onder die boom waar die twee altyd oornag het, kompleet met ‘n goue plaatjie met hulle name op.

Die kafee se loterymasjien het nie weer ‘n enkele wenner opgelewer nie en Manny het die ding laat uithaal ‘n jaar na Bettie en Sois se afsterwe.

Daar was’n stilte tussen ons en ons het toe maar die groet-ding gedoen. Pa het op my gewag. Later die dag moes ek die supermark in om ‘n paar goedjies vir pa se kuier te koop, toe ek verby die konfytrakke loop.
Ek het die kenmerkende swart en rooi blikkie in my mandjie gesit want ek was skielik lus vir bruinbrood met rooikonfyt.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Vir vanaand sal ek net jou hand vashou

    deur Zymrly

    Gedigte saamgevat oor die seer van die lewe. 'n Handvol emosies wat aan die hart raak omdat die tonele, gedagtes en emosies deel is van elke dag se lewe



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar