Kortverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

As sy vrou Ingrid met haar dik flenniepajamas en wolsokkies in die bed klim – pure duikpak – spoel die gevoel van ysige Atlantiese oseaan oor sy libido. Tot sy beenhare raak pap. Waarom vroumense ‘n probleem het met nakend slaap, gaan sy verstand te bowe. Hein vryf mymerend oor sy bles. Ingrid… hy frons. Warmer en meer vol lewe was daar in die ganse Namibië nie haar gelyke nie. Die volrooi mondjie…. daardie lyf… die passie… ! Nou … net herinneringe en gedagtes van wat was.

Hy dink aan Ingrid se verwytende stem toe hy haar pas meegedeel het dat hy vir ‘n week lank op Noorde toe moet gaan. Hy grinnik in sy innigheid vir “werksverpligtinge”. “Hein, jy is nooit meer by die huis nie. Alewig op die pad. Ek sit soos ‘n spook dag in en dag uit in hierdie tronk van ‘n huis.”
Voordat Ingrid haar sin kan voltooi val Hein haar in die rede. “Dit is jou eie skuld. Gedurig ‘n verskoning… dan is dit hierdie probleem, dan weer daardie probleem. Dan kook jy van jou hormoonwanbalans, dan is jou kop seer en terloops, jou klere…. Hoekom maande lank hierdie sirkustente wat jy…” Ingrid storm in trane uit die vertrek – die noordpool het vir Hein weereens sy sonlig-paradys geword.
Dit is nou al ses maande dat hy in die kleinkampie droëbek moet sit. Sy bly verwoed na die vorige rusies oor haar gewig en behang haarself met lae en lae lappe wat enige vurige man mismoedig sal maak. Hy moet sê, die kurwes onder daardie tente wat sy dra, lyk daagliks al meer belowend en uitlokkend. Hy sal sy humeur in toom moet begin hou. Nie net terwille van vrede nie maar ook vir sy gesondheid. Die rusies foeter sy hartritme op. Miskien moet hy meer tuis bly, maar sy moet ook besef, ‘n man kan geestelik ook nie van honger en dors vergaan nie. Dié begrip sal sy in alle geval nie verstaan nie.

Ingrid lag uit haar maag vir Hilde se stuitigheid. As hierdie vriendin van haar eers op die telefoon vashaak, is daar aan haar geen keer nie. “Nee jong Inge nou het ek genoeg gehoor. Hein alweer Noorde toe? Het hy nie iewers ‘n losklos nie.. kry vir jou ‘n ryk sugar daddy … een met so ‘n switserse bokbaard … met een voet in die graf en die ander op ‘n piesangskil. Terloops, het jy toe besluit om my aanbod te aanvaar om vanaand na die maskerbal te gaan? Die katpakkie is nog reg vir jou en ek het so pas die roos op my naeltjie met Blitzstick vasgeplak. Sukkel al die hele oggend met die verdomde ding wat nie wil vasplak nie. Geen gom wil die ding doen nie. Met my hipster en bikini-bostuk sal die roos mos die manne soos motte na ‘n kers lok. Dalk tel ek darem ook vir oulaas so ‘n losgelukkie op. Toe, wat sê jy vriendin, gaan jy saam?”

Ingrid het ‘n bewerasie toe sy na haarself in die spieël kyk. Doen sy die regte ding? Haar figuur is sensueel mooi in die katpakkie. Strategies is alles op hulle plek. Die Wonderbra hou die ses-en-dertig borsmaat uitdagend na bo. Die ‘cleavage’ kan net nie misgekyk word nie. Sy wonder wat die woord in Afrikaans is. Skeiding, gespletenheid, verdeeldheid…. Nee wat sy gooi handoek in. Gesplete borste klink soos Hein se persoonlikheid. Gelukkig kan sy agter die katmasker wegkruip en niemand sal haar herken nie. Sy begin beter voel. Die jare se afsondering het sy tol ge-eis, haar selfvertroue geknou. Vetwees is nie maklik nie maar as sy in die rondte draai en merk hoe goed die dieët sy skaafwerk gedoen het, besluit sy dat dit vanaand Aspoestertjie se aand is. Sy het lankal gewaar dat Hein na elke “trip” iewers heen, nuwe naskeermiddel het en die parfuumreuk op sy klere onmiskenbaar half doodgegooi is. Sy dink aan Hein se skielike vertrek…… as haar vermoede reg is…….!

Ingrid teug aan haar glasie wyn. Hilde het die manne op hol. Almal wil die roos op haar naeltjie bevoel of soen en ‘n tekort aan dansmaats het sy nie. Haar oog vang die man aan die oorkant van die vertrek. Hy staar haar openlik aan, staan op en kom buig galant voor haar. Die skewe laggie onmiskenbaar bekend. “Goeie naand Katjiepiering. Kan hierdie seerower die mooiste blom vanaand pluk?” Ingrid lag uitlokkend. “As jou vrou nie sal omgee nie, dankie ek sal graag met jou wil dans.” Sy donker oë kyk haar laggend aan. “Daar is nie so-iets in my lewe nie, ek is ‘n vrygesel.” Ingrid word yskoud. Sy kan dit nie glo nie. Sy was amper seker Hein het haar herken. Toe sy arm om haar gaan en hy haar styf teen hom vastrek besluit sy om saam te speel. Na die derde dans soen hy haar in haar nek, kou saggies aan haar oor en kan nie sy hande van haar lyf afhou nie. Bly strelend, spelend met haar dans. Die rumoer aan die agterkant van die saal ruk almal tot stilstand. Die orkes hou op met speel en die musikante gaan sit hand by. Hilde is omring deur vegtende mans. Een het ‘n bloederige roos tussen sy tande en word met ‘n bierbottel grond toe gefel. Hein seerower besluit dit is nou tyd om sy skuif te maak. “Kom ons tweetjies gaan drink nog so ‘n laaste ou loopdoppie in my hotelkamer. Dit raak bietjie rof hier.”

In die hotelkamer word Ingrid se vermoedens bevestig. Die seerower het ander planne. Hy ruk sy masker af en probeer haar marsker afhaal. “Nee seerower, wag eers, ek wil gou die badkamer gebruik.” Minute later is sy terug. Geklee in die fynste onderkleertjies. Hein seerower lê op die bed, wagtend. Gee ‘n wolwefluit en begin die knope van sy baadjie losruk vir aksie. Ingrid gaan lê, trek hom af en soen hom passievol. “Wag, wag net Katjiepiering, dat ek uit hierdie broek en baadjie kom en af met hierdie masker van jou! Ingrid skuif die masker stadig uitlokkend oor haar blonde hare….. “Goeie naand my man.”

Suster Verwy staan hande in die hare. In teater een is daar ‘n feetjie met ‘n bloederige gat waar haar naeltjie was. Hoe dokter Vermeulen die vlerke wat tussen haar blaaie vasgegom is gaan afkry, is ‘n ope vraag. In teater twee wag ‘n gorilla met gapende wonde in sy kop. Hy moet steke kry. So pas is ‘n noodtrollie op hoë spoed verby met ‘n seerower wat ‘n hartaanval gekry het. Sy wonder of die prozacs haar nie laat yl nie of per dalkies is die sirkus in die dorp.





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ano
Maskerbal
Ja!?! Dit was nou 'n lekker lees, dankie :-))
5 jaar 5 maande 4 dae oud


cleavage

'cleavage' ~ gleufie? In Afrikaans moet mens dalk 'n bietjie meer omskrywend wees. Maar dit is miskien amper 'n voordeel.
5 jaar 5 maande 1 week 1 uur oud


Masker
Nou toe, daar is die tweetjies weer dolverlief!
5 jaar 5 maande 1 week 1 dag 22 ure oud


Maskerbal
Dit was nou lekker lees uit die boonste rakke.
5 jaar 5 maande 1 week 2 dae 19 ure oud


maskerbal
Klink na astronomiese sirkus in die teater. Lekker gelees.
5 jaar 5 maande 1 week 2 dae 20 ure oud


Maskerbal
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die MASKER projek.
5 jaar 5 maande 1 week 2 dae 20 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Susanna Maria Magdalena

    deur Lorelei

    Die lewensverhaal van n jongvrou wat gedryf word deur Stemme in haarself. Haar soeke na haarself en God asook n stryd tussen Lig en Duisternis.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar