Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Vroegoggend kry ek hom op die trappie van die voorstoep. Met 'n beker koffie in die een hand, balanseer hy 'n lêer met die blou blommetjies teen sy opgetrekte bene met die ander. Grootoog kyk hy verras op na my: ek is mos nie 'n oggendmens nie.

Ek gaan sit langs hom op die breë trappie. Skuldig klap hy die lêer toe; steek sy pyp op en suig lang, diep teue asof hy na woorde soek. My lyftaal praat hard: dis mos mý lêer; net vir jou oë as ék dit gee. Jaa, verweer die rookwalms om hom, maar ek het gewéét jy gaan Kerrie Kekkel se storie skryf! Ek wou net loer of jy nie dié storie te veel aanlas-stertjies en verdraaide horinkies gee nie...

Ek sug. Hy was vir 'n paar dae met besigheid weg en het gisteraand eers laataand weer tuisgekom: die ideale tyd vir my as hoofkok en nommer een skottelgoed- wasser van die huis om, sonder enige gewetenswroeging, met wegneem-etes voor my rekenaar in te skuif. Kerrie Kekkel en Sarel Skoonspruit se storie spook al vir te lank in my binnegoed en dit moes nou uitkom.

'n Rooikop trek altyd aandag. Punt. Of sy mooi, lelik, vet of maer is, maak nie saak nie; aandag sal sy kry. Op 'n kleindorp veral, is sy soos konsentraat: drie-dubbeldosis-sterk, en tant Kerrie het net geweet hóé om haar porsies ruimskoots of knyp-knyp uit te deel. Stroopsoet vir die dorps- en kontreimanne en galbitter vir hulle anderhelftes! Ma het altyd gesê 'n man word aan sy sit en staan geken, maar hier dink ek was dit eerder aan sy lê gewees... of altans só het die manne van die dorp teenoor mekaar gespog.

Dit gebeur toe met die kerkbasaar. Kerrie het nie haar bynaam by die mans gekry nie; dit was Miens met haar suurgesig wat venynig die titel by haar naam gevoeg het oor al die sogenaamde windeiers in Kerrie se rooidos-nes. Én waaroor sy kwansuis, aldus die susterskorps, so kekkelend vermakerig mee gespog het!

Ewenwel, dit is die gemmerbiertafel wat Kerrie alleenvrou beman wat die borrel laat bars. "Geheime Resep: proe een verniet! Twee glasies gekoop, gee jou nog ook 'n lekkerloop- vernietdop! " – dít staan in dik, rooi letters teen die muur agter haar tafel vasgeplak. Dominee het skaars amen gesê met die basaar se openingsgebed toe begin die manne proe; koop, én koop en dan met die loopdop effens, net effens, van die tafel se lekkerte weg te staan! Aan die anderkant van die kerksaal bly die koesisters, die fudgeblokkies, klein-koekies en fyn handtertjies in opgestapelde bakkies staan; by die vleis- en groentetafels ook: die manne drink vroegoggend gemmerbier, en die dominee ook.

Sarel Skoonspruit het sy plaasnaam gestand gedoen: 'n eerlike, opregte boermens sonder enige bedrog, maar ook 'n eenkantmens. Miskien was sy erge hakkelry die rede vir sy oujongkêrel-status, het sommiges gespot: nog voor hy die ja-woord kon uitkry, het 'n ander jongman reeds sy meisie afgevry! Maar met Bybelverse was sy tong wonderbaarlik gladder as seep: dominee se regterhand met huisbesoek!

Hy kom laat by die basaar aan; moes 'n kalf wat vasgesit he , gaan verlos van haar en haar stoetma se lyding. Eers toe dié versie wankelbeen regop bly staan en begin speensoek, het hy met tevredenheid die plaaspad dorp toe gevat.

By die kerksaal se deur gaan staan hy en bekyk kopskuddend die toneel voor hom: groepies van uiters gesellige, geselserige en raserige manne staan gekoek om die gemmerbiertafel. Hulle beduie en lag rumoerig; koop en drink met uitgelate plesierigheid. Anderkant, aan die ver kant van die saal, is die vrouens met blitsige oogkyke en vingerwys, aan't mobiliseer.

Sarel Skoonspruit het net 'n paar oomblikke se laatkom-kyk nodig gehad om te wis dat 'n hengse ontploffing dreig. Hy loop doelgerig na die middelspasie van die saal, wat 'n duidelike skeidslyn was;t die afslaersklok wat hy van die die groetetafel afgeraap het in sy hand. Die harde geklang-klang-klang bring 'n stilte in die saal. Dominee mik-mik om op te staan daar waar hy langs mevrou-dominee tussen die hoogs-opgewerkte vrouens paaiwerk probeer doen. Miskien het mevrou sy baadjiepante vasgesit, maar sy bene kon nie reguit- of regop tot beweging kom nie...

"Kerrie!" sê Sarel en hy wysvinger beskuldigend na die rooikop.

"Jy's 'n bliksem!"


Ek kry hom in die agtertuin met my blou blommetjieslêer. Patat! hy my; dis nou mý anderhelfte wat nie sy oë sonder my toestemming van dié storie se skrywery kan afhou nie. "Is 'bliksem' nie 'n bietjie, um, kras nie?"

Mensig, laat 'n nuuskierige man 'n mens só laat sug! "Sy..., dis nou Kerrie Kekkel, kon baaaie ander woorde ook genoem word. Ek is seker die tantes van dié dorpie sou lyste vol gagga-woorde kon gee! In elk geval, 'n bliksem is 'n straal weerlig en dít was Kerrie beslis. Maar, gewoonlik na 'n bliksem volg donderweer en dit is presies dié oomblik wat Sarel Skoonspruit se hakkeltong los'gedonder' het...!"



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Suid-Afrika in die Eerste Wêreldoorlog

deur Francis Gillieron

Kroniek van die rol van Suid-Afrika in Eerste Wêreldoorlog. Gedenkuitgawe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar