Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dis uitreik Sondag. Ek het kerk toe gestap om die diens by te woon. Ingedagte is ek teen die trappe op in die rigting van die kerkgebou se deur. Ek het vir ‘n oomblik omgedraai en oor al die aktiwiteite daar buite gestaan en tuur. Dis toe dat hy asof van nêrens na my toe aangestap kom. Oud, gehawend. Ek groet hom en praat vinnig, so asof ek haastig is iewers heen. Samuel is sy naam en hy vra vir geld om na sy vrou en kinders te gaan en om by die dokter te kom. Hy wys my die sere aan sy bene. Nog voordat hy die brief met die hospitaalstempel daarop vir my wys weet ek dat dit is waar God my vandag wil hê.

Ek nooi hom om saam te stap en ons gaan sit by ‘n tafeltjie naby Jire in die voorportaal. Ons begin gesels en so deur my vrae en sy openhartige antwoorde heen, leer ken ek iets van Samuel (en van myself!). Hy woon in ‘n bos iewers in die ooste van Pretoria, sy vrou en kinders in Musina. Drie kinders, 25, 17 en 12. Hy soek werk om vir hulle te sorg, maar kom nie reg nie.

“Is jou kinders nog op skool, Samuel?”

“Ek’s nie seker nie, Morena. Ek sien hulle te min. Ek moet hier bly want daar is nie werk nie”.

Later begin ons praat oor die kerk en die evangelie en dis vinnig duidelik dat ek die een is wat vandag gaan leer, wat vandag moet luister. My ingeoefende gespreksraamwerk kan ek maar eenkant toe skuif, want Samuel het sy eie een. Dalk ‘n beter een… Ek besef dat met my EEIII-kennis en al, verstaan hierdie man veel beter wat God se evangelie regtig beteken. In sy mooi Afrikaans, ingekleur met Engels hier en daar, vertel hy my van 'purpose'.

“Ek like die Here, want Hy like my. Hy like my, want hy’t my gemaak. En ek’s nie sommer net hier nie – Hy’t my die 'purpose' gegee. Ek moet die wêreld se katerakke uithaal sodat hy die Here kan sien!”

Hy vertel my van die lewe wat soos ‘n toolbox is. “Elke tool het die job. As jy die number five spanner is, en Hy’t jou nodig, kan Hy nie die number seven gebruik nie. Dis net jy wat reg is”.

Die besef dat, al my kursussse en boeke en omgeegroepgesprekke ten spyt, Samuel se begrip van God se doel met ons hier op aarde soveel beter as my eie is, vul my met ‘n opregte respek vir hom. Ek voel ineens klein en skuldig, met ‘n ongemaklike knop in my keel wat ek nie weggesluk kry nie. Hoe maklik is dit nie om geestelik hoogmoedig te raak nie!

Ek laat hom toe om te praat ,want vandag het ek veel meer om te leer as om te vertel. “Jy weet Morena, ons mense is soos die taxi – daar is baie mense wat wag vir die transport hemel toe!”. Ek is vir ‘n oomblik stil, amper sprakeloos, terwyl die pragtige, eenvoudige beeldspraak waarmee hierdie ou man die essensie van God se bedoeling verduidelik, by my insink.

Ons praat oor sonde en die skeiding wat dit bring, maar weer is dit hy wat die voortou neem: “Hey Morena, daardie wat jy nou van praat, dit staan mooi by die Bybel. Die Here sê Jy lyk soos die bloed van al jou sondes, maar ek vat jou lat jy lyk soos die wol van die skaap! Ons is soos die cell phone – alles begin by Jesus. Hy’s die starter pack. Maar ons het air time nodig, ons moet baie bid. En as jy nie op die regte plek staan nie, het jy nie reception nie, jy’s te ver van die Here. Jou coverage moet reg wees.

“Ai Samuel, ek leer vandag so baie dinge by jou. Dinge wat ek nooit so goed verstaan het nie. Waar…” “Nee Morena”, onderbreek hy my weer, “dis nie ek wat slim is nie. Die Here praat baie met my. Ok soos met Jeremia. Kyk maar by Jeremia 1. Hy’t vir hom gesê ‘moenie vir my sê jy’s te jonk of jy kan nie praat nie, ek weet dit al voor ek jou in jou moeder gemaak het. Gaan maar, ek sal self die woorde bêre by jou tong’. So ok die Here maak met my”.

Ek weet nie eintlik hoekom nie, miskien net omdat ek self nie altyd mooi verstaan nie, maar tog vra ek versigtig: “As die Here jou so like en as jy Hom so baie like, Samuel, hoekom dink jy laat bly hy jou by die bos?” Met ‘n selfversekerdheid wat nie pas by ‘n man wat so baie fasette van swaarkry ken nie en met oë wat nou vas in myne kyk, kom sy antwoord, reguit en sonder ‘n sweempie wyfeling: “Want die Here wil my patience leer”. Ek probeer nie eens meer sluk aan die knop in my keel nie. Wat ‘n antwoord! Hoe op aarde is dit moontlik dat iemand in sy omstandighede soveel insig in sy eie benarde situasie kan hê? Wat weet ek van patience af? Hoe verskriklik baie het ek nie nog om te leer nie! En om voor dankbaar te wees nie.

Die een ding wat Samuel nog nie mooi verstaan nie, is dat God se groot geskenk van redding vir ons almal is, dat dit gratis is, en dat ons niks kan doen om dit te verdien nie. Ek verduidelik dat hy net hoef te kies om dit vir homself te aanvaar. Ek kan sien hy verstaan en hy sê hy wil dit sommer nou doen. “Jy weet Morena, toe Saulus daar by die pad gestap het, toe slaan die Here hom met die bliksemstraal lat hy kan weet hy’s op die verkeerde pad. Die Here Hy doen goed by sy eie tyd. Hy lat Hom niks vertel nie. Morena, jy staan netnou daar bo by die trap, jy sien my, ek sien jou. Die Here besluit dis Sy lightning vir my”.

En vir my!

Ek wys hom die Romeinse handdruk (beide persone se regterhande om die ander se regterpols) en verduidelik dat God jou nooit laat los as jy vir Hom gekies het nie, al verslap jou eie greep.

Ons bid saam. Hardop dank ek God vir ons gesprek, vir sy liefde vir hierdie kind van Hom en ek vra Hom om Samuel elke tree van sy lewenspad te dra, om hom toe te maak met Sy guns en seën, dag vir dag. Diep in my hart dank ek Hom vir my ontmoeting met hierdie man, vir die woorde wat hy vandag by Samuel se tong gebêre het.

By my motor gee ek die kos wat Karen vroeër die dag “vir iemand” ingepak het, vir hom. Ek steek my hand uit om hom te groet en hy gryp dit met ‘n Romeinse greep, ‘n groot glimlag op sy gesig. “Jy’t my ook geleer, Morena”.

Ek kyk hom agterna toe hy wegstap en my hartseer hart is ook vol blydskap. Want ek weet: Samuel se Coverage is reg.

Dankie Samuel !

*Die skrywer van die bogenoemde is onbekend aan my, maar die les wat dit my geleer het is eenvoudig te veel om net vir myself te hou daarom deel ek dit graag aan julle almal

Mag julle elkeen geseënd wees met die Volmaakte “Coverage”
Anzé Bezuidenhout



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

A
Dit raak mens, op plekke diep verborge. Puik.
4 jaar 8 maande 2 weke 2 dae 4 ure oud


Die regte “Coverage “ en “Cell phone package”
'n Mooi Evangelie-boodskap en die persoosn wat vertel het het dit besonder treffend oorgrbring. Dankie vir die deel.
4 jaar 8 maande 2 weke 2 dae 22 ure oud


package
Baie dankie vir die deel van hierdie mooi gebeutenis, Anze. Dit doen mens goed om dit te lees. Ek het dit baie geniet :-)
4 jaar 9 maande 3 dae 1 uur oud


Coverage
Pragtige bydrae Anze - dit raak aan mens se hartsnare ... :))
4 jaar 9 maande 3 dae 4 ure oud


Coverage
Pragtig! Dankie dat jy dit met ons gedeel het.
4 jaar 9 maande 5 dae 6 ure oud


Coverage
Absoluut pragtig geskryf... puik! Dankie vir hierdie besondere werk, werklik 'n voorreg om jou werk te kan lees.
4 jaar 9 maande 5 dae 21 ure oud


Coverage
Die Bybel sê wysheid soos hierdie sal aan die eenvoudiges geopenbaar word en dat die Koninkryk van die Hemel soos kinders moet ontvang word.
4 jaar 9 maande 6 dae 1 uur oud


Coverage
Ek het lank gesit voordat ek begin tik het na hierdie leerstuk. Ek het laat gekom vir werk vanmore want sien, verlede week het hulle my motor se "crankshaft pulley" voor my werk, voor my oë van my kar afgesteel. So ry ons nog elke oggend met my dogter se 19 toet Volla in werk toe en terug. Gister middag vertel Stella my een van haar maats maar ook een van ons klieente se kinders (nog nie 16 eers nie) is gistermiddag in sy slap oorlede. My huis lyk soos 'n nes, want ons het aangebou en alles is op eengehoop. Ek breek vir die eerste keer in jare. Gryp 'n emmer en begin die een vertrek wat leeg is te skrop. Ek skrop en skrop tot laat. Vanmore wil die Volla ons nie werk toe vat nie. Ons moet wag vir vervoer, ek moet gaan pleit by die skool, (my baas was gaaf en het oor die foon al gese "moenie worry nie") By die skool gekom staan die dame reg vir 'n geveg, maar toe ons aanmeld, haar woorde aan Stella "Jy het 'n rede om laat te wees jy kan maar gaan, mevrou jy is laat vir werk u kan maar gaan"
My Coverage? Ek bid dat my man vandag veilig ry my motor se part kry en ons almal vanaand veilig onder een dak weer kan gaan slaap.
Dankie Anze ek het hierdie een vandag baie nodig gehad.
4 jaar 9 maande 6 dae 4 ure oud


Coverage
Dis 'n pragtige stuk met wonderlike beeldspraak wat ek nie sal vergeet nie. Dankie hiervoor!!
4 jaar 9 maande 6 dae 6 ure oud


Samuel
Dankie vir die deel. Laat mens baie diep en lank nadink.
4 jaar 9 maande 6 dae 8 ure oud


sameul
Hy wat nie die koninkryk soos n kind ontvang nie.... en dit is wat Sameul in hierdie verhaal doen
4 jaar 9 maande 6 dae 10 ure oud


Samuel
Dit laat my dink aan die Griekwa-psalms, digter. In 'n radio-onderhoud, toe hy gevra word waar hy aan die wonderlike woorde wat hy skryf, kom, antwoord hy sonder enige twyfel dat die Here hom dit telkens gee.

en die Here spreek vir seker ook deur Samuel!

Pragtige bydrae Anze, so bly jy deel dit met ons!
4 jaar 9 maande 6 dae 21 ure oud


Samuel
Ja, ek het ook die pos lank gelede 'n paar keer gekry en dis baie goed om dit altyd weer te lees vir onthou.

Dankie Anze.
4 jaar 9 maande 6 dae 22 ure oud


Samuel
Genade! Samuel het my in trane.
So eenvoudig, maar maak soveel impak.

Mag die Here ons netso nederig hou en ons Sy Hand sal sien in alles. Al is ons in watter situasie.

Dit was nou my lightning vir die dag, baie dankie.
4 jaar 9 maande 1 week 1 uur oud


Coverage
Sjoe!! Opregtheid in Samuel staan uit!! Wat 'n fantastiese ontmoeting op God se tyd!! Knop- in- die- keel mooi en leer mens baie!! Dankie vir die deel!!
4 jaar 9 maande 1 week 1 uur oud


regte
So leer mens om nederig te wees en na aan jou Skepper te leef en Hy sal voorsien. Dankie vir die deel.
4 jaar 9 maande 1 week 1 uur oud



ORAL IS MY GOD

deur Johann P. Boshoff

N.a.v. hoofsaaklik Psalm 139 word God se aktiewe teenwoordigheid in Boshoff se 36ste boek bepeins. Aandag word in 'n opstel ook geskenk aan die skryf van 'n oordenkingsbundel.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar