Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hy kyk op sy horlosie. Hy haat dit om te wag. En Rico weet dit.
Hy sluk sy bier vining af en wink vir die kelnerin om nog een te bring. Hy kyk op toe Rico die restaurant binnestap. Hy is nie eens lus om die man te groet nie. Die blondekop man stap rustig nader, haal die sonbril van sy gesig af en sit die silwer aktetas hard op die tafel neer.
“Sagter ou! Wil jy aandag trek?” Jacques kan voel hoe die kelnerin se oë op hulle rus. Sy is nogal baie mooi. Lang swart hare, wip neusie met ‘n paar sproetjies op. As dit kom by die skoner geslag het hy nog altyd ‘n swakplek gehad, maar op hierdie Maandag oggend voel dit asof iets hom jaag. Hy kry nie tyd om haar skoonheid te aanskou nie. Dit pla hom ook nie regtig nie. Daar is belangriker dinge wat vandag gedoen moet word. Vandag is die eerste dag van die res van sy lewe. As hy ‘n karakter in ‘n boek was, sou vandag defnitief die proloog wees.

“Jy weet mos wat ons afgespreek het.” Rico se stem is hees en Jacques kan hoor hy moes ‘n laat aand gehad het. “Skaam jy jou nie om so te sit en drink op ‘n Maandag nie? En dis nog nie eens behoorlik middag nie.” Hy gaan sit oorkant Jacques en beduie vir die lenige meisie om vir hom dieselfde te bring.
“Jy’s ‘n mooi een om te praat. En ek is defnitief nie hier om te sit en luister hoe jy preek nie. Jy’s laat.” Jacques se oë flits ongeduldig en hy tel die swaar aktetas van die tafel af en sit dit saggies langs sy stoel neer.
“Chill, ou. Ek speel met jou. Wat is in jou agterent opgekruip vandag?” Rico vat ‘n sluk van die bier. Dit proe bitter in sy keel en hy probeer verstaan waaroor sy vriend so omgekrap kan wees vandag.
“Ek sê mos vir jou alles is in die tas. Al wat jy hoef te doen is om dit te gaan afgee by die tweedehandse meubel winkel in Greystraat. Die man daar sal vir jou ‘n koevert gee wat jy dan vir my bring en môre oggend is die geld in jou bank rekening. Easy money as jy my vra. Volgende week is jy op daai vlug. Ready to live the high life.”

“Goed, ek waai sommer nou. Hoe vinniger ek dit doen, hoe beter. Wat is ooit in die tas?” Jacques vryf oor die aktetas wat hy intussen op sy skoot getel het. Dit voel koud onder sy vingerpunte.
“Hoe minder jy weet hoe beter. Onthou net dat daardie tas my lewe beteken. Verloor dit en ons altwee kan maar ons begrafnisse begin reël.” Rico se blou oë is koud en Jacques voel hoe ‘n koue sweet druppel teen sy rug afkruip. Hy is nie ‘n bang mens nie, maar iets omtrent die situasie maak hom angstig. Hy weet Rico gaan hom goed betaal vir die pakkie se aflewering. En hy wat Jacques is kan doen met ‘n paar honderd duisend. Hy sal vir ‘n hele ruk lank nie hoef te werk nie. Volgende week hierdie tyd is hy oppad na die Bahamas. Daarna sal hy dalk bietjie die wêreld verken.
“Onthou nou, jy praat met niemand nie. Jy gaan in, sit die tas op die toonbank neer en sê Lupin het jou gestuur. Die man sal vir jou ‘n koevert gee in ruil vir die tas. Jy loop niks draaie nie, jy bring dadelik nie koevert na my toe. As alles goed verloop is jy môre ‘n ryk man. En wie weet, dalk maak ek in die toekoms weer gebruik van jou dienste, hetsy jy presies doen wat ek sê.”

Jacques antwoord niks. Hy knik sy kop en verlaat dan die restaurant.

Buite waai die wind koud teen sy lyf. Hy trek die ritsluiter van sy swart top op en loop af in die straat na die tweedehandse winkel. Sy voete voel dood en sy bene swaar. Hy maak sy oë skrefies toe hy opkyk en lees die winkel naam hard op: “Needful Things.”

Hy druk die deur oop en voel simpel toe hy skrik vir die geraas van ‘n klokkie wat vas gemaak is aan die deur. Die winkel ruik na stof, ou skoene en leer. Die dowwe lig wat brand agter die groot glas lessenaar gee die oudhede ‘n geheimsinnige voorkoms. So, asof al die meubelment in die vertrek baie eienaardige stories kan vertel. Jacques vee sy kuif uit sy oë en kyk rond. Dit wil vir hom voorkom asof niemand in die winkel is nie. Sy oë gly oor die ou stoele, tafels en kaste. Dan vang sy oog iets wat sy aandag trek. ‘n Glas kas vol kristalle. Hy loop stadig nader en bekyk die kleurvolle uitstalling. Hy het nog altyd ‘n aantrekking gehad teenoor kristalle. Hy voel hoe sy energie een raak met die van die kleurvolle klippies en vir ‘n wyle vergeet hy waarom hy eintlik hier is.

“Goeiedag kan ek help?”

Die stem laat hom omdraai en Jacques weet nie of hy wil lag van senuweeagtigheid of oor die eienaardige skepsel wat voor hom staan nie. Lang krul hare tot op sy skouers, ‘n band om sy kop en ‘n baard wat woes staan, bedek sy gesig. Hy is geklee in ‘n lang rok, wat jurkagtig voorkom en sy naels is lank en swart geverf. Hy teug rustig aan ‘n pyp en die reuk van die rook ruik soet. Jacques onderdruk ‘n glimlag en probeer so normaal moontlik klink.

“Lupin stuur dit.”

Hy beduie na die silwer akteas in sy hand.

“Aha, Lupin. ‘n Baie goeie vriend van my. Jy weet, ons was saam op skool destyds. ‘n Diep man. My naam is Vladimir. Aangenaam.”

Die towenaaragtige-man maak ‘n effense buig beweging en verdwyn dan agter die toonbank in. Na ‘n ruk kom hy te voorskyn met ‘n bruin koevert.
Jacques sug verlig en steek gretig sy hand uit om die koevert aan te vat toe die man se oë rek en hy die koevert voor by sy jurk inprop.

‘Jou aura is baie donker. Jy is onder stres ek tel dit op. Kom deur na agter, dan gesels on eers ’n bietjie. Ek kry die gevoel die heelal wil met jou komunikeer.”

Vladimir haak gemaklik by Jacques in en lei om na die vertrekkie wat versteek is agter in die winkel. In die klein spasietjie staan ’n deurgesette rusank en ’n antieke bal-en-klou stoel. In die middel van die vertrek staan ’n kristalbal op ’n tafeltje en rondom dit is ’n paar Tarot-kaarte gestrooi.

“”Sit so lank ek is nou by jou. Ek skink gou vir ons ’n bietjie tee vir die gemoed.” Hy druk Jacques plat op die bank en kom ’n rukkie later terug met twee koppies. Hy gee een aan vir Jacques.
“Dankie.” Jacques neem ’n sluk van die lou tee.

“Sê my eers, jongman, wat is jou naam?” Vladimir maak die Tarot kaarte bymekaar en sit dit sorgvuldig op ’n hopie neer langs die kristalbal.

“My naam is… “ Skielik onthou hy sy vriend se ernstige versoek om met niemand te praat nie. “Ek dink dis beter as ons nou die transaksie doen sodat ek kan gaan.” Jacques begin nou senuweeagtig voel en skuif tot op die punt van die bank.

“Wees rustig vriend. Die heelal het ’n boodskap vir jou. Ek kry net die gevoel dat dit iets is oor jou toekoms. Sit terug en haal diep asem.”

Jacques sit ongeduldig terug en haal geireteerd diep asem.

“Goed, ek luister.”

Die aktetas voel skielik klam op sy skoot en hy let op dat dit begin kondenseer. Hy sien ’n dun straaltje water teen die tas se rand afloop. Hy sit die tas neer teen die bank langsgaan sy voete.
Vladimir het intussen vooroor gebuk en kyk nou met groot oë na die kristalbal wat wasig lyk. Hy maak sagte hum-geluide en hou sy maer benerige vingers gesper oor die bal.

“Ek sien ’n missie. ’n Doelwit. Ek sien ook ’n pad, maar dis verkeerde pad. Ek sien jy is gekies vir groot dinge.”

Die woorde kielie Jacques se nuuskierigheid en hy vra belangstelllend: “Watse dinge?”

“Dinge waarvan jy nie eens kon droom nie. Ek sien drake en ek sien ’n feetjie met groot vlerke wat jou sal lei na jou bestemming.”
Vladimir steek sy pyp aan en blaas die rook rustig in die lug op.

“’n Feetjie? HAHA, ja hoor. Kan ons nou asseblief die omruiling doen sodat ek kan gaan?” Jacques staan ongemaklik op en tel die tas op, wat nou al ’n plas water op die houtvloer gelos het.

“Sit mooi stadig neer die tas en niemand kry seer nie.” ’n Vreemde stem laat Jacques omkyk. Agter hom staan die mooiste meisie wat hy seker nog ooit in sy lewe gesien het. Haar hare is rooi soos die son, haar oë goud soos die oggend dou op ’n roos. Haar lippe is sag en pienk, en haar glimlag laat sy bene wankelrig voel.

“Ek praat met jou. Jacques, gee vir my die tas, nou.” Haar stem is sag in sy ore, maar haar woorde gee hom rillings tot teen sy ruggraat. Hoe weet hierdie meisie sy naam?

“Hoe weet jy wie ek is?” Sy stem bewe.

“Jy dink seker ek is onnosel. Jy is dan die gekose een. Almal weet wie jy is. Of almal in die geestes realm ten minste.” Sy glimlag en swaai ’n silwer mes gevaarlik deur die lug.

“Gekose? Waarvan praat jy?” Jacques is nou verwar en iets sê hom dat hy eerder nou moet padgee voor dinge begin lelik raak.
“Gee net die tas.” Die rooikop meisie se hare raak skielik rooier, amper soos vlamme en haar oë begin skyn asof iemand ’n kers daarin aangesteek het.

“Nee!” Vladimir het intussen beweeg tot voor die meisie wat nou lyk of sy in die lug hang.

“Wat is in die tas wat so belangrik is?’ Vra Jacques, met die hoop om tyd te wen.

“Hoe bedoel jy, jy weet nie? Dis die hart van ’n vink.” Die swewende meisie gee ’n skalkse glimlag. “As jy dit insluk, kry jy elke oggend ’n goue muntstuk op jou kussing. Nie dat ek jou nou iets vertel wat wat jy nie reeds weet nie.”

“Wat? En jy dink ek moet dit glo. Dis seker ’n grap. Vlieënde meisies, vink harte, goue munte? Is julle laf!”

Vladimir gryp skielik die tas en ruk dit oop. In die middel van die gesmelte ys, die klein pienk orgaantjie. Hy gryp dit en net toe hy dit wil insluk, begin die hele aarde bewe. Jacques val plat en hou sy kop vas. Is hy besig om gek te raak?

In die geskud,pluk iemand hom regop en hy voel hoe hy hard land teen die muur. Dis die rooikop meisie wat hom so hardhandig rondgeslinger het.

“Wat soek jy!” Jacques probeer so hard as moontlik om die bewe in sy stem weg te steek.

“Ek soek die hart. En ek soek jou towenaars vriend.” Haar stem sny soos lemme deur sy ore. Hy kyk angstig rond en besef dat Vladimir spoorloos verdwyn het.

“Ek het nie die hart nie en hoe moet ek weet waar is Vladimir? En vir jou informasie, hy is nie my vriend nie!” Jacques kom agter dat die aarde ophou beef het. Hy staan versigtig op en voel die steekpyn in sy kop. Dan sien hy die klein piek voorwerp le tussen sy voete. Die vink hart lê weerloos. Dan dink hy weer aan die woorde:

“’n Goue muntstuk elke oggend…”

Sonder om twee keer te dink gryp hy die hartjie en sluk dit heel in. Die rooikop meisie gryp hom skielik aan sy borstkas en sis deur haar tande:

“Alle geluk kom met ’n prys. Ek hoop jy’s instaat om die prys te betaal.”

Dan verdwyn sy uit by die deur.

Die volgende ogend voel Jacques se kop swaar en dik. Hy sukkel om sy oë oop te maak en kom stadig orent. Sy lyf voel of ’n trein dit getrap het. Hy vryf oor sy oë en deur die skrefies probeer hy uitmaak waar hy homself bevind. Hy voel uitgeput en sy brein voel dood. Die son wat skerp deur die gordyne skyn, gooi patroontjies teen die muur en hy besef vinnig dat hy in sy kamer is. Hy gee ’n sug van verligtig en lê sy kop weer neer op sy kussing. Vir ’n wyle het hy gedink hy het sy kop verloor, maar besef nou dat dit alles net een verskriklike vreemde droom moes wees. Hy skrik toe hy iets koud teen sy kopvel voel. Hy ruk sy nek regop en vir ’n oomblik voel dit of hy gaan opgooi. Op sy kussing lê ’n goue muntstuk.

Daar is ’n harde geklop aan die deur.

En meteens onthou hy die woorde:

“Alle geluk kom met ’n prys. Ek hoop jy’s instaat om die prys te betaal.”








Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Susanna Maria Magdalena

deur Lorelei

Die lewensverhaal van n jongvrou wat gedryf word deur Stemme in haarself. Haar soeke na haarself en God asook n stryd tussen Lig en Duisternis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar