Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die sertifikaat lees “Johannes Jacobus Hanekom”. Daar is drie A-simbole en 3 B’s. ‘n Goeie einde aan sy skoolloopbaan. Maar nie voordat hy in standerd agt, deesdae graad 10, drie maande voor die November-eksamens van skool verander het nie.

Die skade wat Meneer Toit Lategan aan sy toekoms by die skool gedoen het was te veel. Sy ouers, die beheerraad en die polisie was betrokke. ‘n Finale waarskuwing was die uiteinde, nadat sy pa ingegryp het.

Johan het vir Mike Brits toevallig raakgeloop, buite die Pick ‘n Pay in Epsom Downs. Laasgenoemde bly reeds vir vyftien jaar in Johannesburg. Hulle het mekaar nooit weer gesien sedert Johan na matriek in Johannesburg kom studeer het nie. Die skolier met die swart hare het ‘n besigheidsman geword, en nou besturende direkteur by ‘n geurselvervaardiger vir meer as drie jaar al. Grys geword. Mike praat nie veel uit nie, maar dit is duidelik uit sy voorkoms dat hy nie dieselfde sukses as Johan bereik het nie.

Wat dit betref het nie veel verander sedert hulle saam rugbybal in die driehoek-veldjie in Bloemfontein geskop het nie. Mike is na die hoërskool in die straat af, terwyl Johan se ouers kon bekostig om hom dwarsoor die stad na ‘n elite skool te stuur. Selfs nadat Johan van skool verander het, was hy en Mike nooit in dieselfde skool nie. Hy vermoed Mike hou hom nog met dieselfde soort dinge besig as dertig jaar gelede. Hulle het selfoonnommers uitgeruil.

Toit Lategan het as jong onderwyser aardrykskunde en geskiedenis gegee. En die eerste rugbyspan afgerig. Hy het immers self Vrystaatproewe gespeel, en ook nasionaal hekkies gehardloop op universiteit. In dieselfde jaar wat die insident met Johan Hanekom afgespeel het, is hy getroud met die blonde Bessie, wat hom drie kinders besorg het. Behalwe vir die vele suksesvolle rugbyspanne wat hy afgerig het en die impak wat hy op etlike kinders se atletiekprestasies gehad het, het hy ook opgang in sy onderwysloopbaan gemaak en net minder as ‘n dekade gelede skoolhoof in Johannesburg geword. Dit het Johan uitgevind toe hy met ‘n verskaffer gesels het tydens ‘n middagete. ‘n Klein wêreldjie soos hulle sê.

Sy skoolrugbyloopbaan was basies op ‘n einde na die petalje waarin Lategan ‘n kernrol gespeel het. Hy kon by die skool aanbly, maar as jy in onguns by die eerste span se afrigter is, en julle nie met mekaar praat nie, is jou dae getel. Hy het die brand veroorsaak, maar dit was nie sy bedoeling om die klas af te brand nie. ‘n Kwajongstreek wat skeef geloop het, sover dit hom aangaan. Hy het geweet die onderwysers sou nie verstaan nie, en homself dom gehou. Onskuldig voorgekom en op die agtergrond geskuif wanneer daaroor gepraat is. En daar is natuurlik baie daaroor gepraat. Meneer Lategan het twee by twee gesit. Hy het nog nooit gedink die vernedering wat hom aangedoen was was regverdig nie.

Sanet Botha is van rassisme beskuldig. Vier-en-twintig jaar in die onderwys, nou geskors hangende ‘n verhoor. Die personeel en die beheerraad was verbaas, nee, geskok. Maar twee kinders wat by die dood sweer hierdie sagmoedige geskiedenis-onderwyser het hulle so aangespreek. Die koerante was op hul agtervoete. En ‘n paar ouers het na vore gekom met spekulasies en bewerings van rassisme. Insidente wat nooit voorheen die moeite werd was om genoem te word nie, het na vore gekom.

“Meneer Lategan, u besef sekerlik hoe hierdie op die skool en die departement reflekteer? U kan nie verder toelaat dat sulke dinge hier gebeur nie. Ek hoor wat u sê, maar dit is slegte publisiteit en iets moet hieraan gedoen word. Ek verseker u, die departement gaan die saak nie hier laat nie.” Dit was die woorde van die onderwysdepartment se hoof nadat ‘n tweede onderwyser geskors is.

Na bewering het hy ‘n kind, ‘n kleurling-seun, aan die kraag gegryp toe die kind by sy klas wou uitstap. Laaste, nadat die ander kinders reeds buite was. Geen getuies nie.

Toit Lategan se gesondheid het begin agteruitgaan. Dit het stil in sy huis geword, Bessie kon nie veel uit hom uitkry nie. Sy het ook nie meer geweet wat om te doen, hoe om te voel nie. Hoe om Toit verder te ondersteun nie. Hy het gereeld laat by die huis begin kom; daar was elke week laat en lang vergaderings met die onderwysdepartment, met die beheerraad en met ouers. Oproepe en onverwagte besoek van die media, of enigeen wat die skool wou slegsê, selfs die wat geen belang by die skool gehad het nie.

Verwardheid het onder die leerders begin posvat. Moedswilligheid ook. Baie kon nie verstaan hoe hul gunsteling onderwysers by sulke wandade betrokke kon wees nie. Die onderwysdepartement het die skool verbied om die aangeleentheid met die kinders of in die openbaar te bespreek. Die seuns en dogters het maar geweet wat in die koerante staan. En die stories wat van persoon na persoon oorgedra is. Dit het die skool soos vrot perskes vervuil.

‘n Breë glimlag het Johan se gesig oorgeneem toe hy die koerant optel. Die tweede sin van die Beeld se hoofberig lees “Meneer Lategan is met onmiddellike effek geskors is weens beweerde rassistiese bevooroordeling.”

Die berig het verduidelik hoe Toit Lategan persoonlik betrokke sou wees om puntestate te verander, spankeuses te wysig en slegs sekere rasse by kultuur-aktiwiteite toe te laat.

‘n Ou staatmaker-vriend met ‘n behoefte aan ietsie ekstra, en ‘n beïnvloedbare onderwysdepartementshoof. J.J. Hanekom se sleutels tot sukses.

Toit was platgeslaan. Die skoolgemeenskap was. Die skorsing van twee onderwysers én die skoolhoof sou verreikende gevolge hê. En te midde van ‘n mediastorm het min van die ouers rustig geslaap snags. Die pa van een van die dogters wat die teiken van Sanet Botha se rassistiese uitlatings was, wou sy dogter uit die skool haal. Al moes hy twee keer verder ry; hy kon nie bekostig dat sy dogter verder blootgestel word aan so ‘n korrupte stelsel wat haar menswaardigheid afbreek nie.

Die drie onderwysers het ooreengekom om een regspan te gebruik, en so saam te staan. Maar dit was lam liggame wat uit die vergaderings met die prokureurs gestap het, met min hoop dat dinge sou regkom. Hul reputasies was in elk geval daarmee heen. En hulle vriende het nie méér geword nie. Dreig-oproepe na hul gades terwyl hulle met samesprekings besig was, en voor hulle saans in die bed geklim het, het hul laaste energie getap.
Tieners is maar so, het sy haar man verseker. Sy dogter wou nie met hom praat toe hy vir haar sê hy gaan haar uit die skool haal nie. Sy gaan haar vriende mis. Maar toe sy die volgende oggend net na vier by haar haar ouers se kamer instap en sê,” Dit is nie so nie!”, het hulle verstaan daar is fout.

Geld draai.

En geld draai mense. Toit het eers gedink dit is ‘n grap toe Siphanda Gumede hom bel en sê hy wil hom help. Mike Brits is binne drie dae opgespoor, en die bedrag wat Toit en sy twee kollegas saamgesit het, hoewel meer as wat hulle kon bekostig, het Johan Hanekom se einde beteken.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Grafte op die Berg

    deur Johannes de Swart

    Prosigma, dagboek van 'n paranoiese skisofreen



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar