Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die soldaat

Sy asemhaling is rustig maar vlak, amper asof hy bang is dat iemand hom sal hoor. Dit verg al sy konsentrasie om nie te dink aan die verwoesting waaraan hy blootgestel is die afgelope tyd nie. Om nie homself te kasty dat hy nie ‘n kaart het, ten minste van die landmyne wat sy kant geplaas het, nie. Sy ore is gespits vir enige klank, enige geluid wat kan dui op gevaar. Dat daar iets skort. Versigtig neem hy ‘n tree vorentoe, bang om sy gewig op sy voet te verplaas. Bang vir die onsigbare dood wat onder die grond kan skuil. Maar bly waar hy is, dit kan hy nie.

Die kamp, nee, vir sy moeë, seer liggaam, die oase, is so aanloklik en naby. Hy kan die water saggies oor die rotse hoor kibbel en hy sien die hoe die skadu van die blare aan die lowergroen bome die son terg en vermaak. Die gedagte van beskutting teen die ongenaakbare felheid van die son te kom, is so oorweldigend dat hy vir ‘n oomblik duiselig voel, nie in staat om die fantasie-beeld te keer nie. Hy kan amper voel hoe die koel water sy seer voete lawe. Hoe hy diep drink aan die koue water. Maar dan ruk hy homself reg - hy kan nie nou slap lê nie. Hy besef dat hy nie nou konsentrasie kan en moet verloor nie, want hy weet nie waar die vyand is, of waar die dood dalk onder die grond skuil nie.

Hy huiwer ‘n oomblik, sy voet in die lug, sy asem nou opgehou. En dan tree hy vorentoe. Hy weet dat hy dalk nooit die slag sal hoor, as hy een van die myne, wat so verstrooi is oor die vaal stuk gras tussen hom en veiligheid, aftrap nie. Die een oomblik nog kan hy lewend wees, ‘n mens met gevoelens, wense en drome; die volgende oomblik dood. Of, ten beste, dalk net vermink. Hy lag skalks en wonder watter uitkoms wel vir die beste sal wees – oorlewing of vryheid van pyn, tamheid en wonder en van op sy hoede wees? Maar hy wonder nie lank nie – in ‘n vlietende oomblik is die gedagte verby sonder dat hy antwoord en klarigheid het, maar dit pla hom nie. Hy weet dat hy, met die volgende tree, dit weer, soos die refrein van ‘n bekende liedjie, in sy gedagtes sal opkom. Weer en weer, totdat hy, óf veilig is, óf nie meer is nie. Tog hou hy sy asem op en trap met sy volle gewig op sy voorste voet. Omdat hy moet. Al kan dit die einde beteken. Want om stil te staan, beteken onafwendbaar ook die dood, omdat die vyand nie stilstaan nie. Nooit nie. Die toekoms wink maar die verlede bekruip en is, ten spyte van sy ervaring en sy ondervinding, besig om hom in te haal.

Dit neem minder as ‘n hartklop vir hom om te besef dat hy nog lewe. Dat die gevaar vir ‘n stonde verby is. Hy neem sy pen en maak ‘n noukeurige aantekening op die kaart sodat hy ‘n veilige roete het as hy dalk weer langs dieselfde pad moet loop. Dan kyk hy om hom rond, soek vir tekens dat die oppervlak versteurd is of dalk ‘n dun struikel-toutjie tussen die bosse gespan. Dit maak nie saak of dit deur vriend of vyand geplaas is nie – die dood het geen voorkeure nie en emosies is ‘n luuksheid net vir die oorlewendes. Al wat saak maak is dat hy nie een moet aftrap nie. Hy hoor die meer voëltjies sing nie en weet nie of dit is omdat daar gevaar skuil nie, en of dit is omdat hulle pad gevat het na stiller oorde. Skielik is hy baie moeg.

Moeg van in vrees lewe vir die gesiglose gevare wat sy pad besaai, ten spyte daarvan dat hy koes-koes loop. Moeg van asem ophou en te wonder of die volgende treë verligting of vergetelheid gaan bring. Moeg vir bang wees dat hy nie meer vir seker weet is wie vriend, en wie vyand is nie. Of hy vir die lam weghardloop of na die wolf toe nie.

Hy gaan sit ‘n oomblik op sy hurke, smagtend na rus vir sy gemoed. Sy sweet meng met die bloed van die wonde van baie skermutselings, baie gevegte. Dit brand sy oë en sy wonde maar hy vertoef ‘n wyle langer, die vlugtige oomblik van rus narkoties. Maar dan neem bewustheid en verantwoordelikheid oor en hy staan kreunend op, die gewig van die toerusting op sy rug nietig teenoor die gewig van sy geheue, sy skuldgevoelens oor sy onvermoë om die oorlog te stop.

Sy keuse gemaak, lig hy sy voet weer op en tree vorentoe. Miskien, dink hy, bring díe tree verligting. En, voordat hy sy gewig ten volle verplaas, wonder hy of iemand, as hulle eendag terugkyk oor die mynveld van die verhouding, die oomblik sal onthou. En of dit enigsins ‘n verskil of saak gemaak het.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

sjoe
soos net jy kan
D
12 jaar 2 maande 1 week 1 dag 16 ure oud


Kommentaar
Ek kon myself lekker inleef in hierdie een. Baie goed geskryf. Groete.
12 jaar 3 maande 3 dae 20 ure oud


ACV
soldaat
Dit het lekker vlot gelees en die spanningslyn was regdeur styf getrek.Daar gaan mos n duisend gedagtes in een sekonde deur jou brein wanneer jy in n gevaar-stuasie is ; en dit het jy hier vir my bewys. Mooi geskryf. Woesgroete
12 jaar 3 maande 4 dae 5 ure oud



Destined to Love

deur Rachelle du Bois

As she sat down on her suitcase, despair almost overwhelmed her. The events of the past week should have prepared her for something like this – this old house with this overgrown garden in this godforsaken little town in the eastern Free State of South Africa, which was left to her by a grandmother she had not known existed. But as she steadily began uncovering the secrets of her granny’s and her mother’s past, she found her destiny here, irrevocably linked to her smouldering neighbour, Julian du Toit. He'd made a promise to her grandmother that he fully intended to keep.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar