Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

"Ijo!" Plankvloere skrop is swaar. En die gang is so lank. Lydia Mogoera hoes. Die lug is koud, maar sy moet die deur oop laat staan sodat die vloer droog kan word. Sy kyk na die vloer. Sy kyk na die groen seep, die skropborsel in haar seningrige hand, die emmer water. En die lap.

Die lap. Dit was Janneman se ou T-hemp. Die een wat hy sleg geskeur het toe hy een nag deur die bosse van die heuwel geklim het. Vreemde kind, dié seun van Nooi Aisa. Só op die heuwel. Snags. Anders as die ander wit seuns wat sy al in haar lewe leer ken het.

Lydia kyk op. Die gang lyk of hy nêrens gaan ophou nie. Veral vandag. Sy voel nogal swak vandag. En hartseer - botlhoko. Haar ma het haar die naam gegee. Maar sy móét werk. Oor Mpho en Boitumelo. Haar gawe en haar vreugde. Sy moet hulle kos gee en klere. Buitendien het sy die kos nodig wat sy by Nooi Aisa se huis eet. Sy voel swak daarsonder.

Nooi Aisa moet ook werk. Sy werk by die OK Bazaars. Nooi Aisa het vir Janneman en vir Lientjie, wat ook kos en klere nodig het. Nooi Aisa is dalk net so oud soos sy, want Mpho en Janneman is albei sestien. Albei nog op skool. Die dogters ook. Nooi Aisa se kinders is op Sentraal aan die voete van Naval Hill; haar eie op Bochabelo High, waar daar ook heuwels is nie.

Hoes.

Dus, Donderdae skrop sy vloer in Nooi Aisa se huurhuis.
Sy doop die borsel in the water, trek die seep oor die harde hare. En skrop, met die water, seep, ou politoer en vuiligheid wat meng soos wat sy kringe oor die planke skrop. Sy sit die borsel neer, doop die lap in die water, wringdruk die oortollige water daaruit, en vee die fyn, bruin skuim van die planke af voordat dit droog en hard word. Altyd versigtig. Sy kan splinters in haar hande of knieë kry. Die houtvloer is oud.
Stadig skrop sy agteruit, al dieper die skemerhuis in, haar blik na die oop voordeur toe, waarbuite sy net-net die denneboom op die stowwerige sypaadjie kan sien.

Hoe bleek is die son nie! En kyk, die mossies! Hulle rus ook nooit nie, nè?

Janneman se slaapkamerdeur is nog toe. Dit is skoolvakansie.
‘n Lied druk haar keel oop, droef gedra deur haar naam, gedra deur alles wat sy nie verstaan nie.

Senzeni na? Senzeni na? Wat het ons gedoen? Wat het ons gedoen?

*********

Janneman kon nie wag vir die fliek om te begin wys nie, nie vandat hy die plakkaat gesien het nie. Die plakkaat was soos ‘n gedig. ‘n Man is van agter af afgeneem, kaal, terwyl hy by die poort van ‘n baie ou stad uitstap. Franciskus. Van Assisi. Janneman het dit in die Volksblad gesien en alles gelees. Voor daardie tyd het hy niks geweet van hierdie man, Franciskus, of van Assisi nie.

Die Sondag voor die fliek sy gewone ses dae sou begin wys, het Janneman sy ma vir fliekgeld gevra. Sy moes vermoed het, geweet het. Ja, sy het mos die foto teen sy muur gesien. Het sy self die koerant gelees? Sy moes iets verstaan het, sy bui aangevoel het, want sy het geglimlag en vir hom geld gegee, al moes hy eers die volgende Saterdag sakgeld kry. Vir die vakansie. Dis nog eksamentyd, maar hy leer mos, sy weet. Al loop hy soms snags alleen rond. Vreemd.

Janneman het daardie Sondag meer as afwagting gevoel. Die kerkdienste, oggend en aand, het ‘n onbeskryflike verlange na wie-weet-wat net erger gemaak. ‘n Hartseer hunkering.
Daardie Maandag, net na skool, het hy flink in stad toe gestap om betyds te wees vir die middagvertoning. Hy het nie omgegee oor hy nie koeldrank of springmielies sou hê nie. Na die advertensies, die nuusprent en die voorskoue, was dit pouse. Heeltemal te lank, hierdie pouse, veel langer as voorheen. Hy het bly sit. Toe, uiteindelik, het die mense ingekom, die ligte verdoof, en het die fliek begin.

Deurskynende lap. Sagte lap wat gedrapeer asof van niks af nie uit die plafon hang, wat stadig in ‘n bries beweeg. Die kamera het elke vou en fladdering vertroetel, stadig af beweeg, en stil gaan staan op die gesig van ‘n jong man. Koors het soos sweet op sy voorkop geblink. Raam na raam was so mooi soos die olieskilderye wat Janneman in kunsboeke in die skoolbib deurgeblaai het.

Raam na raam, met ‘n jong Franciskus wat op die nok van die dak nader en nader aan ‘n mossie balanseer. Die mossie flikker weg. Dan sien die kamera hom loop deur ‘n lapkleurwerkplek. Stoom styg op uit die rooi, blou, groen en geel putte. Mense roer kleur in die vesels van die lap in, maak dit wat dof is, helder. ‘n Bont mengelmoes.

Uiteindelik: die toneel waarop Janneman gewag het. Wyd en oop op die doek.

‘n Strak en bleek, asof in ‘n dwaal, staan Franciskus in die middel van Assisi se dorpsplein. ‘n Skare staar. Hy begin in die son ontklee, rug na die kamera toe, gesig na die poort toe. Dis asof hy met elke kledingstuk iets laat val wat meer as klere is, ‘n verlede wat nie sy skepping is nie.

Vasbeslote stap Franciskus weg van die bondel klere en die skare wat nóg geskok nóg vermaak bly staan en staar. Die ryk handelaar se seun word die diepte en die intensiteit en die daad van hulle onvervulde begeertes.

Die res het vir Janneman vervaag. Mense wat soos hy dink en voel, het oor dae en maande by Franciskus aangesluit. ‘n Mooi meisie ook. Hy het probleme met die pous opgetel, maar dié moes hom uiteindelik aanvaar.

Elke middag het Janneman gaan fliek, behalwe die Donderdag, toe niemand hom die fliekgeld wou voorskiet nie. Nie sy ma nie, nie Tannie Pieta nie, nie Antie Anne nie, niemand nie. Tannie Roestof het hom die volgende dag jammer gekry toe sy sien hoe mismoedig en bedruk hy was. Saterdag na werk het sy ma fliekgeld vir hom gegee. Sy het haar seun nog nooit so gesien nie, maar dit aanvaar. Dit was per slot van rekening die heilige Franciskus.

En deurentyd het ‘n paar woorde uit ‘n lied bly voortsing in Janneman se kop, op sy tong, in sy hart. We are God's children. Of Him we are part. I feel his love awakening in my heart. Ons is God se kinders. Van Hom is ons deel. Sy liefde word in my wakker.

*****

Dit was asof die vakansiedae dae geword het wat Janneman deur fyn gaas sien. Hy het gevoel iets raak anders binne-in hom. Hy het homself eenkant gehou. Soms het hy die hange van Naval Hill gaan klim om sommer net te stap. Hy het hom toenemend verwonder aan die vreemdvaal en stowwerige bosse en veld en die amper mak bokke bo-op die heuwel. Van die grondpaaie het hy weggebly, daar waar stof agter enkele karre opgeskop is en deurskynende, uitbollende wolke gemaak het wat stadig op pad en boom en blaar en halm neergesif het. ‘n Vaal vlies.

Die koue teen sy gesig het nie saak gemaak telkens wanneer ‘n bries gemaklik deur die tekens van daardie skone, droewe seisoen beweeg het nie. Die hunkering in hom het vir hom mooi geword; dit het ‘n seisoen geword wat huiwer op die dun band tussen rus en geilte. Selfs die son, bleek maar warm, het dit voorspel.
Op die heuwel het hy die sterrewag se koepel het skaars besef. Hy onthou hoe hy eenmaal deur die teleskoop na die maan gekyk het. Hy kon geen man sien wat in die maan wegkruip nie.
Net bleekblou vlekke, wat oseane genoem word. Sonder water. Hy kon darem altyd die Suiderkruis raaksien wanneer hy op die voorstoep by hulle huis gestaan het.

Hy het ook op ‘n manier die reusemegafone gesien wat vas is aan die radiomas naby die uitkykpunt oor die stad. Dit het hom altyd verbaas hoe ver en indringend die sirene gehoor kon word. Elke nag, maak nie saak waar hy was nie, het die sirene nege-uur onaards oor die stad geloei. Selfs ver buite die stad by die Veld-inryteater kon hulle dit hoor. Aand na aand het dit die teken uitgeskel dat die strate van wit Bloemfontein verbode was vir alle swartmense sonder passe.

We are God’s children. Of Him we are part.

Hoe langer hy na die megafone gekyk het, dit raakgesien het, hoe meer het dit groteske trompette geword wat alarm maak. Alarm van iets anders wat verkeerd was; nie reg nie. Iets in hom was ook verkeerd, iets wat nie sy skuld was nie, maar wat beslis nie reg was nie. Iets waaroor hy skuldig gevoel het, iets waarvoor hy al hoe meer om verskoning wou vra. ‘n Droefheid groter as die perke van sy begrip het oor sy hart kom lê soos stof waar dit val as die bries ophou waai.

Namate die son vinniger op die westerhorison neersak, het Janneman haastiger geraak. Die lug het verkleur soos lap wat in ‘n put geroer word. Blou, bleekgeel, en dan snel van oranje, dan pienk, en eindelik pers. Janneman het geweet hy moes teen die hange af voor die bosse donker afgeëts raak teen die stad se ligskynsel, etse wat die een soos die ander lyk. Af met die hang voordat nog ‘n hemp haak en skeur aan ‘n doring aan ‘n tak wat hy nie kon sien in die skemer en toesakkende duisternis nie.

*****

Die gordyne beweeg nie, al kraak en skuur die kaal takke buite in die oggendluggie.. Die son probeer deur die boonste lap van die gordyn dring. Stadig en saggies glip dit af teen die gordyn op soek na ‘n opening om die kamer binne te val.

Op die bed, met swaar komberse wat die winter moet uithou, lê die slank seun. Sy lyf se hitte is vasgevang onder die gewig van baie komberse. Daar is sweet op sy voorkop. Dit is asof hy koorsagtig stry teen die ongenaakbare goedheid van die gewig. Die sweet glinster in die lig wat deur die gordyne syfer.
Dan snak hy na asem. Sit regop. Staar effens wild na die gordyn. Buite kwetter ‘n mossie. Hy lig hom uit dit wat hom vasgevang wil hou. Wankelrig leun hy oor na die gordyn toe. Sy slank vingers trek die gordyn oop. Hy sien die rustelose mossie terloops. Sy oë word donkerder terwyl die son kwistig oor alles val.

Die vars winterlug aanvaar die uitnodiging wanneer Janneman die venster vlugtig oopmaak, en die yskoue teen hom voel, ‘n paar teue daarvan diep intrek, en dan weer die venster toemaak. Wanneer hy omdraai, sien hy die Bybel op sy lessenaar en die plakkaat uit die week se Personality, wat hy teen die muur bo die lessenaar vasgeplak het, en hy sien die kers langs die Bybel.. Franciskus, wat wegstap uit Assisi uit. Gestroop. En op die voorgrond, ‘n hoop klere.

Die allesoorweldigende droefheid van die vorige dag keer terug. Ook die gevoelens. Ook die drang om iets te doen. Binne sy hart se hart weerklink die lied se woorde, en ontplof dan in sy kop: We are God’s children. Of Him we are part. I feel his love awakening in my heart.

*****

Janneman dwaal deur toe. Sag maak hy dit oop. Die koue lug trek oor sy kaal voete in sy kamer in. Die reuk van seep tref hom.

Senzeni na? Senzeni na?

Lydia hou op sing wanneer sy hom sien.

"Môre, Janneman," groet sy die seun wat lomp-verward in die deur kom staan het. Kaalvoet. Flenniepajamas. Oë met soveel seer daarin dat sy skrik. Oë wat haar aanstaar, tot binne-in haar kyk en verder as dit. En vreemd. ‘n Vreemdheid wat mettertyd merkbaarder geword het nadat die prent aan die muur verskyn het, en die kers op die lessenaar daaronder. Hoekom groet hy nie terug nie? Vra vir koffie nie? Enigiets nie?

Janneman sien Lydia. Hy sien haar raak. Regtig raak. Haar brose liggaam, haar regterhand effens angstig op die skropborsel. Die lap lê pap langs die emmer. Die seep is ‘n groen spatsel teen die bruingrys planke. Hy sien haar oë. Hy sien haar oë raak. Regtig raak. Hy sien tot diep binne-in haar oë. Hy sien die oë van al haar mense, en meer as dit: Hy sien die vraag agter die lied se vraag, wat hy nie verstaan nie, en verwag geen antwoord nie.

"Janneman?" is al wat sy kan uitkry voordat sy besef sy seer het trane geword. Geen snik nie. Niks nie. Net trane oor sy jong wange waar hy nader kom in die gang op die amper droë, growwe planke. Hy hurk voor haar en leun vooroor, sy hande uitgestrek na haar toe. Teer en versigtig reik hy na haar seperige hande. Hy huil nog. Sy lig haar hande, oor iets in haar verstaan. En hy soen haar seephande.

Oor en oor mompel hy: "Ek’s jammer, Lydia. Ek is so jammer."

Hy weet nie waarvoor hy jammer is nie, net dat hy jammer is.

En Lydia vergewe die seun. Waarvoor, weet sy nie; net dát sy hom vergewe.

Janneman los iets agter, soos ‘n hoop klere op ‘n stowwerige markplein.
--o0o--



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Die stilte in seep
Bring baie herinneringe terug!
En die knop in my keel voel so groot soos Naval Hill.
6 jaar 7 maande 3 weke 1 dag 12 ure oud


Stilte
Uitstekende skryfwerk in hierdie pragtige verhaal! Ek wil nog vele lofprysinge meedeel, maar daar is 'n stilte in my.
6 jaar 7 maande 3 weke 1 dag 20 ure oud



Vergete Pioniers

deur neels claasen

n spoorwegroman uit die sestigerjare



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar