Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die sagte koninggrootte dubbelbed voel soos ‘n plankvloer onder my moeë liggaam. Die lakens sukkel om bo-op die bed te bly en val kort-kort in ‘n hopie op die vloer. Telkens tel ek dit weer op, om oomblikke later dit geïriteerd van my lyf af te skop totdat dit uiteindelik weer op die vloer beland. Hierdie somersnag is warmer as die hel, om my net die volgende oomblik yskoud en vervaard na die lakens te laat soek. Dit is al die hele week dat hierdie patroon homself elke aand herhaal soos wat die spanning en afwagting van die naderende huweliksdag my konstante krampe op die maag besorg. En hoe nader vandag gekruip het, hoe meer het die krampe geraak, totdat my hele liggaam daarvan deurtrek is.

Teen drie-uur gooi ek vir myself ‘n stewige dop whiskey wat ek met een asem wegslaan, in die hoop dat dit my sal laat slaap. Maar die bleddie ding laat my vir die volgende uur wawyd regop sit.

In die vroeë oggendure kry die moegheid die oorhand en ek sluimer vir ‘n uur of wat in. Ek skrik natgesweet agtuur wakker toe my selfoon se wekker skril langs my kop afgaan, juis op die punt wat die troumars dawerend op die orrel in my drome weergalm. Met groot inspanning sleep ek my moeë lyf deur die stort in ‘n poging om ‘n sweempie lewe daarin te blaas. Ek skeer versigtig. Ek wil nie graag vandag met ‘n stukkende gesig rondloop nie.

Twee Beroccas en ‘n Red Bull later voel ek hoe die moegheid plekmaak vir die dag se opwinding. Met die tinteling van die warm stortwater nog op my lyf, trek ek my nuwe donker pak klere aan wat ek spesiaal vir die geleentheid gekoop het. Ek het aanvanklik gedink om ‘n ligter pak as hierdie een te koop, maar het toe einde laaste op die donkerder een besluit. Hanli hou van donker pakke.

Ek bekyk myself in die spieël totdat ek seker is die broek en hemp sit reg. My lomp vingers sukkel om my das perfek gestrik te kry. Buite gloei die strate reeds in die warm Desemberson, en ek besluit om eers later die baadjie aan te trek. Vandag gaan ons behoorlik vrek van die hitte.

Ek probeer kalmeer deur die koerant te lees voordat ek kerk-toe gaan, maar kom gou agter dat ek geen idee het wat ek gelees het nie. Al wat ek voor my oë sien, is Hanli in ‘n spierwit rok met ‘n sluier wat haar ligte hare en sagte oë effens wegsteek. Ek los die koerant op die kombuistafel en sluit die deur agter my. Dit is nog effens vroeg, maar ek sal eerder by die kerk gaan wag. Oppad kerk-toe dink ek aan die goeie tye wat ek en Hanli as studente saam deurgebring het, hoe ons as eerstejaars met karnavaltyd in die strate rondgehardloop en rasende blikkies heen en weer onder al wat leef en beef se neus rondgeskud het. Ek hoor weer die ritmiese musiek by die vensterversierings en die lomp danspogins daarmee saam.

Ons gunsteling tye saam was die triestige dae wat die herfsblare van Victoriastraat se akkerbome deur die winterreën in die leivore opgedam is. Dan kon ons saam onder ‘n sambreel van die reën wegvlug, of saam onder die Ou Hoofgebou se pilare skuiling teen die wind soek.

Ander (warmer!) dae wanneer die klasse vir ons vervelig geraak het, het ons weggeglip en roomys by Portofino gaan koop. En soms het ons see-toe gegaan. By Gordonsbaai het ons gereeld op die strand gestap, of sommer net op die sand gelê en na mekaar gekyk, sonder om ‘n woord te sê, totdat sy later haar oë toemaak, of haar kop wegdraai. Ek het gesukkel om moed bymekaar te skraap om haar te sê hoe lief ek haar het. Daarom het ek vereers dit diep in my hart gebêre waar dit veilig was. Maar ek het geweet sy kon ook voel hoe ons liefde vir mekaar groei.

Soms het ons vir tannie Lettie gaan kuier. Sy en Hanli se ma is susters, en sy bly in ‘n drie-slaapkamer huis langs Gordonsbaai se hoofpad. Die huis is vervalle, met vensterhortjies wat dringende skuurwerk en vernis nodig het. Die huis was effe bruinerig, maar dit was as gevolg van stof en nie die verfkleur nie. Binne slaan die muf plek-plek op die mure deur, en in die reënseisoen pak tannie Lettie ‘n dosyn emmers op die vloer sodat die lekkende dak nie die matte laat muf nie. Sy is nooit getroud nie. ‘Die grote het weggekom’ spot sy altyd. Met ons eerste ontmoeting kon ek sien dat haar deurdringende oë my goed opsom. So tussen die geselsery oor haar eindelose uithouvermoë in fietsmarathonne, kon ek aanvoel hoe sy my opweeg om uit te vind waar ons met mekaar staan.

Eendag tydens so ‘n besoek, toe Hanli vir ‘n oomblik uit die vertrek is, het sy my in die oë gekyk en ernstig gesê: ‘Jy moet jou kaarte reg speel. Ek kan sien sy’s mal oor jou.’

Sy het my heeltemal onkant gevang, en ek het met ‘n gestotter iets probeer sê, maar sy het nie ‘n opmerking van my verwag nie. Sy wou maar net sê...

Ek hou van tannie Lettie.

By die kerk in Ceres staan die deure al oop om die gaste te ontvang. Dis ‘n groot dag vir Hanli se ouers, aangesien sy die eerste van die kinders is wat trou. Die hele gesin beplan al maande aan die formaat van die dag en klere is al lankal beplan en laat maak. Almal sal uitgedos wees vir hierdie okasie.

Dis nog ‘n halfuur voor die diens begin. Dit voel soos ‘n ewigheid en my spiere trek saam van die spanning. Ek gaan sit in die kerk in ‘n poging om rustig te raak, maar besef gou dat dit ‘n stupid idee was. Die vrouens wat die blomme doen, skarrel nog rond om ‘n paar laaste veranderinge aan te bring. Hulle is besig om my senuwees nog meer op hol jaag. Ek staan op en gaan weer buitentoe.

Ek steek ‘n sigaret op en trek ‘n paar diep teue in die hoop dat dit my sal kalmeer. Gewoonlik is ‘n smoke-break net die regte ding.

Eendag in een van die klasse, naby aan die einde van die jaar, het ek vir die eerste keer vir haar gesê dat ek haar liefhet. Ek het ‘n bladsy van my notas uitgeskeur en daarop geskryf: ‘Ek het jou lief.’ Sy het vir ‘n oomblik haar kop op haar hande laat sak. ‘Dêmmit, nou’t ek ‘n fout gemaak,’ was my eerste reaksie.

Sy’t later aan my verduidelik dat ek haar onverhoeds betrap het. Ons het vir ‘n hele ruk lank nie weer daaroor gepraat nie. Ek wou vir niks in die wêreld hierdie meisie van my drome en van my lewe verloor nie; al het dit beteken dat ek my gevoelens vir myself moes hou.

Met my smoke-break iets van die verlede begin die eerste motors ook nou hulle opwagting by die kerk maak. Ek beweeg buite-om die kerk na die agterkant, want ek sien nie nou kans om met enigeen te gesels nie. Mense het soms die manier om die stupidste goed by sulke geleenthede te sê.

Ek steek nog ‘n sigaret op, en onthou hoe die somervakansie nadergesluip het. Ons was nie baie opgewonde daaroor nie aangesien ons vir ‘n lang tyd van mekaar geskei sou word. My ouers bly in die Vrystaat, en dis ‘n hele entjie van Ceres af. Ons het mekaar gegroet met die verwagting dat ons defnitief ‘n plan sal maak om bymekaar uit te kom.

Daarna het dinge baie vinnig gebeur, en toe ek weer my oë uitvee, toe lui die huweliksklokke.

Ek kyk vlugtig na my horlosie en sien dat dit amper tyd is dat die diens begin. Ek trap my derde sigaret dood en stap na die kerk se oop en winkende deure. Ek wil nie graag soos ‘n fool buite staan wanneer die bruid reeds die kerk ingaan nie.

Die gaste het intussen die kerk ingestroom, en ek sien dat hier binnekort nie plek vir ‘n muis gaan wees nie. Net nadat ek in is, kom tannie Lettie ingestap. Haar rok is verslete en oor haar skouers hang ‘n blouerige tjalie. Terwyl sy na ‘n oop plek voor in die kerk beweeg, groet sy almal. En almal knoop geselsies met haar aan.

Ek krimp ineen waar ek my sitplek ingeneem het, want ek weet maar alte goed wat gaan gebeur as sy my raaksien. ‘Dêmmit, kon ek nie maar nog ‘n bietjie buite rondgestaan het nie…’ Ten spyte van my beste wegkruip pogins voel ek haar oë op my. Ek kyk op, en sien haar vir ‘n oomblik huiwer. Dan kry sy ‘n vreemde uitdrukking om haar mond asof sy my wil bemoedig. Sy fluister kliphard na my kant toe: ‘Jou swaap, jy’t haar deur jou vingers laat glip.’

My hart ruk maar ek grinnik saam. Ek kyk vinnig rond of iemand haar nie dalk gehoor het nie, maar almal is so besig met hulle eie dinge dat hulle nie aan my of haar opmerking aandag gee nie.

Die orreliste begin eensklaps met ‘n oordonderende lawaai die troumars speel. Almal staan uit hulle regop sitplekke op, en tannie Lettie gaan staan langs die persoon naaste aan haar. Hanli kom saam met haar pa die gangetjie af, en voor in die kerk staan die bruidegom glimlaggend vir haar en wag.

Ek vang weer tannie Lettie se oog. Sy kyk haastig weg, maar nie vinnig genoeg dat ek die begrip en hartseer in haar oë gesien het nie. Ek onderdruk die stupid emosie wat aan my keel ruk, en dink daaraan dat ek sekerlik die bruid en bruidegom ná die diens sal moet gelukwens met die groot dag in hulle lewe. En uit die aard van die saak sal ek die bruid met ‘n soen moet gelukwens. So nonchalant as moontlik druk ek my hand voor my mond, blaas daarin, en ruik of dit na rook ruik. Vir die wis en die onwis druk ek in elk geval ‘n Stimorol in my mond. Hanli hou nie daarvan dat ek rook nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

=)
Goed gedkryf en 'n treffende einde.
8 jaar 1 maand 6 dae 20 ure oud


...
Dis ook 'n wenner dié! Baie, baie goed geskryf. Ek voel nou soooo jammer vir j...hierdie man.
8 jaar 2 maande 2 weke 6 dae 16 ure oud


Die lewe en sy draaie
Sjoe.... Ek lees ongelooflik baie emosie hierin. Goeie einde.
8 jaar 7 maande 2 dae 4 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar