Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

‘n Krakerige tolbos rol oor die vaal, uitgedroogde gras van die rugbyveld. Henning sit in die skaduwee agteroor op een van die harde stoele van die enigste pawiljoen. Sy bene is uitgestrek en sy voete op die volgende stoel se leuning. Hy het ‘n periode af tussen klasse en moes net eers bietjie uitkom. Hy tuur uit oor die eindelose vlaktes anderkant die rugbyveld en netbal bane. Skielik vang ‘n beweging links van hom sy oog.
In ‘n lang, swart leer jas, met sonbrille en stewels wat kan seermaak, kom ‘n vrou te voorskyn. Sy kyk oor die veld en dan na iets in haar hand. Doelgerig gee sy ‘n paar groot treë skuins oor die veld. Die wind vang die onderste punt van haar jas en soos dit opskiet sien Henning iets wat lyk soos ‘n jag-mes teen haar stewel vas gegespe. Hy sit pen-regop soos meerkat. Verbeel hy hom?
Die vrou se donker, lang hare wapper agter haar in die droë windjie. Sy merk hom nie. Hand voor haar uitgestrek met wat soos ‘n sakrekenaar of GPS lyk, loop sy tot in die middel van die veld, kyk op in ‘n rigting parallel met die pawiljoen, en stap dan haastig weg.
Henning staan haastig, maar versigtig, op en loop tot by die kant van die pawiljoen. ‘n Stof wolk bring ‘n swart gedierte tot voorskyn. Hy herken die robuuste bou van ‘n Hummer. Dit maak ‘n netjiese u-draai en raak dan klein op ‘n vae, twee-spoor padjie in die rigting wat sy laaste na gekyk het.
“Wat de duiwel?” praat Henning met homself.
Sy handpalms sweet. In sy kop raas klomp vrae gelyk. Hoe het sy hier, by ‘n skooltjie in die middel van nêrens, uitgekom? Hoekom? Wie is sy? Moet ek haar volg? Wat van die klasse wat ek nog moet gee? Wil ek regtig ‘n Geskiedenis onnie wees die res van my lewe? Is dit waarvoor ek so hard aan my dokters graad in argeologie gewerk het? Wou ek nie nog altyd ‘n Indiana Jones gewees het nie?
Die Hummer raak al hoe kleiner op die horison.
Hy gryp die pawiljoen se reëling vas en soos in sy seuns-jare spring hy rats oor die kant. Hy plof in die stof en stap doelgerig na sy klaskamer. Na hy sy baadjie, wat hier in 40°C nogsteeds verpligtend is, en motor sleutels gekry het, sluit hy die klas en drafstap na sy motortjie toe. Onderwysers kyk verward hoe die bekende roomkleurige Datsun weg rammel, en dit boonop nog in ‘n rigting weg van die dorpie af. Gou skud hulle hul-self egter reg en gaan voort met die lesse. Daar gebeur tog in elk geval niks ooit in hulle dorp nie en daar sal een-of-ander logiese verduideliking wees. Skielik kan hulle nie wag vir die breuk nie…
Die Datsun se ou skokbrekers is nie simpatiek met sy sitvlak terwyl hy jaag op die grondpad nie. Al weet hy waarheen die padjie lei is hy bang die Hummer draai dalk iewers in die vlaktes af en, kom wat wil, hy moet uitvind wat daardie vrou by hulle skool gedoen het. Die motortjie skreeu van inspanning en raak net hier-en-daar grond. Ingedagte glip Henning se oë na die petrol meter en weer terug pad toe. Stadig dring ‘n belangrike punt deur tot sy brein. Hy kyk weer na die petrol meter, maar die keer let hy op. Die tenk is amper leeg! Sy voet trap dieper op die pedaal. Uiteindelik sien hy ‘n stof-wolk. Dit kan net die Hummer wees besef hy effens verlig. Nou moet hy net nie te naby kom nie. Hier is niks bome of veld wat hom weg kan steek nie en bitter min mense gaan ooit na die vissersdorpie toe waarheen sy oppad is.
Dis laat middag toe hy by die dorpie kom. Die Datsun gee so paar snikke en dooi. Tot sy groot verligting is hy op ‘n klein bultjie en kan hy afrol sonder die motor se hulp tot in ‘n parkeer area buite ‘n hout-huis. Toe hy stilhou sien hy voor die huis hang ‘n wind verwaaide bordjie: “Gaste Huis.”
Die handrem kraak oudergewoonte toe hy dit met moeite optrek en die sleutels uit die skakelaar trek. Kreunend swaai die effens geroesde deur oop. Sand knars onder sy skoene. Hy ruik die effense vrot reuk van die see en ‘n koel briesie waai liggies oor sy gesig. Hy buk terug en haal sy baadjie uit. Die temperatuur hier is definitief baie laer as dit waaraan hy gewoond is daar in hulle ou plekkie.
Terwyl hy in die naderende skemer na die voordeur van die hout huisie stap sien hy die Hummer om die hoek staan. Met twee groot treë is hy bo-oor die klomp trappe tot op die houtdek wat as stoep dien. Die voorportaaltjie is flou verlig. Geen siel in sig nie. Teen die muur hang ‘n outydse klok met ‘n toudjie. Hy pluk hard daaraan en die geklingel donder deur die hout. ‘n Milli-sekond later kom ‘n ronde, groot, donker bebaarde man uit ‘n vertrek agter die toonbank uit.
“Ja, wat is dit?” vra hy bot en geïrriteerd.
“Ek… ek…” skielik weet Henning nie wat om te sê nie. Eintlik wil hy net weet waar die vrou is.
Die man vou sy groot, harige arms afwagtend en dreigend.
“Ek is opsoek na die eienares van die Hummer,” kry Henning die woorde.
Die man antwoord nie, ontvou net sy arms en draai om, om te loop.
“En ek soek ‘n kamer vir die nag!” roep Henning desperaat.
Die man draai terug. Terwyl Henning ‘n boek invul met sy besonderhede sien hy die inskrywing bo syne.
“J. Smit, Johannesburg…” Daar is geen kontak besonderhede by nie en geen mejuffrou of meneer of iets nie, maar dit moet sy wees besluit hy. Hy teken en draai die boek terug na die man wat dit toeklap en op ‘n rak onder die toonbank sit.
“Jy moet self jou bagasie na jou kamer toe vat. Kom ek gaan wys jou waar.”
Hy haal ‘n sleutel uit ‘n kassie hoog teen die muur en loop om die toonbank. Henning volg gehoorsaam.
Die kamer is ‘n vreemde vorm. Amper soos ‘n ongebalanseerde driehoek. En klein. Teen die groot venster wat uitkyk op die see se rotse staan ‘n baie klein enkelbedjie, netjies opgemaak met donkergrys en wit linne. Teen die oorkantse muur is ‘n stoeltjie en langs die deur is ‘n laaikas met ‘n ketel, koppie, ens. op.
“Die toilet en badkamer is in die gang af,” grom die man en loop. Die sleutels bly agter in die deur. Henning trek die deur haastig toe, sluit dit en hardloop so-te-sê uit. Die man het klaar weer verdwyn.
Buite bespied Henning die omgewing. Die gaste huis is die enigste gebou in wat soos ‘n gang tussen twee koppe loop na ‘n afgeslote baai toe. By die baai is ‘n lendelam restaurant en voor dit loop ‘n klippadjie om die hoek van die kop. Die grys-blou see het wit maanhare van die wind wat om die koppe waai. Die golwe is groot en onstuimig. Dan sien hy haar. Sy staan op ‘n klompie swart rotse by die punt waar die padjie sy draai maak. Haar gesig is na die see gedraai, haar hare en lang leer jas-wapper in die wilde wind, haar hande in haar sakke verborge en sy roer nie; nie eers toe ‘n brander by haar voete breek en hoër as sy teen die rotse opslaan nie. Skadelose sproei dryf oor haar. Nog ‘n stormende wit breker slaan regop in die lug asof teen ‘n muur en val dan weerloos by haar voete.
Henning trek sy baadjies stywer en druk sy koue hande in sy sakke. Dan stap hy doelgerig na haar toe. Sy skoene maak nie ‘n geluid op die gladde, eeu-oue klippad nie. Die wind raak nou pietsend en Henning laat sak sy kop en vou sy baadjie se boordjie op soos Elvis van ouds. Toe hy weer opkyk is sy weg.
Hy versteen. Dan storm hy na die rotse toe. Roekeloos klim hy oor die lae klipmuurtjie wat die padjie van die skerp rotse skei en klouter onbeholpe tot waar sy gestaan het. Sy het tog sekerlik nie… Nee, dit kan nie wees nie… Hy leun vooroor en kyk na die malende massas water wat kolk by die voete van die rotse. Die volgende oomblik hoor hy ‘n harde slag en toe hy opkyk sien hy ‘n muur water wat oor hom toring; soos ‘n groot hand wat hom wil gryp. Hy snak.
Dan klem iets om sy arm en die volgende oomblik word hy van balans af gegooi agter toe. Die brander dreun neer op die rots waar hy ‘n oomblik terug nog gestaan het. Die water spat hom nat tot by sy knieë en trek dan terug met die laaste wit vingers wat vir oulaas aan die swart rots klou voor dit oor die rand verdwyn.
Henning se asem jaag. Skielik word hy bewus van ‘n skerp pyn in sy sy. Outomaties vat hy dit vas en kreun van die pyn. Sy asem sny uit.
“Ek dink jy het jou ribbes gebreek,” sê ‘n vroue stem skielik digby sy oor.
Hy sit orent en kreun weer van die intense pyn. Sy oë word groot toe hy haar sien. Haar ligte vel, groot blou oë en vol rooi mond laat hom aan Sneeuwitjie dink behalwe dat sy glad nie gelukkig of vriendelik lyk nie.
“Laat ek jou ophelp,” sê sy en vat hom onder die arm. Hy is verbaas oor haar krag toe sy hom so-te-sê alleen oplig, oor die muurtjie help en op sy voete neersit op die padjie.
“Wat de hel dink jy doen jy!” gil sy dan op hom.
“Maar… maar… ek het jou gesien…”
“Is jy simpel? Wie is jy en waar kom jy vandaan? En hoekom, o, hoekom doen jy wat ek doen?”
Haar gesig is rooi van woede. Die pyn stoot ‘n kreun op, maar hy kners op sy tande en onderdruk dit. Die vrou vat hom aan die elmboog en lei hom in die padjie af sonder ‘n verdere woord. Hy moet omtrent draf om by te hou en voel nou ‘n pyn in sy een knieg en enkel ook.
“Waarheen…” begin hy.
Sy gee groter treë en haar stewels spat deur waterplasse. Hy besluit dis beter om nie verder te praat nie. Die jag-mes blink teen die stewel.
Binne hom stoot ‘n woede op omdat sy hom soos ‘n stout seuntjie behandel, maar hy is ook bewus daarvan dat as hy wil uitvind wie sy is, sal hy moet saamspeel tot hy sy antwoord gekry het.
‘n Groot vrou met kort, deurmekaar, donker-grys hare staar hulle groot-oog agterna toe hulle deur die voorportaal van die gaste huis warrel.
Die vrou in swart sluit haar kamer oop. ‘n Groot venster kyk uit oor die stormagtige see. Die weer is definitief besig om slegter te word. Sy maak hom sit op die bedjie. Net soos in sy kamer is daar bitter min meubels en hy sien ook nie enige bagasie nie. Woordeloos los sy hom alleen in die kamer. Hy voel asof hy by die tandarts se spreekkamer wag.
‘n Paar minute later is sy terug met ‘n wit, ou, blikkerige Eerste Hulp kissie. Sy gooi dit oop langs hom en grawe tot sy ‘n groot verband kry. “Trek jou hemp uit,” beveel sy.
Die atmosfeer is stram en die eniste geluid die see se dreuning in die agtergrond. Behendig verstewig sy, sy ribbes met die verbande. Hy probeer om nie die pyn te wys wat deur hom skiet nie. Toe hy weer bietjie asem kan kry vra hy haar die brandende vraag: “Wie is jy?”
“Niks met jou uit te waai nie,” antwoord sy bot.
“Oukei. Maar antwoord ten minste my volgende vraag: wat het jy vroeër vandag by ons skool gedoen?”
Sy stop vir ‘n oomblik, maar ruk haarself gou weer reg.
“Ek kan jou sê, maar dan moet ek jou doodmaak.”
Hy lag vir die cliché, maar sien dan die uitdrukking op haar gesig en sluk hard. Sy druk die punt van die verband in en steek dit vas met ‘n doekspeld.
“Loop nou,” beveel sy terwyl sy die kissie se ingewande terugpak en dit toemaak.
“Ek bly oor vanaand in die oorkantse kamer.”
‘n Glimlag wil-wil om sy lippe krul toe sy vies opkyk.
“En ek gaan nie opgee tot jy my vertel het waarmee jy besig is nie.”
Die leer van haar jas kraak saggies to sy orent kom. Sy staar hom ‘n oomblik uitdrukkingloos aan.
“Jy heg duidelik nie baie waarde aan jou lewe nie… Dis nie ‘n grap nie.”
Sonder seremonie trek sy hom regop aan sy arm.
“Dêmmit! Hou op om my so te ruk en pluk!” kan hy dit nie verhelp nie.
‘n Siniese glimlag wikkel skielik haar mondhoeke, “Glo my, hierdie pyn is niks in vergelyking met wat met jou gaan gebeur as ek jou vertel ‘waarmee ek besig is’ nie.”
Hennig ruk los uit haar greep en stap uit. Agter hom klap die deur toe en hy hoor die sleutel draai.
Alleen in sy kamer vloei sy logika stadig, beskuldigend terug. “Wat maak jy?” is die hoof aanklag. “Wat gaan jy vir die mense by die huis sê?” “Dat ek net die belang van skool op my hart gehad het en die vreemdeling agtervolg het om seker te maak daar is nie enige kriminele gevolge nie,” verdedig hy homself hardkoppig teen sy logika, “Daar gebeur in elk geval so min dat die mense sal bly wees om oor iets opgewonde te raak en te skinder.” “En waar gaan jy geld kry vir vanaand se verblyf? Waar gaan jy petrol kry? En jy weet nogsteeds niks van haar nie… Gaan jy dit net so laat gaan?”
Henning weet in sy diepste binneste dat hy nie gaan nie. Hy doof die ander gedagtes doelbewus uit en lê agteroor met ‘n sug. ‘n Sterk pyn-doder sou nou baie welkom gewees het. Gelukkig is hy een van daardie mense wat ander altyd sê ‘n goeie soldaat kon wees, want hy kan in enige omstandighede binne ‘n oogwink aan die slaap raak en ongestoord rus tot hy moet opstaan.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

VROU IN SWART
het dit geniet, almal sien een of ander tyd 'n vrou in swart...sal verder lees


drabmol
9 jaar 6 maande 6 dae 16 ure oud


Die vrou kom weer
Dit is baie eienaardig, maar die vrou in swart verskyn ook in latere hoofstukke van my boek, "'n storm in die mangel." Haar naam is Elize maar in 'n ander heelal was sy prinses Elisabeth ensv...

Dit lyk my sy is 'n spook...ek het maar jou storie gemerk sodat ek die volgende deel kan lees en kan sien of sy ook verskyn en verdwyn in die katedraal se begraafplaas...haar swart hare wapperend windop!
9 jaar 6 maande 1 week 12 ure oud


Die Vrou in Swart - Deel 1
Sal beslis verder lees!
9 jaar 6 maande 1 week 1 dag 18 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Agter Geslote Deure

    deur Johan Botha

    Hoe sê ‘n vyfjarige kind vir iemand groter as hy om hom nie te verkrag nie? Hoe reageer hy as hy sien hoe sy ma mishandel word deur ‘n dominerende vark van ‘n pa wat op drugs is? Wat gebeur met hom wanneer hy ouer word en probeer om by die samelewing in te pas, ‘n samelewing waar hy sukkel om met ouer mans te kommunikeer? Hoe probeer hy om sy eie identiteit te skep en ‘n beter mens van homself te maak? Dan word hy aangesê om sy pa te vergewe? Hoe? Waar sal alles eindig? Hierdie is sy lewensverklaring.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar