Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

My oë is vasgenael op die afstandmeter van my oefenfiets, maar my kop is op ‘n ander plek. Vivian se boodskap oor haar PI in my inboks kan so baie dinge beteken. ‘n Hele aantal moontlike scenarios flits deur my kop terwyl my bene al vinniger trap. Wat as Bruwer wel bewyse gekry het teen Martin … foto’s of iets? Hoe gaan Vivian optree? Sal sy dit kan hanteer? Miskien is Martin onskuldig? O, hel. Never a dull moment. Ek trap al vinniger en die sweet tap my af.

Die afstandklokkie ping uiteindelik – 10km. Ek klim uitasem en stywerig van my fiets af, vee oor my gesig met ‘n klein handdoekie, val byna gedaan op ‘n stoel by die tafel op my houtdek neer en sluk dorstig aan ‘n glas yskoue suurlemoentee. Miskien moet ek haar bel en hoor wat aangaan. Laat ek net eers my asem terugkry. Vivian spring my egter voor.

“Eliza,” vra sy gespanne toe ek my foon antwoord. “Het jy my epos gekry?”

“Ja, Vivian. Is jy ok? Wanneer gaan – ”

“Ek ontmoet Bruwer vandag,” val sy my vinnig in die rede. “Kom saam, asseblief.”

“Hoe laat en waar?”

“Ek sal jou half-een kom oplaai,” antwoord sy gespanne. “Kan nie nou verder praat nie … ons bestuursvergadering begin oor ‘n paar minute. Sien jou.” Ek staar lank na my dooie foon, sug diep en staan op om te gaan stort.





Pieter en Diana ontmoet Don Lawrence by die hek van sy plot net buite Pretoria. Hy groet en dan ry hulle agter Lawrence se splinternuwe 4x4 SUV aan. Hulle stop onder ‘n groot akkerboom en Lawrence beduie dat hulle eerder verder saam met hom moet ry. “Kom ek wys julle gou hoe hierdie plek lyk.”

Hulle klim in sy kar en hy ry kruis en dwars oor die hele eiendom terwyl hy vertel, “Hierdie grond was deel van die aangrensende plaas aan die westekant. Hoofsaaklik landerye en voer vir beeste, maar die ou moes van sy grond verkoop. Dis hoekom daar tans geen geboue opgerig is nie.” Hy trek sy skouers op, “Boere het dit nie maklik deesdae nie.” Hy ry verder en glimlag, “Die feit dat hierdie grond leeg is, maak dit vinniger, makliker en goedkoper vir ons – niks hoef gesloop en weggery te word voordat ons met die bouwerk begin nie.”

Die plot is groot, groen, boomryk en daar’s selfs ‘n kabbelende spruitjie. Lawrence ry tot by die verskeie grensdrade sodat Pieter en Diana ‘n idee van die grootte van die eiendom kan kry, daarna keer hulle terug na die akkerboom waar Pieter-hulle parkeer het. Hy ruk basiese kontoerplanne van die grond uit en gooi dit oor sy voertuig se bak oop. Lawrence en Pieter bespreek die planne intens en Diana stap ‘n entjie weg. Sy wil eerder die gevoel van die plek probeer kry. Op haar eie.

Lawrence beduie met sy vinger op die kaart, “Die tydelike tent sal hier opgestel word, Pieter. Baie professionele affêre.” Hy blaai vinnig op sy tablet en wys Pieter wat hy bedoel. ‘n Spierwit tent met vensters en ‘n koepel verskyn op die skerm. “Die tent kan tot driehonderd mense akkomodeer. Ek stel opvoustoele voor. Ons kan dit eers huur en later aankoop sodra ons stoorplek daarvoor het.” Pieter knik stil en sukkel effe om alles in te neem. Die man voor hom dink groot, baie groot.

“Dis tydelik, Pieter,” verseker Lawence hom, “terwyl die regte geboue opgerig word.” Pieter knik stil, verstom en lag verbaas, “Dit lyk méér as goed, Don. Selfs vir tydelik.” Lawrence ruk meer planne uit en beduie daarna. “Dis hoe die uiteindelike CNL City sal lyk!”

CNL City?” Pieter se hart klop vinniger. Die nuwe planne toon ‘n hele aantal geboue, waaronder die massiewe CNL hoofgebou, ‘n administrasieblok, ateljee vir radio & TV uitsendings, sowel as ‘n hele paar wooneenhede, ‘n karavaanpark, speelpark, massiewe parkeerterrein en spasie vir ‘n groot gemeenskapsmark. “Teen die grensdrade is plek vir landerye om groente en dies meer te plant,” beduie Don Lawrence opgewonde. “Ons wil sover as moonlik selfonderhoudend wees.” Pieter sukkel om alles op een slag in te neem. Hy kyk op en Lawrence lag opgewonde.

“Ja, ons gaan groot met hierdie een, Pieter. Maar ons sal later daaroor praat, sodra jy jou sertifisering het.”

“Dis oor ‘n week,” antwoord Pieter. “Die eksamen.”

“Ek weet,” glimlag Lawrence, “en die uitslae verskyn oor tien dae van nou.” Hy kyk na Pieter en sê, “Ons maak ‘n afspraak kort daarna.” Pieter knik, “Ja, so vinnig as moontlik.” Lawrence klap Pieter op sy blad en lag, “hierdie gaan ‘n spogstuk wees, my vriend. Hoor wat ek vandag vir jou sê.”

Diana stap glimlaggend terug tot by haar man en druk sy arm, “Ek hou van die plek. Sommer baie.”

Pieter se vingers tik op die stuurwiel, asof hy van oortollige energie probeer ontslae raak en sy mond is nie een oomblik stil oppad terug nie, maar Diana val hom skielik in die rede. “Pieter, hoe werk die vennootskap? Lawrence sal 50% van jou CNL besit sodra julle teken nadat jy gekwalifiseer het, reg?” Pieter knik, “Ja, dis reg.”

“En die eiendom en alles behoort aan Lawrence.”

Pieter knik en vra, “Wat pla jou, my vrou?”

Diana staar ingedagte by die venster uit en antwoord, “Nee, ek wonder maar net wat sal gebeur as jy en Lawrence miskien op ‘n dag nie saamstem oor iets nie … Kan hy jou afskop van die eiendom, jou uitkoop of wat?”

“Dit sal nie in sy belang wees nie, Diana,” antwoord Pieter. “Onthou, ons mondelingse ooreenkoms stipuleer dat die huur van die perseel, geboue ensovoorts 10% van die CNL se maandelikse netto inkomste uitmaak. Dus, hoe beter die CNL doen, hoe meer geld maak hy.” Pieter glimlag, “en ons ook.”

“Ok. Ek het net gewonder.” Diana leun terug in haar sitplek en maak haar oë toe. “Solank ek net nie as Mevrou Dominee bekendstaan nie ….”

Pieter lag kliphard en skud sy kop. Hy sal die kontrak deur ‘n kenner op die gebied laat opstel. Miskien Henk Louw. Sy naam is blykbaar nogal groot in Pretoria.





Presies om half-een stop Vivian voor my huis. Sy sit doodstil in haar silwer BMW Cabriolet en kyk skaars na my toe ek inklim. “Jy ok?” vra ek stil. Sy knik, maar sê niks. Haar hande klem om die stuurwiel.

“Vivian?”

“Dankie dat jy saamkom,” antwoord sy hees en ons ry in stilte verder met slegs sagte instrumentele jazz in ons ore.

Ons ry ‘n hele ent in ‘n westelike rigting op ‘n stil pad en dan draai sy skielik by ‘n grondpad af. Kort daarna stop ons voor ‘n obskure klein restaurant. Ek kyk vraend na haar, maar haar kyk vertel my om eerder nie nou onnodige vrae te vra nie en net saam te kom.

Vivian ontmoet Dawid Bruwer by dieselfde donker restaurant as voorheen. Hy wag met ’n bier voor hom en sy stel ons aan mekaar voor. Vivian en ek sit regoor Bruwer by die verslete houttafel. Daar is geen ander kliënte in die plek nie, merk ek op – behalwe die ou wat in ‘n ander hoek kwylend oor sy drankie mymer en blykbaar beter dae probeer onthou … Wat ‘n depressing plek. Ek wil iets sê, maar sluk liewers my woorde en bly stil.

Vivian bestel ’n glasie witwyn, hy nog ‘n Castle en ek besluit eerder op koffie. Dawid Bruwer se groot hande lê op die blou lêer voor hom. Vivian steek byvoorbaat ’n lang sigaret op. Haar hande begin sweet en sy is skielik nie meer seker of sy wil weet of nie. Die kelner bring ons drankies en ou 80’s musiek speel oor die luidsprekers.

“Vivian?” Dawid kyk vraend na haar oor die tafel. “On the rocks of met water?”

Hy vee sy snor af en kyk direk na haar. Ek verwonder my eers aan sy banale manier om ’n vraag te stel, maar dan besef ek dat hy dit seker maar probeer lig hou, op sy eie manier.

“On the rocks,” antwoord sy sag en kyk hoe Bruwer se groot hande die lêer stadig voor hom oopvou. Sy sien ’n A5-grootte foto. Dis onderstebo. Hy draai die foto om en skuif dit voor haar in.

Martin, ‘n wulpse jong donkerkop vrou in ‘n roomkleurige designer nommertjie wat haar blas vel komplimenteer en ‘n vlesige, ouerige man met swaar ooglede en klein, saamgepersde lippe, ‘n sigaar tussen sy stewige vingers, sit by ‘n tafel in ‘n spoggerige eetplek. Sy vlei haarself teen Martin aan en die ou man kyk verveeld toe. Martin glimlag galant, sy oë op die ou man gerig.

Bruwer skuif die volgende foto nader. Martin en die donkerkop dans intiem in dieselfde restaurant.

‘n Derde foto. Die ou man wat oor sy selfoon praat.

“Wat beteken dit?” Vivian kyk verward op na Bruwer en hy frons.

“Lorenzo Battaglia. Hy’s ‘n Italiaanse multi-miljoener. Die vroumens saam met Martin is Lorenzo se jongste dogter, Luciana. Sy’s vier-en-twintig. Battaglia bederf haar tot in die afgrond in en sy kry alles wat sy begeer.”

“En?” vra ek ongeduldig, want Vivian staar steeds stil, in ‘n dwaal na die foto’s voor haar.

“Battaglia het heelwat eiendom en sakebelange in Suid-Afrika en is gedurig op die uitkyk vir nog besigheidsgeleenthede. Martin het chirurgiese prosedures op twee van die ou man se vroulike familielede uitgevoer en dit was ‘n fenomenale sukses. Hy het Martin gekontak, hulle het mekaar ontmoet en begin besigheid praat. Battaglia het ‘n aanbod aan Martin gemaak wat hy basies nie kon weier nie – ‘n uiters eksklusiewe nuwe spogkliniek wat spesialiseer in plastiese chirurgie met Martin aan die hoof daarvan. Battaglia befonds alles en Martin bied sy kundigheid. Hy en Martin sal miljoene maak.”

Bruwer sluk aan sy bier en vertel verder, “Martin en Luciana het mekaar tydens een van hierdie vergaderings ontmoet. Battaglia en Martin het verder begin onderhandel en Luciana het intussen haar visier op Martin gestel. Seker gedink hy’s ‘n “catch.” Bruwer frons, “Tydens elke een van die afgelope twee maande se ontmoetings was Luciana ook saam.”

Vivian en ek luister doodstil terwyl Bruwer verder vertel, “Klaarblyklik het Luciana aan haar pa genoem dat sy met Martin wil trou en Lorenzo Battaglia het onmiddellik die potensiaal daarvan ingesien. Hy het ‘n ultimatum aan Martin gestel. Hy wil Martin as skoonseun hê, anders val alles deur die mat.”

Bruwer sê sag en kyk af na sy hande, “Martin Marais is ‘n baie ambisieuse man.” Sy woorde hang swaar in die lug.

Vivian sluk aan die knop in haar keel, spring op, gryp haar handsak en hardloop na die damestoilette. Sy gooi die eerste beskikbare deur oop en buk oor die toilet. Sy word naar en trane stroom oor haar wange, smeer haar grimering en haar ingewande tap leeg. Haar lyf ruk onbeheerbaar ... en later is daar niks meer oor nie. Sy spoel die toilet en stap na die wasbak. Sy vee haar gesig af, spoel haar mond uit en kyk na haarself. Iets soos dè ja vu ... onthou sy - nie te lank terug nie, het sy ook onder fluorescent ligte na haarself gestaar. In ’n ewe onvleiende spieël. In haar eie huis.

Sy voel dieselfde matelose magteloosheid oor haar spoel en dit voel asof sy wil verdrink - in haar weersin, walging en waansinnige woede.

Ek stap by die kleedkamer in en Vivian vra sag, “Hoe kan hy?” Sy praat met haar eie spieëlbeeld. “Hoe kón hy?” Ek stap nader en vat aan haar skouer om haar te probeer troos, maar sy skud my hand ongeduldig af. “Dankie dat jy hier is, Eliza, maar ek het nou spasie nodig. Asseblief.” Ek knik en sien dat sy op breekpunt is.

Vivian haal diep asem, staan skielik meer regop, blaas haar asem afgemeet uit en kyk na haarself in die spieël. Sy vee haar gesig finaal af, maar wend nie vars grimering aan nie. Vivian kyk na my, ”Jammer hieroor.” Sy fluister byna onhoorbaar en meer aan haarself, “Ek moet self hiermee deal.” Dan stap sy vinnig uit, uit by die kleedkamer en uit by die restaurant se deur.

Sy skakel Dawid Bruwer van haar selfoon af en deel hom mee dat sy nie terugkom nie. Hy sal sy betaling per EFT ontvang sodra hy die volle uitstaande rekening, alle foto’s en negatiewe aan haar gepos het. Haar BMW trek weg met ‘n verbysterende vaart.

Ek stap stadig terug na ons tafel. Bruwer kyk na my. “Is jou bronne akkuraat, meneer Bruwer?” Hy knik stil en antwoord, “Ongelukkig, ja.”

“Dis fine,” antwoord ek, “laai my asseblief net by my huis af en hou my ook in die prentjie.” Hy knik stil en neem my besigheidskaartjie. Ek hoop en bid dat Vivian weet wat sy doen.





Julia sluit haar voordeur oop en sug gelukkig toe sy die heerlike aroma uit die kombuis ruik. Sy stap soontoe en glimlag. David loer vervaard oor sy bril na haar, druk besig om aan iets in ‘n pot te roer en pruil sy lippe, “Kom dadelik hier en gee my ‘n soen!” Hy beduie na die pot en fluister, “as ek hierdie dame afskeep, gaan sy haar moeretjie vir my strip en brand.” Julia gehoorsaam en giggel. “Dis jou eie skuld as jy met sulke temperamentele vroumense deurmekaar raak.” Hy glimlag vrolik en trek sy skouers op, “Seker maar my lot in die lewe!”

Julia dek die tafel en steek kerse aan. David skep elkeen se Spaghetti a la Puttanesca in bakkies en Julia bring die groen slaai, balsamic en olyfolie. David skink vir elkeen ‘n glasie wyn en hulle smul heerlik.

“Ek gaan volgende week vir drie dae weg wees,” vertel David en sluk aan sy wyn. Ek moet die Philosophy Roadshow by Stellenbosch Universiteit gaan bekendstel aan die dosente en senior studente.” Hy sug. “Ek het probeer om een van my Phd - studente te stuur, maar Stellenbosch wil nie byt nie.”

Julia leun oor die tafel en vryf oor David se hand, “Dis ok, engel.” Sy glimlag, “solank dit die laaste trippie vir ten minste ‘n maand is.” Sy giggel, “Sê net vir hulle jou Godzilla-girlfriend gaan begin uitfreak as jy weer weggaan.”

David glimlag en hy draai sy kop skuins, staar lank na Julia en fluister, “Ek wens jy was my Godzilla-vrou en nie net girlfriend nie.” Julia verstyf, trek haar hand terug en glimlag effe styf, “David …”

Hy sug en glimlag, “Dis ok, Julia – ek wil nie ons aand bederf nie.”

Julia breek die stilte, “Ek wonder wanneer Eliza se nuwe boyfriend gaan oorkom.”

“Die Spanjaard?”

“Ja,” glimlag sy, “Eliza is heeltemal oorboord en weg!” Julia vertel en giggel effe gespanne – meer om die gesprek aan die gang te hou, “ek het haar nog nooit só oor enige ou sien aangaan nie. Sy het die skoot beslis hoog deur.”

David glimlag stil en sê, “Hoop die ou hou by sy belofte.”

Hy staan op, vryf sag oor haar skouer en stap na sy studeerkamer toe. Julia staar hom stil agterna. Sy maak haar klemmende vuiste los en staar na die merke wat haar naels in haar palms gemaak het. Wanneer sal sy ooit tot David deurdring dat sy nie met hom kán trou nie? Wanneer, waneer, wanneer?

Sy sug en begin die tafel afdek. Hoekom kan hy nie net ophou om haar te pes oor die trouery nie? Is hulle dan nie gelukkig soos wat dit is nie? Die antwoord knaag egter onwelkom aan haar binneste en sy skuif dit onbewustelik weg. Soos hoeveel maal tevore.

Sy was die skottelgoed en haar gedagtes speel op honderde plekke rond. Julia staan skielik doodstil. Sy onthou. Volgende week se datum. Haar hande lê in die vuurwarm skottelgoedwater, maar sy voel dit nie. Sy staar stil, nikssiende voor haar uit en wonder wanneer sy ooit … ooit met hierdie ding gaan kan deal ... en sal kan aangaan met haar lewe.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

sOn
Wel, dit lyk asof my kommentaar gister weggeraap is, maar hiers dit weer.

Was Siener van Rensburg maar 'n voorvader van Pieter od Diana, want in hierdie kerkstorie is daar wolwe in skaapsgewaad.

Wat die res betref begin die wiele nou vinniger draai – daardies wat die mens en die wêreld move: skelm seks en baie geld.

Ek kan nie wag om te sien wat nog in hierdie suster se lewens gaan uitspeel en of hul enduit getroue vriendinne gaan bly nie.
4 jaar 6 maande 1 week 3 dae 4 ure oud


Sjoe!!
Dis nie net Julia se hande wat in die vuurwarm skottelgoed- water is nie. . . Sjoe, die verhaal styg nou stadig maar seker na oorkookpunt toe!

Skryf suster, skryf! Ons wag in spanning. . .
4 jaar 6 maande 1 week 3 dae 15 ure oud


*
Ohhhh hel pel!
Ek hoop Ramon is al op 'n vlug SA toe.
Jy laat mens spannend wonder wat volgende gaan gebeur. Goed geskryf!
4 jaar 6 maande 1 week 3 dae 20 ure oud


Dankie :))
Julle is almal dierbaar!!!
Baie dankie Viooltjie, Louise, Kiekies, Anze en Casper :)))
Ek gaan daai goeters sommer nou regmaak, Kiekies - baie dankie !!!
4 jaar 6 maande 1 week 3 dae 23 ure oud


Son9
Het nou lekker gelees. Dinge broei nou lekker
4 jaar 6 maande 1 week 4 dae 18 ure oud


Son 9
Baie lekker gelees.. ek ditto vir Louise.. jy is briljant!!!
4 jaar 6 maande 1 week 5 dae oud


9
Dem, jy vou die ander karakters liggies soos styfgeklopte eierwitte, op 'n skryf-kenner manier, by die ander bestandele in! En hoe verder ons leer hoe meer hoeke sluk ons in! Puik gedoen!

Moontlike verstellings:
chirurgiese prosedures - chirurgiese prosedure

Dan stap sy vinnig uit, uit by die kleedkamer en uit by die restaurant se deur - Dan stap sy vinnig uit die kleedkamer uit, deur die restaurant en uit by die deur.

heeltemal oorboord en weg! - heeltemal oorboord en verlore!

maak haar klemmende vuiste los - maak haar geklemde vuiste los

Wanneer, waneer, wanneer? - Wanneer, wanneer, wanneer?

Soos hoeveel maal tevore - Soos soveel maal tevore

hierdie ding gaan kan deal - hierdie ding sal kan deal

4 jaar 6 maande 1 week 5 dae 1 uur oud


Plots
Briljant! Min skrywers slag werklik daarin om verskeie subplots suksesvol inmekaar te weef - jy gaan groot met al jou newe-karakters, maar weet jy, ek dink jy slaag daarin om van elke newe-karakter 'n volronde karakter te maak. Jou sub-plots ondersteun nie net jou hoofplot nie, maar staan ook as volledige stories op hul eie. Dis 'n grootse werk wat jy hier aangepak het, Carol, en ek haal my hoed af vir jou. Lekker skryf.
4 jaar 6 maande 1 week 5 dae 3 ure oud


9
Sjoe, nou gebeur hier darem heelwat interessante dinge. Ek is nou ordentlik nuuskierig oor wat volgende gaan gebeur. Jy het die hoofstuk goed afgesluit, want ek kan nie wag om te hoor wat die storie rondom die datum is nie. Lekker verder skryf :-)
4 jaar 6 maande 1 week 5 dae 4 ure oud



Grafte op die Berg

deur Johannes de Swart

Prosigma, dagboek van 'n paranoiese skisofreen



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar