Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

DONKERNAG OP DROOGEKRAAL.

Toe die swart gidshond skielik hier langs my verskyn, gee my
hart ‘n geweldige ruk en ek spring met ‘n kreet teen die rooi lig
tussen die toetende verkeer in. ‘n Minibustaxi mis my rakelings en
die bestuurder lê op sy toeter terwyl hy met sy voorvinger 'n
draaibeweging teen sy slaap maak. Uitasem en met ‘n geklike gevoel
haal ek bewend die anderkant van die straat. Ek moet iets aan
hierdie ding doen - en dadelik! Hierdie mal vrees kan nog my lewe
kos!

Om een of ander onverklaarbare rede slaan die doodsangs op my toe
as ek naby ‘n groot swart hond kom. Selfs die vriendelikste
Labrador laat my verskrik wegdeins. In die kantoor gekom sak ek in
my swaaistoel agter die lessenaar in. Ek haal ‘n paar maal diep
asem en slaan die telefoongids oop. My vinger volg die rye en rye
name tot dit by een vassteek. Dokter Hein Schulenburg, psigiater.
Ek skakel die nommer en maak ‘n afspraak. Die dokter kan my
tienuur sien, sê die dametjie.
"Sal dit u pas?"
"Uitstekend!" Ek is bly dat ek na soveel jare so vêr kon kom om
hierdie stap te neem. Miskien was my noue ontkoming met die
minibustaxi die laaste strooi.

Ek is die enigste persoon in die wagkamer en die vriendelike
dametjie laat my die gebruiklike vorms invul en beduie na 'n
stoel.
"Sit so ‘n oomblik, meneer Burger. Dokter Schulenburg sal nou by
u wees." Terwyl ek die flenters tydskrif met sy ou holrug grappies
vir die soveelste keer lees wonder ek hoekom hulle destyds vir my
snaaks was.’n Deur gaan oop en ‘n ouerige man in 'n wit jas kom
aangestap. Hy het ‘n bos welige silwerwit hare en op sy arendsneus
knyp 'n halflens brilletjie asof vanself vas. Sy oë is sag maar
intens en ek voel dadelik dat ek die man kan vertrou.
"Meneer Burger?" Ek knik. Die man praat weer en sy sonore stem het
‘n eienaardige resonansie in die vertrek.
"Ek is dokter Schulenburg. Kom ons stap deur ateljee toe. Ek vind
dit snaaks dat hy van sy ateljee praat en nie van sy spreekkamer
nie. Tot ek deur die deur stap wat hy galant vir my oophou!

Van die gewone spreekkamer is hier geen sprake nie. Geen reuk van
ontsmetmiddels nie. Geen prente wat medisyne vervaardigers aan
dokters afsmeer nie. Geen foto van Sigmund Freud teen die muur nie
en geen ondersoektafel of lessenaar met blanko voorskrifblokke
daarop nie. Die vertrek lyk meer soos 'n gesellige studeerkamer
met 'n sagte leerrusbank en twee gemaklike leerstoele.

Dokter Schulenburg beduie my na die rusbank terwyl hy self op 'n
stoel neersak. Hy haal 'n notaboekie uit en skroef stadig sy pen
oop terwyl hy my direk in die oë kyk. Sy diepblou oë dring regdeur
tot in die diepste dieptes van my brein, voel ek.
"Waarmee kan ek help, meneer Burger?" Weer daardie sonore stem.
"Dokter, ek het die eienaardigste vrees. Eintlik ‘n fobie. Ek het
‘n irrasionele vrees vir groot swart honde!"
Hy maak ‘n aantekening in die boekie voor hy weer vra: "Net groot
swart honde of enige groot hond?"
"Nee Dokter, ek is baie lief vir honde, groot of klein. Dis net
die groot swartes wat my bloed laat stol." Weer skryf hy.
"Weet u van enige rede hoekom dit moontlik kan wees? Het ‘n groot
swart hond u dalk te lyf gegaan toe u baie klein was?" Ek dink
diep maar kan geen logiese verklaring of bevestiging vind nie.
"Nee, Dokter, nog nooit sover ek kan onthou nie. Ek was nog nooit
deur enige hond gebyt nie. Swart of anders. Dit is wat vir my so
onverklaarbaar is van my vrees."

Hy skryf weer en ek wens skielik dat ek kon sien wat hy aanteken.
Die blou oë priem weer in my siel. Die stem is sag.
"Meneer Burger, dit is vir my duidelik dat u in u onderbewussyn
iets verborge hou. Iets onaangenaam wat u uit u bewuste denke
weer. Droom u dalk soms van groot swart honde?" Ek dink 'n tyd
lank diep. Dit is asof ek ‘n hond in 'n droom wil-wil herken maar,
soos met meeste drome ontwyk die detail my. Ek kry geen duidelike
beeld nie. Geen bewuswording van ‘n droom met 'n hond in nie. Ek
skud my kop.
"Nee Dokter. Dis asof ek iets kan identifiseer maar dan verdwyn
die hele ding weer."

Die dokter kyk op van sy notaboek. Lank en intens staar hy na my.
"Meneer Burger, dit is vir my duidelik dat u op een of ander
stadium in u lewe 'n geweldige traumatiese ondervinding met 'n
swart hond gehad het. So traumaties dat u dit vir uself wegsteek.
Dit is welbekend dat die onderbewuste neig om onaangename
ervarings teenoor die bewuste brein te onderdruk. Om by die wortel
van u probleem te kom sal dit nodig wees om die besonderhede van u
ondervinding uit u onderbewussyn te ontsluit. Op die manier kan u
die probleem rasioneel identifiseer en desnoods self oplos." Hy
bly stil en kyk weer lank na my. Ek voel aan dat hy van my verwag
om iets te sê.
"Ja Dokter, ek stem saam, maar hoe? Hoe ontsluit ek iets waarvan
ek geen kennis dra nie?" Hy sit die notaboekie langs hom neer en
strengel sy vingers ineen. Sy liggaam beweeg ietwat vorentoe.
"Daar is verskeie maniere. "Eerstens kan ons van sekere chemiese
middels gebruik maak om u bewuste brein uit te skakel. U het tog
seker al van natrium pentatol gehoor. Die sogenaamde
waarheidserum. Daar is nog ander soortgelyke preparate wat
dieselfde effek het. Ek is nie baie ten gunste van chemiese
middels nie; ek verkies hipnose. Wil u dat ons dit probeer?" Ek is
skielik bang. Nie vir hipnose nie. Ek is bang dat ek my diepste
wese voor 'n vreemde man sal ontbloot. Dit is op die punt van my
tong om die sessie te beëindig toe ek weer die verlammende vrees
voel wat ek vanoggend in die straat beleef het.
"Goed dokter, as u so dink. As u reken u kan my probleem oplos."

Dokter Schulenburg glimlag bemoedigend en staan op. Hy kom voor
my staan en praat sag.
"Natuurlik sal ek kan. Dit is waarvoor ek hier is en waarvoor u
hier is, nie waar nie. Sê my, was u al voorheen gehipnotiseer?"
"Nee, nog nooit nie!" Ek dink hy hoor die effense paniek in my
stem.
"Meneer Burger, daar is hoegenaamd geen gevaar nie, dit verseker
ek u. Ontspan nou net heeltemaal en konsentreer op wat ek sê. U
gaan nie aan die slaap raak nie. U sal altyd nog 'n mate van
bewustheid ervaar. Al wat ek gaan doen is om u stap vir stap terug
te neem in u verlede, tot ons by die gebeurtenis kom wat u
onderbewuste so getrou wegsteek." Sy woorde klink ver en
reëlmatig en ek word bewus van die algehele ontspannendheid wat my
bemeester.


Oom John Truter se plaas lê in die oos Karoo. Dis al my vyfde dag
van die skoolvakansie dat ek hier kuier. Vandat tant Huybrecht
drie jaar tevore oorlede is, is dit asof ek en oom John nader
aanmekaar groei. As agtjarige knaap is ek seker nie die soort
geselskap wat hy so mis nie, maar in hom het ek ‘n biegvader en
vriend gevind. Oom John is Ma se oudste broer en sy is heel geneë
dat ek byna elke skoolvakansie hier op Droogekraal kom kuier. Pa
het soms gebrom maar dan maar weer gelate ingegee.

Die son mik-mik reeds na sy kooigoed agter die plat, pers rante in
die weste, toe ek die huis binnekom. Oom John sit rustig met 'n
tydskrif in die groot leuenstoel in die sitkamer. Ek kan nie
onthou dat oom John ooit iewers anders gesit het nie. Behalwe by
die kombuistafel met etes. Dit is 'n soort ritueel wat ons elke
aand volg. Na ete elke aand gaan hy in sy stoel sit met ‘n boek of
‘n tydskrif en ek gaan lê op my maag op die springbokvelmat. Ta’
Saar sal dan opwas en, voor sy uitgaan, ‘n keteltjie kookwater met
twee koppies en die blikkie tee inbring en dit langs oom John
neersit op die klein tafeltjie. Oom John maak self sy tee. Hierdie
ritueel is streng gevolg en ons het albei besef dat enige afwyking
in die ritueel 'n hewige wanbalans in die heelal sou veroorsaak.

Vanaand is dit weer so. Ta' Saar bring die keteltjie in en sit dit
op die tafel. Ek hoor hoe sy die agterdeur toetrek. Oom John sit
die tydskrif neer en begin teemaak terwyl hy praat.
"Môreoggend vroeg is die skeerders hier. Ek het juis vandag laat
slag en Saar het 'n hele klomp brode gebak. Die manne kan honger
raak na so 'n skeersessie." Ek is skielik opgewonde. Dit sal die
derde keer wees dat ek by so 'n skeerdery kan wees. Dis absoluut
fantasties! Opgewonde drink ek my tee en ons verkas kamers toe.
More is dit vroeg opstaan.


Die geroesemoes van stemme maak my wakker. Ek loer deur die
venster en is verbaas om die menigte mense op die werf te sien.
Daar is seker twintig van hulle; elkeen met 'n blinkgeslypte
skaapsker in die hand. Aan die oosterkim is die belofte van 'n
nuwe dag reeds sigbaar, al is dit nog lank voor sonop. Oom John
is in 'n druk gesprek met die voorprater van die skeerders en arms
beduie en swaai in alle rigtings. Die ander staan om 'n yslike
pot koffie wat dan en wan deur ta' Saar aangevul word. Oompie
Spyker, ta’ Saar se man, dra brode aan en die manne eet en drink
luidrugtig.

Ek merk ‘n lang seningrige man wat half uit die geselskap staan.
Met die ander meng hy nie. Hy staan net daar op sy eie en suig aan
sy beker koffie. In die dowwe lig lyk sy gesig stroef en
onaangenaam. ‘n Rilling loop langs my ruggraat af. Die man het
iets boos aan hom, dink ek.

Toe ek by oom John aansluit is die sonnetjie reeds besig om sy kop
agter die plat rant uit te steek. Hoewel die somerdag belowe om
die sweet op elke gelaat te laat stoom is die oggendluggie
besonder skerp. Ek staan nader aan die vuur terwyl die skeerspan
na die skuur beweeg. Die geblêr van die skape klink skielik hard
uit die skeerkraal. Die skeerdery begin en ek storm nader. Elke
skeerder is in sy skeerhok met ‘n skaap. Die ritmiese gekling van
die skêre slaan hard teen die dak van die skuur. Oompie Spyker en
'n paar ander plaaswerkers sleep die een skaap na die ander onder
blêrende protes na die skeerhokke waar die skeerder die skaap
oorneem. Ek verstom my aan die noukeurigheid waarmee die vagte
afgestroop word en op die klastafel oopgegooi word. Oom John klas.
In hierdie vakgebied is hy die kenner. Elke vag word, na oom John
se woord, in ‘n spesifieke baalpers gegooi.
Oom John vat en voel en klas. Buite die stoor begin die son reeds
steek. Ek staan langs hom en bewonder sy vernuf. Dit kom met die
jare, besef ek.

Skielik steek oom John vas en beskou die vag voor hom intens. Hy
druk met sy vinger op 'n rooi kol hier en dan daar, terwyl sy
gesig versomber.
"Wie’t hier geskeer," vra hy aan die man wat die vag voor hom
oopgegooi het.
"Die nuwe kêrel daar in nommer ses," beduie die man. Oom John se
gesig raak beetrooi en hy begin aanstap in die rigting waar die
nuwe man werk. Ek draf nuuskierig saam.

By die skeerhok begroet 'n verskriklike gesig ons. Die seningrige
man wat ek vroeër gesien het, het 'n skaap aan die oor beet terwyl
hy met die skaapsker wild en wakker steek. Die arme dier is die
ene bloed en die wolle lê in happe op die vloer van die skeerhok.
Die skaap blêr verwilderd terwyl die man hom heen en weer ruk.
Die skeerskuur raak skielik stil. Die skeerders het hulle skêre
laat stop en loer nou na wat hier aangaan.

Oom John is wasbleek. Dit lyk of hy hyg na asem. Hy leun vooroor
en gryp die man in die skeerhok aan sy kraag. Hy pluk hom half oor
die reling van die hok en slaan hom 'n allemagtige hou met sy
vuis.
"Vuilgoed!" sis hy en sleep die man heeltemaal oor die reling. "As
ek my skape geslag wil hê sal ek hulle self slag!" Nog 'n vuishou
volg waarop die maer man met sy skaapskêr na oom John steek. Oom John koets rats en slaan die man 'n verpletterende hou teen die ken sodat hy steier en op sy knieë neersak. Oom John is skielik op hom met ongenadige vuishoue. Om my kry die manne lewe en met geweld sleep hulle hom van die maer man af. Die vent kruip ‘n ent op hande en knieë voordat hy regop kom.

Oom John beur teen die hande wat hom vashou. Dan skreeu hy in 'n groot stem.
"Weg hier van my plaas af, Vuilgoed! As ek jou ooit weer sien is
jy vrek!" Die man kry kruppel-kruppel koers grootpad se kant toe
en net eenkeer kyk hy om. Ek ril by die aanblik van sy oë. Soveel
suiwer, naakte haat het ek nog nooit gesien nie. Wat my ook opval
is dat die man deur die hele petalje geen geluid gemaak het nie.
Oom John se hand op my skouer laat my omdraai.
"Kom Boeta, laat ons 'n bietjie tee gaan soek." Hy kyk in die
rigting van die skeerders. Hulle hervat willoos hulle werk.

Stadig begin die gebeure in die vergetelheid versink. Die wolbale
in die persrame word voller en voller. My werk is om die wol in
die bale vas te trap. Dis heerlik om die sagte wol en die lanolien
aan my bene te voel en ek is sommer afgehaal toe die laaste baal
vol is. Die son trek al water toe die skeerders hulle skêre inpak
en nader staan na die groot vure waar twee skape aan die spitte
draai. Oompie Spyker is die kok terwyl ta' Saar die brode aandra.
Na ete sal die skeerders na die volgende plaas vertrek. Ek en oom
John stryk altwee hondmoeg aan huis toe.

Terwyl ons wag dat ta' Saar ons aandete voorberei, skiet ek 'n
paar skote met die .22-geweertjie. Miskien kan ek more gaan
dassies skiet as oom John die bale dorptoe ry. Ek trek vir oulaas
die korrel op die blikkie vas en brand los. Die blikkie gee twee
bokspringe en lê dan stil. Oom John se stem kom van die stoep af.
"Kom in ou Boet! Kom was gou, die kos is amper gereed." Ek maak
die geweertjie sommer teen die kombuismuur staan.


Soos 'n verhongerde wolf takel ek my bord vol skaaplewer wat in
uie gesmoor is en vee die sousie met 'n laaste broodkorsie op.
Oom John dank en ek en hy verkas oudergewoonte sitkamer toe. Hy met sy tydskrif en ek met my gedagtes. Die huis is warm gebak maar die voordeur staan oop en ‘n lafende briesie blaas sag in die huis in. Dit is al heeltemaal donker en aan die oosterkim sien ek die
maan oor die stil aarde uitstyg. In die kombuis hoor ek hoe ta'
Saar die skottelgoed wegbêre. Dan bring sy die potjie kookwater
met die mussie en die koppies en die teeblare, groet en gaan uit.
Na ‘n rukkie tel oom John die melkbekertjie op en ruik daaraan. Hy
trek ‘n vies gesig en hou die beker na my toe uit.
"Saar het weer suurmelk hierin gegooi. Draf gou en bring vir ons
soetmelk." Ek spring op en, net toe ek die bekertjie neem hoor ek
'n knor van die voordeur se kant af. Ek swaai om. In die deur
staan ‘n enorme, pikswart hond. Sy lip is effens gelig en hy knor
saggies. Dis ‘n wildvreemde hond.
"Siejy!" sê oom John. Die hond knor harder en gee ‘n tree nader.
"Maar voetsek, jou vuilgoed!" en oom John stamp met sy voet op die plankvloer. Die hond storm nader maar gly-gly op die plankvloer.
Ek spring met 'n gedempte skree eenkant toe en sien hoe die hond
se tande in die oopgesperde bek in die lamplig glim. Toe die hond
amper by hom is, ruk oom John die ketel kookwater nader en keer
dit oor die hond se kop om. Die dier gee 'n skrikwekkende gil;
amper soos die van 'n gefolterde siel en vlieg om. Toe die hond by
die deur uitstorm is oom John reeds halfpad agterna. Terwyl hy 'n
dik kierie uit die houer onder die kapstok gryp skreeu hy oor sy
skouer na my: "Bring die geweertjie!"

Net toe ek die geweer optel en vinnig 'n patroon in die slot druk
hoor ek oom John gil. Dan weer! En weer! Die laaste gil is
gedemp. Ek storm voordeur toe en skielik word ek yskoud. Sowat
vyftien tree van die stoep af, onder 'n ruie besembos staan die
swart hond met sy pote op oom John se bors. Hy het oom John aan die keel en skud hom heen en weer. In die helder maanskyn is dit 'n angswekkende, makabere toneel. Ek gooi die geweer aan my skouer en trek die skoot af. Die hond gil bloedstollend en spring hoog in die lug. Dan verdwyn hy in die nag. Ek storm na waar oom John bewegingloos lê. Sy keel gaap oop en hy roggel floutjies. Bloed stroom oor sy bors. Ek hardloop vinnig die huis in en gryp 'n
groot badhandoek. By die badkamervenster gil ek op oompie Spyker
om te kom help. Die ou moes seker die skoot en die hond se gil
gehoor het want hy antwoord sommer hier naby die huis. Oom John
is al baie swak en ek kan skaars sy asemhaling uitmaak. Oompie
Spyker kom by en saam sleep-dra ons hom huistoe. Ta' Saar het
intussen ook opgedaag en saam dra die drie van ons hom kamertoe.
Ons sit hom op die bed neer en ek en ta' Saar stap kombuistoe
terwyl oompie Spyker agter bly om na oom John om te sien.

‘n Verlammende gevoel oorweldig my skielik. ‘n Histerie. Ek begin
ruk en onbedaarlik huil. Vaagweg is ek bewus van ta' Saar se
troostende kloekgeluide. Ek druk my kop teen haar vol boesem en sy hou my met albei hande styf vas terwyl sy onophoudelik kloek. Na ‘n hele ruk word ek rustiger en kyk weer op na haar. Net toe
kom oompie Spyker uit die kamer en staan in die kombuisdeur. Hy
kyk na ta' Saar en skud net stadig sy kop.

Hoe lank ta' Saar nog by my gebly het weet ek nie, maar toe ek die oggend wakker word is sy reeds besig om koffie te maak. Oompie Spyker is nêrens te sien nie.
"Waar's Oompie," vra ek. Gisteraand se dinge voel soos 'n nare
droom, maar ek besef dat alles werklik gebeur het.
"Hy't gaan hulp soek by die Greeffs." Sy skink solank koffie.

Ongeveer ‘n uur later kom oom Flip Greeff en sy vrou op die plaas
aan. Tant Emma neem my dadelik onder haar vleuel terwyl oom Flip
kamer toe loop. Na ‘n rukkie kom hy uit. Hy is wasbleek.
"Ou Boet, Spyker het my vertel wat gebeur het. Ek het reeds vir
Martiens Herholdt en vir Soon Viljoen laat weet. Ons sal moet gaan
soek na die hond." Ek knik.
"Ek dink ek het hom raakgeskiet, oom Flip."

Die gedreun van motors laat my skielik deur die venster kyk. Twee
bakkies kom byna gelyktydig die werf ingery. Dis oom Martiens en
oom Soon. Hulle groet en oom Flip trek hulle eenkant toe waar
hulle met koppe bymekaar gesels. Dan stap hulle na oom Martiens se bakkie en ry in die rigting waarin die hond verdwyn het. Deur die
venster van die bakkie sien ek geweerlope uitsteek.

Met die oor en weer bellery van oom Flip-hulle se huis af en tant
Emma se gedurige geselsery kom ek nie agter dat die dag verbygaan nie. Ek verwag Ma-hulle teen laataand eers. Toe ek oom Martiens se bakkie die werf sien inry is ek opgewonde. Die drie mans klim uit en stap huis toe. Tant Emma bring koffie en gaan sit langs oom Flip op die rusbank.

"Kon julle iets kry, Flip?" Oom Flip stop sy pyp voor hy praat.
"Ja, Emma. Ons het die spoor in die sandlaagte opgetel en dit in
die rigting van die rantjie gevolg. Hier en daar het ons bloed
gekry; eers min en toe al meer en meer. Die dier was swaar gekwes.
Uiteindelik kon ons nie meer verder ry nie en het die spoor te
voet gevolg. En toe gebeur daar ‘n snaakse ding. Die spoor hou
skielik op! Net daar in die middel van nêrens hou die spoor op!
Ons het verder gesoek en toe kom Martiens op die spoor van ‘n mens af. ‘n Kaalvoetspoor! Ons sou dit nie gevolg het nie, maar by die spoor was plasse bloed. Die spoor het gelei na ‘n beboste donga en ons is in die ruigte in. Vrou, jy sal nie glo wat ons daar kry nie! Oor 'n doringbos lê ‘n poedelkaal man. So 'n maer, seningrige kêrel en so dood soos ‘n mossie. Hy het ‘n kleingeweerskoot onder die linkerblad gehad." Oom Flip bly 'n oomblik stil en ek voel die vrees aan my keel gryp. Oom Martiens kug.
"Ja Emma, en weet jy wat was nog eienaardiger? Die man se hele
gesig was die ene waterblase - so al of iemand 'n pot kookwater op sy kop omgekeer het!"



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

KIEKIES

deur Kiekies

'n Potpourri van aardse en menslike insidente, wat wissel van skreeusnaakse humor tot hartroerende tragedie.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar