Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Deel 2: Pa se stories wat ek kan onthou.

My oorle pa was ‘n 1909 model en my oupa ‘n 1864 model en my pa het die volgende staaltjie te vertelle gehad oor lank lank gelede. Oestyd op my pa se geboorteplaas Noordekloof in die Overberg was altyd ‘n verskriklike gedoente. In daardie dae was daar nie stropers met GPS’E, lugversorging en CD spelers met radios en hillsiders of sulke goeters waar jy teen die skuinstes waterpas sit soos in vandag se tye nie.

Oestyd moes daar vroeg opgestaan word. Nie almal het horlosies gehad in daardie dae nie, net die baas van die plaas het ‘n goue sakhorlosie gedra met ‘n goue ketting wat aan die onderbaatjie vas was en dan in die onderbaatjie sak gebere was. Alles op die werf het klokslag volgens daardie horlosie plaasgevind. In die oggend het my oupa vroeg opgestaan as dit nog donker was en dan eers afgesit na die hoenderhok en die hoenders wakker gemaak met sy kierrie sodat die hane moet kraai voordat hy die werfklok lui vir opstaan en dan weer vir invaltyd. Net ingeval iemand kla dan kon hy darem sê dit was lankal opstaan tyd, kyk die hane kraai al lankal. Menigmaal het iemand vir my pa gevra of hy dalk weet hoe laat dit dan is, want hulle werk al so lankal maar die son wil dan net nie uitkom nie en dit word dan nie lig nie.

Eers moes die esels voer en water kry en dan ingespan en land toe gelei word waar die selfbinder snymasjien agter die esels aangehaak word. Die seil van die snymasjien word dan styfgetrek omdat dit altyd laat skiet word in die aand anders kan die seil skeur as dit te styf trek van die nag se dou. Dan moet gekyk word dat daar genoeg tou in die tou kissie is en die masjien moet by al sy 12 en 30 ghriespunte gediens word. Eers dan kan die snyery begin. Voor die esels loop ‘n touleier om eers die kontrepsie aan die gang te kry in die oggend skemer. Die snymasjien het so ‘n harde metaal bankie met sulke luggate in en so ronderig gevorm soos jou sitvlak. Weet nie eintlik of die gate daar was om lug in te laat en of dit daar was om die lug van die drywer uit te laat nie, want die masjien kon ook maar taamlik stamp oor die harde graanland met sy yster wiele wat jou maag en ingewande allerhande snaakse bewegings laat maak het. Die bankie het darem so ‘n lang veeragtige voetstuk wat in ‘n gleuf inskuif op die masjien en dan met ‘n bout vasgemaak is onder aan die masjien sodat die drywer so ‘n bietjie kan veer op sy sitplek.

In later jare op sy eie plaas het my pa op ‘n buurplaas vir ‘n meisie gaan kuier en was die oggend nie so wakker op die snymasjien nie. Iemand het egter ‘n bout gesoek vir ‘n ander masjien wat gebreek het en besluit dat die bout wat die bankie van my pa se masjien vashou is net reg en dit geneem om sy masjien te herstel. Alles het goed gegaan totdat hy die uitstryk voor op die land tref met sy masjien en die veer die bankie opskiet in die lug en die veer uittrek uit sy gleuf en daar val hy agteroor op die land met bankie en al. Nodeloos om te sê, hy het hom skoon nugter wakker geskrik en die vryery met die meisie die vorige aand skoon uit sy kop geval.

Die drywer se taak was om die wip te stel vir die hoogte wat die masjien moet sny en om te kyk dat die seil nie skeur, ‘n houtjie breek of te styf of te slap is nie en dat die messies almal sny en nie stomp is of afgebreek het nie. Daar was ook ‘n wip wat die waaiers wat die graan oor die mes waai verstel. Dan moet hy nog kyk dat die tou nie afgebreek het of die masjien dalk los gerwe gooi nie. As die pietman breek is dit ‘n hele gedoente om dit weer te herstel. Die pietman was die armpie wat die mes heen en weer beweeg het. (Hoekom so genome sal ek regtig nou nie weet nie, miskien omdat hy so ‘n snaakse bewegingkie uitgevoer het. Ha ha) As die masjien reg gewerk het en alles gaan goed dan is die graan deur die masjien afgesny en in gerwe gebind wat in ‘n netjiese ry agter die masjien uitgespoeg word. Ja, die ou op so ‘n masjien moes nogal wakker pies eet om alles dop te hou. Ja soos ek gese het, daar was nie lugversorging, rekenaar, CD speler, instrumente en alarmpies en dies meer wat jou waarsku as iets verkeerd gaan soos in vandag se stropers nie. Nee, jy moes maar jou oë oophou en die son en ellemente trotseer.

Agterna word die gerwe dan in hope gepak met die are na bo en die stingels na onder en lyk dit soos ‘n klein huisie sonder mure wat daar op die land staan. Ek het ook al as kind hierdie werk gedoen en ek kan jou sê dis baaaaie harde werk, want jou arms en bene is rou van die stoppelkant van die gerf se dra en die skerp stoppels wat nog op die land staan. In die aand vee jy net so af met ‘n effe nat lap, want jy kan nie naby water kom nie omdat die krapmerke brand soos vuur. Jou hande is vol dorings, want daar kom maar gereeld ‘n doring tussen die gerwe te lande wat dan in jou hande afbreek. In die aande word daar dan gesoek om die verderflike goed van die duiwel uit te haal met ‘n naald.

Die werkers en my pa en sy broers se kos is almal in die plaashuis se kombuis gekook en land toe gestuur en dan was daar sommer op die land ge-eet. My pa en sy twee broers kon nie verstaan hoekom hulle net een suiker blokkie op ‘n dag kry vir hulle koffie. Hulle kom egter agter dat die werkers almal meer suiker blokkies as hulle het. (In daardie dae het die suiker in sulke blokkies gekry.) Hulle het so stilletjies navraag gedoen en kom toe agter dat almal drie suiker blokkies moet kry. Nadat hulle so bietjie ondersoek gedoen het kom hulle agter dat die kok in die kombuis wat die kos elke oggend inpak hulle net een blokkie gee en dan hulle ander twee blokkies verdeel onder die ander werkers. Hulle besluit toe genoeg is genoeg en die saak kan net gaan tot hiertoe en nie verder nie. Iets moet dadelik gedoen word aan die korrupsie om die kombuis se kok ‘n les te leer. Die Saterdag terwyl hul pa en ma dorp toe is word daar hard gedink aan ‘n plan. Daar is toe beluit dat hulle die Saterdag middag ‘n hof gaan hou. Hulle besluit toe dit is nou die regte tyd terwyl hul ouers weg was. Die skuldige een is toe gevang en voor die hof gebring en verhoor. Die kok het kans gekry om haar kant te stel en het plegtig om verskoning gevra en onder eed belowe dat sy dit nooit ooit weer sal doen nie. Maar so maklik was dit ook darem nie en daar moet ‘n gepaste straf uitgedink word. Nadat kajuitraad gehou was besluit die drie musketeers van die hof toe die skuldige se straf sal wees dat sy in ‘n wolsak gesit en die sak in die groot ou bloekomboom opgehang sal word en in die boom vir een uur sal hang. So word die daad by die woord gevoeg, maar waarmee hulle nie mooi rekening gehou het nie was dat hulle ouers sal terukom van die dorp af voordat die straf uitgedien was. Toe hul pa terugkom van die dorp af en die kar voor die bloekomboom parkeer vind hy toe hierdie ongewone gesig van ‘n wolsak wat al roerende, swaaiende en swetsende aan ‘n boom hang met een geskel na die ander wat vanuit die sak se rigting kom en oor die hele werf weergalm. Die drie wat natuurlik daarvoor verantwoordelik was is skoonveld, want toe hulle die kar hoor die werf inry kies hulle natuurlik die hasepad. Dit het niks gehelp hulle probeer daardie aand na huisgodsdiens verduidelik hoekom en waarom nie.

As die graan dan genoeg uitgedroog het, word dit op ‘n wa gelaai wat hoë houtstaanders voor en agter het en aangery na ‘n mied wat in die rondte gepak word soos ‘n groot rondawel. Om die wa te laai was ‘n kuns dat dit nie afval nie en die laaier moes sy storie ken. Die gerwe is dan met ‘n tweetand gaffel met ‘n lang steel opgetel en uitgeskiet tot bo op die vrag. As al die graan afgesny en in miedens gepak was kan die volgende stap van die oes aangepak word. Dit is nou die uitdors daarvan.

Die dorsmasjien het vier wiele gehad. Die vroëre modelle was gedeeltelik van hout gemaak met vier yster wiele en was gewoonlik ‘n Remington houtbak. Later modelle was van plaat en yster gemaak met 4 lugbande en was ‘n blikmasjien genoem. My pa het ‘n Mc Kormick Deering gehad en sy lang bak wat voor uitgesteek het kon in die middel knak sodat dit na onder invou as dit vervoer word. As dit oopgevou word was die gedeelte langs die mied geparkeer en is die masjien hier met gerwe gevoer wat dit na die kappers neem om dit fyn te kap. Die persoon wat die voerwerk doen moes sy storie ken, want hy moes dit net teen die regte tempo voer sonder dat die masjien swaarkry. Vandaar is dit na die drom van die masjien gevoer wat die graan uitslaan tussen die beaters. Daarna is dit na die siwwe wat die korrels van die kaf geskei het. Aan die agterkant het hy ‘n lang pyp gehad waar die strooi en kaf uitgeblaas word. Die pyp kon terugvou en bo-op die masjien neergele word deur verskillende wieletjies te draai wat dit beweeg het as die masjien verskuif word na die volgende mied. Die graan is daarna na die graderings kas waar die vet korrels, maer korrels en stukkies almal van mekaar geskei was. Hier was daar skuiwers waar die graan dan in goeiing sakke van 200 pond geloop en toegenaai met saknaald en tou sodra dit vol was. As die graan dik loop moet die ou wat toenaai sy storie ken. Die masjien was altyd so staangemaak dat die heersende wind daardie tyd van die jaar die kaf en strooi weg waai in die rigting waarin die pyp dit uitblaas na die strooimied agter die masjien. Daar was maar altyd graanstof wat jou laat jeuk het vir ‘n vale. Veral as jy eers begin sweet het was dit beter om maar kaal bolyf te werk en die son te trotseer.

Daar was ‘n baie lang dryfbeld van 15 tot 20 meter lank wat die dorsmasjien verbind het met die masjien wat dit aangedryf het. Die lyn waarin die dryfbelt van die masjien na die dorsmasjien verbind was moet ook net reg wees anders bly die dryfbelt aan die afspring. Vroer jare is ‘n stoomenjin gebruik as aandrywings meganisme. Dit was ook maar gevaarlik want die vuur wat die stoomketel se water tot stoom en aandrywing moes bring kon maklik ‘n brand veroorsaak op die graanland of die mied. Later jare is ysterwiel toontrekkers wat deur kragparafien aangedryf was gebruik. My pa het later jare een van die eerste diesel John Deers gehad. Dit was ‘n tweesilinder model R en hy is vandag nog in die familie se besit.

Die masjien moet altyd waterpas staangemaak word en die bande vasgeblok word. Somtyds is uitgrawings by die wiele gedoen om dit reg te kry. Daar was geen maklike of gou manier om die masjien te stop as hy met volspoed aan die dors was, want die dryfbelt het ‘n soort ketting reaksie aan die gang gesit deurdat dit verskeie ander ratte, pulleys, dromme, waaiers en dies meer aangedryf het. Al hierdie buste van die dryfaste moes dan ook twee keer op ‘n dag ge-ghries word en daar was baie van hulle.

As jy per ongeluk in die masjien ingeval het terwyl jy ondersoek gedoen het by enige van die ondersoek klappe of waar die gerwe ingevoer was het dit beteken jy is bokveld toe, want daar was geen gou manier om die proses te stop nie. In ‘n noodgeval is daar altyd probeer om die dryfbelt sommer so in die loop af te trek wat opsigself maar ook gevaarlik was. ‘n Klein neef van my pa wat op die plaas Boontjieskraal geboer het se vader het vooroor in die dorsmasjien geval waar die gerwe ingevoer was en die kappers het hom doodgekap voordat hulle die masjien gestop kon kry.

Op ‘n dag terwyl hulle gedors het, het ‘n belt tussen die mied en die dorsmasjien afgespring. Om die masjien te stop om die belt weer op te trek sal beteken dat daar waardevolle tyd verlore gaan. My oupa het toe sy oudste seun gevat en tussen die mied en die dorsmasjien ingestuur tussen al die ander bewegende belde en ratte om die belt te prober opterk, sommer so terwyl die masjien nog werk. Hy het egter ingegaan maar sommer onder deur die masjien gekruip aangesien hy nie kans gesien het om die belt so in die loop op te sit nie. Toe hy aan die anderkant uitkom was sy pa egter by en gryp hom en stoot hom weer tussen die bewegende belde in. Hy besluit toe dat ‘n mens kan tog net soveel vat en vlieg om en bestorm sy pa en slaan hom een hou met die vuis teen die kennebak neer teen die grond en laat spaander. Die aand is hy nie aan die eettafel nie en niemand weet waar hy is nie. Die volgende aand stuur my ouma my pa stilletjies om hom te gaan soek en vir hom kos te neem. My pa kry hom later daardie aand in ‘n ou uitgediende murasie van ‘n skaapwagter huisie en gee hom sy kos en gaan haal vir hom komberse. Hy het daar gebly vir drie dae totdat my pa hom verseker het dat hul pa se humeur darem nou gesak het en hy maar kan huistoe kom.

My vroulief en kinders sê altyd ek vertel langdradige vervelige stories voordat ek by die punt kom. Die rede vir die voorafgaande lang storie is dat ek graag die leser ‘n kykie wou gee in hoe dit in toeka se tyd met oestyd op ‘n graanplaas verloop het. Dan het ek nog nie eens alles vertel nie. Net so hier en daar aangeraak van wat ek nog kan onthou. Ja, en die onthou is ook nie meer so goed nie, daarom pen ek nou, maar die ou storietjies vas vir die nageslagte.

Nouja, so kom dit dan ook dat aan die einde van die oes is daar ook op die plaaswerf ‘n stoor of soos hulle in daardie dae daarna verwys het as ‘n kafhok, wat vol kaf gemaak moet word. Die kaf was dan gebruik as veevoer en daar was ook ‘n paar ander gebruike daarvoor. Die kaf was in groot slope geprop en as matrasse gebruik deur die plaaswerkers. Toe ek kind was het ek ook altyd op so ‘n matras in ons strandhuis geslaap. Dit het heel lekker geslaap. Jy moes net eers vir jou lyf so ‘n holte in die matras skrop. Dit is ook vir neste in die hoenderhok gebruik.

So was dit ook dat daar ‘n mied gery was by die kafhok en die pyp van die dorsmasjien is dan by die soldervenser ingesteek om die kaf in die kafhok in te blaas. Die kafhok het nie ‘n solder gehad nie en was oop tot onder die dak. Die groot deure onder is dan toegemaak sodat die hele hok van onder af volgemaak kan word. Om seker te maak dat daar soveel moontlik kaf in die hok ingaan is twee manne binne in die kafhok gesit met ‘n paal wat dan die kaf moet oopsleep en vastrap. Dit was toe my pa en sy een broer Koos se werk. Hul oudste broer Jan kon nie die werk doen nie, want hy het ‘n asma bors gehad. So daar was niemand wat hulle hiermee afgelos het nie. Dit was ‘n verskriklike werk, want die graanstof het oral ingegaan. Jou neus, mond, oë, ore en oral waar daar ‘n gaatjie was en dan het dit nog gesteek en gejeuk op jou sweterige lyf waar dit aangepak het ook.

My pa kom toe die jaar met die briljante plan. Hulle neem toe vir ou Martha, die makste esel op die plaas die oggend baie vroeg, voor my oupa nog opstaan, en maak haar vas in die kafhok. Dit moet mos nou alles gebeur sonder hulle pa se medewete. Toe die dorsery nou begin haak hulle die paal agter ou Martha vas en gaan sit hulle in die hoek waar hulle die minste graanstof en kaf kry. Nou jaag hulle net ou Martha heen en weer in die kafhok en sy sleep die kaf mooi eweredig oop terwyl sy sommer dit vastrap. Die hok word al voller en die aand toe is die groot deure onder reeds lankal toe van die saamgeperste strooi en kaf. Nou is daar nog net die klein boonste soldervenster oop waardeur hulle kon uitkom en met die leer na onder afklim. Nouja, dit is toe dat hulle begin wonder hoe gaan hulle vir ou Martha by die kafhok uitkry. Nooit vroër daaraan gedink nie. Maar, ‘n boer het altyd ‘n plan. Hulle vra ou Olivier, die man in beheer van die stoomenjin en dorsmasjien, om ‘n hoop strooi voor die groot deure te blaas. Dan sal hulle in die nag ou Martha by die soldervenster laat uitspring tot op die hoop strooi voor die kafhok. Dit is egter makliker gesê as gedoen.

Eerstens is hulle versigtig in die nag in die kafhok, want net die vorige jaar is ou Boesmantjie daar oorlede. Die ou klein mannetjie met net so hier en daar ‘n grys peperkorrel op sy kop het, het eendag in gehawende toestand op die plaas aangeloop gekom. Hy was honger en het kos gesoek. Hy het vertel dat sy naam Boesmantjie is en hy nou te oud geword het om te werk. My oupa het hom toe komberse en slaapplek in die kafhok gegee wat toe die warmste plekkie was en hom van die kinders se klere gegee, want grootmens klere was hopeloos te groot vir hom. Hy het so af en toe ligte werkies gedoen soos om die kar te was of hout vir die stoof kombuis toe aan te dra.

My oupa was met vakansie en ou Moddermannetjie (so genoem omdat hy ‘n dam maker was) het toe hulle seuns opgepas en gekyk dat hulle nie kwaad aanvang nie. Een oggend toe my pa Boesmantjie sy koffie, oondbrood met vet en gemaalde kaaings neem, sien hy ou Boesmantjie sit op sy hurke en slaap met die komberse so oor sy skouers gedraai. Hy roep hom, maar hy gee nie antwoord nie. Hy druk so aan hom en daar, poef, daar val Boesmantjie om. Toe sal my pa agterkom hy is dood, mors dood. Boesmantjie moet toe begrawe word onder in die kloof waar die begraafplaas is. Maar hoe hulle ook al probeer daar is geen manier wat hulle Boesmantjie reguit kan kry sodat hy in ‘n kis kan pas nie. Boesmantjie het toe die rigis mortis en daar word besluit om hom maar toe te naai in ‘n wolsak. Maar hoe gemaak om hom onder in die kloof te kry, want ‘n sak het nie handvatsels om aan te dra nie. Boer het mos ‘n plan en hy word op die kruiwa gelaai. Ai fooi tog arme Boesmantjie, want met die vervoerslag kom daar mos toe ‘n foutjie. Die kruiwa se wiel haak vas in ‘n molsgat en daar tip die kruiwa en Boesmantjie val uit en rol af in die kloof tot onder teen die kerkhof se muur. Moddermannetjie was baie kwaad, maar het die Bybel diens gehou en daar is gesing O Goedheids Gods en met die afsluiting van iets soos van stof is jy gemaak en tot stof sal jy terugkeer. Daarna is Boesmantjie finaal ter ruste gelê. Die rollelery in die kloof het hulle seuns egter baie gepla en hulle het hulle verbeel ou Boesmantjie spook nou in die kafhok, want die plaaswerkers glo almal so. Party dra glad ‘n botteltjie doepa om die nek om bose geeste weg te hou.

Die nag toe almal slaap sluip hulle af na die kafhok en loer oor hulle skouers vir die geringste nag geluidjie en probeer om ou Martha by die soldervenster te laat uitspring, maar alles te vergeefs. Toe die uil wat in die kafhok se dakbalke hou die rumoer nie meer langer kan hou nie en oor hulle koppe na buite vlieg skrik hulle hulself wit en skoon hul asem weg. Dit neem eers ‘n paar sekondes voor hulle besef dit is nie Boesmantjie se gees nie en net die uil voor hulle en ou Martha tot verhaal en bedaring kom. Eers is ou Martha gestoot, maar nee. Toe is sy geblinddoek, maar steeds nee, toe is ‘n lang tou aan haar halter vasgemaak en een trek van onder op die grond terwyl een van agter stoot, maar nee. Nou is hulle raadop en gaan sit eers bietjie om te dink. Miskien is dit ou Boesmantjie se spook wat ou Martha nie wil laat spring nie word nou geredeneer. Dit is toe dat my pa sy volgende brain wave kry. Hy gaan haal toe die bottel terpentyn en ‘n lappie. Die lappie word in die terpentyn gedruk. Martha word weer tot voor die solder venster gelei en die een trek aan die tou onder om haar daar te hou. Die ander een lig ou Martha se stert op en druk die terpentyn lappie onder die stert in. Ou Martha knyp haar stert styf teen haar hoeffentwitch en oemf vas en gee een verskriklike balk en spring vorentoe met die blinddoek nog steeds om haar oë. Sy tref die deuropening met ‘n slag en spring tot onder op die hoop kaf met die verskriklikste geluide wat uit haar bek kom wat net nie ophou nie. Ongelukkig vir my pa kom hulle nou eers agter hoekom ou Martha nie wou spring nie. Dit het niks met ou Boesmantjie se spook of gees te make. Sy het geweet die deur is te klein vir haar groot lyf en met die spring het sy die deur met kosyn en al uitgespring, asook sommer ‘n gedeelte van die rousteen muur en gewel net bokant die deur. Ou Martha self het egter ‘n gemaklike sagte landing gemaak op die hoop kaf, maar die gebalk het net nie opgehou nie.

Nou moet hulle die lappie verwyder onder ou Martha se stert en haar hoefentwiets en oemf moet nou eers met seep en water uit en afgewas word, wat geen maklike taak was terwyl die ou esel staan en balk, rondtrippel en skop as jy net naby aan haar agterent kom nie. Dit moet nou gou gedoen word voordat sy die hele plaas wakker balk met haar geraas. Uiteindelik het hulle darem haar stilgekry deur ‘n bietjie lekker groenvoer vir haar te gee. Nou moes die werk in alle erns begin om die skade aan die soldervenster te herstel voordat hulle pa die oggend opstaan. Die deur moet nou eers weer ingebou word en die muur afgewit word en dit alles in die nag se donker en dit moet ook lyk soos dit voorheen gelyk het.

Hulle het skaars in die buitekamer ingekom en gemaak asof hulle slaap, toe is hulle pa daar om hulle te roep vir die dag se werk. Glo my dit was die langste dag vir hulle, want hulle het enige oomblik verwag dat hulle pa hulle gaan roep, omdat hy dalk iets agter gekom het by die soldervenster of onraad bemerk het. Toe hy hulle egter die aand aan tafel na godsdiens vra of hulle nie ook die vorige nag die esels hoor balk het in die kraal nie, het hulle net vir mekaar gekyk en toe geantwoord dat hulle niks gehoor het nie, want hulle was so dood moeg dat hulle vas geslaap het.
 



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Donkie
kostelik, baie geniet om te lees, soos altyd, goed geskryf :)
5 jaar 10 maande 2 weke 7 ure oud


donkie
ai dit was nou lekker om te lees.. en het ek vir jou gegiggel.. myself lekker ingeleef in hierdie verhaal
5 jaar 10 maande 2 weke 2 dae 7 ure oud


Ano
Donkie
hahaha! Ek kan nog nie besluit vir wie ek die jammerste moet wees nie :-)
5 jaar 10 maande 2 weke 2 dae 17 ure oud


--
Ek wou nog sê "Dankie" toe hol my vingers my al weer vooruit!
5 jaar 10 maande 2 weke 3 dae 7 ure oud


--
Kyk, ek het darem maar nou lekker gelees!

Ek onthou van die suiker`blokkies!

Hier was jou storie vir my vrek snaaks! "Toe hul pa terugkom van die dorp af en die kar voor die bloekomboom parkeer vind hy toe hierdie ongewone gesig van ‘n wolsak wat al roerende, swaaiende en swetsende aan ‘n boom hang met een geskel na die ander wat vanuit die sak se rigting kom en oor die hele werf weergalm." **GiGGeL** Die prentjie wat jou woord`werpsel in my gedagtes skets is vrek`snaaks!
5 jaar 10 maande 2 weke 3 dae 7 ure oud


donkie
Dankie baie vir jou deel en ek wens al die woeslede wil hier lees en ook soortgelyke bydraes lewer. Knap gedaan.
5 jaar 10 maande 2 weke 3 dae 14 ure oud



Plek van die Flaminke

deur Rachelle du Bois

Delia Kriel is mede-eienaar van die vakansieoord Zeesig. Haar eerste ontmoeting met Alex Vorster, haar sexy nuwe buurman, laat haar hare rys. Hy jaag haar kat die skrik op die lyf en hy jaag haar die harnas in. Kortom, hy pla haar, vreeslik, aanhoudend. Hy het haar rustige bestaan hier op Zeesig kom versteur en sy is vies, baie vies. Alex se broer, Xander, is die diep een, die stil musikant wat sy hart op Delia se vriendin, Madeleen, verloor het. Hy is koppig en hy weet wat hy wil hê, maar sy is versigtig vir die liefde, want net 'n donkie sal twee keer oor dieselfde klip struikel. En sy is nie 'n donkie nie. Hy is egter die ideale model vir haar beeldhouwerk en haar kunsuitstalling lê voor . . .



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar