Kortverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

" Die totaliteit van sy warmte omsoom my; stoom my smagtend na vrouwees en ek proe sy... - ; dis al vir nou; is mos genoeg!" sê Meisie en bloos. Sy knyp haar klein mondjie styf toe; kyk grondlangs en vou haar arms kruisoor haar bors met die flentertjie papier teen haar hart.

"Ji-te-te-tjie!" blaas Mandy grootoog die lettergrepe stadig uit. Sy het vloer toe gesak en skuifel-skuifel op haar sitvlak nader tot teenaan Meisie se voete. "Jy kan g'n nou wil ophou nie – wát het jy geproe, jong? Komaan man, spoe'git uit!"

Al die ander vrouens kom in 'n gekwetter van aansporingswoorde en opgewonde uitroepe nader aan Meisie. Mandy gaan sit op die armleuning van die stoel en die res sit of hurk kringetjie om haar. Meisie voel hoe haar keel toetrek; haar bene is lam en die sweet druppel fyntjies op haar harige bo-lip.

"Ons..., ons moes net..." sukkel sy om los van haar tong se vasslaan te kom.

"Dames...; dames..., dámes! Asseblief tog, orde nou! Meisie het haar opdrag vir vandag voltooi. Uitstekend van haar taak gekwyt; dít moet ek darem ook byvoeg!" roep 'n gryskopvrou wat eenkant in 'n rolstoel sit. Sy klap-klap aanmekaar met haar hande totdat die opgewonde groepie vroue weer baie teësinnig hulle plekke inneem. Hulle bly na Meisie kyk en sommige 'tjie-tjie' saggies agter die hand met mekaar.

Mevrou Du Bois sug; haar hele projek gaan in duie stort as sy nie nou dié groepie vroue weer gefokus kry nie. "Mandy, jy is volgende, en onthou tog: net twee versreëls was die opdrag!" Sy knik met haar kop vir die rooikop wat met skewe gesigtrekke wegkyk. "Mandy...?"

Sý vee met 'n rooinaelhand oor haar hare, kou 'n paar koutjies aan 'n nuwe velletjie kougom wat sy so pas in haar mond geprop het en sê, amper verveeld: "Ek kon nie dit doen nie; nie pampier gehad." Die ander vroue giggel. Dieselfde verskoning volg vir die res van die groep totdat die laaste vrou in die hoek van die sitkamer opstaan.

"Ek het iets geskrywe." Haar hare hang slonserig oor haar skouers en haar een mondhoekie trek aanmekaar op, net asof sy wil-wil lag en weer daarvan vergeet het. Mev. Du Bois knik haar kop. Die ander vrouens raak stil, doodstil; eerbiedig-stil, want dit is hulle leier wat praat...

Sy gaan staan wydsbeen in die middel van die sitkamer; plaas haar twee hande op die heupe en swaai dit stadig heen en weer: uittartend, uitlokkend, veral na mev.Du Bois se kant. Die vrouens hou asem op, en begin hulle lywe ritmies vorentoe en en agtertoe beweeg in pas met die leier se heupgeswaai in die middel van die vertrek. 'n Sagte mmm-geluid volg en mev. Du Bois voel hoe die hare in haar nek begin kriewel. Sy was vooraf gewaarsku oor dié groepie vroue, en sy voel-vat in haar rok se sak na die noodseinertjie.

Die leier slaan op met albei hande 'n paar keer op haar bors en die groep volg haar voorbeeld. Sy doen dit weer en hou daarna haar een hand op in die lug: die groep swyg en dit raak doodstil in die sitkamer: "Die donner het my bedwelm, bedrieg en belieg; straf vir sy sonde was die lem van die mes...," en die groep val ritmies saam in: "En ek steek hom; steek hom; steek hom; steek hom...!"

"Stop! Stop!" roep mev. Du Bois ontsteld uit, "Net twee versreëls; dit was die opdrag en ons moet...!" maar niemand hoor of luister na haar geroep nie. Hulle het almal opgestaan en sirkelgemaak om Meisie wat verskrik kyk na die leier wat met 'n grynslag voor haar hurk.

"Jý 's nie 'n suster van ons vroumense hier nie. Jý is 'n verraaier van ons saak, want jy verlang nog na 'n man. Sies, skaam jou! Is dit dan nie oor 'n man wat jy hier sit nie?"

Meisie stotter die woorde uit: "Ek weet ek het verkeerd gedoen. Ek is jammer ek het hom amper doodgeslaan. 'n Mens mag nie...!" Die vrouens se gebrom raak al harder, meer intens en mev. Du Bois besef heeltemal te laat wat gaan volg. Die leier het die eerste hou geslaan en die res het soos besetenes op die weerlose jong meisie toegesak terwyl hulle "Verraaier! Verraaier!" skree.

Toe die gevangenispersoneel ingestorm kom, was die skade reeds gedoen. Meisie se lyf lê bebloed en leweloos op die mat en eenkant sit mev.Du Bois spierwit geskok en snik. Die vrouens giggel ongeërg as hulle hardhandig terug selle toe geboender word. Een van die personeellede gaan staan by die rolstoel: "U was gewaarsku dat hierdie vroue onvoorspelbaar is. En hard, kliphard sonder enige berou oor die mans wat hulle vermoor het."

Saggies sê mev Du Bois, amper asof sy met haarself praat: "Maar dit het só goed gegaan, dié skrywersklasse. Ek het..., ek het werklik gedink dit beteken iets vir hulle." Sy vee oor haar gesig, en dan roep sy opgewonde uit: "Maar Meisie het berou getoon. Ek gaan dit beslis aan die Paroolraad noem in my verslag oor hierdie insident."

Op die mat beweeg die beseerde jong meisie se hand. Die sirene van 'n ambulans word al harder. Sy maak haar oë tevrede stywer toe. Sy sien die leier se effense glimlaggie, die knipoog , én hoor weer die sagte "Go get him!" voordat sy die eerste hou op Meisie se gesig geplant het. 'n Dramaklub sou dalk 'n uitstekende keuse vir dié groep vrouens gewees het!

Miskien gaan die simpel ou rolstoelmens dit wel regkry dat sy baie vroeër op parool vrygelaat word. En miskien... ; sy glimlag; kreun saggies oor die pyn in haar gesig en haar lyf: dié keer sal sy sorg dat sy die donner wat haar verkrag het, ordentlik doodmaak...



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

ek sit skoon verdwaas, dis baie goed en die spanning bly tot daardie laaste sin.
a.
9 jaar 7 maande 2 weke 1 dag 11 ure oud


Uitstekend geskryf. 'n Wending wat 'n mens nie verwag het nie. Liplekkerlees.
9 jaar 8 maande 4 dae 8 ure oud


Moes net byvoeg: Kroonstad Vroue Gevangenis is nie vir sissies nie...
9 jaar 8 maande 1 week 4 ure oud


Puik!
9 jaar 8 maande 1 week 8 ure oud



Dans van die Vlammevers

deur Evelyn van der Merwe

100 Gedigte met inspirasie, humor en ‘n kykie na die ou dae.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar