Kortverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hallo hallo,

Vandag is ek sommer lus vir gesels. So ek het my ketel laat kook, 'n stomende koppie koffie gemaak en agter my lessenaar ingeskuif vir 'n lekker gesels-sessie.

Nou so 'n gesprek behoort by die ouderwetse: 'hoe gaan dit met mekaar' te begin, maar toe my rekenaar skerm nie die vraag namens jou wou antwoord nie het ek besef dis seker tyd dat ek self die gesprek begin... so hoe gaan dit daar by julle? Wat is nuus aan julle kant van die wereld? Geniet julle nog die warm son wat skelm-skelm so nou en dan by ons kom kuier, of moet ek al die sneeu en onweerswolke julle kant toe blaas?

Hier gaan dit voor die wind. Letterlik. Ons hardloop en spring om voor die wind van verandeing te bly. Ons planne om die jaar Skotland toe te trek het nou al soveel keer amper-amper verander, dat ek bly is om nou vir julle te se dat ons terug is by die plan om hierdie jaar Skotland toe te trek. ;p Nog 'n trek na nog 'n land met nog 'n kultuur en nog minder sonskyndae en nog meer reen hoor ek jou vra? Jip. Dis my antwoord vir alles deesdae. Jip. Met twee sulke styfgepersde lippe op mekaar want ek weet in werklikheid self nie hoe ek dit gaan maak werk nie. My fantastiese man en pragtige soet kind probeer hulle uiterste bes om die lewe vir my makliker te maak, maar my lippe pers al stywer op mekaar oor ek weet dat vertroue die basis van hierdie skuif gaan wees, en soos jy nou al seker weet is vertroue iets waarmee ek gereeld stoei.

So toe kry ek mos nou die dag so 'n toets in vertroue.. Ek kyk nou soveel Masterchef dat ek skielik nie weet wat 'n 'pressure test' in Afrikaans is nie, maar die definisie waaraan jy nou dink, dit is presies wat ek beleef het.. jy sien, hier het onlangs 'n haarkapper salon op ons straat oopgemaak. Nou dit opsigself is al 'n bietjie vreemd, want so in die Rooiligdistrik is daar oral vreemde winkels, koffie winkels waar jy alles behalwe koffie kan koop, en lewende mannekyne in sommige van die vensters.. en ek is al so ge-oefen om voor my uit te kyk en nie my oe links of regs te laat dwaal nie, dat dit my amper 'n maand gevat het voor ek die skertjie uit die hoek van my oog raakgesien het... nog 'n week voor ek durf na binne kyk het, en nog 'n maand voordat ek aangeklop het vir die pryse. Toe ek hoor dat dit 'n skamele 20 euro kos om my hare te sny (dis duur ja, maar normaalweg is dit enige iets tussen 50 en 70euro-ja dis hoekom ons altyd in SA kom sny) het ek besluit om dit sterk te gaan oorweeg. Ek is deesdae nie baie goed met vinnig besluite neem nie.

Nou ja, na Andrew se geboorte het ek soos vele ander vroue skielik baie groot en lelik gevoel en die aangewese oplossing lyk toe om my hare te sny. So ek draf oor die straat, klop aan die deur en vra of ek 'n afspraak kan maak. 5 werkers staan rond en beduie ja, graag! Hoe laat het julle plek? vra ek in my gebroke Nederlands. Nou? Is die vinnige antwoord met 'n vinger wat na die horlosie teen die muur wys.. DIT het ek nie verwag nie.. ek het julle dit al gese, maar in Europa en Nederland veral haal jou vriende hulle dagboeke uit en blaai maande ver voor hul 'n gaatjie vir 'n koppie koffie erens kan kry. So ek het half verwag om so net voor die somer geholpe te word, en skielik het hulle onmiddelik plek! Nee, laat ek eers gaan eet maak ek verskoning. Dit is immers 13h00 en wie kan nou hare sny op 'n lee maag? So ek draf terug huis toe met die belofte om oor 'n halfuur terug te kom.

En oor 'n halfuur daag ek toe voor die deur op, geklee in my wintersjas en gepantser met verduidelikings in Hollands oor die spesifieke styl wat ek wil he-ek het dit selfs 'n bietjie nagevors hoor, hier 'n bietjie gevra wat 'layers' in Hollands is en daar ge'google' wat 'n kuif is.. Met die intrapslag kry ek toe egter die vae suspisie dat dit heeltemal onnodig gaan blyk te wees. Jy sien, toe ek oor die drumpel trap toe staan my 'kapper' nader en beduie met haar vinger so in die rigting van my jas en dan die kapstok.. OK... dink ek toe. Vreemd. Maar dit kan nie die haarkapster wees nie, sy was seker net die hare. En wrintiewaar, die volgende vingerbeweging druk my toe so in die rigting van die wasbakke, so my hart kon lekker rustig terug in my borskas klim. By die wasbak het sy my mooi toegemaak met 'n handdoekie, en met louwarm water begin spoel. Na 'n minuut of twee van volkome stilte bedink ek toe dat sy miskien doof-stom is, en my 'gebrek aan praat=gebrek aan Engels' e oordeel miskien heeltemal onregverdig was. Ek is net besig om myself behoorlik oor die vingers te tik toe sy skielik hier hard agter my ore vir haar vriendin aan die ander kant van die vertrek in Spaans begin skree.. Toe ek my byna afgerukte nek weer eindelik-teen my beterwete in- terug in die gleuf van die wasbak gesak kry, verskyn daar 'n tweede gesig bo my kop met die volgende twee woorde: Koffie? Thee? Ah..DIT is seker my haarkapper... SY kan darem Nederlands praat, paai ek my ietwat senuagtig-giggelende hart. Nee ek is nog nie so gesout met die kruie-tees nie antwoord ek toe, bly dat my Nederlands vir 'n verandering nie die swakste gaan wees nie..

Frons...

Koffie? Thee? kom die antwoord toe... OK..miskien is dit die somtotaal van haar Nederlandse woordeskat dring dit tot my deur. 'Koffie' kry ek toe my ietwat skugterder antwoord gemompel. Melk? Suiker? probeer sy my beindruk met haar uitgebreide kennis van die taal met jaloerse kyke van die ander...

Nou ja, teen die tyd dat dit toe tot my deurdring dat niemand van hulle een van my tale kan praat nie was my hare te druipnat om deur die yskoue weg te hol. So daar sit ek toe. en terwyl ek my, teen die tyd, seer nek uit die gleuf wikkel buk my haarwasser onder in 'n kas in en krap rond vir 'n tydskrif of twee. Seker dat ek hulle nie met onnodige gepratery lastig val tydens die sny-deel van die afspraak nie.. Sy beduie my na 'n stoel en swaai die groot seil voorskoot om my nek. Volgende word die tydskrifte netjies op my skoot geplaas en uit die gebare kom ek agter dat sy wil he ek moet 'n haarstyl kies. Met so 'n vinnige kyk na my papnat kop, die yskoue wind buite en die hemelhoe kapstok waar ek my jas van moet afspring, begin ek maar gedwee deur die boek blaai.

Intussen bars daar 'n hengse Spaanse bohaai agter my los, en na 'n skelm-loer besef ek toe hul kan nie besluit waar om my 'koffie' neer te sit nie. Woeps haal die haarwasser/kapper die vaas met blomme van die toonbank af, trek die hele kassie tot langs my en sit my koffie daar neer. Toe vou sy haar handjies oor haar maag soos oorlede tannie Rienie altyd gedoen het, en wag geduldig vir my styl-prentjie. Ek sien 'n styl raak waarvan ek hou, en tik met my vinger op die foto.. Ja, knik sy haar kop. Toe beduie sy met haar vinger na die koffie en ek se ja dankie, ek sal dit netnou drink. Na 'n sekonde van skeef aankyk lig sy haar hand toe maar weer op en beduie na my koppie koffie. OK.. dan moet ek eers my koffie drink. Nou jy sou dink dat sy erens anders sal gaan staan en Spaans klets met haar vriendinne, maar nee, daar vou sy weer haar handjies oor haar maag en kyk vir my terwyl ek drink. Met my laaste sluk vat sy toe die koppie uit my hand uit en met die ander hand trek sy die toonbank terug tot op sy plek en herstel die vaas blomme weer in ere in die hoek. Mens se toonbank moet darem reg wees as die volgende klient binneloop.

Nou ja, noudat ons die styl en die koffie-drinkery uitgeklaar en afgehandel het kon die 'kappery' begin. Toe haar sker die eerste lok hare raaksny kyk die vrou agter my half senuagtig van haar manikuur-in-wording op en uit haar gesigsuitdrukking lei ek af dat haar gesprek niks vlotter verloop nie. Miskien help dit as ek my oe toeknyp? ... ... ... Nope. Sy wag tot ek dit weer oopmaak om met 'n duimpie in die lug te vra of wat sy doen sover oraait lyk. Ja beduie ek terug met 'n 'hoe moet ek weet wat jy agter my kop doen' vrees in my hart. Knip knip gaan sy tevrede voort.

Ek probeer op ander dinge fokus. Ek kyk rond in die salon en dink dat dit lyk soos die salonne in SA en dat as ek hard genoeg probeer, ek myself kan oortuig dat ek daar sit. Bla bla bla klink die Spaanse gekekkel dan weer op en ruk my terug na die realiteit. OK. Miskien moet ek by die venster uitkyk? So ek knak my nek so ietwat en vind rus in die besige stad toneel wat reg buite die venster afspeel. Tot die eerste toeris vol gvan verbasing agter die glas gaan stilstaan.. nou of daai verbasing die gevolg van 'n magdom onverwagse klere aan ons lywe of 'n gesoek na 'n rooi lig is weet ek nie, maar ek weet wel dat sy verbasing NIKS is gemeet teen my eie nie. Hier sit ek in die hartjie van Amsterdam, by 'n Spaanse haarkapper wat my hare sny sonder 'n enkele woord ter verduideliking, om van die gebrek aan haarkapper-skinder nie eers te praat nie!

Hoe meer sy sny, hoe meer breek die vrou agter my haar nek om te kyk hoe dit gaan.. of miskien durf sy net nie om na haar eie senu-tergende manikuur in wording te kyk nie. Hoe dit ookal sy, uit haar bewonderende uitdrukking kon ek sien dat my dapperheid en braafheid haar beindruk.

Nou ja, as sy kan sit en dit aanskou dan kan ek seker ook, dink ek toe, en ek kyk net betyds terug om te sien hoe my kapper met haar hand oor haar oe beduie of ek 'n skewe of reguit kuif wil he. Reguit beduie ek terug. OK. Bo my wenkbroue of onder beduie sy weer? Bo beduie ek terug. Knip knip gaan sy verder.

Toe eers tref dit my.. ek hou niks van hare sny nie, want ek voel altyd genoop om te praat en ek het gewoonlik niks te se nie, en dan net om my lewe makliker te maak besluit die haarkapper om terug te praat elke keer as hy/sy die haardroeer opstart, so dan smile ek en knik my kop in die hoop dat ek als wat hy/sy se reg hoor.. senutergend se ek jou. Maar vir die eerste keer in my lewe het ek geen stres rakende gespreksidees nie.. Die stres is ietwat van 'n ander aard as ek sit en bespiegel of 'n nat kop dalk beter as 'n kaalkop sou wees, maar ten minste is my gebrek aan lus om te praat opgelos.

Die geknip en geblaas hou eindelik op en met 'n terugtree besef ek dat sy met haar oe wag vir my goed/afkeurende blik... en toe ek stadig maar seker my oe in die rigting van die spieel gedwing kry...was ek werklik aangenaam verras. Nog NOOIT het enige van my haarstyle so presies soos die prentjie wat ek gekies het gelyk nie. Ek se jou, dit kon netsowel my hare in daai tydskrif gewees het! Die ongeloof en verbasing in my gesig was slegs deur die vrou agter my geewenaar toe sy met 'n geskokte sug: unbelievable! uitroep. My reaksie presies! Ek begin sommer net daar en dan in Afrikaans vertel hoe tevrede ek is en hoe dit my wildste verwagtinge oortref het. Die tevrede glimlaggie op haar mond wys my toe dat sy dalk nie die taal verstaan nie, maar sy weet presies wat ek se.

Nou ja, by die koffie-tafel toonbank haal ek toe my gespaarde 20euro noot uit en sy verruil dit vir 'n besigheidskaartjie met haar naam opgeskryf. Marbella? vra ek om seker te maak ek lees reg. Nee, Marbeia spreek sy dit vir my uit. OK Marbeia, na jou toe sal ek verseker terugkom belowe ek terwyl ek laggend by die deur uitloop..

Wie sou dit kon dink? 'n Perfekte haarstyl sonder 'n enkele woord. 'n Spaanse haarkapper in die hartjie van Holland. 'n Afspraak sonder enige dagboeke. 'n Vriendin wat nou elke dag vanuit haar salon vir my waai en met haar duime beduie of ek my hare goed/sleg geblaas het.

'n Droom of werklikheid? Wie weet. Maar wat dit ookal was, dit was 'n 'pressure-test' in vertroue soos geen ander nie, en ek se jou nou, as ek net 'n tikkie van daai vertroue kan oproep sal my ervaring van NOG 'n trek na NOG 'n land met NOG 'n kultuur met NOG kouer weer nie so 'bad' wees nie.

Groetnis!
Celeste



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

DIE HIV MOORD

deur neels claasen

n Speurverhaal waarin moderne tegnologie n groot rol speel



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar