Kortverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

“Flerrie. As ek haar in die hande kry, wurg ek haar dood, ek sweer. Sy’t hom verlei.” Die waansin kom lê in haar oë. “Maatjan sal nooit self so iets doen nie. Hy’s myne,” dink Drika vir die soveelste maal. Sy vind ’n soort troos in die gedagte.
“Miskien is die telegram vandag daar,” probeer sy haarself regruk.
Weggesakte reën damp geurig uit Hartswater se rooigrond op en meng met die reuk van trosse wisteria aan die heining neffens haar. Ingedagte stoot Drika die prêm met klein Sofia in. Kort-kort vang ’n wiel ’n sagte kol nat sand, dan lig sy dit behendig daaruit deur die gewig na die agterwiele te verplaas en met effens meer krag vorentoe te beur. Die frons keep dieper tussen haar donker wenkbroue. Iets soos verwildering maak haar oë donkerder.
Die beeld van Maatjan wat koponderstebo daar op die sofa sit en huil het, los haar nie. Sy het die skinkbord met teegoed sag op die handgeborduurde tafeldoek neergesit en geluidloos langs hom neergesak. Sy het haar hand om die rukkende manskouers gesit, hom nader getrek, soos ’n kind. Soos ’n kind het hy gedraai, haar oë ontwyk en sy kop teen haar skouer verberg. Daar was nattigheid in haar nek, blonde krulle teen haar wang. Stadig het sy begin wieg en hom stywer teen haar vasgedruk, met haar lippe wat susgeluide deur sy hare vee. En hy het bedaar. Hulle het gesoen. En sy hande het dankie gesê vir die troos. Toe sy hele lyf. En sy het hom ontvang.
Dit was alles die vliegongeluk se skuld, waarin Maans dood is. So jonk. Maatjan se boesemvriend. In die kerk het Maatjan strak na die vloed woorde van voor af en die gedempte gesnik om hom geluister. En haar hand vasgehou. Soos ’n kind. Ook by die graf. Stof tot stof. Toe haar hand gelos en ’n kluit op die kis gekrummel. Gebare van pyn. Maar nie trane nie.
Een dag. Twee dae. Haar maandstonde het weggebly. Teen die derde dag het sy gewéét. Hulle móés trou. Stil voor die magistraat op ’n ander dorp. Oor die skande. Haar vreugde was gedemp.
En nou’s hy in die Kaap.
Miskien is die telegram vandag daar. Sy kyk op. Die myl poskantoor toe voel langer as gister. As sy maar net eers uit die nat sand op die plaveisel kan kom.
’n Dogtertjie. Sofia, soos die kind se ouma. En vreugde. Vir ’n ruk lank. Maar toe begin dit kwyn, want hy het gaandeweg al hoe meer in homself gekeerd geraak. Al hoe meer saans laat tuis gekom, wanneer Sofia al slaap. Dikwels met drank op sy asem wanneer hy haar groet. En die kos in die lou-oond nie geëet nie.
Hy het net voor die grammofoon gaan sit en die een plaat na die ander geluister. Caruso, Gigli, Björling, Wunderlich, heeltemal onbewus van hoe sy die gedekte kombuistafel afdek, vanuit die kosyn na sy geboë rug kyk, "nag" sê en gaan inkruip het met ’n gebed dat die Here hom sal laat oopmaak teenoor haar, sy vrou, moeder van sy kind.
Laat het sy hom dan in die badkamer gehoor. Gesien hoe hy in die donker langs Sofia se wiegie gaan staan, buk en aan haar raak. Hom voel inkruip. Soms om intiem te raak. Later ook nie meer nie.
Sê nou maar net hy verneuk haar? Dié gedagte was opdringerig en het later alle ander verdring. Vrees het posgevat. Haar gebede het opgedroog. Sy’t gedink sy word mal. Kranksinnig soos die vrou in een van Maatjan se operas.
Toe kom verlede maand se betaaldag. Maatjan was vroeg tuis. Daar was ’n boek in sy hand, ’n glimlag op sy gesig. Piksoen. Haar man was nugter. Hy het Sofia met die een hand by haar gevat, ’n soen in die baba se hare gedruk en só die boek op die lessenaar neergesit. Sy het gevoel hoe hoop sy lê in haar kom kry. Toe gee hy Sofia terug vir haar en stap kombuis toe. Sy’t gehoor hoe hy sy hande soos gewoonlik was, dié keer die lou-oond oopmaak, die stoel uittrek, sit. Messegoed wat van porselein af klink.
Nuuskierig het sy tot by die lessenaar gestap. Kobbé’s Complete Opera Book. Sy het dit met die los hand oopgemaak. Twee-en-vyftig sjielings! Kosgeld! Huurgeld! Leefgeld! En dit op ’n boek! Opera. Verstaan hy dan nie? ’n Klein handjie het gevat-vat na die boek.
“Dankie,” het hy gesê toe sy in die kombuis kom. “Dit was lekker. Soos altyd.” Haar man het haar in die oë gekyk met iets soos deernis. En geglimlag. Die bord was leeg. Hy het sy mond met die jammerlappie afgevee, opgestaan, die bord, mes en vurk onder die kraan gewas, afgedroog, dit gebêre. En haar ’n skrams drukkie gegee toe hy verbystap sitkamer toe.
Dit was nie toe die tyd om met hom oor geld te praat nie. In die slaapkamer het sy Sofia gevoer, ’n skoon doek aangesit nadat sy haar gewas het. Sy het haar aan die slaap gesus op die maat van die musiek uit die voorhuis. En die slapende Sofia sag in die kot lê gemaak.
Drika het teenaan haar man op die mat gaan sit. Hy het vooroor gebuig, die stapeltjie plate versigtig omgedraai en teruggesak met sy kop op haar bene. Hulle het niks gesê nie; net ’n rukkie in mekaar se oë gekyk. Hy’t sy hand gelig en ’n los krul agter haar oor ingedruk. Hy sluit toe sy oë. Woorde was vir haar oorbodig.
Tevrede het sy opgestaan toe plaat twee val en gereed gemaak vir die nag. ’n Oomblik wat onkoopbaar was.
“Julle moet pak en na jou ma-hulle toe gaan.” Sag. Uit die bloute. Terwyl hy na die slapende Sofia staan en kyk het. “Ek het bedank.”
Hy’t omgedraai. “Ek moet wegkom, Drika, my kop oop kry. My lewe uitsorteer.” Hy het langs haar op die bed kom sit en haar hand gevat. “Ek gaan Kaapstad toe. Vir die Operafees. In die Alhambra.” Hy het ingekruip, die bedlampie afgesit, sy arm onder haar kop ingestoot. Haar teen hom vasgedruk.
Bedank. Kaap toe. Net so. Sonder hulle. Dis nie reg nie.

*****

Drika kyk op. Daar’s plaveisel onder die wiele. Miskien kom die telegram vandag. Sy rol die prêm ritmies versigtig agteruit die poskantoor binne, trap vir trap. Ontvang die bruin vensterkoevertjie. Stap uit. Voel die son op haar gesig.
“MISTY’S SEEPUNT DEEL KAMER DINK AAN JULLE LIEFDE MAATJAN”
Die son wankel en wyk.
“Deel ’n kamer. Deel ’n kamer. Deel ’n kamer.” Refrein van vrees.
“Ek sal haar wurg. Die flerrie! Feeks. Delila!"

*****

Maatjan het tweedeklas gery. Melktrein. Hy het hom eenkant gehou, al was daar vyf medereisigers in dieselfde kompartement. Met elke klikklak van die wiele op die spore het sy misnoegdheid afgeneem. Hy het die laaste stukkie van Drika se padkos in sy mond gesit, gekou en dit met die louwarm koffie afgesluk ’n etekaartjie én ’n beddegoedkaartjie sou te duur gewees het.
Goeie vrou. Drika. Sout van die aarde. Maar hulle moes nie getrou het nie, hy en Drika. Eerder die kind laat aanneem het. Stilweg.
Klikklak. Klikklak.
“Stuur asseblief ’n telegram. Poste restante Hartswater .... oor my ma-hulle,” het sy vir oulaas deur haar trane gesê toe sy hom die kosblik en fles aangegee het. Drika se broer sou haar, Sofia en hulle goed later met die trok kom haal het. Ook maar beter dat hy reeds weg sou wees.
Klikklak. Klikklak.
Wat kon hy sê? Daar was ’n Maatjan wat moes uit. Een wat sy nooit sou verstaan nie. Een wat hyself nie verstaan het nie.
Klikklak. Klikklak.
Hy het besluit om in te kruip voor sy reisgenote van die eetwa af terugkom. Op die heel boonste slaapbank het hy sy kop neergelê. Op Drika se kussing. En Drika se kombers tot teen sy ken opgetrek.
Klikklak. Klikklak.

*****

Kaapstad, 6 September 1955.
Oor Tafelberg hang ’n kleed slierterig teen die hange. Maatjan stap van die stasie af soos die kaartjiesondersoeker beduie het hy moet stap om ’n trem Seepunt toe te haal. Daar is ’n onbekende reuk in die lug. Dis klam, souterig en muf. In sy baadjie se bosak is die adres van ’n bekostigbare losieshuis wat deur die behulpsame kaartjiesondersoeker op die papiertjie geskryf is: Misty’s. Hy is dankbaar. Daar is genoeg tyd om later na al die geboue, standbeelde, monumente en parke te gaan kyk. Nou eers blyplek kry en bad en verklee. Hy het darem op die trein geskeer.
Maatjan kry die tremhalte maklik. Op die Seepunt-trem wys hy die adres vir die kondukteur. Die grys outomaatfoto van hom en Maans glip uit die beursie wanneer hy wil betaal. Versigtig tel hy dit op, kyk, en bêre dit. Versigtig.
Hy sien iets van die hawe, Groenpunt, Drieankerbaai, eindelik Seepunt. Dan wys die kondukteur hy moet afklim. Die eerste dwarsstraat links, op teen die helling van die heuwelhang. Daarbo is die lug óf blou óf grys. Hy weet nie. Die straat loop dood teen ’n gewelhuisie vasgedruk tussen ander: Misty’s.
’n Dame maak die deur vir hom oop.
“I hope you wouldn’t mind sharing, Mr Welman?”
Enigiets om geld te spaar. Hulle handel die formaliteite af.
“Your room is the second one to the left. Bathroom’s opposite your room. Breakfast’s at eight; dinner at seven. Enjoy your stay.” Sy gee die kamersleutel aan hom.
“I can assure you that Mr Treurnicht is a fine gentleman. You’ll get on well with him, I’m sure. By the way, he went out this morning and is not back yet.”
Treurnicht.
Die gang is breed en skemer. Al die deure is toe. Maatjan sluit die kamerdeur oop, tel sy bagasie op en dra dit in. Twee enkelbeddens geskei deur ’n tafeltjie. Twee bedlampies. Fyn reuk van naskeer in die lug. ’n Koerant lê oop op die bed naaste aan die venster. Die gordyne is halfoop. Sy oog vang die opskrif in die oop koerant: "Italiaanse Operaseisoen". Hy sit sy goed op die vaal deken neer, stap om en sien potloodkringe om sekere items in die koerant getrek. Mnr. Treurnicht is hier om dieselfde rede as hy. Dis goed. Hulle sal iets hê om oor te gesels.
Maatjan besef skielik dat hy sal moet begin uitpak en bad om sy operakaartjies betyds te gaan koop. Drika het sy klere netjies ingepak. Hy pak uit, hang op wat opgehang moet word. Hy sit vars onder- en boklere uit. Trek heeltemal uit. Vou die vuil klere op. Sit dit onder in die kas. Metodies. Hy trek sy kamerjas aan. Dan vat hy sy toiletsakkie en handdoek en word vlugtig kaalvoet deel van die skemerte voor hy in die wit badkamer kom.
Verfris, met die klam handdoek oor sy arm en die toiletsakkie in die hand, durf hy die skemerte uiteindelik weer aan.
’n Bed kreun effens toe hy die deurknop draai en die deur oopstoot.
Die gordyne is heeltemal oop. Namiddagson val oor die bene en boude van ’n man op die bed naaste aan die venster. 'n Blonde borselkop rus op boarms bo breë skouers. Treurnicht.
Hy sal hom nie steur nie. So sag moontlik druk hy die kamerdeur op knip.
Die plankvloer kraak onder sy gewig. Hy hang die handdoek oor die bed se voetenent. Kraak. Hy sit die sakkie op die bed neer. Die Burger lê netjies opgevou by sy klere. Hy kyk op. Die breë skouers beweeg op en neer. Hy draai om. Kraak. Trek sy japon uit en hang dit agter die deur op. Die koue lug prik sy vel. Die bed steun.
Treurnicht lê op sy sy, sy kop met die een hand gestut. Maatjan sien hoe die grys oë van onder na bo oor sy kaal lyf flits tot dit hom vol in die oog tref.
“So, jy moet Welman wees.”
Treurnicht staan op. Rysig.
“Ek is Bertus. Bertus Treurnicht.” Hy kom staan reg voor Maatjan, hand uitgestrek.
“Aangenaam,” skud hulle blad. “Ek is Maatjan.”
“Koffie? Tee?” vra Bertus van die deur af.
“Nee, dankie. Ek moet gou iets in die stad gaan doen.”
Metodies trek Maatjan aan, sit sy beursie in die baadjie se binnesak, gaan staan voor die spieëltafel en maak seker sy hare is reg geborsel. In die spieël sien hy die koerant op sy bed. En onthou die kringe. Die gedagte wat by hom opkom, word ’n hand wat die koerant optel.
Die kleed oor Tafelberg hang uitgerafel laag teen die hange wanneer hy by die Alhambra uitstap. II Barbiere di Siviglia, Tosca, Madama Butterfly, La Bohéme, La Traviata, L’Elisir d’Amoré, Rigoletto, Faust. Nes die kringe voorgeskryf het. Tien-en-ses elk. Twee middagvertonings.
Die telegram, skiet dit hom te binne.
“MISTY’S SEEPUNT DEEL KAMER DINK AAN JULLE LIEFDE MAATJAN”
Drika sal die volgende dag eers die telegram kry.
By die eerste kafee stap hy in, gaan sit en bestel tee. Hy vou die koerant oop en kyk na die opskrifte, kyk na die foto’s. Sien niks regtig raak nie. Oor die prentjies in sy kop. Hy vou die koerant terug in sy voue. Versigtig haal hy die foto van hom en Maans uit. Sy kop op Maans se skouer. Iets blink in albei se oë.
“U tee, Meneer.”
“Dankie.” Afgetrokke skink hy eers melk, dan tee, dan een teelepel suiker. En roer dit stadig om, asof die pyn in hom só weggeroer kan word.
Maans het hom aangeraak. Die aand voor die vliegongeluk aan hom geraak. Eers met sy vingerpunte sy oë toegevee. Dit met sy wenkbroue langs laat gly. Dit bo sy slape in sy krulle laat inglip tot hy gevoel het hoe al sy gedagtes tot rus kom in die holtes van Maans se hande. Wat sy kop nader getrek het. Toe voel hy iets so sag soos lippe op sy voorkop .... en hy het iets soos ’n hart in sy keel voel klop. Iets in hom het vleuels gekry, vry geword, uitgestyg bo enigiets wat hy ooit gevoel het.
Dié vryheid het die volgende dag saam met die vliegtuig neergestort.
Die oomblik steek in Maatjan se keel vas. Hy sluk dit af met die tee, bêre die foto verbouereerd, betaal en stap asof vasberade uit die kafee uit. En asof so beplan, word hy deel van die namiddagstroom van mense wat huis toe gaan. En sien nie raak hoe hoog die son nog sit nie. Hoër as op die Hoëveld. Asof laatlig nog nodig is.
Stap. Hy’s hier om sy kop oop en skoon te kry. Stap. Hy sal Seepunt toe stap. Tremspoorlangs. En stap word drentel. Koerant onder die arm. Gedagtes in sy kop. Hy onthou.

*****

Klikklak.
Hy onthou die eerste keer toe hy amper mens gevoel het. Amper heel. Die nag op die trein van die interskooltoer Bethlehem toe, toe hy laatnag wakker geword het met ’n bekende gevoel in sy lende. Begin het met die bekende selfstreelrite, en hom vlugtig verbeel het Willem op die slaapbank oorkant hom kyk vir hom. Toilet toe gegaan het. Die beweging van vel teen die broek se flennie gevoel het. Die toiletdeur oopgemaak het. Die rite voortgesit het.
Klikklak.
Die deur het oopgegaan. Hy het omgekyk. Willem, wat afgekyk en gesien het.
Maatjan het teruggekyk in die staalbak en gevoel hoe Willem agter hom inskuif, die deur op knip sit en teenaan hom kom staan. Styf. Linkerhand om sy bors. Agteroorleun teen die wand van die klein kajuit. 'n Regterhand wat aan hom doen wat hy gewoonlik self doen. Sy eie hand het asof vanself tussen hulle ingeskuif, sy buik effens uitgestoot met sy hand in 'n wedergreep wat hy op Willem gekry het.
Klikklak. Klikklak. Klikklak. Klikklak.
Wederdade het gevolg. Doelbewus laaste na rugby in die stort om alleen te wees met mekaar. Saam in Willem se kamer Sondagmiddae wanneer sy mense gedut het. ’n Seisoen lank.
Tot Willem ’n meisie gekry het, en Maatjan iets soos verneuk gevoel het, maar nie verstaan het hoekom nie. En ’n wolk oor sy hart geskuif het, laag gehang het soos die kleed oor die berg. Hy uitgerafel het. Soos die wolke. Die eerste maal gehuil het. Oor die troos wat hy by homself gesoek het, nie genoeg was nie.

*****

’n Motor toet onverwags en skerp hier by hom.
“Kyk waar jy loop!” skree die bestuurder wanneer Maatjan vervaard opkyk.
Beach Road aan ’n paal. ’n Vierkantige rooi en wit geverfde vuurtoring. Mouillepunt, so staan dit op ’n bordjie. Iets is klam. Ruik souterig. Is muf. Die golwe breek grys-kruin oor die koolswart rotse. Seewier lê donker uitgespoel op die bleek sand. Van Drieankerbaai.
“Kan u asseblief vir my sê waar Seepunt is?” vra hy ’n elegante vrou met twee honde aan leisels. Sy beduie. Hy stap. Die son sit laag. En die wysers op sy horlosie wys halfsewe.
“Dinner’s at seven,” onthou hy honger en versnel sy pas effens.
Misty’s se eetkamer is gesellig. Net twee tafels. ’n Grote en ’n kleintjie. Vir twee. Waarby Treurnicht sit.
Hy kyk na Maatjan in die deur. Glimlag. Sy sterk hand wys Maatjan moet kom sit, en hy skink rooiwyn in die leë glas.
Kaggelvuurgloed.
Maatjan kom nader, trek die stoel uit, sit en druk die servet uit die ring en sit dit op sy skoot neer.
“Dankie, Bertus.”
Kaggelvuurgloed in grys oë.
Bertus vra uit. Maatjan antwoord. En Bertus se oë word blouer. Hulle gesels opera. Faust.
Kaggelvuurgloed.
Maatjan vra uit. Bertus antwoord. En Maatjan se oë word gryser. Hulle gesels opera. Rigoletto.
Kaggelvuurgloed.
Hulle vee hulle monde af, vat die wynglase en bottel en gaan sit in die voorhuis. Met ’n staanhorlosie wat eers nege, later tienuur slaan. Hulle gesels opera. Waarheen hulle saam sal gaan en waarvandaan hulle saam sal terugkeer.
Kaggelvuurgloed. ’n Seisoen wat sukkel om deur te breek.
“Slapenstyd,” staan Bertus op.
“Ek’s ook moeg. Al die gestappery, jy weet.”
’n Stilte kom maak hom gemoedelik tuis tussen Maatjan en Bertus wanneer hulle begin verklee. Die kamer is koel. Vloerplanke kraak. Beddens kreun. Bladsye ritsel kort-kort in die boeke wat hulle vashou. Om mekaar se blik kort-kort bokant die blaaie in die spieël oorkant die beddens te betrap.
Asof beplan, sit eers die een dan die ander die boeke op die bedtafeltjie neer. Grys ontmoet blou. Ligskakelaartjie klik. Donker.
“As jy koud kry, moet jy hier kom inkruip. Nag.” Nonchalant. Asof dit so hoort.
Maatjan sluit sy oë teen die donkerte om hom, in hom. Hunker. Na Maans. Na Willem. ’n Laat winter wat om warmte vra, en weet waar om dit te kry.
“Dankie.”
Die bed kreun wanneer hy regop sit en sy voete onder die kombers op die bedmatjie neersit, opstaan. So bly staan, die ander bed hoor kreun. Weet dat daar vir hom plek gemaak word.
Maatjan kry sy sit op die kant van die ander bed. ’n Hand voel-voel om sy middel en word oopgestrek op sy maag. Met ’n rolbeweging gaan lê hy teen Bertus se lyf, sit sy kop neer op ’n skouer en voel hoe die lyf beweeg en die komberse genadiglik oor hom gegooi word en dig teen sy rug opgetrek word. Hy voel waar die hand oopgestrek tot rus kom. Aangesig tot aangesig. Neus teen neus. Lippe teen lippe. Tong om tong. Dye wat sluit. Lieste. Hande op heupe. ’n Lyf wat afsak onder die komberse in. ’n Hand. ’n Mond. ’n Tong. ’n Winter wat wyk voor warmte. ’n Lente wat homself dupliseer.
Op die bedtafeltjie glim twee trouringe. Tydelik afgehaal.

*****
Opgefrommel langs Drika se bed lê die telegram:
“MISTY’S SEEPUNT DEEL KAMER DINK AAN JULLE LIEFDE MAATJAN”
Haar weemoed word ’n opslagwinter wat nie wyk nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Kruispad

    deur Manie Jackson

    Toe Luzette en Manie se paaie gekruis het, en die lewe daarna.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar