Kortverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Terwyl ek en my man onlangs deur die woude van Skotland in ‘n stoomtreintjie voortkruie, het ek my aan die groot wit paddastoelagtige swamme wat in die klam woudvloer groei, verwonder.
“Duiwelsbrood,” sê ek.
“Hoe nou?” vra my man.
“As kinders het ons hierdie giftige paddastoele duiwelsbrood genoem,” wys ek die vormlose swamme aan hom uit.
“Jy’t mos nou niks geluister na wat ek aan jou verduidelik het nie,” sê hy gebelgd. Synde ‘n spoorwegsinjaalingenieur in murg en been, was hy besig om die verskille tussen die Skotse en Suid-Afrikaanse sinjale en wissels aan my uit te wys. Na ‘n huwelik van vyf-en-dertig jaar kan ek vir jou alles vertel van binnehuis- en buitehuissinjale, skilpadontspoorders en weghardloopspore, wissels en relêskakelaars, meganiese handsinjalering en outomatiese gesentraliseerde verkeersbeheer.

Dis toe dat ek vir hom die duiwelsbroodstorie vertel wat ‘n verlangse familielid van hom vir my jare gelede in haar aftreehuis op Vanderkloof aan die Gariep vertel het:

Die tante en haar man was gedurende die dertiger- en veertigerjare pioniers in die suide van Angola. Dit was ‘n harde en eensame lewe en hulle moes meeste van die tyd met slegs die nodigste oor die weg kom. Hulle was kinderloos en haar man was ‘n moeilike ou korrelkop. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy haar ter wille van besparing verbied om witbrood te bak.

Op ‘n dag vertrek hy as gids vir ‘n jaggeselskap met ‘n wa en osse vir ongeveer ‘n week noorde toe en los haar alleen op die plaas om die fort te hou. Sy besluit om in sy afwesigheid vir haarself wit boerbeskuit te bak en dit weg te steek. Sy sou dan skelmpies suinig daaraan eet as hy in die veld werk bedags.

Sy begin om die bruin meel oor en oor te sif om van alle semeltjies ontslae te raak. Die laaste twee keer sif sy dit deur ‘n kosbare splinternuwe sykous – iets wat skaarser as goud daar in die grammadoelas was. Dit neem haar ‘n hele dag, maar die eindresultaat is onverbeterlik.

Drie dae na haar man se vertrek staan sy douvoordag op en begin insuur en knie. Niks mag verkeerd loop nie. Sy draai die bakskottel met deeg deeglik toe in die broodkombers en sit dit langs die warm houtstoof om te rys. Later die oggend loer sy onder die kombers in en merk tot haar ontsteltenis dat daar niks aangaan nie. Die middag sit sy dit aan die sonkant van die huis, maar dit rys nie ‘n duim nie. Sy begin paniekerig raak. Die nag tel sy die toegedraaide deegskottel by haar op die katel en probeer dit met haar liggaam warm hou. Maar niks. Sy sal die deeg maar weer moet insuur en knie en hoop vir die beste. Maar toe daag ‘n hardloper van die inheemse bevolking vroeg die volgende oggend op die plaas op met ‘n briefie van haar man. Hy skryf dat die jagekspedisie bo verwagting voorspoedig was en dat hulle teen laterig die aand tuis sal wees. Sy moet asseblief toesien dat die slaapplekke gereed is en sorg vir varsgebakte brood en ‘n paar seeppotte met warm waswater. Wat nou gemaak met die skottel wit deeg, dink sy beangs. Daar’s nie meer tyd vir insuur, rys, afknie, bak en uitdroog nie. Sy het buitendien die bakskottel en stoof nodig om die vars brood te bak. Verbouereerd oorweeg sy verskeie opsies en gaan begrawe die deeg toe oorhaastig op die ashoop sowat ‘n honderd tree vanaf die huis. Sy strooi warm as uit die houtstoof bo-oor om alle getuienis van haar skelm daad behoorlik uit te wis. Niemand sal ooit weet nie. Toe gaan tref sy voorbereidings vir die gaste.

Van voordag af die volgende oggend is dit ‘n hele gewerskaf op die werf soos die jagters die wa aflaai, vleis en velle bewerk, wors maak en biltong uithang op die breë koel agterstoep wat met sif toegespan is aan die suidekant van die huis. Die sweet tap hulle vroegdag al af.

Later sit die jagters aan vir ontbyt by die groot tafel in die kombuis. Toe die tante haar man se bord mieliepap voor hom neersit, draai hy hom skuins om na haar toe en sê: “Vrou, ek het vanoggend die vreemdse verskynsel gesien. Toe ek kraal toe stap om na die welsyn van die trekdiere te gaan omsien, bemerk ek iets ongewoons op die ashoop. By nadere ondersoek sal ek vind dat ‘n plaat duiwelsbrood vannag in die as opgekom het. Ek het die plaaswerkers dadelik gemaan om die diere daar weg te hou, want hulle ken dit nie in hierdie wêreld nie en weet nie hoe geeftag dit is nie.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

kommentaar
ek ken ook duiwelsbrood paddastoele uit my kinderdaejou storie is uitstekend geskryf. dit lees lekker!
8 jaar 6 maande 5 dae 11 ure oud


-
eishhh, lekkerleesverhaaltjie, ek glimlag darem helder.
8 jaar 6 maande 1 week 16 ure oud


Duiwelsbrood
Oeee, jinne! Is dit nou letterlike - of figuurlike - duiwelsbrood?! Baie oulike storie soos al die ander. Ek lees altyd so lekker aan al jou skryfsels!
8 jaar 6 maande 1 week 2 dae 17 ure oud


Hennie Prins se kommentaar
Ek dink regtig Hennie Prins moet eers twee ure wag nadat hy sy pille gevat het, voordat hy kommentaar lewer.
8 jaar 6 maande 1 week 3 dae 5 ure oud


:
Dankie vir nog 'n pragtige staaltjie Elise! Jy mag maar.
8 jaar 6 maande 1 week 3 dae 16 ure oud


Jou forté?
Ek gaan privaat uitvoeriger rapporteer oor waarom ek dink jy moet in die Dokument♪re Realisme se styl werk. Ek sal daar ook 'n paar uitstekende eksponente van die rigting noem.
8 jaar 6 maande 1 week 3 dae 19 ure oud


=)
ek hou baie van jou stories. ek onthou as my ma gebak het dan bly ons kiddies uit die kombuis uit.. 16 desember was my ma se bakdag.. dan het ons koekies vir afrika gekry en ons het om die beurt kans gehad om die bak uit te lek... (my ma het dit gewas na die tyd!) brode het goed gerys en ons het altyd die korsie gedeps met lekkr botter daarop...ai verlang ek nou na daai tye.
8 jaar 6 maande 1 week 3 dae 22 ure oud


Duiwelsbrood
Dit leer my net weer 'n les!! GEDULD, gebruik net geduld! lekker gelees.
8 jaar 6 maande 1 week 4 dae 3 ure oud


Duiwelsbrood....
Elize, dit is 'n juweeltjie hierdie. Ek gaan die storie in die agterkas van my geheue bêre....Sal eendag vertel van die bierdoppe wat so begrawe was...
8 jaar 6 maande 1 week 4 dae 4 ure oud


Duiwelsbrood
Pragtig!!!
As 'my ma se kind' bak en brou ek ok van kleinsaf. Selle onverklaarbare rede, wou die dem deeg nie rys nie. Gaan begrawe ook in my groete tuin. Later pop die ding soos lawa. Die prentjie was, my ma se kyk na my toe sy sukkel om die brakke te help om die taai gom uit hulle bekke te kry!
Toe, gooi nog van die stories.
8 jaar 6 maande 1 week 4 dae 6 ure oud



Die legkaart van ons lewe

deur hopeanointed

Jare se ervarings van diepe seer het ons geleer dat ons lewe ṅ legkaart is in God se hand wat Hy spesiaal uitgesoek het deur Sy liefde en genade om te voltooi. ṅ Legkaart, kosbaar en uniek waarvan elke stukkie sorgvuldig met tyd en geduld uitgesoek word om presies in plek te pas. ṅ Legkaart in bou om aan ṅ gebroke wêreld te wys dat Jesus Leef!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar